God se wette en God se volk

Udo,

Daar is definitief SLEGS een Woord!

Dit gaan vandag so in die wêreld omdat die Godsvolk vergeet het van al sy God se wette!

Dit begin sommer by Genesis 3:15!!

God straf Sy volk as hulle nie by sy wette hou nie – en veral die groot wet van vermenging! Dit is hoekom dit so gaan in ons land en die wêreld!

Lees gerus (en asseblief tog nie die storieboek wat hulle nou as Bybel publiseer nie, maar die 1933 of 1953 vertaling) Neh 13:3 EN VERAL 25!

Ook het ons die eienaam van God vergeet met die woord baal!! God het ‘n eienaam – “EK IS” – YAHWEH en die Messiah “EK IS VERLOSSER” – YAHSHUA

Wat dink julle beteken die woord Halleluyah anders!! HALELU – PRYS, YAH – YAHWEH!

Kontak my gerus indien u enige verdere inligting of die waarheid uit God se Woord wil hoor.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is nie seker wat jy op ons webblad gelees het wat jou laat besluit het om die pen op te neem nie. Maar nietemin, hier is ‘n paar vrae van my kant af om jou beter te probeer verstaan:

Ek stem saam – daar is slegs een Woord van God. Het ons êrens iets anders geïmpliseer?

Wie, na jou mening, is “die Godsvolk”? Wat is “al God se wette” waarvan ons vergeet het? Sluit dit al 613 wette wat ‘n mens in die Torah kry in? Indien nie, hoekom nie? En wat bedoel jy met “Dit begin sommer by Genesis 3:15”?

Na watter “groot wet van vermenging” verwys jy? Wat beteken hierdie wet presies en aan wie was dit gegee? En hoekom sonder jy juis hierdie wet uit as “groot” bo al die ander 612 wette in die Torah? Is almal nie ewe groot nie?

Wat is so spesiaal aan die 1933 of 1953 vertalings in vergelyking met ander vertalings van die Bybel?

God die Vader is Jahweh. Die Seun van God en ons Verlosser is Jeshua (waarlik mens en waarlik God). Die Heilige Gees is ons Raadgewer en Helper. Stem jy saam?

Ek hoor graag van jou.

Groete

Udo

 

Goeie more Udo

Nee – ek bedoel net dat die hele skrif, vanaf Genesis tot Openbaring gebruik moet word en dat “die Christus van die nuwe testament” geensins iets anders predik as wat in die ou Testament staan nie. (Ek verwys na die persoon se e-pos aan jou) Yahshua het wel van die wette kom vervul en dit vir ons makliker gemaak om na die Vader te gaan deur reeds vir ons sondes te sterf aan die vloekpaal.

Die Godsvolk (Israel) is vanaf Genesis tot Openbaring die volk van Yahweh. Deut. 7:5, Deut. 14:2 ens. Sy eiendomsvolk – dus fisiese twee saadlyne. In Genesis 3:15 lees ons dit.

Al die wette, met uitsondering van die seremoniële wette, is deur God ingestel om steeds te eerbiedig. Selfs die rein en onrein wette soos genoem in Levitikus.

God is duidelik in Sy Woord – jy (Israel) moet jou Heilig (eenkant, apart gesit vir God) hou. Ons mag ons nie vermeng met die ander volke nie. Dit is presies wat van die begin af die probleem was. Israel het hom vermeng, en God het hom afgesny. So ver afgesny dat slegs Noag en sy gesin oorgebly het!

Wel die nuwe bybels (let wel – ek skryf dit juis nie met ‘n hoofletter nie) is geskryf vir die veralgemening van alles. Die 1933 en 1953 Bybels is nader aan die waarheid as die nuwe storieboeke.

Yahweh is baie streng daaroor – Deut. 4:2, 2 Tim 3:16

Ja – ek glo in die Goddelike 3 Eenheid.

Ons (Israel, blanke westerlinge, boervolk) is onder strafgerig. Yahweh het die dier van die veld gestuur om op ons te oorwinter, ons uit te moor. Daar gaan nog hongersnood kom, dan gaan hulle soos die Woord sê, in gelid hardloop, deur die venster spring en voor die voet uitwis. Wat moet Yahweh in elk geval maak met ‘n volk wat nie luister nie, onsedelik is, vermeng, agter ander gode aan hoereer, gay en lesbies is?

Ons het baie ver geval as Godsvolk en Yahweh gaan ons dit ordelik voor oë stel!

Groete

Winkelsmidt

 

Goeie middag, Winkelsmidt

Dankie vir jou terugskryf. Ek verstaan nou effe beter wat jy sê, hoewel ek tog op bepaalde plekke van jou verskil in hoe ek verstaan wat die Bybel leer. Maar eers waar ek saamstem.

Ja, daar is kontinuïteit tussen die Ou en Nuwe Testamente en die sleutel om dit te verstaan lê in die persoon van Jesus. Maar baie mense (soos die persoon wat die vraag gevra het) sukkel steeds om die karakter van die skynbare wrede God van die Ou Testament te versoen met die liefde en verdraagsaamheid wat Jesus verkondig het. Hierdie spesifieke vraag word elders op ons webwerf hanteer, sien Wat van al die geweld in die Ou Testament, Geweld in die Ou Testament en What about slavery in the Old Testament?

God het inderdaad vir Hom ʼn volk uitgekies naamlik Israel, met wie Hy ʼn verbond gesluit het en wat Hom op baie spesifieke manier moes dien en wat hulle onderskei het van al die omliggende volke wat die Here nie geken of gedien het nie. God se doel met so ‘n uitverkore volk was egter om al die nasies tot seën te wees (Gen. 22:18): uit die Joodse volk, God se volk, sou uiteindelik die Messias gebore word.

Jy maak egter die opmerking dat “Yahshua het wel van die wette kom vervul en dit vir ons makliker gemaak om na die Vader te gaan deur reeds vir ons sondes te sterf aan die vloekpaal.”

Jesus is die vervulling van die hele Wet van Moses en daarom nie net sekere dele daarvan soos jy skynbaar suggereer nie (sien Matt 5:18-20). Hoe is Jesus die vervulling daarvan?

  • God se morele wette is vervul deur Jesus se sondelose lewe,
  • God se seremoniële wette is vervul deur Jesus as finale offer (Heb.10), en,
  • God se Verbond met sy volk, Israel, wat deels ook uitdrukking vind in die burgerlike wette wat hulle moes gehoorsaam, is vervul deur Jesus as die Middelaar van ‘n Nuwe Verbond tussen God en mense van alle nasies (Heb. 9:15, sien ook 2 Kor. 3:11).

Die implikasie van die Nuwe Verbond is dat almal wat God se genade aanvaar, deel kry aan Christus se erfenis (Rom. 8:9-11) en dus as “God se volk” gereken word. Dit beteken ook dat die onderskeid tussen Jood en nie-Jood heeltemal opgehef is (sien Hand. 15:5-11, Rom. 10:12, Gal 3:28-29, Kol. 3:11)

Geen Christen wat deel is van God se Nuwe Verbond, staan daarom meer onder enige verpligting om enige wet na te kom nie (Rom. 6:15, Rom. 7:4-6, Gal. 3:2-3, 3:23-25, Gal. 5:1-6,13-14) behalwe die wet van Christus (Gal. 6:2). Ons lewe nou deur die Gees (Rom. 8, Gal 5:16-26) en gehoorsaam sodoende die wet van die liefde (Mark 12:28-31) – nie die Wet van Moses nie.

Jou verwysing na “saadlyne” is na my mening irrelevant. Dit spreek nie tot die wesenlike verskil tussen God se Ou Verbond wat spesifiek en uitsluitlik met die volk Israel gesluit was, en die Nuwe Verbond wat ná Christus se dood en opstanding aan enige persoon uit enige nasie wat Sy genade aanvaar, van toepassing is nie.

Hoewel huwelike met ander volkere se mense spesifiek vir Israel verbied was (nogal skynbaar met opmerklike uitsonderings, sien Deut. 21:10-14), juis omdat hulle op ʼn spesiale manier vir God afgesonder moes wees, is gemengde huwelike onder die Nuwe Verbond geensins ʼn probleem nie. Waarom sou dit ʼn probleem wees? Vir ons konteks: is daar iets inherent anders aan iemand wat nie ʼn “blanke westerling” of “boervolk” is nie, veral as hulle ook Christene is? Indien wel, wat maak hulle anders? En wat maak jy met gedeeltes soos Hand. 15:5-11, Rom. 10:12, Gal 3:28-29 en Kol. 3:11?

Ek het reeds genoem waarom ons, vanuit ʼn Nuwe Testamentiese perspektief, nie meer die term “Godsvolk” aan een nasie of homogene groepering van mense kan koppel nie. Maar jy noem iets wat vir my taamlik verwarrend en selfs teenstrydig voorkom. Jy praat van “ons” en dan in hakies skynbaar as verwysend na “Israel, blanke westerlinge, boervolk”. Maar niemand in die Bybel wat ʼn Jood of Israeliet was, of selfs vandag, sal as ʼn “blanke westerling” beskryf kan word nie, maar eerder as “Semitiese Midde-Oosterlinge”. Trouens, in die Nuwe Testament sou dit meestal die heidene gewees het (soos die Grieke en Romeine) wat in vandag se taal as “blanke westerlinge” beskryf sou word. So waarom is “blanke westerlinge” skielik so spesiaal? En wat maak die “boervolk” so spesiaal?

Dan laastens. Jou karakterisering van die “nuwe bybels” as “storieboeke” is onwaar en ongelukkig oningelig. Dit is glad nie so dat die 1933 en 1953 vertalings nader is aan die waarheid nie. Inteendeel, op plekke is hulle juis verder weg van die oorspronklike woorde wat die skrywers neergepen het. Die punt is nie dat hulle daarom geheel en al onbetroubaar is nie, maar dat alle vertalings hulle foute het. As jy meer hieroor wil uitvind, dan kan jy gerus die volgende artikel van my lees: God se Woord en Bybelvertalings

Wel, hiermee weer eens ʼn paar opmerkings en vrae aan jou. Ek hoor graag van jou.

Groete

Udo

Sien ook:

14 Comments

  1. HHmnnn ! Die Vader se wette/instruksies is vervul/aan kruis vasgespyker/nie meer van toepassing en deur sy “seun” as onnodig bestempel?
    Mense, julle het ‘n “helse” “surprise” wat op julle wag ! Die ware Messias waarsku IN DIE “NUWE TESTAMENT” dat aan die einde van dae daarop gelet moet word om NIE DIE SABBAT TE OORTREE wanneer daar berge toe gevlug word ! Watter Sabbat? Wel toe hy die aarde bewandel het was daar net die 7dag Sabbat ! Handelinge 15 word dit deur al die appostels/dissipels besluit dat hulle wat hulle by die Vader se volk wil aansluit, moet op die Sabbat na die Sinagoge gaan om “Moses”/eerste 5 boeke aan te leer! Hoe dink julle is Rut toegelaat om by die Volk aan te sluit? Kon sy maar haar Moabittiese/heidense wette saamsleep die volk in?

    Mense, julle kerk bagasie is besig om julle oee geblind te hou ! Kom uit haar uit en moenie terugkyk soos Lot se vrou nie.

    Jou geloof word gedemonstreer met jou werke ! Hoe anders sal ons ‘n Christen kan uitken als om hom/haar op sondag of 25desember dop te hou?

    Jou werke en woorde gaan jou oordeel, so wees versigtig wat jy swart op wit neerskryf !

    Groete
    Rob

    • Hallo Rob
      Dit maak nie gewoonlik vir gesonde gesprek om mense sommer so uit die staanspoor met die hel te dreig nie. Maar, ons was al voorheen in gesprek en ek het jou toe al op jou swak gespreksvaardighede gewys. Lyk my niks het sedertdien verander nie; eintlik verdien jy daarom nie ʼn reaksie nie…
      Jy verwys na Handelinge 15 en spesifiek na vers 21 as jy sê dat “dit deur al die appostels/dissipels besluit dat hulle wat hulle by die Vader se volk wil aansluit, moet op die Sabbat na die Sinagoge gaan om “Moses”/eerste 5 boeke aan te leer!” Nou, die feit dat jy dink dat dit is waarop die apostels besluit het (snaaks genoeg noem hulle niks daarvan in vers 28-29 toe hulle hul brief opgestel het nie) wys hoe bevooroordeeld jy werklik is en hoe jy bloot lees wat jy graag wil lees.
      Jy vra hoe ʼn mens ʼn Christen kan uitken? ʼn Christen word gekenmerk as iemand wat die vrug van die Gees dra (sien Gal. 5:13-26 en Kol. 3:12-17), omdat hulle deur die Gees nuut gemaak is toe hulle deur die genade van die Here redding deur geloof ontvang het en hul harte gereinig is (sien weer die einste kerkvergadering van Handelinge 15 en spesifiek verse 9-11, sien ook Romeine 10:12-13). Ek sien nêrens dat die apostels die onderhouding van die Sabbat of enige ander Joodse wet, soos die besnydenis of enige ander wet, as voorwaarde stel om gered te word nie.
      Jy maak dus ʼn karikatuur van wat dit beteken om ʼn Christen te wees! ʼn Christen word gekenmerk deur wat hulle elke dag doen en sê, en nie deur hulle bloot op ʼn Sondag of Kersdag dop te hou nie.
      Verder, die manier waarop nie-Jode dus as deel van God se volk gereken word, en God self het bepaal hoe dit gebeur (sien Hand. 15:14, sien ook Gal. 3:29), is nie deur êrens aan te sluit nie soos jy verkeerdelik dink nie, maar deur geloof gereinig te word. Of dink jy die apostels was verkeerd met hul gevolgtrekking in Handelinge 15:9-11? Of Paulus in Romeine 10:11-13?
      Maar as hulle reg was, waarom dreig jy my dan met ʼn “helse surprise”?
      Miskien moet jy vir ʼn slag jou eie motiewe goed ondersoek en vra of jy werklik ʼn Geesvervulde gesindheid openbaar en of jy nie maar bloot uit selfgeregtigheid oral op die internet kommentaar lewer nie – want jou werke en woorde oordeel jou…

  2. @ Rob
    Rob of so dan enige skrywer:
    “Kon sy maar haar Moabittiese/heidense wette saamsleep die volk in?”

    Waar staan dit geskrywe?
    In die wet staan daar geskrywe dat geen baster in die vergadering mag kom nie(Deut 23:2, Nehemia 13:1, Nehemia 13:27 baie ander). Lees vanaf Esra 9:1
    wat doen Rut? Sy eet pasga saam met Boas. Dit is die tyd van oes, rondom 15 Nissan, koring is ryp
    Het Moabiede ook pasga waargeneem? Nee.
    Heeltemal teen El se woord, Boas sou nie geseënd gewees maar vervloek eerder gewees was.

    Hoe het die skrywers wat die pen vashou dit reggekry om El se Woord te verdraai?
    Het Rut en van die volk na Moab toe getrek weens droogte en later weer by hulle eie aangesluit?
    Lees weer.

    • Pierre, jy skryf: “Hoe het die skrywers wat die pen vashou dit reggekry om El se Woord te verdraai?”

      Waar het die skrywers die Woord van God verdraai?

  3. Udo, ek weet jy bedoel goed, ek praat van jou skrywe.
    Daar is verskil.

    In 2Korinthiers 3:15 Ja, tot vandag toe, wanneer Mosheh gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart;
    3:16 maar wanneer hulle tot Yahweh bekeer is, word die bedekking weggeneem.
    Bekeer ly na geen bedekking
    Maar kyk en lees verder, wie is nog bedek?

    2Korinthiers 4:3 Maar as ons goeie nuus dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,
    4:4 naamlik die ongelowiges in wie die magtige van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die goeie nuus van die voortreflikheid van die Messias, wat die beeld van Elohiem is, op hulle nie sou skyn nie.

    Die Torah word gelees, die beddekking word weggeneem
    Vandag se mense hou juis nie Moses se wette nie! Hulle will nie, hulle word so geleer.
    Johannes 7:49 “Maar hierdie skare wat die Torah nie ken nie, is vervloek!”

    Wat leer die wet:
    1)Jy mag nie steel nie~Ex20:15
    2)Jy mag nie doodslaan nie~Ex20:13
    3)Jy mag nie owerspel bedryf nie~Ex20:17
    4)Jy mag nie vals sweer nie~Ex20:16
    5)Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie~Ex20:3
    Kyk wat se Jeremia: Jeremia 7:8-12  Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie….

    As die Gees in jou is sal dit jou terug lei na Vader se insettinge:
    Begin hier: Handelinge 5:32 En ons is getuies van hierdie dinge, en ook die Afgesonderde Gees wat Elohiem gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.
    Handelinge 5:33 Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring.

    Hulle wil nie, daarom sal hulle Hom doodmaak omdat die Gees jou juis terug bring na Vader se wette.

    Yashua sê:
    Lukas 11:20  Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom. 
    Waarvan praat Yashua?
    Eksodus 31:18  En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God. 

    Yashua sê sonder die sal julle nie die koninkryk van God sien nie.
    As ons mense sê ons onderhou die 10 gebooie sal ek sê hulle het die eerste een oorgelaat, die belangrikste van almal.

  4. Udo, Salomo sê aan sy seun Dawid:
    1Konings 2:3  en onderhou die ordening van die HERE jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe; 

    Die Meester het net Sy Vader se woorde gespreek, hoe lank is “ewige verbond” – dit is opgeskrywe
    Moenie n ewige vyandskap koester nie, die woord is duidelik.
    Ek weet my Meester het nie die nuwe testament boek onder Sy arm gedra nie.

    Die nuwe verbond wil julle regverdig maar wat staan daar?

    Hereërs 8:7  Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie. 
    Heb 8:8  Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring, 
    Heb 8:9  nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. 
    Heb 8:10  Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 
    Heb 8:11  En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle. 
    Heb 8:12  Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie. 
    Heb 8:13  As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning. 

    “Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.”

    In 8:13 sal dan teenstrydig wees as Hy sê dit is weggemaak, die ewige verbond.

    Ander vertalings verklaar dat dit soos was sal wees, nie meer mooi kan sien nie, dof wees, later verdwyn omdat die nie gesien kan word nie.
    “Now that which decayeth and waxeth old is ready to vanish away.”

    Wat was YHWH se woorde as Hy sê dit is weggemaak?
    Jesaja 24:3  Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die HERE het hierdie woord gespreek. 
    Jesaja 24:4  Die aarde treur, dit verwelk; die wêreld versmag, dit verwelk; en die hoogstes van die mense van die aarde versmag. 
    Jesaja 24:5  Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. 
    Jesaja 24:6  Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor. 

    Johannes 5:46  Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. 
    Johannes 5:47  En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

    • Pierre, ek kan nie agterkom of jy die Bybelse verwysings na die ‘nuwe verbond’ probeer ONTKEN en of jy bloot net nie weet wat dit is nie. Probeer gerus weer…

  5. Daardie “ou verbond” was bekendgemaak aan Moses, Aaron, die Israeliete
    Doen dit en lewe

    Deuteronomium 30:10  as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel. 
    Deu 30:11  Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. 

    Hoekom Mesiag sê:
    Johannes 12:50  En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek. 

    Hebreërs 12:24 en by Y’shua, die Middelaar van die nuwe verbond, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge praat as Hevel(Abel).
    Heb 12:25 Pas op dat julle Hom wat praat, nie afwys nie; want as hulle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy as Elohiem op aarde ‘n waarskuwing gegee het, veel minder ons wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemel praat.
    Heb 12:26 Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.
    Heb 12:27 En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.
    Heb 12:28 Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so Elohiem welbehaaglik dien met eerbied en vrees.
    Heb 12:29 Want ons Elohiem is ‘n verterende vuur.

    “sodat die onwankelbare kan bly” – onveranderde, ewige. Dink jy ek, jou kerk of enige iemand anders sal Elohiem se woord kan verander?
    Wurmpie sê Hy is ons, die brandende hout wat uit die vuur gered is.
    Soos ek jou nou al gewys het, Elohiem sal die wêreld vernietig omrede die mense vra “na wat moet hulle terug keer”

    As die Seun bekeering kom leer het sal dit wees om na iets toe terug te keer wat reeds was.
    As die Seun ons verlossing gebring het, die pand is vir die terugkeer sal dit wees na n bestaande verbond.
    As jy wil weet wat het Moses met die te doen, ek dink jy ken die antwoord, die Woord is van selfsprekend.

    Hebreërs 10:28  As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;

    Wie is jou getuienis? Die Gees wat terug gaan na Elohiem, hemel en aarde
    Die Gees sal teen jou getuig, die Gees wat met Moses gepraat het op die berg en hom die kliptafels en die insettinge gegee het – aan geen ander nasie bekend gemaak nie.

    Jy sê ek die “nuwe verbond’ probeer ONTKEN”
    Om weer deel te hê aan n verbond soos in die begin geskrywe was, daarom neem ek die Seun se pand, Sy waarborg en koester dit, die enigste weg om te bekeer na YHWH

    Hoekom sê Messiag:
    Lukas 13:27  En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid! 
    Lukas 13:28  Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe. 

    Udo, wat sal jou “nuwe verbond” wees?

    • Pierre, ek het nie gesê dat jy die nuwe verbond probeer ontken nie – ek het gesê ek kon nie agterkom of jy doen nie.

      Die ou verbond was met spesifiek net met Israel gesluit (en ja, iemand wat deel geword het van Israel, het ook deel geword van God se verbond met Israel). Die nuwe verbond, wat God spesifiek ook aan Israel/Juda beloof het (Jer 31-:31-34) om te sluit (maar wat dit grootliks verwerp het, Rom 11, omdat hulle Christus verwerp het), word nou in Christus gesluit, m.a.w. nie onder die voorwaardes van die ou verbond en wetsonderhouding nie (Rom. 7:6-7, 2 Kor. 3:6, Ef. 2:15, Rom. 10:4, Heb. 9:15 en sien ook Handelinge 15), maar onder die voorwaarde van geloof in Christus wat as geregtigheid toegreken word (Rom 3:21-31, 4:1-25, Gal 3:6-7, 23-25). Die nuwe verbond is dus ‘n verbond wat deur die Gees geleef word, nie deur die letter van die wet nie. Iemand wat in Christus deel is van die nuwe verbond en deur die Gees leef, is die persoon wat die reg van die wet vervul (Rom 8:4).

  6. Wat verder sal ek jou kan antwoord

    Dit wat aan die geloof ontbreek, dit is die weg van Elohiem
    Die insettinge en verordinge en wat op die klip tafels geskrywe was.

    Efesiërs 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van Elohiem

    Romeine 8:4 sodat die reg van die Torah vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
    Romeine 8:5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.
    Romeine 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,
    Romeine 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen Elohiem is; want dit onderwerp hom nie aan die Torah van Elohiem nie, want dit kan ook nie.

    Die Gees lei ons juis terug na Elohiem se insetting en verordinge
    As ons sê ons het die Gees, maar lei ons nie terug na Elohiem se insetting en verordinge dan bedink ons VLEES
    As dit die VLEES is = want dit onderwerp hom nie aan die Torah van Elohiem nie
    Die beddekking is nog daar

    2Korinthiërs 3:14 Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die ou verbond dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in die Messias vernietig word.
    2Korinthiërs 3:15 Ja, tot vandag toe, wanneer Mosheh gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart;
    2Korinthiërs 3:16 maar wanneer hulle tot Yahweh bekeer is, word die bedekking weggeneem.
    2Korinthiërs 3:17 Yahweh is die Gees, en waar die Gees van Yahweh is, daar is vryheid.
    2Korinthiërs 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die voortreflikheid van Yahweh aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van voortreflikheid tot voortreflikheid, as deur Yahweh wat die Gees is.

    Waneer die wette gelees word dan lê die bedekking oor hulle hart, die bedekking wat in die Messias vernietig word, dit word juis afgehaal in Messiag (Jeremia -maar die volk wil dit so hê)
    Yahwe is Gees, die bedekking word weggeneem, die wette vat die bedekking weg, bekeering, ook hoekom Messiag dit wegneem
    Wanneer die bedekking weggeneem word, na Moses se woorde luister, Messiag luister – die onbedekte gesig verander ons na dieselfde beeld as die Gees

    2Korinthiërs 4:3 Maar as ons goeie nuus dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,
    2Korinthiërs 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die magtige van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die goeie nuus van die voortreflikheid van die Messias, wat die beeld van Elohiem is, op hulle nie sou skyn nie.

    As die wette gelees word, bedek dit die wat verlore gaan – mense wil nie, sal nie, sê is ou testamentmenties
    Die ongelowiges, die goeie nuus wat verblind word, kan nie sien nie
    Die beeld van Elohiem nie op hulle sou skyn nie – die Gees is nie daar nie.

  7. Jy het gehoor Hy maak mense gesond, blindes laat sien, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit.
    Maar wat sê ek: Talíta koemi, eet en word genees.

Leave a Reply to Pierre Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.