Hemelvlakke en mondbelydenis

Hallo André

Ek het twee vrae:

  1. Is daar verskillende vlakke in die hemel?
  2. Word ‘n mens gered deur bloot met jou mond te bely dat jy glo?

Groete

Winkelsmidt

Goeie more Winkelsmidt

Daar is net twee goed wat ek wil sê voor ek ‘n antwoord waag.  Eerstens is beide jou vrae nogal teologies van aard en ek vermoed verskillende kerke gaan van mekaar verskil oor presies hoe elkeen van hulle beantwoord moet word.  Ek is ‘n lidmaat van ‘n spesifieke kerk, maar AntWoord probeer maar weg bly van inter-kerklike verskille af.  Ons probeer nie mense werf vir ‘n spesifieke denominasie nie, maar probeer eerder om vrae waaroor ons almal wonder te beantwoord. Tweedens is daar ‘n hele paar goed waaroor die Bybel nie 100% duidelik is nie en die presiese aard en werking van die hemel is een van daardie goed. Ek gaan dus bietjie spekuleer, maar ek dink nie noodwendig ek is definitief reg nie.

Eerstens jou vraag oor die hemel en of daar verskillende vlakke is. Om in die hemel te wees sal beteken dat ons in die teenwoordigheid van God sal wees met ‘n perfekte herstelde liefdesverhouding met Hom. Elkeen wat daar is sal die hemel as perfek beleef en niemand sal wens dat hy/sy méér kon hê of op ‘n hoër vlak van die hemel kon wees nie. Die belewenis wat ons op aarde het, is dat ons baie leegheid en behoeftes het. Hierdie leegheid word nooit hier heeltemal vervul nie en ons behoeftes blyk eindeloos te wees. Dus is ons hier jaloers op ander wat goed het wat ons nie het nie.  Ek wil altyd méér en ander goed hê en dit maak my dikwels ongelukkig.  Die Hemel gaan nie so wees nie.  Christus gaan in almal wees en alles gaan vervuld en reggemaak wees.

Beteken dit dat daar nie verskillende belonings gaan wees nie?  Nie noodwendig nie.  Die Bybel gee die idee dat daar verskillende belonings vir verskillende mense sal wees.  Die een idee hieroor (waarvan ek nogal hou) kom uit in ‘n redelik bekende liedjie waar daar ‘n beeld geskep word van iemand wat in die hemel aankom en dan skielik deur ‘n vreemde mens gestop word.  Die persoon sê dan, “Baie dankie,” en die persoon vra, “Hoekom sê jy vir my dankie?”  Die ander persoon sê dan, “Jy het een keer geld gegee vir sending en dit het ‘n sendeling die geleentheid gegee om na my dorpie toe te kom en daarom kan ek in die hemel wees vandag. Baie dankie dat jy vir die Here gegee het!”  Dan vorm daar ‘n ry mense wat elkeen aan hierdie nuwe aankomeling in die hemel kom dankie sê, party wat hy ken, maar oor baie het hy nie geweet dat hy ‘n bydrae gelewer het om hulle in die hemel te help kry nie.

Ek vermoed dat as dit ‘n ware prentjie is, dan gaan ons wel verskillende belonings in die hemel hê. Ons sal maar moet wag om te sien as ons daar aankom om verseker te weet.  Wees maar net seker, niemand sal onregverdig behandel word nie en niemand sal jaloers wees nie!

Die tweede vraag is baie belangrik om vir ons as Christene uit te maak.  In die eerste plek wil ek sê dat elke mens wat van Jesus hoor die geleentheid het om hom aan te neem. Hy is die weg, die waarheid en die lewe en niemand kom na die Vader toe, behalwe deur Hom nie.  Dit is die boodskap van die Bybel.  Dit is baie keer ‘n ongemaklike en ongerieflike boodskap, maar die ander kant van die saak is dat as daar ‘n ander manier was, dan sou God Hom nie gestuur het nie, Hy sou Hom gespaar het.  Dit was die enigste manier!!

Jy praat van iemand wat met die mond bely en dan gered word.  Dit is wel so, maar daardie belydenis moet gegrond wees op ware geloof.  Jy moet met die hart glo en met die mond bely.  Om die waarheid te sê is die belydenis met die mond net ‘n sigbare teken van iets wat in die hart moes gebeur.  As jy Jesus se verlossingswerk in jou hart aanneem en jy gaan dood voor jy iets daaroor sê, dan is jy steeds gered.  Om daardie rede kan ons nie werklik seker wees oor ander mense se redding nie, maar wel oor ons eie.  Wat bedoel ek hiermee?  Ek bedoel dat Christenskap ‘n verhouding is.  Dit is ‘n saak tussen God en die individu.  Net jy weet werklik of jy glo.  Jy kan al die regte goed sê en al die regte goed doen en almal rondom jou kan dink dat jy glo, maar net jy en die Here weet dit werklik.  Tog gee die Here vir  ons ‘n toets.  Hy sê dat ‘n boom aan sy vrugte geken kan word.  Dit beteken ons kan en moet na medegelowiges se lewens kyk.  Dit beteken NIE dat gelowiges perfekte lewens gaan hê nie.  Elke liewe een van ons doen elke dag sondes.  Om die waarheid te sê elkeen van ons sukkel met gewoontesondes wat vir ons moeilik is om af te skud.  Dit gaan nie oor sondeloosheid nie, maar oor ons hantering van die sonde en ons houding daaroor.  As ons tot bekering kom dan gebeur daar twee goed.  Eerstens word ons verhouding met God die Vader volkome herstel deur Jesus se dood en opstanding.  Tweedens verwissel ons van eienaarskap.  Ons behoort nou as slawe aan God.  Dit is wat ons sê as ons Jesus ons Here (eienaar) noem. Nou behoort ons nie meer aan onsself nie, maar aan God.  My liggaam behoort aan hom, my gedagtes behoort aan hom, ens.  Dit beteken nie ek kry dit reg om onmiddelik in perfekte verhouding met Hom te leef nie.  Ek is besig om die ou klere stadigaan (met die hulp van die Heilige Gees) uit te trek en die nuwe klere aan te trek.  Ek as gelowige mag nie kies om aspris in die sonde te volhard nie.  Dan het ek nie eienaarskap van my lewe oorgegee nie.  Ek kan egter vir jare sukkel om van ‘n moeilik sonde afstand te doen.

Ek dink altyd aan die storie van die koning wat ‘n babaseuntjie gehad het.  Rebelle het die voertuig aangeval waarin sy vrou en seuntjie gereis het en sy vrou is vermoor.  Van die straatmense het sy baba seuntjie opgetel en grootgemaak.  Hulle het hom leer vloek en steel en hy het nooit gebad nie.  Hy het met sy hande geëet en het omtrent elke slegte gewoonte gehad wat hy kon hê.  Een dag ‘n hele paar jaar later reis die koning te perd deur die platteland en skielik sien hy die gesig van sy oorlede vrou in die van ‘n straatseuntjie.  Hy laat sy soldate die seun gryp en kasteel toe bring.  Toe hulle onder die vuil kyk, sien hulle die geboortemerk wat die seun as die koning se eie seun bewys.  Nou skielik is die straatseun ‘n prins.  Beteken dit dat hy sommer die volgende dag ophou vloek, elke dag bad en ophou om met sy hande te eet?  Nee!!  Hy sal eerstens moet besef wie hy is (‘n prins) en hy sal moet glo dat dit waar is.  Dan sal hy kan begin om stadig maar seker die gewoontes van ‘n straatkind af te leer en die gewoontes van ‘n prins aan te leer.  Dit gaan amper verseker jare (tien teen een die res van sy hele lewe) neem om die goed uit te sorteer.  As hy dan nou ‘n prinsie is en more nie wil bad nie, met sy hande eet en vloek, dan beteken dit nie dat hy skielik ophou om ‘n prins te wees nie.  Gaan sy pa hom uit die kasteel skop en sê jy tree nie soos ‘n prins op nie, so jy is nie meer my seun nie!  Nooit!  Dit is egter wel moontlik dat die straatseuntjie nie werklik sy seun is nie.  As hy dit kon uitvind sou hy hom terug stuur straat toe.  Al wat die seuntjie moet doen is om te erken dat hy die koning se seun is en bereid moet wees om met die koning se hulp te probeer verander.

Ek skryf nou gans te lank, maar ek wil net ten slotte sê.  Iemand wat werklik die Here aangeneem het en nou ‘n Christen is, se sonde is vergewe.  Dit is vandag s’n, gister s’n en more s’n.  Ons is nou die koning se seuns en dogters en een of twee verkeerde tree kan nie ons identiteit verander nie.

Ek hoop dit maak alles sin en help darem jou gedagtes aan.

André

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.