Waarom speel God wegkruipertjie met die mens?

Hallo Udo

Waarom speel God wegkruipertjie met die mens? Kan God enige mens werklik kwalik neem as hy nie goeie rede het om te glo dat God bestaan nie. Waarom openbaar God Homself nie duidelik genoeg nie?

Groete

Winkelmsidt

 

Hallo Winkelsmidt

Is dit regtig waar dat God homself nie duidelik genoeg openbaar nie? As dit die geval is, dan weerspreek dit ten minste sommige mense wat aanvoer dat God homself voldoende geopenbaar het sodat hulle kan glo dat hy bestaan? So waarom vind sommige mense God se openbaring voldoende, terwyl ander nie doen nie? Die meeste skeptici argumenteer dat hulle die getuienis vir God se bestaan wat vir ander mense voldoende is, eenvoudig onoortuigend vind, dat niks daarvan vir hulle as voorbeelde dien van God se openbaring nie. Vervolgens ʼn paar opmerkings:

  • Die feit dat sommige mense van opinie is dat die getuienis vir God se bestaan nie duidelik genoeg is nie, sê nie opsigself iets oor wat die getuienis werklik sou impliseer nie, dit sê maar net dat mense geregtig is op hul opinie. Elke aanspraak op getuienis wat op God se bestaan sou dui, of die ontkenning daarvan, moet dus op meriete ondersoek word en kan nie vóóraf ongeldig verklaar word bloot omdat sekere mense dit verwerp nie. Sommige mense dink dat die beste en enigste reaksie op verskillende of teenstrydige aansprake, is om agnosties daaroor te wees. Dis egter geensins vir my duidelik waarom so ʼn benadering die mees verantwoordelike is nie en waarom ʼn mens nie die waarheid oor iets bo redelike twyfel kan bepaal nie.
  • Dis die gevolgtrekking van ‘n besonder aweregse Godsbeskouing en mensbeskouing om die feit dat mense God se openbaring nie oortuigend vind nie of verkeerd interpreteer, voor God se deur te wil lê. In effek impliseer dit dat God, die Skepper, onbevoeg is, en dat die mens, die skepsel, altyd bekwaam en objektief is. Ek dink egter so ʼn siening weerspieël naïwiteit, indien nie arrogansie nie.
  • Wat beteken dit om te sê dat God homself duideliker moet openbaar? Wat sou die hoofrede en einddoel wees om ʼn duideliker openbaring van God te eis? Is dit bloot sodat alle of net meer mense intellektuele sekerheid kan hê dat God wel bestaan? Maar waarom is God onder verpligting om mense se intellektuele sekerheid te bevredig as die doel van God se openbaring van Homself nie is dat mense bloot van Hom sal weet nie (spectator knowledge), maar dat mense in ʼn verhouding met Hom kan tree (personal knowledge)? As dit die geval is, dan kan God dit in sy wysheid so bewerkstellig dat daar genoeg getuienis is sodat enigiemand voldoende rede het om te kan glo dat hy bestaan (al is dit nie met absolute sekerheid nie) om sodoende verder te kan soek na wie Hy werklik is. Dit beteken egter terselfdertyd ook dat iemand wat nie werklik belangstel in ʼn verhouding met God nie (in wie of wat God werklik is nie), nie enige voordeel sal trek uit ʼn meer eksplisiete openbaring van God nie. (Daar is ʼn interessant verwysing wat hier relevant mag wees in Hebreërs 11:6). Die bekende ateïs Bertrand Russell het gesê dat as God hom sou vra waarom hy nie in Hom geglo het nie, dan sou hy antwoord, “Not enough evidence.” Ek dink nie God sal so ʼn vraag vra nie, want Hy sal eerder die vanselfsprekende aan Russell uitwys: “No amount of evidence about me can make anybody desire after me.” (Nog ʼn interessant verwysing wat hier betrekking sou kon hê is Lukas 16:27-31). As God dus weet dat bepaalde mense slegs intellektuele sekerheid oor hom begeer, maar nie belangstel in ʼn persoonlike verhouding nie, dan is daardie mense se eis vir duideliker openbaring nie besonder dwingend nie.
  • Aansluitend by die laaste punt: daar is rede om te dink dat God homself nie op ʼn oorweldigende en onbetwisbare manier aan mense wil openbaar nie. Teoloë praat van die epistemiese afstand (kennislimiet) wat God tussen Homself en die mens daarstel omdat dit bydra om ‘n opregte verhouding te fasiliteer. Dis soos die seun van ʼn koning, wat homself as ʼn plaasarbeider vermom om die dogter van ʼn ander plaaswerker te leer ken. Hy wil hê dat sy hom sal leer ken en waardeer vir wie hy is as mens en nie vir sy titel nie. As hy haar sou nader as die prins, in sy glorie as die koning se seun, dan sou sy dalk ook nie háárself kan wees nie omdat sy hom dalk met ʼn tikkie vrees bejeën vir die mag wat hy het. Of dalk sal sy op sy toenadering reageer bloot omdat sy deur die potensiële aansien en rykdom betower word. Op soortgelyke wyse mag God se openbaring, hoewel genoegsaam, tog terselfdertyd verskans wees (1 Korintiërs 13:12) sodat ʼn mens se motiewe en begeertes getoets en gesuiwer word in die proses waartydens iemand na God en Sy wil vir hul lewe soek.

Groete

Udo

Sien ook Is daar ‘n God?

 

1 Comment

Leave a Reply to Henrietta Klaasing Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.