Die Hemelbestormers: Kraaie en Karikature

deur Udo Karsten

Daar is ‘n uitdrukking wat sê dat as jy nie veel van iets weet nie, dan weet jy soveel daarvan as ‘n kraai van godsdiens. Dis amusant hoeveel ‘kraaie’ daar is wat wel ‘n eiertjie te lê het oor, in hierdie geval ironies genoeg, juis die godsdiens. En wat sodoende uitbroei het amper noodwendig karikatuuragtige proporsies.

Dit is bloot ‘n feit dat baie mense glattendal ongelig is wanneer dit kom by ‘n onderwerp soos godsdiens. Dis egter nie soseer enige gebrek aan kennis of selfs nie eers ‘n totale belangeloosheid by die onderwerp wat kriewel nie. Wat die hande laat saamslaan is pretensieuse uitlatings oor die aard van godsdiens, wanneer dit duidelik is dat iemand die klok hoor lui het, maar nie weet waar die bel hang nie.

Let wel dat dit nie vryheid van spraak is wat hier aangevat word nie. Dis goed om opinies te hê en te gee, dit stimuleer denke en gesprek. Tog is dit sekerlik beter om eerder deurdagte opinies te gee, want daar is natuurlik ook dinge soos kortsigtige denke en futiele gesprekke. Maar ongelukkig het nie almal ‘n sin vir deeglikheid nie (en dikwels ook nie vir takt nie). Dikwels is dit eerder so dat as voortvarende selfbemarking en publisiteit bevorder kan word, dan is enige uitlating geoorloof.

Beskou die volgende paar opmerkings van Anton Alberts, die tromspeler van die Rock-groep, Architects of Aggression (aangehaal in Beeld, 23 Mei 2007, “Rockers wil musiek maak téén geloof”)

“Ons het die vryheid om te kies tussen gelowe. Nou soek ons vryheid ván geloof…”

Die vryheid om nie te glo nie (vry om nie enige godsdiens aan te hang nie) is natuurlik ʼn voorbeeld van geloofsvryheid. Op ‘n dieper vlak het niemand egter werklik die vryheid om nie te glo nie. Geloofsoortuigings is nie beperk tot godsdienstige idees nie. Almal glo dinge oor die aard van die werklikheid waarin hulle leef en daarom het almal bepaalde metafisiese oortuigings. Dat die idee van God nie deel vorm van baie mense se metafisiese verwysingraamwerk nie, maak niks aan die feit dat hulle wel in iets glo nie. Dit gaan dus nie eintlik daaroor OF jy in iets glo nie, maar WAARIN jy glo. Die belangrike vraag is of jou geloof ooreenstem met wat die realiteit werklik is.

Dit net terloops, want wat Alberts eintlik bedoel met sy soeke na “vryheid ván geloof”, is dat godsdiens gevaarlik is. Daarom dat Alberts en sy rockgroep, saam met nog ‘n paar ander rock-musikante, konsert hou op 7 Julie 2007 (die sogenaamde “777”-konsert) met die doel om mense “van die gevare van geloof bewus te maak.” Alberts sê dat dit nie daaroor gaan “om spesifieke gelowe aan te val nie”. In hierdie geval beteken om geen spesifieke geloof aan te val nie, beslis dat alle gelowe aangeval word. ‘n Mens moet waarskynlik nie te veel objektiwiteit of bedagsaamheid verwag nie.

Alberts sê volgens Beeld verder die volgende: “Geloof is sedert die begin van die mensdom deel van ons lewens. Dit is ook verantwoordelik vir van die bloedigste gevegte in die geskiedenis. Of dit nou in die naam van Ramses, Yaweh, Aries, Allah of Christus is, bly die menseregte-skendings en al die dade onvergeeflik en onvergeetlik.”

Dit is natuurlik korrek om te sê dat godsdiens sedert die vroegste tye deel van mense se lewens is. Daar is nie ‘n kultuur in die wêreld wat nie een of ander vorm van godsdiens beoefen of beoefen het nie. Dit blyk dat godsdiens ‘n integrale deel van die mens se onderbou is; homo sapiens is inderdaad ook ‘homo religiosis’.

Voordat die beskuldiging van menseregte-skendings wat Alberts summier voor die deur van die godsdiens lê, op die keper beskou word, is daar die vraag: Wat is ‘godsdiens’ dan nou eintlik?

Die rede waarom godsdiens sedert die begin van die mensdom deel van ons lewens is, is heel eenvoudig omdat mense sedert die vroegste tye af al sekere vrae vra oor die wêreld waarin hulle leef: Waar kom die wêreld vandaan? Wat is fout met die wêreld? Hoekom is ons hier? Waarheen is ons op pad? Dit was en is nog altyd een van die funksies van die godsdiens om juis antwoorde op hierdie vrae te probeer gee.

In vandag se tyd is dit natuurlik lankal nie meer die godsdiens se voorreg om as enigste gesagvolle rigtinggewer in die beantwoording van hierdie vrae aanspraak te maak nie. Die filosofie en die wetenskap het lankal aan boord gespring. In so ‘n mate dat die hegemoniese wedywering tussen rasionalisme wat in die Verligtings-era ontstaan het en die geboorte van wetenskaplike naturalisme in die 19de eeu, vele gemoedere oortuig het dat die godsdiens in die stof gebyt het.

‘n Mens het daarom amper simpatie met wat Alberts aan Beeld gesê het:

“Alberts meen dat geloof sy plek gehad het in die tyd toe die mensdom nog na antwoorde gesoek het vir goed soos natuurverskynsels, seisoene en die skepping, maar dat die moderne mens reeds lank verby dié punt in evolusie beweeg het.”

Wat die moderne mens gedoen het was om alternatiewe antwoorde daar te stel; alternatiewe met hul eie voorveronderstellings en metafisiese onderbou. So byvoorbeeld werk die filosofie met sekere aannames in die epistomologie oor wat die mens kan weet en nie kan weet nie. In sekere stromings van die filosofie kan God indien Hy bestaan, nie geken word nie en vir alle praktiese doeleindes bestaan Hy daarom nie. M.a.w. daar is ‘n implisiete ontkenning van die moontlikheid dat God Homself openbaar het of dat ons kan weet dat Hy Homself geopenbaar het. Is dit egter regtig die waarheid oor die aard van die realiteit waarin ons leef?

Die wetenskap is eweneens bevooroordeeld. Eintlik is dit nie die wetenskap (wetenskaplike metodologie) self wat enige aannames maak nie, maar ‘n bepaalde beskouing van die wetenskap met ‘n metafisiese reikwydte wat as die finale arbiter uitspraak sou kon gee oor alles wat bestaan (en mag bestaan!) en alles wat geken kan word. So byvoorbeeld kan God se bestaan, omdat Hy nie empiries deur die wetenskaplike metode ondersoek kan word nie, juis daarvolgens vir alle praktiese doeleindes uitgereken word. ‘n Drogredenasie in optima forma.

Alberts se karikatuuragtige opmerking ten spyt, dis interessant dat die wetenskap kan bepaal dat die heelal ‘n begin gehad het, maar nie uitspraak kan lewer oor die oorsaak vir daardie begin was nie. Om te probeer sê dat iets skielik uit niks gekom het, of dat alles nog altyd was, is beslis nie om in empiries, wetenskaplike terme oor die heelal te praat nie. Vrae oor hoe dit moontlik is dat intelligente lewe soos ons op ‘n planeet soos die aarde kan bestaan, word skynbaar nie beantwoord deur wetmatigheid of blote kansgebeure. Wat die doel is van die mens se bestaan en hoe hy moet leef, of wat die oplossings is vir wêreld vol onreg en lyding, word ook nie deur die wetenskap beantwoord nie. Dis duidelik dat die eksperimentele wetenskap nie toegerus is om op hierdie tipe vrae antwoorde te gee nie.

Dit daar gelaat. Wat van Alberts se klagte oor die godsdiens se “onvergeeflike en onvergeetlike” bloeddorstigheid? In Alberts se guns moet dit darem gesê word dat hy wel praat van alles wat “in die naam van” verskillende gode gepleeg is/word. Maar dis te betwyfel of Alberts verstaan dat die groot verskil tussen godsdiensbeoefening oor die algemeen en godsdienstige ekstremisme.

Is dit werklik so dat die wêreld se godsdienste inherent lewensbedreigende gevaar inhou? Is dit waar dat die idees en beginsels wat godsdienste soos Islam, Judaïsme, Boeddhisme, Hindoeïsme en die Christelike geloof (om enkeles te noem) onderlê, aktief daarna streef om geweldpleging en menseslagting te propageer?

Die feit is dat dit daar in die verloop van die mens se geskiedenis verskeie individue was wat die leringe van hul godsdienste verdraai het vir eie gewin, wat dan dikwels hoofsaaklik deur politieke of militêre mag, daarin kon slaag om “in die naam van” een of ander godsdiens, menige op te sweep tot onuitspreeklike vergrype teen hul medemens. Om egter aan te voer dat sulke gruweldade noodwendig ‘n direkte uitvloeisel is van ‘n spesifieke godsdienstige ideologie, is simplisties. En selfs al is (of was) daar godsdienste wat inherent geneig is tot die skending van menseregte, is ‘n tipe skuld by assosiasie absoluut geen argument vir die gevaar van al die ander godsdienste nie. Omdat een lemoen in die sak vrot is beteken nie dat al die lemoene vrot is nie.

As daar nou een ideologie was wat wel tot by sy logiese uiteinde gevoer is, en verantwoordelik was vir die slagting van meer as 80 miljoen mense, dan was dit die ateïstiese ideologie van kommunisme in die 20ste eeu. As ‘n goeie God nie bestaan wat mense moreel verantwoordelik hou nie, dan is evolusie se oorlewingsbeginsel hier ‘n doodnormale voorbeeld van hoe die geskikste oorleef het deur die swakkeres uit te wis.

Dit wil natuurlik nie sê dat alle godsdienste gelyk is of ewe veel daartoe bydra dat mense in harmonie met mekaar saamleef nie. Die verskillende godsdienste gee meestal gans verskillende antwoorde op die lewe se groot vrae. En daardie antwoorde rig hulle lewens en het bepaalde gevolge. Alle godsdienste kan nie almal reg wees nie. Hulle kan almal verkeerd wees, maar daar waar hulle verskil, kan hulle nie almal reg wees nie.

Dis egter interessant hoedat Alberts en die godsdienstige geweldenaars in wie hy so ‘n renons het, iets in gemeen het. Albei hou hulle besig met godsdiens-karikature, of dit nou ‘n verdraaide begrip is van die geopenbaarde en lewende God en of dit ‘n mensgemaakte godsdiens is wat opgedis word as iets geloofwaardig, maar wat geen verband hou met wie God werklik is nie. Maar moenie die strooipop aanval en dink jy het daarmee met God weggedoen nie.

Mensgemaakte godsdiens se karikatuuragtige aard is in ʼn sekere sin gevaarlik omdat dit so misleidend en verblindend is. Dis ‘n heillose hindernis tot die lewe van oorvloed wat God vir elke mens bestem het, in die hier en nou, sowel as in die hiernamaals. Dit kan mense belangeloos en wrewelrig maak. Dit kan jou selfs dryf om jouself iets soos die “argitekte van aggressie” te noem (veelseggend!) en dan kitare en tromme soos lanse en swaarde teen ‘n denkbeeldige vyand te laat opneem.

Pasop dus vir kraaie en karikature. Wanneer dit kom by die godsdiens is beslis nie almal apostels wat wandelstokke dra nie.

___________________

Vir ‘n uitstekende en meer breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp, sien ‘Godsdiens: Die wortel van alle kwaad?’ (Deel 3 van die reeks oor Richard Dawkins en The God Delusion)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.