Wanneer besluit God om ʼn wonderwerk te doen?

Hi Udo,

Mense ervaar daagliks seer a.g.v. slegte goed wat met hulle gebeur. Laat ons Plantinga se Free Will Defense vir doeleindes van die vraag aanvaar as ‘n verduideliking vir die probleem waar ander mense se keuses pyn veroorsaak. Plantinga spreek nie baie duidelik die probleem van natuurlike slegte goed aan nie. Hiermee word bedoel pyn wat deur omstandighede buite ander mense se aksies plaasvind. ‘n Voorbeeld van natuurlike slegte goed sou bv. ernstige siekte wees. Ons kan redeneer dat siektes tog veroorsaak word deur mense se keuses om bv. preserveermiddels in hulle voedsel te sit of om giftige gasse in die atmosfeer vry te laat wat dan lei tot siekte. Tog is daar gereeld getuienis van wonderwerke waar dokters nie kan verklaar hoe mense genees is nie anders as die logiese verklaring van ‘n wonderwerk. Daar is dus getuienis dat God tog “inmeng” om mense se pyn weg te neem. Jesus self moedig ons aan om te bid vir onder andere genesing. Maar wanneer besluit God om “in te meng” en ‘n wonderwerk te laat gebeur?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Daar is nie regtig ‘n verband tussen Plantinga se Free Will Defense of selfs die probleem van “natuurlike kwaad” (natural evil) en die moontlikheid dat God steeds op spesifieke momente deur ‘n wonderwerk in die lewens van mense betrokke kan wees nie. Iets soos die FWD se doel is om aan te toon waarom die realiteit van kwaad/lyding in die wêreld nie onversoenbaar is met God se goedheid of almag nie. Dit sê niks oor die moontlikheid of selfs waarskynlikheid van wonderwerke nie.

Die vraag oor wanneer God dan besluit om ‘n wonderwerk te doen hang af van wat God daardeur wil bereik. Dit is eenvoudig net nie binne ons vermoë as menslike wesens met beperkte insig om te weet waarom God in een geval ‘n wonderwerk doen (dalk in antwoord op gebed) en in ‘n ander geval nie. Dit is juis omdat slegs God alwetend is en dus weet wat die volle omvang van die gevolge of langtermyn effek van bepaalde wonderwerke sal wees, dat hy goeie redes sou hê om op bepaalde maniere op te tree of versuim om op te tree.

Kyk gerus na die volgende antwoord op ʼn vraag oor waarom God nie die redes bekend maak vir waarom hy die kwaad/lyding toelaat nie. Dit sou parallel wees met ‘n antwoord oor waarom ons nie weet waarom God soms wonderwerke doen of nie doen nie: Why Doesn’t God Reveal the Reasons For Permitting Evil and Suffering?

Laat weet gerus of jy dink dit beantwoord die vraag.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.