Wie se interpretasie van die Bybel is reg?

Hallo Udo

Die interpretasie van die Bybel hang af van, en word bepaal deur, die wêreld- en lewensbeskouing van die individu, die tydsgees, persoonlikheid, politieke sieninge, ouderdom, opvoeding en kultuurgroep – om ‘n paar faktore te noem. Hierdie is nie ‘n nuwe verskynsel nie. So byvoorbeeld was Calvyn en Luther lynreg teenoor mekaar ten opsigte van hulle interpretasie van die nagmaal. Verder het Calvyn en Zwingli so van mekaar verskil oor die doop dat die een groep bereid was om die ander te vervolg en te dood. Calvyn se politieke invloed het hom mag gegee om die Anabaptiste tot die dood te veroordeel. Al hierdie persone en groepe het hulle standpunte op dieselfde Bybel gegrond. Hierdie is maar twee voorbeelde uit ‘n magdom.

Alle denominasies, behalwe moontlik die mees fundamentalistiese soort, kies die tekste/dele uit die Bybel wat by hulle sienings/dogma pas. Dit wissel selfs binne dieselfde denominasie van generasie tot generasie. Byvoorbeeld, slegs 30 jaar gelede kon die Gereformeerde Kerk apartheid uit die Bybel fundeer en goedkeur. Tekste is met gemak gevind om dit te staaf. Nog ʼn voorbeeld: Die NGK gebruik dieselfde Bybel om die posisie van vroue in die amp te aanvaar, as wat die GK gebruik om te sê dat dit verbode is. Of nog een: Nie te lank gelede nie, was die tekste waarin Paulus bepaal dat vroue se hoofde bedek moet wees en hulle stil moet wees in die gemeente ten volle aanvaar. Soos die tye verander word die tekste anders interpreteer. Wat het bepaal dat dit metafories bedoel is in die negentigs, maar al die eeue voor dit letterlik interpreteer is? Of daar word gepreek oor Dawid as God se liefling, sy “goeie” dade en pleit om vergifnis wanneer hy fouteer – soms. Daar word min kere preke gemaak oor Dawid se tydperk by die Filistyne toe hy voor die koning gemaak het of hy mal is, terwyl hy en sy 600 manne vir maande lank Filistynse gemeenskappe geplunder het. Tydens hierdie plundertogte, wat slegs oor buit gegaan het, is die hele gemeenskap uitgewis om geen getuies te laat nie. Wat is die boodskap van hierdie tekste vir die postmoderne Christen? Hoe wys hierdie verhale heen na Jesus se soendood?

My belangstelling in astronomie, geografie en filosofie het daartoe gelei dat ek algaande begin besef het dat ons die Bybel nie letterlik kan interpreteer nie. Ek het ook besef dat Christelike Dogma in vele opsigte te kort skiet.

Byvoorbeeld, almal bekommer hulle oor die dag van môre. Ek ken min Christene wat nie mediese fondse, versekering en alle ander maatreëls tref om hulself en hul besittings te beskerm nie. Almal gaan dokter toe, en skroom nie om selfs desperate behandeling te soek nie. Wanneer ek hulle hiermee konfronteer is die antwoord “God het my ‘n verstand gegee om te gebruik.” Of “Dit is god wat die dokter die verstand gee om my te genees. Die implikasies is o.a dat God miljoene in uiterse pyn en lyding laat sterf voordat hy die gawe van kennis oor bakterieë, virusse, genetika ens. aan ons bekend gemaak het.

Of nog ʼn voorbeeld. Hoe weet ons wat is die wil van God? Daar is geen objektiewe manier om die wil van God te bepaal nie, want God maak nooit direk sy wil bekend nie. God se wil word bekend gemaak deur – die influistering van die Heilige Gees – die Bybel – ander ‘tekens’. Die probleem is egter dat die influistering, die boodskap uit die skrif, en die tekens subjektief bly. Twee individue wat oor dieselfde saak bid kan teenoorgestelde influisteringe van die Gees ontvang. En daar is geen manier om objektief te toets wie se influistering korrek/waar is nie. Dan het ons nog nie die saak aangeroer dat God self valse influisteringe kan stuur nie, soos hy met die profete in die Ou Testament gedoen het.

Is Bill Hicks nie dalk reg nie, as hy sê: “How do I know the Bible isn’t the word of God? Well if it was the word of God it would be clear and easy to understand…considering God was the creator of LANGUAGE!”

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die feit dat mense tot verskillende gevolgtrekkings kom oor dieselfde teks, dui juis op die kompleksiteit van faktore wat alles ‘n rol speel by die interpretasie daarvan. Deel van die proses van sorgvuldige eksegese van enige teks is om bewus te wees van al sulke faktore en dit maak eksegese daarom soms ‘n baie intensiewe proses. Dit beteken egter nie dat ons nie by ‘n interpretasie kan uitkom wat die beste sin maak van al die faktore wat ‘n rol mag speel in hoe ‘n teks verantwoordelik verstaan kan word nie. Ons is ook nie noodwendig so vasgevang in ons eie wêreldbeelde en voorveronderstellings dat dit onmoontlik is om kritiese selfbewustheid aan die dag te lê in ons hermeneutiek nie.

So wie se interpretasie is reg? Wel, wat is die implikasie daarvan dat daar verskillende interpretasies is? Daar is verskillende opinies oor byna enige saak. Is ons genoop om ons hande magteloos die lug in te gooi en te verklaar dat niemand daarom regtig kan weet wat die teks sê nie? Of beteken verskillende interpretasies eerder dat ons moet besef dat ons soms die harde werk moet sal moet doen wat nodig is om ‘n spesifieke teks sorgvuldig vir onsself te ondersoek, te bepaal hoe ander mense tot hulle gevolgtrekkings gekom het en dan te besluit wat die beste sin maak van die data tot ons beskikking? Persoonlik is daar by my geen twyfel oor wat die meer redelike benadering is nie, al is dit nie die maklikste benadering nie.

Natuurlik is dit soms regtig moeilik om sin te maak van wat hoe ‘n spesifieke teks verstaan moet word. Daar is beslis sulke gedeeltes in die Bybel. Maar sulke gevalle is geensins ‘n aanduiding dat alles daarom onduidelik is of dat daar nie baie is wat wel duidelik is nie. Skeptici maak dikwels die ongegronde suggestie dat as iets is onduidelik is, dan is alles onduidelik. Sulke skeptisisme is ongegrond.

Die feit dat mense verskillende interpretasies huldig beteken nie dat alles maar net opinie is of dat enige opinie so aanvaarbaar of verwerpbaar is as die volgende nie. So ‘n skeptiese standpunt is onhoudbaar en misleidend, en veral vir twee redes:

  1. Die feit dat mense verskillende opinies handhaaf is NIE ‘n aanduiding dat almal se opinies reg kan wees nie. Veral waar aansprake mekaar weerspreek, is dit eenvoudig onmoontlik dat al daardie aansprake reg kan wees. Verskillende opinies beteken ook nie dat sodanige opinies almal verkeerd is nie. Hulle mág dalk almal verkeerd wees, maar hulle is nie noodwéndig almal verkeerd nie. Inderwaarheid sê die feit dat mense verskillende opinies het absoluut niks oor die waarheidsgehalte van daardie opinies nie – dit sê maar net dat mense, wel, verskillende opinies het.
  2. Laasgenoemde is vanselfsprekend. Die belangriker vraag is of dit móóntlik is om by die waarheid rakende ‘n bepaalde saak uit te kom. Is dit moontlik om te bepaal of ‘n idee/aanspraak ooreenstem moet hoe dinge werklik is? Ek dink dit is, maar terselfdertyd hoef ‘n mens nie absolute sekerheid te hê voordat jy geregverdig is om iets bo redelike twyfel te aanvaar nie (daar is min dinge in die lewe waaroor ‘n mens absolute sekerheid kan hê). Om die waarheidsgehalte van ‘n aanspraak of stand van sake te ondersoek is ‘n ondersoek na die oorwig van die getuienis. Dit gaan dus oor meer as net ‘n opinie hê – dit gaan oor ‘n ingeligte opinie wat bemoeienis maak met ‘n verskeidenheid getuienis. Hierdie getuienis is natuurlik onderworpe aan interpretasie, maar nie alle interpretasies is gelyk nie. Daar is beslis iets soos goeie en swak interpretasies. Nie alle interpretasies gee die beste verduideliking vir die grootste hoeveelheid data nie. Nie alle interpretasies doen (genoeg) moeite met kontekstuele en ander hermeneutiese faktore nie. Nie alle interpretasies werk met redelike vertrekpunte nie. Dit is dus inderdaad moontlik om verskillende interpretasies (ook van die Bybel) volgens verskeie kriteria te evalueer om te sien of dit ‘n goeie of swak interpretasie van die getuienisdata verteenwoordig. Dit gaan hier baie beslis oor meer as ongesubstansieerde spekulasie of emosionele sentiment.

Weer eens, enige iemand kan kritiek lewer op die feit daar so baie interpretasies is, maar in die proses geen konstruktiewe bydrae tot enigiets maak nie. Wat meer verantwoordelik is, is om standpunt in te neem omdat jou beste pogings om die kwessies ter sprake te verstaan, jou daartoe gebring het.

Wat ek wel sal beklemtoon is dat nie alle verskille in interpretasies met dogmatiese hardgebaktheid gepaard hoef te gaan nie en hierin het Christelike denominasies in die verlede al erg gefouteer. Daar is baie waarde in die volgende idee wat Christene meer gereeld kan toepas wanneer hulle van ander Christene verskil: In essentials, unity; in non-essentials, liberty; in all things, charity.” Dis juis omdat mense verskil (en alle mense is feilbaar) dat dit voordelig kan wees as ons met mekaar in gesprek tree. Dis deur middel van gesprek dat die potensiaal bestaan dat ons vooroordele en interpretasies uitgedaag word (op ‘n respekvolle manier) wanneer dit aan ander se kritiese beskouing blootgestel word. Ander perspektiewe bied dikwels bepaalde insigte, soms help dit ons om ons blinde kolle te identifiseer en maak dit ook verdere of dieper refleksie moontlik. Dis slegs ‘n fundamentalistiese benadering wat wegdeins van sulke dialoog en ‘n mens daarom verhoed om kwesbaar te wees vir kritiek; so ‘n ‘onaantasbare’ benadering maak dit ook onmoontlik om werklik beïnvloed of gekorrigeer te kan word.

Om ‘n boek soos die Bybel reg te interpreteer is en sal altyd ‘n uitdaging bly. Dit is omdat dit ‘n komplekse samestelling van boeke is wat deur baie verskillende skrywers oor baie eeue en elke met hul eie agtergronde, eie perspektiewe, eie doelstellings en vir bepaalde gehore geskryf is. Die Bybel is nie ‘n diktaat soos wat die Koran deur die Engel Gabriël aan Mohammed gegee sou gewees het nie. Die Goddelike inspirasie van die Bybel hoef egter nie ontken te word omdat God sy boodskap deur mense met hul eie persoonlikhede en menslikheid bekend gemaak het nie. Dit beteken wel dat ons dikwels meer moeite moet doen om ‘n bepaalde teks te verstaan as wat dit met die eerste oogopslag nodig mag lyk.

In verwysing na Jesus se woorde in Matt 6:25: Jesus het, soos baie ander Rabbi’s in die Joodse onderrigtradisie, van verskeie retoriese stylfigure gebruik gemaak in die manier waarop hy met mense gepraat het. Hiperbool, gelykenisse, vraagstellings, herhalings, metafore, allegorie, illustrasies en humor was alles deel van Jesus se meesterlike didaktiese vernuf. Daarom sou dit ‘n fout wees om Jesus se woorde buite konteks te probeer verstaan, sonder om in ag te neem wat dit vir sy spesifieke gehoor sou beteken en sonder om bewus te wees van bepaalde stylfigure wat ‘n rol kon speel (voorbeelde sou wees: Matt 5:29-30, Matt 7:3, Mark 10:25). In konteks van die perikoop (Matt 6:19-43) wou Jesus ‘n skerp kontras skep tussen die opgaar van aardse skatte en die koningheerskappy van God. Jesus se hoorders word aangespoor om hul prioriteite te ondersoek, want dit reflekteer op hul siening van wie God is. Jesus was nie besig om roekelose sorgeloosheid te verkondig wat nie voorsiening maak vir die toekoms nie. Om Jesus so te verstaan is om geen eksegetiese vaardigheid of kontekstuele bewussyn te hê nie.

Dis presies hier waar die probleem lê met baie skeptici. Ons almal interpreteer ‘n teks, maar nie almal interpreteer dit reg nie. Daar is allerlei hermeneutiese beginsels wat nie maar net geïgnoreer kan word nie en waarvan baie mense duidelik onkundig is wanneer hulle oor iets soos die Bybelse teks begin praat.

Mediese kennis is ‘n voorbeeld van die uitwerking van die skeppingsmandaat (Gen 1:28) waarvolgens die mens sy godgegewe kapasiteit (inderdaad ‘n gawe) nastreef. Dis dus nie die kennis opsigself wat ‘n gawe is nie en dis ook nie iets wat God direk aan ons geopenbaar het nie. Ons het die gawe van kreatiwiteit en rasionaliteit ontvang as deel van ons weerspieëling van die beeld van God en daarom kan ons kennis nastreef. Ten spyte van die toename in ons mediese kennis beleef mense egter nog altyd die effek van sonde in hul lewens, naamlik pyn en lyding. Waarom God dit toelaat word hier bespreek: As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld so?

Dan die bewering dat daar geen objektiewe manier is om die wil van God te bepaal nie. Maar waarom kan die openbaring van God se wil in die Bybel nie objektief wees nie? Daar is niks onduidelik oor God se wil in gedeeltes soos die volgende nie: 1 Tessalonisense 4:3-5, 1 Tessalonisense 5:16-19, Matteus 6:33, 1 Timoteus 2:4, Johannes 6:40, 1 Petrus 2:15.

Iets soos die innerlike getuienis van die Heilige Gees of allerlei tekens is altyd onderworpe aan duideliker gevalle van God se wil in sy openbaring in geskrewe vorm, juis omdat selfmisleiding iets is om mee rekening te hou. Daar is egter baie dinge wat oor God se wil bepaalbaar is in ‘n objektiewe sin indien iemand erns maak met God en sy Woord. Daar is dus inderdaad kondisies gekoppel vir iemand om God se wil te bepaal (sien hieroor Heb 11:6, Joh 7:17, Rom 12:2. Jak 1:5). Om van die begin af skepties te wees is nie ‘n sinvolle vertrekpunt nie.

Met verwysing na voorbeelde in die Bybel van “valse influisteringe” kan die volgende dalk meer duidelikheid bied: http://christianthinktank.com/godlies.html

Rakende die aanhaling van Bill Hicks. Dis altyd vir my interessant dat mense wat niks met God te doen wil hê nie of nie dink dat Hy bestaan nie, presies weet hoe God met mense sou kommunikeer as hy volgens hulle, werklik bestaan het. Eintlik is dit eerder die geval dat niks so moeilik is om te verstaan as dit wat iemand nie wíl verstaan nie.

Groete

Udo

1 Comment

Leave a Reply to Cobus Cancel reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.