Visie, Missie & Waardes

AntWoord is ‘n eg Suid Afrikaanse bediening vir Christelike apologetiek. Ons fokus is om:

  • Christene te help toerus om verantwoording te kan doen vir wat en hoekom hulle glo wat hulle glo tot versterking van hul geloof,
  • aan skeptici te demonstreer dat die Christelike geloof nie ‘n blinde sprong in die donker is nie en sodoende ‘n ongegronde aanklag af te weer, en,
  • soekende mense uit te nooi om die aansprake van die Christelike geloof te ondersoek ter wille van intellektuele integriteit.

AntWoord streef daarna om hierdie fokus in die konteks van opregte verhoudings te handhaaf. Niemand kom summier tot geloof deur ‘n argument nie. Tog glo ons dat waar mense omgee en liefde ervaar en waar mense se vrae en bekommernisse ernstig opgeneem word, daar die plek is waar die Heilige Gees graag werk om tot mense se harte deur te dring en om groei en wedergeboorte moontlik te maak.

AntWoord is deurdag, eerlik en toegewyd. Dit beteken:

  • Ons tree met vriendelikheid en hoflikheid op teenoor almal wat met ons in aanraking kom – ook teenoor diegene van wie ons verskil. Ons vermy egter sinlose stryery, veral wanneer ander nie werklik luister nie. Ons luister egter graag na ander om hul perspektief beter te probeer verstaan. Daar is altyd ‘n persoon agter ‘n vraag en dikwels ook ‘n dieper vraag agter mense se vrae.
  • Ons weet dat elke persoon en situasie uniek is en ons wil nie goedkoop antwoorde gee nie. Ons maak seker dat ons ander reg verstaan, al die feite het en nie ander se idees wanvoorstel nie. Ons erken die meriete in ‘n ander se saak, maar daag foutiewe denke uit en dra ons verstaan van die waarheid op ‘n deurdagte manier oor. Ons erken egter dat ons verstaan dikwels feilbaar is. Ons doel is nie om argumente te wen nie, maar om saam met ander te soek na wat waar is.
  • Ons is onbeskaamd verbind tot Jesus van Nasaret as historiese persoon en Here van ons lewe. Ons is ook onbeskaamd verbind tot die waarheid van sy opstanding as historiese gebeurtenis en as oorwinning oor sonde.

Sien ook: