Waarom is dit so moeilik om die Bybel reg te verstaan?

Udo,

Ek wonder dikwels waarom die Bybel so baie verduidelikings, interpretering en uitleg moet ondergaan om dit reg te verstaan. Waarom kon God dit nie so bewerkstellig het nie dat die skryfstyl en bewoording daarvan eenvoudiger en in die algemeen meer duideliker vir almal kon gewees het nie?

Ons Christene besluit byvoorbeeld watter dele/verse van die Bybel van toepassing is op ons, wat geldig is. Of wat is metafories, en wat nie.  Ons is inkonsekwent; ons besluit wanneer voorskrifte tydsgebonde vs ewigheidsgebonde is; wat ‘tel’ en nie ‘tel’ nie.

Daar is baie probleme rondom die manier waarop woorde, grepe, sinne, ens., in die Bybel vertolk word.  Een van die groot punte van kritiek teen Christene is juis die feit dat ons besluit watter dele is van toepassing en watter nie (hoofbedekkings, homoseksualiteit – veral in die wrede Levitikus is daar ‘n hele rits ontstellende voorbeelde). Ek weet dis eintlik historiese feite in Levitikus van hoe dit in daardie tyd gewerk het, maar wat gee ons die reg om te besluit wat vandag van toepassing is en wat nie?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Alle woorde is onderworpe aan interpretasie, selfs al gebruik ʼn mens die mees eenvoudigste taal. Waar en wanneer ons ook al iets hoor of lees, gaan van ons verg om dit te interpreteer. So die vraag is nie of ons gaan interpreteer nie, maar hoe goed of swak ons dit wat ons hoor/lees interpreteer. Hoe goed ons interpreteer hang af van hoeveel ons van die konteks in ag neem, die bedoeling van die skrywer, die bedoelde gehoor, die stylfigure wat gebruik word, ens.

Om die Bybel korrek te interpreteer is nie veel anders as wat elke mens elke dag van hul lewe doen nie, selfs al besef ons nie eers dat ons onderbewustelik allerlei interpretasie-beginsels toepas nie. Die verskil is net dat hoe verder dit wat ons hoor of lees verwyderd is van ons onmiddellike verstaanswêreld, hoe meer moeite moet ons doen om iets reg te verstaan.

Die Bybel is inderdaad ver verwyderd van ons onmiddellike verstaanswêreld en dus moet ons moeite doen om dit reg te verstaan. Is dit egter ‘n slegte ding? Nee, want as die Bybel die Woord van God is, dan is enige moeite wat ons doen om dit reg te verstaan, direk gekoppel aan ons begeerte om die God wat aan die woord is, te verstaan. Ons staan tog in ‘n verhouding met Hom (dis nou indien ons wel in ‘n verhouding met hom staan). As God dus die Bybel as medium wil gebruik sodat ons Hom kan leer ken en as enige verhouding vereis dat partye moeite sal doen om mekaar te leer ken, dan is die proses om die Bybel reg te interpreteer tot ons voordeel, al is dit nie altyd voor die hand liggend nie.

Dis soos ‘n liefdesbrief wat iemand oor en oor lees. Nie net is dit omdat ons die woorde waardeer wat vir ons bedoel is nie, maar ook omdat ons wil probeer verstaan wat ons geliefde werklik vir ons probeer sê. Vir iemand wat daardie verhouding koester, is die proses nie moeitevol nie, maar ‘n plesier.

Die Bybel is natuurlik nie áán ons spesifiek geskryf nie (elke gedeelte is aan ‘n baie onmiddellike en spesifieke gehoor gerig), maar wel vír ons (as God se Woord dra dit universele gesag). Dit beteken dus dat nie alles wat in die Bybel deur ‘n bepaalde outeur geskryf is sommer direk so van toepassing is op ander mense nie. Hierdie is ‘n heel basiese hermeneutiese beginsel in verantwoordelike Bybelse eksegese en dit het met inkonsekwentheid niks te doen nie. Buitendien, die Bybelse teks gee self voorbeelde van die tydsgebonde aard van bepaalde voorskrifte soos slegs ‘n kursoriese lees van Jesus en Paulus, as Jode wat die geskiedenis van Israel baie goed verstaan het, se woorde en leer duidelik sal aantoon. Maar goed, ons kan gerus na enige ritse verse kyk en elke geval op meriete oorweeg.

Natuurlik is daar iets soos swak eksegese en daar sal altyd mense wees wat die Bybel vir hulle eie doeleindes op bepaalde maniere interpreteer, maar wat geen verband hou met die doelstellings van die oorspronklike skrywer nie. Maar om vir hierdie rede skepties te staan oor die moontlikheid van enige verantwoordelike eksegese is nie redelik nie, maar vermydend.

Hoe om die Bybel in konteks te verstaan en reg te interpreteer is dus uiters belangrik. Daar is nie verniet studieareas soos die hermeneutiek en Bybelse eksegese nie. Baie mense het egter geen belang in die faktore wat ʼn rol speel in hoe bepaalde gedeeltes in die Bybel (d.i. ʼn antieke teks wat deur en aan mense geskryf is wat ʼn ander wêreldbeeld en manier van doen gehad het as ons in die jaar 2016) verstaan behoort te word nie. En dit is ongelukkig waar van beide Christene en skeptici. Wie nie behoorlik erns maak met die omstandighede waaronder die uiteenlopende genres van die Bybel gestalte gekry het en met die doel waarvoor dit geskryf is nie, gaan waarskynlik nie sin maak van wat God se tydlose boodskap is met sy openbaring van homself in die Bybel nie.

Die onmiddellike konteks van ‘n bepaalde Bybelse skrywe is ver verwyderd van die voorveronderstellings wat ons as moderne mense twee duisend jaar later dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Daarom kan ons die oorspronklike bedoeling van die skrywer vir sy onmiddellike gehoor (maar ook God se universele boodskap) maklik mis as ons ons voorveronderstellings bloot op die teks projekteer. Dit beteken nie dat God se boodskap vandag anders is as wat dit was toe die Bybel die eerste keer neerslag gevind het nie. Dis dat die konteks waaronder die Bybel neerslag gevind het, bydra om daardie boodskap reg te verstaan.

So bv. was die Wet van Moses spesifiek op die volk Israel van toepassing vir bepaalde redes en vir ʼn bepaalde tyd. Die voorskrifte en regulasies daaraan verbonde was dus nie universeel of absoluut geldend nie. Natuurlik is en was God se morele wet, wat deels in die Wet van Moses verweef is, universeel van toepassing, want selfs die heidene het hierdie wet geken (sien Rom. 2:18-20) al het hulle dit nie gehoorsaam nie.

Ons sien dat wanneer God homself in Jesus openbaar, word Jesus die vervulling van die Wet van Moses omdat Hy die enigste een was wat die wet volkome nagekom het. Net soos wat iemand wat deel uitgemaak het van God se volk homself aan die Wet van Moses onderwerp het, net so onderwerp iemand homself nou aan Jesus (en sy werk aan die kruis), en word so as kind van God gereken. Hier is dus sprake van progressiewe openbaring en dis nie dat enigiemand maar net besluit wat vandag op ons van toepassing is en wat nie – dis iets wat uit God se openbaring self verstaan kan word (die Nuwe Testamentiese boek, Hebreërs, is ʼn goeie voorbeeld hiervan). Dis nou as iemand regtig die moeite wil doen om dit te verstaan.

Wanneer ʼn mens dus vra oor hoe ʼn bepaalde gedeelte in die Bybel verstaan moet word, help dit nie om maar net om op Christene se verskillende interpretasies te wys asof die teks daarom nie eintlik ʼn betekenis het nie. Die vraag is wie se interpretasie maak die beste sin van die konteks van die gedeelte ter sprake (volgens goeie hermeneutiese en eksegetiese beginsels) – en dit verg dikwels ʼn bietjie meer moeite as net ʼn oppervlak-lees van die teks.

Ek dink nie die Bybel is soseer moeilik om te verstaan nie. Ek dink daar is moeiliker gedeeltes wat meer agtergrondkennis nodig het. Maar ek dink die Bybel se algemene boodskap is toeganklik en maklik verstaanbaar vir enigiemand wat dit met ʼn oop gemoed lees.

Sien die volgende twee baie insiggewende artikels: How to interpret your Bible correctly Part 1, Part 2

Groete

Udo

1 Comment

  1. Baie goed! Ja, selfs in 2 Petrus 3 verwys die apostel dat Pauus se skrywe waarvan sommige “…swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, netsoos die ander Skrifte, tot hul eie verderf”
    Wow – dit was in die eerste eeu!

Leave a Reply to Cobus Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.