Watter Bybelvertaling is beter?

Hallo Udo

Hoe kan ons met sekerheid weet dat die Bybel wat ek in my hand het, is die regte een? Wat is beter: die ou vertaling of nuwe vertaling? 

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelmsidt

Jy vra verder oor hoe ons kan weet watter Bybel die regte een is. Hiermee verstaan ek dat jy wonder oor watter vertaling van die Bybel wat ons vandag kan lees, meer getrou is aan die oorspronklike woorde soos dit destyds in die Grieks (Nuwe Testament) of Hebreeus (Ou Testament) neergeskryf is.

Persoonlik is ek van mening dat ons in ons lees van die Bybel nie net van een vertaling moet gebruik maak nie. “Ouer” is ook nie noodwendig beter as “nuwer” nie. Nuwer navorsing oor antieke tale kan byvoorbeeld help om daardie tale en die spesifieke gebruik daarvan (soos idiomatiese uitdrukkings) beter te verstaan en daarom ook beter te vertaal. Sekere woorde in ‘n ouer vertaling verval ook dikwels in onbruik en raak onverstaanbaar omdat taal dinamies is en voortdurend verander en ontwikkel.

Ek het heelwat vertroue in die meeste moderne Engelse en Afrikaanse vertalings, maar ‘n mens moet wel in gedagte hou dat vertalers verskillende benaderings volg. Daar is basies twee hoofgroepe benaderings (met verskillende grade van oorvleueling): 1) “woord-vir-woord” vertalings poog om ‘n baie direkte letterlike vertaling van die woorde uit die oorspronklike tale weer te gee; 2) “gedagte-vir-gedagte” vertalings poog om getrou te bly aan die bedoeling van die skrywer en terselfdertyd ook rekening te hou met hedendaagse taalgebruik. Daar is eintlik ook ‘n derde groep vertalings (sogenaamde parafrases soos Die Boodskap en The Message en die Lewende Bybel) waar die vertalers baie meer poëtiese vryheid aan die dag lê, maar wat ook poog om “gedagte-vir-gedagte” tipe vertalings te wees.

Ek dink dat ‘n mens met vrug van vertalings uit al die verskillende benaderings kan gebruik maak en dat dit ‘n mens se verstaan van die teks kan verryk deur dieselfde teks in verskillende vertalings met mekaar te vergelyk. Ek dink daarom dis goed as iemand van al die Afrikaanse vertalings gebruik maak in hul bestudering van die Bybel: Die Ou Vertaling (1953), die Nuwe Vertaling (1983) en die Nuwe Lewende Vertaling (2006) volg verskillende vertalingsbenaderings, maar ek dink dat ‘n kombinasie van almal baie insigte kan meebring. Dit is natuurlik ‘n bonus om ‘n werkende kennis van die Grieks en Hebreeus te hê waarin die Bybel oorspronklik geskryf is om sodoende die oorspronklike woorde vir jouself te ondersoek, maar daar is genoeg goeie vertalings (en kommentare) sodat dit nie vir die gewone leser ‘n absolute vereiste is nie.

Groete

Udo

NS: Kyk gerus ook na die volgende artikels oor as jy ʼn bietjie dieper wil delf:

2 Comments

  1. Die KJV is baie betroubaar en alle nuwe vertalings blyk ‘n gemors te wees omdat hulle dogmatiese vertalings blyk te wees.

    • Hallo Hans. Bybelvertaling is ʼn komplekse aangeleentheid, soos ek in my kort antwoord probeer aandui het, maar wat hierdie artikel in meer detail bespreek. So ek dink nie dis korrek om te sê dat sekere nuwe vertalings bloot dogmatiese vertalings is nie. Ja, nie almal is woord-vir-woord vertalings nie, maar hulle gee ook nie voor om te wees nie en daar is bepaalde redes waarom woord-vir-woord vertalings, soos ek ook verduidelik het, tekort kan skiet.
      Dan is daar ook nog die kwessie van die brontekste wat in vertaling gebruik word. En dit bring ons by die KJV en die feit dat hierdie vertalings probleme van hul eie het. Ek probeer nie sê die KJV is onbetroubaar nie (soos ek nie van die meeste vertalings sal sê nie), maar dit is nie so probleemvry soos wat baie mense dink nie. As jy tyd het, kyk ʼn bietjie na die volgende verwysings by voetnota 33 van die artikel, God se Woord en Bybelvertalings.

Leave a Reply to Hans Matthysen Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.