Ons bedieningswyse

AntWoord wil graag die behoeftes van die Christelike gemeenskap in Suid-Afrika aanspreek. Ons streef na bedieningsaktiwiteite van hoogstaande gehalte en fokus veral op die volgende:

  • Artikels: Ons bespreek graag eietydse vraagstukke vanuit ‘n Christelike perspektief. Hierdie artikels is meestal in Afrikaans, maar ons verwys graag na beskikbare materiaal in Engels.
  • Kleingroepe: Ons fasiliteer en ondersoek graag verskeie onderwerpe in die kleingroepkonteks (eenmalig of as ‘n kort kursus oor ‘n paar weke.
  • Informele eredienste / spreekgeleenthede: Ons hanteer graag temas of vrae van gemeentelede of ander belangstellendes, met die doel om mense te bemagtig om self vrae te kan beantwoord (mense word genooi om hul twyfel en vrae met vrymoedigheid te kom bespreek).
  • Kampe: Ons skep graag naweekgeleenthede waar ons oor sekere vraagstukke dieper kan nadink en saamgesels (daar is verskeie kursusse om van te kies).
  • Korrespondensie: Ons neem graag deel aan e-pos gesprekke of gesprekke in persoon.
  • Konferensies en seminare: Ons reël graag geleenthede waar kundige persone gehoor kan word oor verskeie onderwerpe vanuit die Christelike apologetiek.

Wat is van die tipiese vrae wat ons wil help AntWoord?

(Vir ‘n indeks van antwoorde wat verband hou met onderstaande vrae, gaan na: Tipiese vrae wat Winkelsmidt vra)

Die Belangrikheid van die Apologetiek:

  • Wat is “apologetiek”?
  • Wat beteken dit “om altyd gereed te wees om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef”? (1 Pet 3:15)
  • Is dit belangrik om te weet wat jy glo en hoekom jy dit glo?
  • Hoe raak ek betrokke by mense wat ander geloofsoortuigings het?
  • Het die apologetiek nie baie met argumentering te doen nie? En vermaan die Skrif ons dan nie teen sinlose argumente nie?
  • Is om geloof te hê in iets en om redes te hê vir iets, dan nie twee teenstrydige dinge nie?

Die Bestaan van God:

  • Hoekom maak dit enigsins saak of iemand in die bestaan van God glo of nie?
  • Hoekom moet iemand in God glo as hulle geen behoefte voel na God nie?
  • Is dit nie skynheilig om in God te probeer glo as jy aanhoudend twyfel beleef nie?
  • As die bestaan van God nie bo alle twyfel bewys kan word nie, hoe weet ‘n mens dan dat God werklik bestaan?
  • Hoekom is daar nie genoeg bewyse vir die bestaan van God nie?
  • As God dan buite die fisiese werklikheid bestaan, hoe is dit enigsins moontlik om iets van Hom te weet?
  • Hoe kan God gelyktydig drie persone, maar net een wese wees?
  • Wie het vir God gemaak en waarmee was God besig voordat Hy die heelal gemaak het?
  • As God bestaan, wie is hy? Hoe lyk God, watse tipe eienskappe het God?

Die wetenskap en geloof:

  • Leef mense dan nie vandag in ‘n verligte postmoderne tyd waar dit nie meer sin maak om te glo in pre-moderne en ongesofistikeerde idees oor God nie? Meer spesifiek, kan ons nie in ons Suid-Afrikaanse en spesifiek die Afrikaanse konteks, dankbaar wees vir ‘n meer verligte siening oor die verstaan van ons geloof in wat die Nuwe Hervorming bied nie?
  • Gee evolusie dan nie ‘n voldoende verduideliking vir hoe lewe ontstaan en ontwikkel het nie en maak dit nie daarom ‘n geloof in God onnodig nie?
  • Hoe is dit moontlik om in iets te glo wat nie met die sintuie waargeneem kan word nie?
  • Doen die wetenskaplike denkwyse dan nie weg met ‘n geloof in die bonatuurlike nie?
  • Hoe kan dit van enigiemand in vandag se tyd verwag word om blindelings te glo in iets soos God wanneer sulke geloof niks anders as bygelowigheid is nie? Is dit nie maar dieselfde as om in feetjies of dwergies te glo nie?
  • Hoe is dit moontlik dat wonderwerke die basiese natuurwette kan weerspreek?
  • Is dit nie waar dat geloof in God of die verskynsel van godsdiens, eenvoudig maar net verklaar kan word as sterk emosionele of sielkundige (soms selfs misleidende) ervarings wat nie met enige objektiewe waarheid verband hou nie?
  • Is geloof nie maar net ‘n uitdrukking van ‘n bepaalde manier waarop die brein funksioneer nie?

Die Betroubaarheid van die Bybel:

  • Hoe kan dit beweer word dat die Bybel van God af kom? Is dit dan nie ‘n boek wat deur mense geskryf is nie?
  • Hoe kan ‘n mens weet dat dit slegs die Bybel is wat van God af kom? Wat van iets soos die Koran?
  • Is die Bybel volledig? Hoe weet ons dat daar nie dalk ander boeke is wat ook in die Bybel ingesluit moes gewees het nie?
  • Hoekom sou ‘n mens die Bybel glo as dit dan so vol teenstrydighede en foute is?
  • Hoe kan dit bewys word dat die Bybel histories betroubaar is en nie net ‘n versameling fabels en legendes nie?
  • Hoe kan ‘n mens die wonderwerke in die Bybel glo?
  • Daar is soveel verskillende interpretasies van die Bybel en soveel verskillende denominasies van Christelike kerke – is dit dan nie ‘n bewys dat dit onmoontlik is om die ware betekenis van die Bybel te verstaan nie?

Die Historiese Jesus:

  • Hoe kan dit beweer word dat Jesus God was en nie maar net ‘n gewone mens met besonderse eienskappe van wysheid en liefde nie?
  • Is dit nie uiters arrogant om te beweer dat Jesus die enigste weg na God is nie?
  • Hoekom enigsins die Bybelse beskrywing van Jesus se lewe glo?
  • Hoe kan ‘n mens glo dat Jesus uit ‘n maagd gebore is?
  • Wat beteken dit nou eintlik om te sê dat Jesus vir ons sonde gesterf het?
  • Hoe kan ‘n mens glo dat Jesus fisies uit die dood opgestaan het?
  • Hoe kan ‘n mens glo in iets soos Jesus se wederkoms?

Verskillende godsdienste:

  • Is alle gelowe nie maar net verskillende pogings om dieselfde God te verstaan nie?
  • Hoekom is die Christelike geloof so eksklusief en onverdraagsaam teenoor ander godsdienste?
  • Hoekom sou enige mens die Christelike geloof bo ander gelowe wil kies as daar so baie Christene is wat skynheilige en immorele lewens lei?
  • Hoe kan die Christelike geloof waar wees, as daar soveel onreg en bloedvergieting in die naam van God en Christenskap gepleeg is?
  • As Jesus die enigste weg is na God, hoe sal God regverdig kan wees teenoor mense wat nooit van Jesus gehoor het nie?
  • Is dit nie billik om te glo dat God almal sal aanvaar wat opregte en goeie lewens gelei het sonder spesifieke godsdienstige oortuigings nie?
  • Hoekom sou iemand in ‘n persoonlike God glo? Dalk is God maar net ‘n alles-deurdringende hoër krag.
  • Is daar iets soos ‘absolute waarheid’? Is alle waarheid nie eintlik maar relatief tot ‘n bepaalde situasie en die persoon wat dit glo nie (m.a.w. wat vir jou waar is, is nie noodwendig vir my waar nie)?

Die Kwaad en Lyding:

  • Sou die bestaan van pyn, lyding en alles wat boos is, dan nie ‘n bewys wees teen die bestaan van ‘n liefdevolle en almagtige God nie?
  • Hoe kan ‘n liefdevolle God mense hel toe stuur?
  • As God enigiets kan doen, hoekom het Hy nie ‘n perfekte wêreld gemaak nie?

Die lewe na die dood:

  • Hoe kan ‘n mens weet dat daar ‘n lewe na die dood bestaan?
  • Hoekom glo in die bestaan van die hemel en hel, eerder as in reïnkarnasie?
  • As daar lewe is na die dood, hoekom sou ‘n mens juis in die idee van ‘n hel wil glo?
  • Hoekom dring die Christelike geloof daarop aan dat ‘n mens gered moet word; hoekom kan elkeen nie maar glo en doen wat hulle self kies nie?
  • Hoe kan iemand regtig seker wees dat hy of sy hemel toe sal gaan?

Etiese kwessies:

  • Hoe weet ‘n mens wat reg en verkeerd is?
  • Is daar iets soos reg en verkeerd? Is daar ‘absolute morele waardes’? Is alle waardes nie eintlik maar relatief tot ‘n bepaalde situasie en persone wat daarvolgens keuse maak nie (m.a.w. wat vir jou reg is, is nie noodwendig vir my reg nie)?
  • Is morele dilemmas ‘n bewys dat absolute reg en verkeerd nie werklik bestaan nie?
  • Hoekom sou iemand glo dat daar enige ander sin in die lewe is as die sin wat die mens self aan die lewe gee, of dat daar enige ander doel is as die doel wat die mens self besluit het om na te streef?

Vir ‘n indeks van antwoorde wat verband hou met hierdie vrae, gaan na: Tipiese vrae wat Winkelsmidt vra