Jesus Christus is die Antichris!

Die kanse is goed dat jy is sopas ge-‘kliklok’ (click bait) is. Ekskuus daarvoor, maar ek wou graag jou intuïsie toets.

Jy sien, die Christelike kerk verkondig al vir byna tweeduisend jaar dat Jesus die Christus is, die Messias, die Verlosser wat gekom het (en weer finaal sal kom). So waarom en hoe wil enigiemand dan beweer dat Jesus die Antichris is?

Welkom tot die wêreld van die Internet, waar elkeen ʼn opinie het, maak nie saak hoe absurd en aweregs nie. Soos ene Japie van Zyl, die sogenaamde ‘Boerseun van Migdol’, met sy video’s op YouTube en Facebook, wat verkondig dat Jesus Christus inderdaad die Antichris is. (Jesus, die Christus en Yeshua, die Masciach, is volgens Van Zyl twee verskillende entiteite.)

So waarom staan ek tyd af om jou hierop attent te maak, wil jy dalk weet. Want wie het tyd om kennis te neem van nóg iemand wat in die waan verkeer en sy illusies met geesdrif, selfs in Afrikaans, êrens op die Internet verkondig?

Goeie punt. Maar ek doen dit nogtans vir die volgende twee redes:

  • Swak inligting en swak argumentering m.b.t. die Christelike geloof, trek my soos ʼn mot na ʼn lig.
  • Van Zyl sê die volgende aan die einde van sy video: “Gaan toets my, gaan koop vir julle die woordeboeke en julle sal sien dat dit wat ek hier sê, plain eenvoudig, straight forward, die waarheid is.”

Goed, Japie, sien hierdie as ‘n proses van toetsing…

Maar eers die video:

 

Vir diegene wat dalk die video oorgeslaan het (ja, dis 12 minute van jou lewe wat jy nooit weer kan terugkry nie): Van Zyl probeer wys dat die naam van die Antichris aan die naam “Jesus Christus” gekoppel moet word. Hy probeer ʼn “ontsyfering” doen van die getal van die dier in Openbaring 13:18 wat terselfdertyd die naam van die dier is. Dit doen hy deur ʼn klomp onkundige aansprake te maak wat te doen het met die Griekse taal waarin Openbaring geskryf is, maar waarvan sy stapel woordeboeke hom skynbaar nie kan red nie.

Wat volg is ‘n analise van Van Zyl se werkswyse en aansprake om te sien of hy inderdaad die waarheid praat. Alle beklemtoonde (bold) gedeeltes is ʼn transkripsie van Van Zyl se woorde (saam met ʼn tydsaanduiding na die plek in die video waar hy dit sê).

[4:26] “Hoe kan iemand se naam nou “seshonderd ses en sestig” wees? En dis juis hier waar die catch is. Dis verkeerd vertaal. Doelgerig het hulle hierdie gedeelte waar die antichris hier aan die voleinding moet ontsyfer, vir ons moet waarsku teen wie en wat hy is, het hulle so vertaal en verbuig, dat jy nie kan sien wie hy is nie, sodat jy hom moet mis.”

Enige leser wat iets van tekskritiese navorsing weet, sal dadelik opmerk dat Van Zyl nie weet waarvan hy praat nie. Daar is geen sprake van ʼn verkeerde vertaling van Openbaring 13:18 nie, maar wel van wat tekskritici as variante beskryf. Variante verwys na verskillende weergawes van dieselfde teks in die Griekse manuskripte tot ons beskikking. Dit het absoluut niks met vertaling te doen nie, maar met wat in die oorspronklike Grieks van die teks staan (sien die volgende voorbeeld van die verteenwoordiging van die verskillende Griekse tekste – dis die eerste 14 in die middelste kolom).

Die variante m.b.t. Openbaring 13:18 in die Grieks beteken dus baie eenvoudig dat daar in sommige Griekse tekste “seshonderd ses en sestig” (“ξακοσιοι εξηκοντα εξ) geskryf staan en in ander verskyn ʼn afgekorte weergawe χξς, aangedui met die drie Griekse letters “Chi”, “Xi” en “Stigma”. Elke letter verteenwoordig ʼn spesifieke numeriese waarde: Chi = 600; Xi = 60; Stigma = 6, en kom dus neer op die getal 666.

Van Zyl het natuurlik nie die oorspronklike Griekse manuskrip van Openbaring in sy besit nie – niemand het nie. So niemand weet presies wat Johannes aanvanklik neergeskryf het nie. Daar is egter ʼn argument daarvoor uit te maak dat die vroeë kerkvaders reeds binne enkele jare nadat Johannes sy woorde neergeskryf het, reeds begin het om “isopsephy” (die Griekse ekwivalent van Hebreeuse gematria) op die teks toe pas om Johannes se raaisel te probeer ontsyfer en juis dáárom sien ons in hulle kopiëring van die teks, die verkorte χξς. Dit sou verklaar waarom daar ʼn verkorting is van die oorspronklike ξακοσιοι εξηκοντα εξ, wat ʼn beter verduideliking is as dat iemand wat ʼn teks met die hand kopieer skielik gaan besluit om χξς lank uit te skryf.

Van Zyl hou natuurlik van samesweringsteorieë (soos die meeste van sy video’s van oorloop), so vir hom is dit ʼn uitgemaakte saak, soos hyself sê [4:50], dat daar aan die teks gepeuter is. Wie die “hulle” is wat dit “doelgerig” sou gedoen het, kan hy natuurlik nie verduidelik nie.

So saam met die feit dat hy ook dink dat dit hier oor vertaling gaan, demonstreer Van Zyl bloot sy onkunde en verdagmakery.

[5:27] “Daar staan een Griekse woord”; [6:05] “Dis die naam wat daar staan: Chi Xi Sigma”,

Enige leser wat iets van Grieks weet, sal dadelik opmerk dat daar nie ʼn “woord” of ʼn “naam” in sommige weergawes van Openbaring 13:18 staan nie, maar baie eenvoudig drie Griekse letters naamlik χξς, of te wel “Chi”, “Xi” en “Stigma”, wat soos reeds aangedui is, ʼn numeriese waarde verteenwoordig. Dit is soortgelyk aan wanneer ʼn mens die letters JFK êrens sou lees; jy herken dit as drie letters, nie as ʼn woord of ʼn naam nie. Dit mag ʼn naam verteenwoordig (John Fitzgerald Kennedy), net soos die Griekse letters “Chi”, “Xi” “Stigma” verteenwoordigend was van ʼn getal, maar dis nie opsigself ʼn naam of ʼn woord nie.

Dis ook belangrik om daarop te wys dat Van Zyl onbeholpe is wanneer dit kom by Koine Griekse uitspraak, soos wat sy uitspraak van die Griekse alfabet letters as “kigh-zee-sigma” duidelik wys. ʼn Mens sou dink dat iemand wat sy hele saak bou op hoe Grieks getranslitereer en uitgespreek word, sal weet waarvan hy praat. Maar nee, Van Zyl is salig onbewus van belangrike nuanses en steur hom nie eers aan die korrekte fonetiese uitspraak van die Griekse letters in die Strong’s woordeboek waarna hy sélf verwys nie: verwysing G5516, “khee xee stig’-ma”. Terloops, dis ook nie “sigma” soos Van Zyl in sy onkunde uitspreek nie, maar “stigma”.

Nie net is dit duidelik dat Van Zyl die kat aan die stert beet het nie, hy gaan dit binnekort nek omdraai.

[6:41] “Nou gaan ek en jy dit probeer ontsyfer.”

Van Zyl se poging om die naam te ontsyfer waarvoor die drie Griekse letters χξς in Openbaring 13:18 as leidraad dien, is ‘n skaamtelose brouspul. Van Zyl se metodologie val êrens tussen transliterasie (klankvertaling) en ʼn goeie dosis verbeelding, deur die krake.

Van Zyl ignoreer of is skynbaar onbewus daarvan dat die transliterasie van die Griekse letters χξς na Latynse letters (die basis vir vandag se moderne Westerse alfabet) lankal deur gekwalifiseerde en kundige persone gedoen is. Die eindproduk is “chxs”. (Kyk gerus hier asook weer die middelste kolom hier, spesifiek in verwysing na die volgende transliterasies: Greek NT: Tischendorf (8th Ed)., Byzantine/Majority Text (2000), Stephens Textus Receptus (1550), en Scrivener’s Textus Receptus (1894).)

Maar Van Zyl se poging is veelseggend. Dit demonstreer die tipiese eiesinnigheid en paranoia van iemand wat dink dat hy van beter weet omdat daar ʼn sameswering daarbuite is om die waarheid te verdoesel. Daarom strompel hy voort, en dit lyk of hy met sy amper berekende handgebare en stem-intonasies die teks as’t ware wil forséér om te sê wat hy graag wil hê dit moet sê, maar wat dit duidelik nie doen nie.

So, as jy aspirasies het om die Griekse teks in Openbaring 13:18 vir jou eie doeleindes te verdraai en jou hoorders te mislei, dan gee Japie van Zyl vir ons 5 stappe om dit te doen:

Stap 1

Noem vir jou gehoor [6:57] dat “enige ander blerrie Strong’s kan jy gaan kyk, woordeboek, en jy kan dit self gaan doen”. Die verwysing na gerekende outoriteite stel mense gerus, want jy wil nie die indruk skep dat jy eintlik glad nie weet waarvan jy praat nie.

Stap 2

Verduidelik hoe die Griekse letters χ ξ en ς klankvertaal (getranslitereer) word, al weet jy nie waarvan jy praat nie. Hopelik is jou gehoor nie met Griekse uitspraak bekend nie, want dis die enigste manier waarop jy gaan wegkom om te sê dat die Griekse letter χ klankvertaal word as “IH” [7:39] of dat dit foneties uitgespreek word as “hee” [7:53] (sien hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier en hier). Maar vir doeleindes wat later sal duidelik word is dit baie belangrik om “IH” op die bord te skryf.

Merk dus jou AMG’s Annotated Strong’s Dictionaries mooi in geel, wys dit dan vinnig aan jou gehoor waar die transliterasie as “ch” en die klank in Engels as “h” aangegee word [7:13 – 7:17], maar skryf dan “IH” (in hoofletters; ook belangrik vir later, alhoewel fonetiese klanke natuurlik nie met hoofletters aangedui word nie) op die bord.

(Opmerking: Iemand soos Van Zyl wat nie veel weet van Grieks nie, weet natuurlik ook nie dat die getransliteerde ‘h’-klank in Engels, soos die AMG dit aandui, gevorm word deur die tong teen die agterkant van die verhemelte te druk nie (sien hierdie, hierdie en hierdie uitspraak), soos die Engelse “chaos” of “loch” (sien ook hierdie transliterasie tabel soortgelyk aan die AMG). Die voorbeeld van “heel” in die AMG sal daarom misleidend wees vir iemand wat die klank nie hóór nie, maar dit net lees (sien hierdie verduideliking). Dis ook reeds in bogenoemde Nuwe Testamente gesien dat die getranslitereerde Griekse letters χξς in Openbaring 13:18 as “chxs” aangedui is, nie as “hxs” nie, en nie naastenby as “ihxs” nie.)

Stap 3

Verduidelik nou [8:42] dat die Griekse letters χξς dus die klank “hee-ex-es” gee. As jou gehoor nie teen hierdie tyd al aan jou lippe hang nie, dan sál hulle as jy eers vir hulle ʼn paar vet en blink Griekse woordeboeke op jou tafel gewys het.

Maar wees nou baie versigtig om jou gehoor nie deurmekaar te maak met korrekte fonetiese uitspraak nie (weereens, soos jy hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier en hier kan hoor). Want iemand wat iets van die transliterasie van Grieks weet, gaan jou daarop wys dat die klanke vir die letters χξς nader is aan “kh-ks-s” of “ch-ks-s” (iets soos die klanke wat jy maak as daar iets in jou keel vassit), veral natuurlik omdat die Griekse letters χξς konsonante is en per definisie niks met klinkers te doen het soos wat jou uitspraak “hee-ex-es” die valse indruk skep nie. Maar dis ʼn detail waarmee jou gehoor hulle hopelik nie gaan bemoei nie.

Stap 4

Nou – en dis baie belangrik om dit rég te doen – gebruik jou hande, in vinnige, aanhoudende op-en-af bewegings [9:06] voor die bord waar jy die Griekse letters neergeskryf het, om jou gehoor in ‘n magiese beswyming te laat val, want dis die enigste manier waarop jy hulle gereed kan maak vir jou grootse openbaarmaking oor die naam van die Antichris.

Stap 5

Vra jou gehoor [9:14] om die woord “christogram” te Google en verduidelik dan dat hulle “sal sien dat daar net een persoon is wat uitgebeeld word deur hierdie drie letters, wat se naam dan bestaan uit IHXS” en dat dit [9:34] “niemand anders is nie as die man met die naam Iesous [wys na die “IH”] Christos [wys na die X en S], Jesus Christus”.

Die klank “hee-ex-es”, so moet jy jou gehoor laat verstaan terwyl hulle nou in ʼn diep beswyming verkeer, dui dus op Jesus Christus. En wanneer jou gehoor Google en afkom op die christogram “IH” (die eerste twee letters van die Griekse naam vir Jesus wat in hoofletters gespel word as ΙΗΣΟΥΣ), dan sal hulle sien dat dit identies is aan die transliterasie van die Griekse letter “χ” wat jy vroeër op die bord geskryf is as “IH”! Hierdie transliterasie is natuurlik hopeloos foutief, maar nou sien jy waarom dit so belangrik was om dit so neer te skryf, sélfs al doen die AMG dit nie so nie.

Enige (onoplettende) gehoor behoort nou so geweldig beïndruk te wees, dat hulle nie eers sal agterkom dat die klank “hee” van “hee-ex-es” (in werklikheid bloot die konsonant-klank “ch” of “kh”) en die christogram “IH” met mekaar absoluut niks te doen het nie. Maar, deur die krag van suggestie het jy jou doel bereik!

(Opmerking: Van Zyl se verdere aanspraak dat die klanke “ex-es” (of eerder “ks-s”, die korrekte konsonant-klanke!) na die Griekse Christós (Christus) verwys, is natuurlik ook deel van sy ooraktiewe verbeelding ten einde sy spesifieke uitleg te regverdig. Daar is ook geen christogram “XS” nie. Trouens, die vroegste christogram vir Christós was “XP”, saamgestel uit die eerste twee hoofletters van die Grieks-geskrewe, ΧΡΙΣΤΟΣ (sien hier, hier, hier, hier en hier). Daar is ook nie ʼn christogram soos “IHXS” of selfs nie eers soos “CHXS” wat die korrekte transliterasie is van die letters χξς nie. Om op te som: nie een van christogramme wat Van Zyl op sy bord geskryf het [10:00] is identies aan sy self-gekose “IHXS” nie en hou ook nie enigsins verband met die klank-uitspraak van die misleidende “IHXS” óf van selfs die korrek getranslitereerde “CHXS” nie.)

Ten slotte maak van Zyl die volgende verstommende uitspraak [11:05]: “ʼn Iesous Christós wat op elke liewe kerk en kerksaal in een of ander manier, vorm uitgebeeld word deur hierdie christogram, monogram prentjies wat dan op ʼn kansel, agter die kansel, op die kerktoring of waar ook al dan staan. Dis die een waarteen Johannes waarsku, wie se naam ek en jy moet ontsyfer, waar wysheid te pas kom, sodat ons gereed kan wees dat wanneer hierdie man terugkom en sê, “Ons moet handevat”, “Grense en kleure maak nie meer saak nie”, “Wet is nie meer nodig nie”, “Ons is almal een broederskap hier op moederaarde” dat ons nie daarvoor moet val nie.”

Elke ingeligte persoon weet dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Die outeurs van die verskillende Nuwe Testamentiese boeke en briewe, het ook van transliterasie gebruik gemaak om sekere woorde vanuit die gesproke Aramees of vanuit die Hebreeuse Ou Testament, in Grieks neer of oor te skryf. Hulle het byvoorbeeld die Hebreeuse naam Yeshua as Iésous (Jesus) getranslitereer en Mashiach as Christós (Christus). Dit beteken dat al die skrywers van die Evangelies en veral Johannes, Petrus, Jakobus en Paulus DOELBEWUS die Griekse naam “Iésous” en “Christós” oorspronklik neergeskryf het. Trouens, die naam Ἰησοῦς (Iésous) of woord-variasies daarvan, kom 923 keer in die Nuwe Testament voor, en die woord Χριστός (Christós) of woord-variasies daarvan, verskyn 538 keer.

So, as Van Zyl ʼn probleem het met christogramme op allerlei plekke, dan het hy natuurlik ook ʼn probleem met die feit dat Jesus se eie dissipels, Johannes en Petrus, sowel as sy eie broer, Jakobus, en boonop Paulus ook, spesifiek na Hom as Iésous of as Christós of as Iésous Christós verwys as hulle oor hom skryf.

Trouens, Van Zyl se oortuiging dat die Antichris in Openbaring 13:18 na Iésous Christós verwys is eenvoudig absurd, gegewe wat Johannes sélf in Openbaring in Grieks oor Iésous Christós skryf. Hier is die openingsverse van Openbaring:

“Die openbaring van Jesus Christus [oorspronklike Grieks: Iésou Christou] wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.” (AOV)

Wil Van Zyl regtig hê ons moet glo dat Johannes sy openbaring van die Antichris gekry het?

Of wat van Openbaring 21:4:

“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus [oorspronklike Grieks: Iésou] en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus [oorspronklike Grieks: Christou] die duisend jaar lank.” (AOV)

M.a.w., as ons Van Zyl se logika moet volg, dan was daar mense wat nie die dier of sy beeld aanbid het nie, en ook nie sy merk gehad het nie, maar wat onthoof was vir hul getuienis oor die Antichris (oorspronklike Grieks: Iésou) sowél as vir hul getuienis oor die woord van God. Hiérdie mense het dan ook lewend geword om saam met die Antichris vir ʼn duisend jaar te heers!

En Van Zyl wil hê ons moet glo dat hy sy verstand gebruik [6:07] in sy hantering van die Bybel?

Inteendeel, ʼn mens mag dalk begin wonder of Johannes nie mense soos Van Zyl in gedagte gehad het nie toe hy geskryf het:

“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus (oorspronklike Grieks: Iésou) die Christus (oorspronklike Grieks: Christou) is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.” (1 Joh. 2:22, AOV)

Dalk voel Van Zyl belieg [10:45] omdat hy te besig is met sy eie agenda om wérklik besorg te wees oor die waarheid, en in die proses is hy besig om ander te mislei. Tot watter ander konklusie kom ʼn mens deur hierdie video (en ander; hou hierdie spasie dop!) te analiseer?

Ten slotte. My doel was nie om Japie van Zyl te beledig of selfs om hom as ʼn dwaalleraar te etiketteer nie (daaroor moet elke leser/hoorder maar self besluit). My oogmerk was om sy aansprake te toets, soos hy selfs gesê het ʼn mens moet. En my gevolgtrekking is ongelukkig dat die Boerseun van Migdol die toets gedruip het.

5 Comments

Leave a Reply to petro Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.