Glo julle aan die waarheid en outoriteit van die Skrif?

Hallo

Glo AntWoord aan die waarheid en outoriteit van die Skrif? Die maklikste manier om dit vas te stel sonder om jou tyd te mors (en ek bedoel dit nie lelik nie), is of julle as organisasie die historisiteit van Genesis 1-11 erken. Neem julle dus vir God op Sy Woord aangaande sy skepping soos aangeteken in Genesis? Ek bou verhoudings met verskeie Christelike organisasies, maar probeer so gou as moontlik deur die omhulsel sien om by die pols uit te kom.

Indien julle wel God se Woord aangaande sy skepping aanvaar (m.a.w. ʼn jong aarde, geen soort-tot-soort evolusie), dan sal ek baie graag wil aanhou julle nuusbrief ontvang.

Vriendelike groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Glo ons by AntWoord aan die waarheid en outoriteit van die Skrif? Absoluut! Jy kan jouself nie ʼn Christen noem en nie daarin glo nie.

Kom ek wees meer spesifiek en verduidelik kortliks wat ons glo op die volgende manier:

  • Ons glo in die Drie-enige God, die Almagtige, die Skepper en Onderhouer van alle dinge: die heelal, die aarde en alles wat daarop leef.
  • Ons glo dat Bybelse waarheid deur God geïnspireer is, en dat wanneer ons die Bybel bestudeer in ooreenstemming met die Heilige Gees se leiding, dan gee dit ware betekenis aan ons lewens en dat die nastreef van Bybelse waarheid van ewige waarde het.
  • Ons erken dat ons wetenskaplike kennis verkry deur die waarneming van, en eksperimentering in en met, die materiële wêreld; dat ons deur die wetenskaplike metodologie insig verkry in hoe die fisiese wêreld en die meganismes daarin werk en dat sulke kennis belangrike aardse waarde het.
  • Ons bevestig onomwonde dat God die duidelikste en volledigste met ons praat deur Christus se lewe en spesifiek deur sy sterwe aan die kruis ter vergewing van ons sondes, en dat ons deur geloof in ons verhouding met God herstel word wanneer ons God se versoeningsdaad as genade aanvaar.
  • Ons is oortuig dat Bybelse en wetenskaplike waarhede mekaar aanvul om sin te maak van die wêreld waarin ons as mense leef, en dat die ontdekkings van ʼn verantwoordelike Bybelse eksegese nie regtig in stryd kan of sal wees met die ontdekkings van verantwoordelike wetenskaplike navorsing nie.
  • Ons dink dat ons as Christene daarna moet streef om in kernsake met ander gelowiges eensgesind te wees, maar dat daar ook randsake is wat nie tot die kern van die Evangelie spreek nie en waaroor ons mag verskil, en dat ons so in liefde kan doen. (M.a.w. Christene moet meer gereeld bereid wees om hulle tyd bietjie te “mors” om te probeer verstaan waar ander Christene wat anders dink vandaan kom).

Glo ons egter dat die heelal en per implikasie die aarde nie veel ouer is as ses tot twaalf duisend jaar nie? Wel, ons glo nie dit is wat God deur sy Woord vir ons wil leer nie, en ook nie wat die resultate van verantwoordelike wetenskapsbeoefening wys nie.

Nou, as jy hiermee dink dat jy ons pols gevoel het en ons daarom dood wil verklaar, dan hoef jy nie bekommerd te wees dat jy nuusbriewe vanuit die doderyk sal ontvang nie ;).

Groete

Udo

Sien ook Wat is ‘n Christelike siening van evolusie?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.