Wie mislei vir wie?

Dis vir Japie van Zyl, die Boerseun van Migdol, ʼn ernstige saak om nie mislei te word nie, soos dit vir enige persoon behoort te wees. Hy verwys na Matt. 24:4 waar Jesus sê, “Pasop dat niemand julle mislei nie” en na vers 15 en sê dan, “m.a.w. diegene wat nie gaan lees nie, wat nie gaan oplet nie, hulle gaan mislei word.” Hy verwys ook na Joh. 16:2, na die misleide gelowiges in die sinagoges (sien ook Joh. 9:22), en trek dan ‘n vergelyking met vandag se kerke en hoe mense hul leraars blindelings navolg omdat hulle nie meer hulle Bybels bestudeer nie. Die gevolg is, so meen Van Zyl, dat gelowiges in vandag se kerke die verkeerde Christós aangeneem het en volg.

Jesus se waarskuwing om teen misleiding te waak, is iets wat elke Christen as belangrik moet ag. Maar wanneer enigiemand die growwe veralgemening maak dat mense in vandag se kerke mislei is omdat hulle nie meer hul Bybels bestudeer nie, dan behoort daar waarskuwingsligte aan te gaan: word ek nie dalk nou mislei deur iemand wat so ʼn stelling maak nie? Dis tog ʼn ernstige en omvangryke aanklag: bestudeer gelowiges in vandag se kerke regtig nie meer hulle Bybels nie?

So ‘n aanklag behoort dus ondersoek te word, nie net omdat dit so ernstig is nie (en kom ons vergeet maar eers van die feit dat daar nog altyd, regdeur die kerk se byna tweeduisend jaar se geskiedenis, ʼn menigte Christene was wat baie erns met hul Bybel en hul Verlosser gemaak het), maar ook omdat ek en jy, as ons die verkeerde Jesus volg, dit tog graag sal wil weet.

Soos ʼn goeie Bereaan wat die Skrifte ondersoek het om te sien of dit was soos Paulus en Silas gesê het (Hand. 17:11), behoort ons dus óók Van Zyl se woorde te toets aan die Skrif. Trouens, hy verwys in die video hieronder na spesifieke Skrifgedeeltes, so as hy die waarheid praat, dan behoort dit duidelik te wees.

Van Zyl se doel met die video is om te wys dat daar ʼn strydigheid is tussen “Yeshua, die Messiach, die Seun van God”, aan die een kant, en “Jesus, die Christus, God die Seun” aan die ander kant. Hier is die 6 minute video:

(Bogenoemde video is onlangs ongelukkig deur Japie vanaf YouTube verwyder. Het Japie miskien besef dat hy verkeerd is?)

Kom ons bekyk elkeen van Van Zyl se Skrifverwysings nou van naderby. (Alle beklemtoonde [bold] gedeeltes is ʼn transkripsie van Van Zyl se woorde, saam met ʼn skakel na die plek in die video waar hy dit sê).

2 KORINTIËRS 11:4

Van Zyl sê “hier in hierdie gedeelte waarsku Paulus met die oog op die tyd waarin ons ons tans bevind en hy sê in daai tyd gaan daar twee verskillende Messiachs verkondig word, twee verskillende Christusse.”

Eerstens, iemand wat al ʼn paar van Van Zyl se video’s gekyk het, sal weet dat die Hebreeuse naam waarmee Jesus gebore is (Yehoshua, of die verkorte Yeshua), vir Van Zyl besonder belangrik is, en natuurlik is name belangrik. Vir Van Zyl is “Jesus” (Grieks: Iésous) egter  ʼn verwysing na ʼn Griekse god (“Son of Zeus”), en dus nie sinoniem aan die naam Yeshua nie, selfs al is Iésous baie eenvoudig bloot ʼn transliterasie of klankvertaling vanaf Hebreeus na Grieks (maar Van Zyl hou natuurlik meer van die samesweringsteorieë wat daar op die Internet hieroor bestaan, as wat die historiese feite wys).

Die probleem is egter dat wanneer Van Zyl sê dat 2 Kor. 11:4 praat van “Messiachs” of “Christusse”, dan is dit natuurlik nie die waarheid nie, want daar word inderdaad en spesifiek net na die naam Iésous (die naam vir Jesus in die oorspronklike Grieks) verwys. Het Van Zyl ons sopas probeer mislei met wat werklik in die teks staan? Ja, want Van Zyl kan nie nou sê dat sy gebruik van die woorde “Messiachs” of “Christusse” bloot na “Iésous” in hierdie spesifieke teks verwys nie, want sy hele argument is dan juis dat die Messiach en Iésous twee verskillende entiteite is!

Tweedens, Paulus se waarskuwing was natuurlik NIE met “die oog op die tyd waarin ons ons tans bevind” soos wat Van Zyl ons op anachronistiese wyse probeer mislei nie. Paulus se woorde was baie spesifiek met die oog op valse apostels wat reeds in sy tyd die rondte gedoen het, soos verse 5, 6 en 13 baie duidelik maak (sien ook Gal. 1:6-7, I Joh. 4:2-3, Jud. 4 en Op. 2:2). Natuurlik is daar vandag ook valse apostels wat valse evangelies verkondig, maar dit was nog altyd so.

So, wie probeer vir wie hier mislei? Wie let nie op na wat in hulle Bybels staan nie?

MATTEUS 1:21

Van Zyl tref ʼn onderskeid tussen wat die Skrif sê oor die Seun van God en wat “die kerk” blykbaar sê en verwys na ʼn sogenaamde naamverskil. Van al Van Zyl se aansprake is hierdie seker die vreemdste. Die rede hiervoor is dat in letterlik ál die Griekse manuskrip kopieë tot ons beskikking wat na Matt.1:21 verwys (terloops, die ganse Nuwe Testament is in Grieks geskryf), staan die naam Ἰησοῦν geskryf (m.a.w. Iésous, die Griekse naam vir Jesus). Matt. 1:21 verduidelik ook, in Grieks, dat Jesus gekom het om sy volk van hulle sonde te red. Dit is dus baie duidelik dat Iésous en Yehoshua, of die verkorte Yeshua (die Hebreeuse naam wat Jesus voor sy geboorte al ontvang het en wat beteken “God red”) na een en dieselfde persoon verwys. Trouens, daar staan nie in een van die 923 plekke in die Nuwe Testament waar na Jesus se naam verwys word, iets anders in die Griekse teks as Iésous (of woord-variasies daarvan) nie, of in die 538 plekke waar dit na Christus verwys, iets ander as Christós (of woord-variasies daarvan) nie. (Sien hier vir ʼn analise van Van Zyl se aanspraak dat daar na Iésous Christós in Openbaring 13:16-18 en per implikasie in 13:8 verwys word.)

So, wie probeer vir wie hier mislei? Wie let nie op na wat in hulle Bybels staan nie?

LUKAS 3:22 & JOHANNES 14:28

Van Zyl verduidelik hoe die Vader bloot na Jesus as sy “geliefde Seun” verwys in Lukas 3:22 en stel dit dan téénoor Iésous Christós wat van homself sou praat as God (terloops, as ʼn analogie, Van Zyl dink seker dat as ʼn koning van sy “geliefde seun” praat, dan impliseer die koning dat sy seun nie adelbloed is nie). Kom ons lys slegs drie gedeeltes (maar hier word baie ander voorbeelde gelys) van wat die Skrif sélf oor Iésous Christós getuig:

  • Hy wat die Woord is en by God was, is sélf God (Joh. 1:1) en het mens geword om onder ons te kom woon (Joh. 1:14, 1 Joh. 4:2).
  • Hy wat in die gestalte van God was, het die gestalte van ʼn slaaf aangeneem deur ʼn mens te word (Fil. 2:6-7).
  • Hy wat die beeld van God is, is die een in wie die volheid van God gewoon het (Kol. 1:15, 20; 2:9).

As die skrywers van die Nuwe Testament dan sélf só oor Iésous Christós praat, is Van Zyl dan nie besig om ons te probeer mislei met wat “die kerk” na bewering valslik sou sê nie? Wie let nie op na wat in hulle Bybels staan nie?

Maar wat van Joh. 14:28, soos Van Zyl noem, waar Jesus sê dat hy na die Vader toe gaan omdat die Vader groter is as hy? M.a.w. hoe is die Vader dan groter as die Seun, as die Seun ook Godheid is?

Die antwoord is baie eenvoudig: die Vader is groter omdat dit Hy is wat die Seun gestuur het, en nie die Seun wat die Vader gestuur het nie. Jesus kommunikeer hier iets oor sy verhouding met sy Vader, dat hy volkome gehoorsaam was aan sy Vader wat hom gestuur het (sien ook Luk. 22:42) en waarheen hy binnekort sou terugkeer. Jesus se woorde in hierdie gedeelte beskryf dus die Seun se rol in God se verlossingsplan; dit gaan nie hier oor sy identiteit nie. Trouens, dit was spesifiek oor sy identiteits-aansprake, die feit dat hy homself aan God gelyk gestel het, dat die Jode hom wou dood maak (Joh. 8:19-20, 54-59, Joh. 10:30-39, Joh. 17:21-23).

(Terloops, Van Zyl praat in meer as een van sy video’s “oor die derde kop in die Godheid”, maar soos met baie van Van Zyl se “leringe” demonstreer hy bloot sy onkunde hier, aangesien die teologiese taal wat verwys na die Woord wat mens geword het (Joh. 1:1,14), nog nooit iets anders was nie as “die tweede persoon van die Godheid”.)

So, wie mislei vir wie wanneer Van Zyl sê, “So ons sit met Yeshua, Messiach, die Seun van God, en ons is sit met Jesus Christus God die Seun – een helse verskil”?

MATTEUS 5:17-19

Van Zyl noem dat Yeshua in Matt. 5:18 gesê het “dat geen jota of titteltjie van die wet sal ooit verval totdat alles gebeur het nie”. Hierteenoor, so verduidelik Van Zyl, verklaar Iésous “alles het klaar verval, hy het dit aan die kruis vasgenael”.

Van Zyl dink dat hy deur hierdie strydigheid te noem, die vanselfsprekende gesê het. Maar wat presies het Jesus bedoel toe hy gesê het dat hy nie gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie, maar om dit te vervul (Matt. 5:17)? Die antwoord lê natuurlik weereens in wat die Skrif self daaroor duidelik maak. Kom ons kyk.

Jesus is die vervulling van die wet en die profete omdat die wet en profete, so verduidelik Paulus in Romeine 3:21, van Hom getuig, van die vryspraak deur God wat deur Hom in werking getree het (sien ook Heb. 9:15-17, sien ook Luk. 16:16). M.a.w. die wet is bedoel, so verduidelik Paulus elders, “vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom” (Gal. 3:19). Dié wat onder die wet gestaan het, so verduidelik Paulus verder, “was onder toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar noudat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder toesig van die wet nie” (Gal. 3:23-25, sien ook Ef. 2:15 en Rom 10:4).

Dit beteken nie dat die wet, as sulks, ongeldig geword het nie; dit beteken bloot dat ons deur geloof vrygemaak is van die wet en nie meer daaronder staan nie. Dit moes gebeur sodat ons nou in die nuwe bedeling van die Gees kan dien (sien ‘n bespreking van die ‘nuwe verbond’ verder aan), nie meer in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie (Rom. 7:6-7, 2 Kor. 3:6, Ef. 2:15, Rom. 10:4, Heb. 9:15 en sien ook Handelinge 15). Nou kan ons aan die eise van wet voldoen (die bedoeling daarvan, Matt. 22:34-40, Matt. 7:12) deur ons lewens deur die Gees te laat beheers (Rom. 8:4). As iemand nie die Gees het nie, dan behoort hulle nie aan Christus nie (Rom. 8:9-10) en kan dus nie aan die wet (die bedoeling daarvan) gehoorsaam wees nie (Matt. 5:19). Dit is slegs wanneer iemand deur die Gees lewe dat hulle die wil van God kan doen (Rom. 8:8) en hul lewens dus meer sal inhou as die wetsgehoorsame skrifgeleerdes en Fariseërs (Matt. 5:20).

ʼn Mens wonder dus: probeer Van Zyl ons nie dalk mislei deur te verswyg oor hoe die res van die Skrif ons oor hierdie saak toelig nie? Wie let nie op na wat in die res van hulle Bybels staan nie?

(Terloops, met verwysing na die Sabbat en hoe Matt 5-17 daarop betrekking het: Die Joodse Sabbat was spesifiek aan die Israeliete gegee as teken van hul verbond met God (Eks 31:12-17, sien veral vers 17). Hierdie teken wat deel geword het van die wet van Moses, is in Jesus vervul (Matt 5:17) juis omdat Jesus die ware Sabbatsrus is waardeer iemand deur geloof toegang kry (sien Hebreërs 4:1-11). M.a.w. as ons die Heilige Gees by wedergeboorte ontvang, dan het ons Christus se rus ingegaan, en solank ons deur die Gees leef, bly ons in daardie rus. Die Joodse Sabbat is NIE ‘n wet onder die nuwe verbond nie, dit was bloot ‘n skadubeeld van toekomstige dinge (Kol 2:16-17) wat verwys na Christus self (sien weer Hebr 4:1-11). Trouens daar is geen wet onder die nuwe verbond nie, behalwe die “wet van Christus” naamlik geloof in Christus en liefde deur die Gees.)

MATTEUS 15:24 & JOHANNES 11:52

Van Zyl verduidelik dat “Yeshua slegs gestuur is na die verlore skape van die huis van Israel. Jesus Christus, God die Seun, sê hy’s gestuur vir almal – hy’s die saviour of the world.

Dis natuurlik presies wat daar in die Evangelie volgens Johannes staan: “God het die wêreld (Grieks: kosmos) so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld (Grieks: kosmos) toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld (Grieks: kosmos) deur Hom gered kan word.” (Joh. 3:16-17, sien ook Joh. 1:29, en gaan kyk gerus na die betekenis van die woord kosmos (wêreld) soos dit in die Grieks geskryf staan.)

Inderdaad, almal is welkom by Jesus deur geloof, ten spyte van Van Zyl se skaamtelose verdagmakery en misleiding (sien veral Rom. 1:17, Rom. 3:21-22, Rom. 4:23-24, Rom. 5:1-2, Rom. 9:30-32, Gal 2:16,21, Gal. 3:11, Ef. 2:8).

Terselfdertyd ontken niemand dat Jesus se aardse bediening spesifiek op die Jode gerig was nie (sien ook Matt.10:5-6, en Heb. 8:8). Trouens, dit was spesifiek uit die Jode dat die Messias as Verlosser sou kom (Jes. 42:6-7, 49:6, Joël 2:28-32, Matt. 1:21, Luk. 2:25-32, Joh. 4:22, Gal. 4:4-5, Hand. 4:12). Dit beteken egter nie dat hierdie verlossing wat deur die Christus bewerkstellig is, nét vir die Jode bedoel was nie. Van Zyl dink dit is wat Joh. 11:52 impliseer, maar so ʼn gedagte word op ʼn magdom ander plekke in die Bybel weerspreek (sien bv. die profesie in Jes. 42:6-7; 49:6, Gen. 22:18, Gen. 26:4, sien ook Luk. 2:30-32, Joh.1:9-13 en Hand. 26:22-23, Rom. 1:16). Beskou die volgende punte:

  • Een van die duidelikste feite in die Nuwe Testament (veral in Handelinge en Romeine 9-11) is dat meeste van die Jode hul Messias verwerp het (Joh.1:11, Hand. 3:12-18, Hand. 4:1-4,17, Hand. 26:19-21, Rom. 9:30-32, Rom. 10:1-4, Rom. 10:16, 2 Kor. 3:14-15), en dat die evangelie eers nadat hulle dit verwerp het, aan die heidene (of nie-Jode) verkondig is en waarvan baie dit toe ook aanvaar het (Hand. 13:46-48, Hand. 28:23-28, Rom. 1:16, Rom. 11:11-24, Gal. 3:14).
  • Trouens, lank reeds is dit voorspel, deur die Ou Testamentiese profete, van hierdie verwerping deur baie Jode (Jes. 10:22,23, Jes. 8:14, 28:16), en spesifiek ómdat hulle dit sou verwerp, dat die nie-Jode God se verlossing sou aanvaar (sien Hos.1:10, 2:23 volgens Rom. 9:24-26 en 1 Pet. 2:10; Deut. 32:21; Jes. 65:1-2 en Gen. 12:3 volgens Gal. 3:8-9).
  • As dit nie duidelik genoeg is nie, dan profeteer Jesus sélf daaroor in sy gelykenis van die slegte druiweboere (Matt. 21:33-46)! Trouens, later gee Jesus selfs die opdrag aan sy dissipels (Matt. 28:19, sien die gebruik van Griekse woord vir “nasies”) sowel as spesifiek aan Paulus (Hand. 9:15, 22:21, 26:15-18, sien ook Hand. 13:2) dat die evangelie aan al die nasies en die nie-Jode verkondig moet word (sien ook Jesus se gebed in Joh. 17:20-21).

ʼn Afrikaner in die 21ste eeu aan die onderpunt van Afrika met ʼn stamboom uit Europa, is welkom om homself as ʼn verlore Israeliet te sien, soos wat Van Zyl doen – en almal is seker geregtig op hul opinie. Maar selfs al is jy een (hoe onwaarskynlik dit ook al is), dan maak dit geen verskil aan die feit dat God, sy Messias en sy Evangelie, nie net die God, Messias en Evangelie van of vir die Israeliete is nie, maar ook van en vir die nie-Israeliete, die nie-Jode, die heidene (Hand. 10:15,28,35,45,46, Hand. 11:17-18, Hand. 15:6-9, Rom. 3:29-30, Rom. 10:12,28, Gal. 3:26-29, Ef. 2:11-22, 18-19, Ef. 3:5-6, 1 Joh. 2:2).

Die implikasies hiervan is dat daar Christene van elke volk en taal, ook in Suid-Afrika is. Ja, ons broers en susters in Christus is inderdaad ook die Xhosa-vrou wat op ons plase of in ons kombuise werk, die Zoeloe-man wat operasies in ons hospitale uitvoer, die Indiër-man wat ons banksake behartig of die Sotho-kind wat saam met ons kind skoolgaan. Vir enigiemand om dit te ontken of selfs te suggereer dat hy nie daarvan hou nie, is om wys dat hy God die Vader nie ken nie, dat hy die Seun se verlossingswerk nie verstaan nie en dat hy daarvan niks weet om deur die Heilige Gees te leef nie.

Petrus sê in Handelinge 11:17-18: “‘Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?’ Toe hulle [die Joodse Christene] dit hoor, het hulle stilgeraak. Hulle het God begin prys en gesê: ‘God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.’” (NLV)

Dis die vraag aan mense soos Japie van Zyl en almal wat soos hy dink: Watter reg het jy om God te keer? (Sien ook Gal. 1:6-9.) En selfs al hou Van Zyl nie daarvan nie, is dit presies wat Johannes in Openbaring verduidelik:

“Hierna het ek gekyk, en werklikwaar daar – daar was ʼn reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie. Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taal, en het voor die troon en voor die Lam stelling ingeneem. Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande. Met ʼn kragtige stem het hulle uitgeroep: “Ons verlossing is te danke aan God wat op die troon sit en aan die Lam!” (Openbaring 7:9-10, NAV; sien ook Openb.14:6)

So, wie is besig om vir wie hier te mislei? Wie lees en bestudeer nie hul Bybel nie?

JOHANNES 17:9

Van Zyl noem dat Jesus in Joh. 17:9 sê dat “hy nie vir die wêreld bid nie, maar net vir dié wat God hom gegee het, m.a.w. sy volk uit die wêreld. Hierteenoor sê Iésous Christós, ‘elke liewe siel is welkom’.” Van Zyl wil dus hê ons moet glo dat nie almal welkom is by die ware Messias se verlossingswerk nie.

Wat Van Zyl nalaat om te noem, is dat hierdie selfde Iésous Christós net ʼn paar verse verder as deel van dieselfde gebed, sê, “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.” (Joh.17:20) Lyk of God se volk inderdaad groter is as wat Van Zyl met sy spesifieke agenda ons wil laat glo.

M.a.w., wie is besig om vir wie hier te mislei? Wie let nie op na wat in hul Bybel staan nie?

MATTEUS 10:34

Jesus verduidelik in Matt.10:34 dat die verkondiging van sy naam aan die verlore skape van Israel konflik gaan veroorsaak (selfs bloedige konflik) bloot omdat sommige hom sal erken vir wie hy is en ander nie (sien Matt.10:32-33). Dit is in hierdie konteks van die aanvaarding en verwerping van wie hy is, dat Jesus sê dat hy die swaard gebring het en nie vrede nie. Dit geld oral waar die evangelie van vrede (sien Hand. 10:36 en Ef. 2:14,17) verkondig word. Trouens, hierdie konflik is hoofsaaklik tussen lig en duisternis, ʼn geestelike stryd waarvoor elke volgeling van Jesus hulself moet voorberei (sien Ef. 6:10-18).

Tog is die Skrif baie duidelik dat Jesus juis vrede kom bewerkstellig het. Eerstens vrede tussen mens en God, maar tweedens vrede tussen mense. Dalk dink Van Zyl dat Jesus homself weerspreek, want Jesus sê spesifiek in Matt. 5:9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Trouens, in sy profesie oor Jesus, verwys Jesaja na Hom as ‘Vredevors’ (Prince of Peace, Jes. 9:5/6) en in Lukas 2:14 sê die engel wat Jesus se geboorte aangekondig het: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!” Daar is ook byna geen boek in die Nuwe Testament wat nie praat van die belangrikheid om vrede na te streef of om vrede te hê nie: Joh. 14:27, Hand. 10:36, 1 Kor. 7:15, 2 Kor. 13:11, Rom. 14:17-19, Gal. 5:22, Ef. 2:17, 4:3, Kol 3:15, 1 Tess. 5:13,23, 2 Tess. 3:16, 2 Tim 2:22, Heb. 12:14, Jak. 3:18, 1 Pet. 3:11 (sien ook Spreuke 12:20, 16:7 en Psalm 29:11, 34:14, 37:37)

So wanneer Van Zyl sy afkeur wys wanneer hy sê “dit is voor die hand liggend dat Iésous Christós die groot vredemaker is wat almal vir ons op elke radio stasie en elke medium ook al verkondig” dan moet ons eenvoudig sê: Ja, presies, want dit is wat die Skrif leer!

Wie is besig om vir wie hier te mislei?! Trouens, ʼn misleier is nie geïnteresseerd in vrede nie, maar slegs in die bevordering van sy eie agenda. So ʼn persoon weet skynbaar niks van die Vredevors (vlg. Jes. 9:5) nie. Wie let nie op na wat in die Bybel staan nie?

MATTEUS 9:35

Van Zyl: “In Matt 9:35 lees ons dat Yeshua die evangelie van die koninkryk verkondig het. Hierteenoor leer Jesus, God die Seun, ʼn evangelie waar jy net jou hartjie vir hom moet gee, en jou pad is geteer hemel toe.”

Die evangelie van genade wat deur geloof ontvang word is natuurlik iets wat die Skrif sélf verkondig (sien weer Rom. 1:17, Rom. 3:21-22, Rom. 4:23-24, Rom. 5:1-2, Rom. 9:30-32, Gal 2:16,21, Gal. 3:11, Ef. 2:8), en al probeer Van Zyl dit bespotlik maak, is dit beslis nie téénoor die evangelie van die koninkryk nie.

Jesus het toe hy op aarde geleef het, die koninkryk van God verkondig en dit het ʼn tweeledige betekenis gehad. Eerstens het Jesus na homsélf verwys as die koninkryk van God (Luk 17:21, Luk 11:20, Matt 3:2) wat gekom het om verlossing van sonde te bring (Joh. 3:16-17, Joh. 6:28-29, Joh. 12:47; ook Matt 1:21, Luk. 2:11, Joh. 1:29) sodat ons vrygespreek kan word deur geloof (sien weer Rom. 1:17, Rom. 3:21-22, Rom. 4:23-24, Rom. 5:1-2, Rom. 9:30-32, Gal 2:16,21, Gal. 3:11, Ef. 2:8).

Tweedens het God se koninkryk in Jesus se tyd nog nie in volheid aangebreek nie, en daarom verwys die koninkryk van God ook na Jesus se wederkoms wanneer die koninkryk van God in volle heerlikheid sal kom en gevestig sal word (1 Kor. 15:24-25, sien ook Fil. 3:20, Kol. 3:4, 1 Tess. 2:8 en Tit. 2:13).

So, weereens, as die Skrif dan sélf verduidelik wat die inhoud van die evangelie is, wie is dan besig om vir wie hier te mislei? Wie let nie op na wat in hulle Bybels staan nie?

MATTEUS 15:9

Van Zyl se insinuasie dat mense deur die kerk (wie “die kerk” ook al mag wees) mislei word om leerstellings van mense te onderhou, eerder as God se gebooie (Matt. 15:9) is suiwer verdagmakery. Dis duidelik uit Van Zyl se wanvoorsverstellings dat hy eenvoudig onkundig is oor wat die Christelike kerk deur al die eeu geglo het en hoekom hulle dit geglo het.

Hier is drie punte oor die implikasies van geloof vir die wet van Moses (Van Zyl dink verkeerdelik dat die kerk wetteloosheid verkondig) soos die Skrif sélf duidelik maak:

  • Dit is slegs deur geloof, en nie deur die wet te onderhou nie, dat ons vryspraak verkry. Sien Rom. 1:17, Rom. 3:21-22, Rom. 4:23-24, Rom. 5:1, Rom. 9:30-32, Gal 2:16, 21, Gal. 3:11, Ef. 2:8. Hierdie vryspraak deur geloof beteken dat ons gered is van die gevolge van sonde en bring ons in die regte verhouding met God.
  • Die vrug van hierdie vryspraak deur geloof, is ʼn lewe van liefde (Gal. 5:6). Deur geloof en vryspraak leef ons hierdie lewe omdat ons die Heilige Gees ontvang het (Rom. 5:3-5, Rom. 8:10). Dis omdat ons die Heilige Gees ontvang het (nie omdat ons die wet onderhou nie, Rom. 7:4-6, Gal 2:19) dat ons in liefde leef (Rom. 8:4-6, 9, 14, Gal. 2:20, Gal. 3:2-5). So ʼn lewe uit die Gees en in liefde voldoen volkome aan die vereistes en bedoeling van die wet (Rom. 8:4, Gal. 5:6) en aan die wil van God (Rom. 8:8). Dit is dus allermins wetteloosheid!
  • Dit is juis omdat ons geloof het in wat Christus vir ons gedoen het, dat ons vrygemaak is van die wet en nie meer onder die wet staan nie (Gal. 3:23-25, sien ook Ef. 2:15). Hierdie geloof word versterk deur uit die Gees in liefde te leef, nie deur wetsonderhouding nie. Lees die volgende gedeeltes waar beide die geloof en liefde in dieselfde konteks genoem word: Gal 5:6, 1 Kor. 16:13, Ef. 1:15, Ef. 3:17, Ef. 6:23, Kol 1:4-5, 1 Tess. 1:3, 1 Tess. 3:6, 1 Tess. 5:8, 2 Tess. 1:11, 1 Tim. 1:5,14, 1 Tim. 2:15, 1 Tim. 4:12, 1 Tim. 6:11, 2 Tim. 1:13, 2 Tim. 2:22, 2 Tim. 3:10, Tit. 2:2, Filem. 4-7, Jak. 2:14-17, 2 Pet.1:5-7, 1 Joh. 5:1-3 (sien ook 2 Joh. 5-6). Trouens, nêrens in die Nuwe Testament word geleer dat wat God verlang ‘geloof en wetsonderhouding’ is nie. Hoekom nie? Wat dit is eenvoudig nie deel van die vereistes van die nuwe verbond nie (Rom. 7:6, 2 Kor. 3:6, sien ook Ef. 2:15).

Kom ons praat nou ook spesifiek oor die nuwe verbond. Die nuwe verbond wat die profeet Jesaja aangekondig het, is aan die Jode in Jesus se tyd bekendgemaak en dan ook spesifiek met hulle gesluit (Jer. 31:31-34, Heb. 8:8-10). Waarop was hierdie nuwe verbond gebaseer? Op Jesus, die Middelaar van ‘n nuwe en beter verbond (Luk. 22:20, Heb. 7:22, Heb. 8:6, Heb. 9:15 en selfs Jes. 42:6, 49:8). Hierdie verbond het die ou verbond vervang (Heb. 7:18-19, 26-28, Heb. 8:7,9,13, Rom. 7:6) en beteken dat Jesus se “dood plaasgevind het om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang” (Heb. 9:15, NAV). Omdat sonde vergewe is (Jer. 31:34) het die Jode “dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die Heiligdom gehad, en dit op ʼn weg wat nuut is en na die lewe lei” (Heb. 10:19-20 NAV)

Dis egter belangrik om te verstaan dat dieselfde kondisies wat vir die Jode gegeld het onder hierdie nuwe verbond en nuwe weg (Heb. 9:14-15, 10:19-20), óók vir nie-Jode geld. Paulus verduidelik baie eksplisiet in Rom. 10:12: “Dit maak dus geen verskil of ʼn mens ʼn Jood of ʼn Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Trouens, dis juis omdat baie Jode die nuwe verbond verwerp het, dat Paulus sê, “deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak” (Rom. 11:11, sien ook vers 15, asook Rom. 9:30-32). Paulus beskryf die heidennasies as wilde lote wat op die mak olyf-boom ingeënt is (Rom. 11:17-21), en impliseer dus dat die heidene se verlossing, van God se verbond met Israel en Juda afhanklik was (waarvan Hy so ver terug as Genesis 12:1-3 reeds gepraat het).

Verder word God se wette op ons harte geskryf (Jer. 31:33, sien ook Rom. 2:29), in plaas van op klip soos met die wet van Moses (2 Kor. 3:3,7). Hoe gebeur dit? Dit gebeur deur die Heilige Gees wat God ons gegee het. Hoe ontvang ons die Gees? Deur te glo (Joh. 3:14-18), nie deur die wet te onderhou nie (Gal. 3:2, Rom. 8:2, sien ook 2 Kor. 3:14-15). Dit beteken dus dat enigiemand wat glo, Jood of nie-Jood, Israeliet of heiden, by die nuwe verbond ingesluit is. As ons glo (dat Jesus ons van ons sonde gered het), dan

  • word ons deur die Gees vrygespreek (2 Kor. 3:9, Rom. 8:9-10, Ef. 1:13-14),
  • ontvang ons nuwe lewe deur die Gees (Tit. 3:5-7, 2 Kor. 5:17, 1 Pet. 1:3),
  • lewe ons in liefde deur die Gees (2 Kor. 3:4-6, 2 Kor. 6:6-7, Rom. 5:3-5, Rom. 8:2,6, Gal. 2:19-20, Gal. 3:5, Gal. 5:22-25, Gal 6:8, Fil. 3:3, 2 Tim 1:7, 2 Pet. 1:3),
  • en word ons al meer aan die beeld van Christus gelyk deur die Gees (2 Kor. 3:18, Kol. 3:3,10) om sodoende aan die eise van die wet te voldoen (Rom. 8:4,8).

Trouens, die Gees wat liefde moontlik maak word as die “wet van Christus” beskryf (Gal. 6:2, 1 Kor 9:21); die wet van Christus is gelykstaande aan die bedoeling of samevatting van die wet van Moses (Matt. 22:37-40, Matt. 7:12, Rom. 13:8-10, Gal. 5:14, Jak. 2:8,12, 1 Joh. 3:23-24, 2 Joh. 5-6).

So belangrik is die liefde dat Paulus bid en sê: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer” (Fil. 1:9-11, sien ook 1 Tess. 3:12-13, 2 Pet.1:7-9). Onberispelik, sonder blaam en geheel en al in die regte verhouding met God! Dis iets wat net kan gebeur wanneer iemand deur die Gees leef as nuwe mense, nie deur wetsonderhouding nie.

As Van Zyl sy video afsluit en vra [5:39], “Besluit jy nou vanmiddag, wie is die Seun wat jy volg? Is jy nie miskien mislei deur hierdie ander een wat in die plek van die ware een moet [sic] wees nie?”, dan is die antwoord baie eenvoudig dat ons die Seun moet volg soos die Skrif Hom aan ons openbaar:

“Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is.” (1 Joh. 4:2, NAV)

Kan die Boerseun van Migdol, wat ons in hierdie video op allerlei maniere probeer mislei het, regtig dieselfde sê?

2 Comments

  1. Help my reg asb.
    Kan ek net daarop wys dat Japie nie self sy video (en baie ander) van You Tube verwyder het nie. Dit is deur You Tube self gedoen.
    Wat betref die “sameswerings teorieë” oor die naam Jesus en “die historiese feite” is toevallig dieselfde ding.
    2 Kor 11v 4 praat van die “ander Jesus” wat jy dus sien as dieselde entiteit as die “ware Jesus.” Volgens jou word daar net van een entireit gepraat. Jy sê: “dan is dit nie die waarheid” dat hier van meer as een “Jesus” gepraat word nie. As daar gepraat word van n ander Piet as die een wat jy ken, dan is daar twee Piete, of hoe?
    Jy sê: “Paulus se waarskuwing was natuurlik NIE met “die oog op die tyd waarin ons ons tans bevind” soos wat Van Zyl ons op anachronistiese wyse probeer mislei nie.”  Probeer jy sê dat ons Paulus se geskrifte maar uit ons Bybels kan verwyder aangesien dit volgens jou nie op ons tyd van toepassing is nie?
    Jy erken dat daar vandag valse profete is maar dit is nie op hulle van toepasing nie?? Jy is baie lief vir die uitdrukking: “wie verlei nou vir wie” Ek vra dit nou vir jou.
    Betreffende die Wet weerspreek jy jouself. Jy sê:
    “Dit beteken nie dat die wet, as sulks, ongeldig geword het nie;” en: “Trouens daar is geen wet onder die nuwe verbond nie, behalwe die “wet van Christus” naamlik geloof in Christus en liefde deur die Gees.) So jy vertaal “wet vervul” as “geen wet, behalwe geloof en liefde”.
    Betreffende die Sabbat staan in die boek van Henog dat die Sabbat selfs in die hemel onderhou word. So, volgens jou moes dit nou ook opgehou het.
    Deurgans is daar ‘n reguit lyn deur die Bybel en Paulus krap hierdie lyn deurmekaar. Een van drie dinge het dit veroorsaak: 1- Ons Vader het Sy woord
    verander. 2- Paulus was die eerste Rooms Katoliek wat besluit het om mense te verlei instede van dood te maak. 3- Paulus se leringe is verdraai en verkeerd vertaal.
    Petrus het mos geskryf dat Paulus se leringe is “moeilik om te verstaan”  en dat sy woorde verdraai gaan word.
    Vader is gister, vandag en more dieselfde en het nie sy verordininge tot niet gemaak nie. Kom ons toets of Sy wet nog van toepassing is. As Jeshua dan vir die wêreld gestuur is en nie net vir “die verlore skape van Israel” oor die wêreld nie, dan is almal mos ons naaste en sou Josua 23 vers 12 en 13 ook nie meer van toepassing wees nie. In daardie geval sou die toestande heel anders gewees het in Suid Afrika en die wêreld.
    Jos 23 v 12, 13. …want as julle ooit mag afwyk en hierdie nasies aanhang wat nog met julle saam oorgebly het, en julle met hulle verswaer en hulle met julle, en julle met hulle meng,  weet dan verseker dat die Here julle God nie langer hierdie nasies voor julle uit sal verdrywe nie, maar hulle sal vir julle ‘n vangnet en ‘n strik wees en ‘n angel in julle sye en dorings in julle oë, totdat julle omkom uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.”
    As die Bybel verwys na “ander nasies” en “heidene” moet jy onthou dat die tien stamme ‘n skeibrief gekry het en as heidene geklassifiseer was, maar dit bly nog Israel, die uitverkore volk. Lees Handelinge 10: 35. “..maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan DIE KINDERS VAN ISRAEL…
    Hand 15:14 Simeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk UIT DIE HEIDENE vir sy naam aan te neem…..Daarna sal ek terugkom en DIE VERVALLE HUT VAN DAWID weer oprig..
    Hand:21:19 ….het hy ..vertel wat God onder DIE HEIDENE deur sy diens gedoen het. En toe hulle dit hoor het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê:  U sien broeder hoeveel duisende JODE daar is wat gelowig geword het EN ALMAL IS YWERAARS VIR DIE WET. Efe 2 v 11 praat van die heidene wat VERVREEMD was van die burgerskap van Israel. (Nie, was nie burgers van Israel.)
    Daar is van jou naaste wat die Bybel “diere” noem. Exo 10 v 13, Job 18 v 3 en Sag 8 v 10.
    Satan se grootste aanval op Israel is om hulle te laat verbaster en vermeng met ander nasies. Iemand wat dit preek is soos die Bybel sê, Kain se geslag en dat hulle die Duiwel as Vader het. Hulle preek ook dat besprenkeling in die plek van besnydenis gekom het. (Dit staan nêrens in die Bybel nie). Hulle preek dat jy nou kan vark vreet en verdraai die Sabbatsdag. Hulle preek dat daar nie meer n uitverkore volk is, “aan wie behoort die vergewing van sondes en die ewige lewe nie.”

    • //Kan ek net daarop wys dat Japie nie self sy video (en baie ander) van You Tube verwyder het nie. Dit is deur You Tube self gedoen.//

      Ja, Japie se video’s is vol haatspraak – dis goed as YouTube dit verwyder is. Kan jy my verwys na waar Japie die rede gee vir die verwydering van sy videos?

      //Wat betref die “sameswerings teorieë” oor die naam Jesus en “die historiese feite” is toevallig dieselfde ding.//

      Nee, ‘n sameswerings-teorie en ‘n historiese feit is nie dieselfde ding nie. Eersgenoemde is gebaseer op valse inligting.

      2 Kor 11v 4 praat van die “ander Jesus” wat jy dus sien as dieselde entiteit as die “ware Jesus.” Volgens jou word daar net van een entireit gepraat. Jy sê: “dan is dit nie die waarheid” dat hier van meer as een “Jesus” gepraat word nie. As daar gepraat word van n ander Piet as die een wat jy ken, dan is daar twee Piete, of hoe?//

      //’n Ander Jesus is ‘n valse Jesus, ‘n bedrieër. So eenvoudig.

      Jy sê: “Paulus se waarskuwing was natuurlik NIE met “die oog op die tyd waarin ons ons tans bevind” soos wat Van Zyl ons op anachronistiese wyse probeer mislei nie.” Probeer jy sê dat ons Paulus se geskrifte maar uit ons Bybels kan verwyder aangesien dit volgens jou nie op ons tyd van toepassing is nie?
      Jy erken dat daar vandag valse profete is maar dit is nie op hulle van toepasing nie?? Jy is baie lief vir die uitdrukking: “wie verlei nou vir wie” Ek vra dit nou vir jou.

      Kom ek wees duideliker: Paulus se spesifieke waarskuwing was spesifiek gemik op die spesifieke dwaalleers van sy eie tyd, soos die KONTEKS duidelik maak. Natuurlik is daar vandag ook valse leraars, soos daar regdeur die eeue was – niemand ontken dit nie.

      //Betreffende die Wet weerspreek jy jouself. Jy sê:
      “Dit beteken nie dat die wet, as sulks, ongeldig geword het nie;” en: “Trouens daar is geen wet onder die nuwe verbond nie, behalwe die “wet van Christus” naamlik geloof in Christus en liefde deur die Gees.) So jy vertaal “wet vervul” as “geen wet, behalwe geloof en liefde”.
      Betreffende die Sabbat staan in die boek van Henog dat die Sabbat selfs in die hemel onderhou word. So, volgens jou moes dit nou ook opgehou het.//

      Die wet, as sulks, het nie ongeldig geword nie. Onder die nuwe verbond vervul ons (nie maak ongedlig nie) egter die vereistes van die wet deur ‘n lewe deur die Gees. Rom 8:4. En terloops, niemand nie, nie eers die Israeliete van ouds, kon voor God geregverdig word deur wetsonderhouding nie. Onder die nuwe verbond word ons slegs voor God geregverdig deur geloof in Christus – sien Rom 3 en 4.

      //Deurgans is daar ‘n reguit lyn deur die Bybel en Paulus krap hierdie lyn deurmekaar. Een van drie dinge het dit veroorsaak: 1- Ons Vader het Sy woord verander.//

      Ek kan nie help as jy Paulus nie verstaan nie. Waarskynlik omdat jy die Bybel lees volgens jou rassistiese ideologie en nie met die oog daarop om die teks werklik te verstaan nie.

      //2- Paulus was die eerste Rooms Katoliek wat besluit het om mense te verlei instede van dood te maak.//

      Okay, as jy so sê.

      3- Paulus se leringe is verdraai en verkeerd vertaal.//

      Watter tekskritiese bewyse is daar vir so ‘n “verdraaiing” en “verkeerde vertaling”? Of suig jy dit maar net uit jou duim?

      //Petrus het mos geskryf dat Paulus se leringe is “moeilik om te verstaan” en dat sy woorde verdraai gaan word.//

      Petrus het Paulus se lering as Skrif aanvaar, al was van dit, soos Petrus sê, moeilik om te verstaan. Dis omdat mense nie moeite doen om Paulus reg te verstaan nie (soos jy) dat hulle sy woorde verdraai (soos Israelvisie).

      //Vader is gister, vandag en more dieselfde en het nie sy verordininge tot niet gemaak nie. Kom ons toets of Sy wet nog van toepassing is. As Jeshua dan vir die wêreld gestuur is en nie net vir “die verlore skape van Israel” oor die wêreld nie, dan is almal mos ons naaste en sou Josua 23 vers 12 en 13 ook nie meer van toepassing wees nie. In daardie geval sou die toestande heel anders gewees het in Suid Afrika en die wêreld.//

      Ja, alle mense is my naaste – elke mens wat elke dag my pad kruis. Dit was Jesus se punt met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. En ja, Israel, onder die ou verbond, was deur God verbied om met ander nasies te vermeng. Onder die nuwe verbond, kan enigemand aan Christus behoort en as erfgename van Abraham gereken deur geloof, en so word die onderskeid tussen Jood en Griek (heiden) opgehef (sien Gal 3:26-29).

      //As die Bybel verwys na “ander nasies” en “heidene” moet jy onthou dat die tien stamme ‘n skeibrief gekry het en as heidene geklassifiseer was, maar dit bly nog Israel, die uitverkore volk. Lees Handelinge 10: 35. “..maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan DIE KINDERS VAN ISRAEL…
      //Hand 15:14 Simeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk UIT DIE HEIDENE vir sy naam aan te neem…..Daarna sal ek terugkom en DIE VERVALLE HUT VAN DAWID weer oprig..
      Hand:21:19 ….het hy ..vertel wat God onder DIE HEIDENE deur sy diens gedoen het. En toe hulle dit hoor het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien broeder hoeveel duisende JODE daar is wat gelowig geword het EN ALMAL IS YWERAARS VIR DIE WET. Efe 2 v 11 praat van die heidene wat VERVREEMD was van die burgerskap van Israel. (Nie, was nie burgers van Israel.)//

      Die heidene waarvan die Nuwe Testament praat, ook oral in Handelinge, verwys na nie-Israeliete of nie-Jode. Soos die Grieke heidene was (sien Hand 17). Soos die Romeine (bv. Cornelius) hediene was.

      //Daar is van jou naaste wat die Bybel “diere” noem. Exo 10 v 13, Job 18 v 3 en Sag 8 v 10.//

      Nee, dis maar net jou rassistiese interpretasie omdat jy uiters onkundig is oor wat die Bybel sê en vaskyk in jou blanke vel.

      //Satan se grootste aanval op Israel is om hulle te laat verbaster en vermeng met ander nasies. Iemand wat dit preek is soos die Bybel sê, Kain se geslag en dat hulle die Duiwel as Vader het. Hulle preek ook dat besprenkeling in die plek van besnydenis gekom het. (Dit staan nêrens in die Bybel nie). Hulle preek dat jy nou kan vark vreet en verdraai die Sabbatsdag. Hulle preek dat daar nie meer n uitverkore volk is, “aan wie behoort die vergewing van sondes en die ewige lewe nie.”//

      Aangesien ek nie ‘n Israeliet is nie en nie onder die ou verbond lewe nie en omdat ek verstaan dat Kain Adam en Eva se eersgeborene was, steur ek my regtig nie verder aan jou onkunde en rassistiese beskouing van ander mense nie.

Leave a Reply to Udo Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.