Geloofsverklaring

Wat AntWoord glo oor God:

God het as Skepper alles gemaak wat ons kan sien en nie kan sien nie. God is ‘n persoonlike en nie-fisiese wese. Hy openbaar (onder meer) die volgende eienskappe: almagtigheid, alomteenwoordigheid, alwetendheid, onafhanklikheid, ewigheid, onveranderlikheid, regverdigheid, heiligheid en liefdevolheid. God as ‘n enkele Goddelike wese openbaar homself in drie onderskeibare en selfstandige persone, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Wat AntWoord glo oor Jesus Christus:

God het homself op ‘n spesifieke tyd in die geskiedenis en met ‘n spesifieke doel in die persoon van Jesus geopenbaar. Jesus is as ‘n persoon met ‘n volkome menslike natuur uit ‘n maagd gebore. Hy het in alle opsigte (intellektueel, emosioneel, sosiaal, fisies en geestelik) in sy mensheid ontwikkel. Jesus was egter ook volkome ‘n Goddelike natuur deelagtig. Jesus het Sy Godheid pertinent en verbaal verklaar, maar dit ook bevestig deur die wonderwerke wat Hy verrig het en die sondelose lewe wat hy gelei het. Jesus het in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader se wil, homself vrywillig en doelbewus aan ‘n kruisigingsdood onderwerp, sodat Hy vir die vergewing van alle mense se sondes kon sterf. Nadat Hy aan die kruis gesterf het, is Hy begrawe en is daarna deur God liggaamlik uit die dood opgewek. Sy fisiese opstanding uit die dood wys daarop dat almal wat sy Verlossing aanvaar, ook uit die dood sal opstaan om vir ewig saam met God te wees.

Wat AntWoord glo oor die Mens en Verlossing:

God het die mens as die kroon van sy skepping gemaak om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan. Adam en Eva, na die beeld van God geskape, het uit vrye wil gekies om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie ongehoorsaamheid was die begin van sonde en sou vervolgens deel uitmaak van elke daaropvolgende mens se basiese neiging en natuur. Hierdie sonde het die mens se verhouding met God verbreek. God het verklaar dat die mens se sonde met die dood gestraf moes word, want slegs iets so volledig en finaal soos die dood, sou sonde in die teenwoordigheid van sy Heiligheid kon uitwis. God het egter in sy liefde vir die mens, besluit dat Hyself die straf vir die mens se sonde sou dra. Daarom stuur God die Vader vir Jesus, sy Seun, wat self geen sonde gedoen het nie, om vir die mens se sonde te sterf. Sodoende ontkom die mens die uiteindelike gevolge van sonde (die ewige hel). ‘n Mens word weergebore en kry ‘n nuwe lewe wanneer die mens in geloof aanvaar dat God sy/haar sonde (van die verlede, hede en toekoms) in liefde vergewe deur Jesus se kruisdood. Dit is met hierdie aanvaarding van Jesus se soendood deur geloof alleen – sonder om ooit self iets te doen om vir God aanvaarbaar te probeer wees – dat God se Heilige Gees by die mens inwoning vind. Dit is hierdie Gees van God wat wedergeboorte moontlik maak, wat die verhouding tussen die mens en God herstel en wat die mens in staat stel om uit dankbaarheid gehoorsaam te wees aan God en hom/haar verseker van ‘n ewige lewe saam met God.

Wat AntWoord glo oor die Bybel:

Die geskrewe woord van die Bybel (die Ou en Nuwe Testament) is saam met die persoon Jesus Christus, God se spesifieke manier om Homself en Sy wil aan die mens bekend te maak (God maak sekere aspekte van Homself ook op ander maniere bekend soos bv. in die skepping). Die boeke van die Bybel is deur verskeie mense geskryf, elkeen in die konteks van ‘n eie persoonlikheid en kultuur. Die inhoud van die Bybel is daarom in verskillende style geskryf en die betekenis van alle gedeeltes is konteks gebonde. Dit was egter omdat God deur sy Heilige Gees hierdie skrywers geïnspireer het dat die Bybel die spesifieke uitdrukking is van God se wil en openbaring. Daarom verwys ons na die Bybel as God se Woord. Dit is dieselfde Gees van God wat die Bybel geïnspireer het, wat mense ook help om die Bybel reg te verstaan.