Kan God werklik ons gebede beantwoord?

Hallo Udo

Ek hoop dit gaan goed en dat mense soos ek jou nie moedeloos maak met al die vrae nie.

‘n Kwessie wat my regtig ook nogal pla, is dié van gebed.  Ek het ingegaan op Antwoord se webwerf en bietjie rondgelees maar kon nie heeltemal kry wat ek gesoek het nie.  Ek weet ons bid om met God te kommunikeer en omdat ons in ‘n verhouding met Hom staan – soos ‘n Pa met sy kind.  Die probleem kom vir my in wanneer ek voorbidding doen  – hetsy vir myself of vir ander.  As God reeds vooraf weet wat gaan gebeur, hoekom moet ek intree vir iemand?  Wat is die doel daarvan om te bid vir my susterskind wat ‘n ateïs is as God reeds weet of hy tot inkeer gaan kom of nie?  Kan ek God se arm draai?

Ek sit byvoorbeeld met ‘n seun wat bipolêr is en al die pyne en dinge wat daarmee gepaard gaan.  Wat moet ek bid?  Dat God hom sal genees?  Dat God hom asseblief moet bewaar en beskerm teen homself?  En as ek in die oggend Jesus se bloed van beskerming pleit oor hom (en ander geliefdes) – hoekom sou ek dit doen as God byvoorbeeld reeds weet Geliefde X gaan vandag in ’n motorongeluk sterf? (Om net nog ‘n voorbeeld te noem).

Kan my gebede God van plan laat verander?  Maak my gebede, my voorbidding vir myself en vir ander, enigsins saak?

Ek  vra dit met groot waardering vir die antwoorde wat ek reeds van jou af gekry het. As jy reeds so ‘n vraag beantwoord het, kan jy my daarheen verwys asb.

Baie groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Kom ons kyk na die vrae wat jy vra.

As God reeds vooraf weet wat gaan gebeur, hoekom moet ek intree vir iemand?

Dis belangrik om te besef dat om te sê dat God vooraf van alles weet, nie beteken dat hy terselfdertyd ook die direkte oorsaak is van alles wat gebeur nie. So byvoorbeeld is elke persoon verantwoordelik vir sy eie keuses en die feit dat God vooraf daarvan weet (byvoorbeeld dat iemand ‘n bepaalde sonde gaan doen), beteken nie dat God verantwoordelik gehou kan word vir die keuse wat enige persoon maak nie.

Wanneer dit by gebed kom, dan weet God vooraf wat en dat ons oor iets gaan bid, of nie daarvoor gaan bid nie. Dis egter nie al nie, hy weet ook hoe Hysélf daarop gaan reageer indien ons vir iets bid of nie daarvoor bid nie. In die gevalle wat ons dalk nie bid nie, weet Hy dus dat hy nie gaan toetree tot dit waarvoor ons kon gebid het nie. Maar dit kon anders gewees het. Indien ons wél vir iets sou gebid het, dan sou God moontlik spesifiek daarop gereageer het, en dus ook iets wat hy vooraf weet selfs al gebeur dit nooit nie.

Nie ons óf God is dus vasgevang in wat Hy vooraf weet asof Hy en ons nie anders kan as om op ‘n sekere manier op te tree nie (m.a.w. sulke determinasie is eenvoudig vals). Wat God vooraf weet gaan noodwendig gebeur, maar terselfdertyd is dit wat hy vooraf weet direk gekoppel aan wat hy weet mense met die vermoë tot eie keuses, gaan kies en ook hoe Hy daarby betrokke gaan wees. God kan dus op manier X reageer as ons bid en op manier Y as ons nie bid nie, maar dis nog altyd die geval dat God hierdie dinge vooraf weet. God het dus nie nodig om ooit van plan te verander nie, juis omdat hy vooraf van alles weet. Hy weet hoe ons in bepaalde situasies gaan reageer en ook hoe Hy gaan reageer na gelang van of ons bid of nie. In ‘n sekere sin kan ons egter wel God se arm draai, bloot omdat Hy ons uitnooi om met ons versoeke na hom te gaan (die veronderstelling is tog dat ons dit soms nie doen nie) en omdat hy ons gebede wil verhoor op ‘n manier wat hy weet die beste is. Die feit dat hy vooraf weet wat ons van hom gaan vra, beteken nie dat ons dit daarom nie hoef te vra nie. Ons staan tog in ‘n intieme verhouding met God en Hy is nie maar net bloot ‘n vêraf en koue gedagteleser wat ons gebede beantwoord soos ‘n ‘genie’ in ‘n lamp nie.

Wat is die doel daarvan om te bid vir my susterskind wat ‘n ateïs is as God reeds weet of hy tot inkeer gaan kom of nie? 

Wanneer ons vir ander mense bid, dan moet ons altyd in gedagte hou dat mense ‘n wil van hul eie het. Dis hoe God ons gemaak het. Dit beteken dat ‘n ateïs wat nie ‘n verhouding met God begeer nie, nie daartoe gedwing kan word nie. Liefde kan nie geforseer word nie. Wanneer ons dus vir mense bid wat nie in ‘n verhouding met die Here staan nie, dan is ons gebed altyd dat die Here in sy wysheid invloede en omstandighede te weeg sal bring waaronder iemand duidelik en ondubbelsinnig van God en sy boodskap aan hulle bewus sal word. Maar selfs dit is nie ‘n waarborg dat iemand tot inkeer gaan kom nie.

Vir God om te weet dat iemand wel tot inkeer gaan kom, is dalk om te weet dat bepaalde mense se gebede daartoe gaan bydra. Dit beteken egter nie dat daardie persoon noodwendig andersins (as niemand gebid het nie) verlore sou gaan nie, maar bloot dat ons gebede ‘n rol kan speel in iemand se bekering onder sekere omstandighede. Die feit dat God weet dat ‘n spesifieke persoon nie tot bekering gaan kom nie, maak ook nie ons gebede waardeloos nie. Ons gebede en gespek met God het nog altyd ‘n bepaalde effek in ons eie lewens en in ons verhouding met die Here en in ons verhouding teenoor die persoon vir wie ons bid, selfs al sien ons nie noodwendig die spesifieke resultate waarvoor ons gebid het nie.

Kan ons vir ander (of onsself) bid dat God hulle sal genees van siekte of beskerm teen gevaar?

Ja, ek dink God is beslis ‘n God van genesing en beskerming en ek dink ons kan altyd daarvoor vra. Tog is een van die moeilikste dinge om mee te worstel die feit dat wat ons vra, soms vanuit God se perspektief, eenvoudig nie is wat hy weet in die langduur die beste gevolge gaan hê nie. Natuurlik is dit op die oog af altyd goed dat ons vry van siekte of ongeluk sal wees, maar op die langduur of vanuit die groter prentjie is daar dalk goeie redes waarom God nie altyd sulke gebede beantwoord nie (of waarom dit in die eerste plek gebeur het, sien bv. Johannes 9: 1-3) of selfs kán beantwoord nie (ek verwys weer na my vorige skrywe oor die aard van vrye wil en die aard van die tipe wêreld waarin ons woon).

Dis byna altyd onvanpas om van ‘n afstand na ander se spesifieke pyn en worsteling te kyk en dan te spekuleer oor wat God se spesifieke doel daarmee is. Niemand kan dit regtig doen nie (en ek kan dit ook nie jou situasie doen nie), want ons weet eenvoudig nie, ons insig is beperk. Job se drie vriende het dit met hom probeer doen, en hulle was almal verkeerd. (Weereens, in my vorige skrywe het ek egter wel verwys na die idee van teodiseë wat breë, algemene kategorieë verteenwoordig vir waarom God goeie redes mag hê om lyding toe te laat).

Wat ek wel weet is dat ons in gesprek met God kan en moet bly oor veral die pyn en uitdagings van ons lewens, maar nie omdat God noodwendig ons gebede op ‘n bepaalde manier gaan verhoor nie. Die rede waarom ons met God worstel is omdat ons in ‘n verhouding met ʼn almagtige, alwetende en liefdevolle God staan by wie ons vrede en troos kan vind. So ‘n verhouding en die berusting wat ons daarin kry, gebeur egter nie oornag nie, maar is die resultaat van baie jare se ervaring van, en vertroue in, die Here.

Gebed is beslis ‘n dinamiese en werklike kommunikatiewe interaksie met God. Hierdie kommunikasie is egter die bewys van ‘n verhouding. Dis altyd ons  verhouding met God, en nie hoe of waarvoor ons bid nie, wat die belangrikste is. Tog is dit ook juis ómdat ons ‘n verhouding met God het dat ons met enigiets na hom kan gaan.

Die krag van gebed is egter nie dat ons bloot dinge kry omdat ons die regte towerformule gebruik nie. Die krag van gebed lê in hoe dit ons verhouding met God beïnvloed. Ons kan net soos ‘n kind wat met sy ouers oor enigiets kan praat en enigiets kan vra, ook na God gaan. Maar net soos kinders ook in hul verhouding met hul ouers groei en leer dat nie alles waarvoor hul vra vir hulle goed is nie of dat hulle hulle ouers nie bloot kan manipuleer nie, leer ons ook God se hart en wil ken en besef ons algaande hoe en waarvoor ons behoort te bid soos wat ons geestelik volwasse word.

Laat weet gerus as iets nie vir jou sin maak nie. Ons kan gerus verder gesels.

Groete

Udo

Sien ook:

1 Comment

Leave a Reply to Mareli Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.