Mag ek vir die Here vra om my van ‘n liefdelose huwelik te verlos?

Hallo Udo

Mag ek vir die Here vra om my van ‘n liefdelose huwelik te verlos?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ja, jy mag beslis vir die Here vra om jou van ‘n liefdelose huwelik te verlos. Ek dink daar is twee uitkomste vir so ‘n gebed. Maar gun my ‘n oomblik om eers te verduidelik wat ek dink die essensie van ‘n huwelik is.

Ek glo dat die huwelik ‘n verhouding tussen man en vrou is waarin hulle onderneem om aan mekaar se welsyn (en ook die welsyn van hulle gesin as hulle kinders sou hê) toegewy te wees in alle omstandighede. Die huwelik is ook ‘n implisiete erkenning dat die Here die belangrikste persoon in hul lewe is en dat hul liefde vir en toewyding aan mekaar uit daardie verhouding groei en gevoed word.

Die feit is egter dat baie min mense die implikasie van bogenoemde definisie van die huwelik verstaan as hulle die dag voor die kansel, of magistraat, staan. Die liefde van die verliefdes is inderdaad meestal blind, soos die gesegde gaan, en in die blindelingse passie van verliefdheid, tree baie mense in die huwelik, met al die voorregte daaraan verbonde, sonder die vaagste benul van wat dit beteken om toegewy te wees aan iemand anders se welsyn. Verder is die idee dat ‘n mens so ‘n belofte voor die Here maak, vir baie mense ‘n mooi sentimentele gedagte, maar van ‘n verhouding met die Here weet baie mense nog minder.

Na my mening is baie mense se idee van die huwelik eintlik niks anders as ‘n sosiale kontrak nie. Hoewel ‘n verliefde paartjie wat dink aan trou dit nooit eksplisiet so sal uitdruk nie, is die aanname in praktyk eintlik dat hulle hulself verbind om saam te bly en bepaalde verantwoordelikhede te deel tot en met hulle voel dat hulle mekaar nie meer gelukkig maak nie, en dan het hulle die reg om hul geluk elders te gaan soek. Want om gelukkig te wees, volgens hierdie siening, is tog die mees basiese en belangrikste menslike reg.

Laasgenoemde is ‘n tipe sosiale ooreenkoms, nie ‘n huwelik nie. Die eise en verantwoordelikhede van ‘n huwelik is baie meer uitdagend en ander-gesentreerd. Die uitdaging van die huwelik gaan oor hoe die huwelik my lewensmaat kan dien, hoe ek hom/haar as mens kan help groei op alle vlakke van menswees, want as die ander gelukkig is, dan is ek gelukkig. Die strewe met ‘n kontrak gaan meestal oor hoe die kontrak my eie belange dien, hoe ek gelukkig kan wees, want slegs as ek gelukkig is dan sal die ander gelukkig wees.

Gegewe die bogenoemde verstaan van die huwelik, behoort jy die volgende jou eie te kan maak. Eerstens moet jy aanvaar dat niemand beheer het oor hul huweliksmaat se keuses nie (ons kan nie iemand anders se gedragsverandering afdwing nie). Ons het slegs beheer oor ons eie keuses, soos oor hoe jy in ‘n liefdelose huwelik en op verbale mishandeling gaan reageer. Tweedens moet jy besef dat jy wel ‘n invloed kan uitoefen ter wille van die welsyn van jou man. Dis juis omdat die huwelik ander-gesentreerd is en omdat jy weet wat die karaktereienskappe van ‘n kind van die Here is (sien o.a. Galasiërs 5:22-25), dat jy kan vra na wat jy kan doen om jou man se welsyn positief te beïnvloed.  Iemand wat ander verbaal of op enige ander manier mishandel, het nie ‘n gesonde siening van homself of ander nie. Dit is gewoonlik vir almal baie duidelik om te sien, behalwe vir so ‘n persoon self. Nietemin het so ‘n persoon hulp nodig en behoort ons alles in ons vermoë te doen om sodanige hulp te kry.

Dit as agtergrond, bring my by die antwoord op ‘n liefdelose huwelik en wat die twee uitkomste kan wees van ‘n gebed tot die Here vir verlossing. Terloops, hoewel die eindresultaat radikaal verskillend is, glo ek werklik dat beide uitkomste binne die wil van die Here sou val.

Uitkoms 1: Jy bid dat die Here jou van ‘n liefdelose huwelik verlos. Wat beteken dit? Dit beteken eerstens dat jy ten volle op die krag van die Heilige Gees gaan staatmaak vir die krag wat jy nodig het om in jou liefdelose huwelik met liefde te reageer. Maar terselfdertyd beteken dit dat jy die verbale mishandeling wat jy beleef, sal sien as ‘n simptoom van onderliggende pyn in jou man se lewe. Dit beteken dat jy vir jou man bid en by hom sal aandring, op die mees taktvolle manier waarop jy kan (en waarskynlik herhaaldelik) om saam met jou hulp te soek vir die seer in sy lewe, ter wille van julle huwelik en vir sy eie persoonlike groei. Om jou man te oorreed om saam met jou en saam met ‘n opgeleide persoon na die onderliggende probleme in julle huwelik te kyk, gaan dalk ‘n proses wees waarvoor jy baie geduld gaan nodig hê. En as julle eers in die beradingsproses self is, is die proses na herstel dikwels ook een van volhardende geduld. Maar bevryding en genesing is wel moontlik, al mag dit net wees weens een persoon in die huwelik wat haar krag in ‘n verhouding met die Here vind en wat terselfdertyd toegewy is aan die doel van ‘n huwelik.

Uitkoms 2: Jy bid dat die Here jou van ‘n liefdelose huwelik verlos, en omdat jy ‘n kind van die Here is en die doel van die huwelik verstaan, is jou aanvanklike reaksie presies dieselfde as by uitkoms 1: volharding, geduld, selfopofferende liefde – alles met die doel om saam met jou man en saam met ‘n bekwame fasiliteerder, te streef om die struikelblokke in julle huwelik te oorkom en in julle menswees te groei. Maar, omdat jou man sy eie keuses maak kan hy uiteindelik besluit dat hy nie meer belangstel in enige pogings om aan julle huwelik te werk nie. In effek ontken hy sodoende die doel van die huwelik, die idee dat die huwelik ‘n plek is om die ander se welsyn te bevorder. Die probleem is egter dat ‘n volgehou weiering om aan ‘n huwelik te werk, nie maar net neutrale gevolge het nie. ‘n Huwelik wat nie groei nie, stagneer, en ‘n stagnante huwelik bly dikwels nie vir lank stagnant nie, maar kan liggaamlik en sielkundig destruktief raak. Hiervan is ek egter persoonlik heeltemal oortuig: die Here keur nie enige vorm van fisiese of sielkundige verwaarlosing goed nie en dat ‘n huwelik waarin hierdie dinge plaasvind, nie sy seën dra nie. (Bewyse vir fisiese mishandeling in ‘n huwelik is byvoorbeeld gronde vir strafregtelike vervolging.)

In opsomming. Die huweliksverhouding is inderdaad iets wat die Here van baie hoë waarde ag en dis in die uiterste gevalle dat ‘n huwelik mag ontbind. So ‘n ontbinding sal met ontrouheid te doen hê, nie net in die sin van owerspel (‘n ooglopende vorm van ontrouheid) nie, maar ontrouheid aan die doel van die huwelik. Wanneer ons huweliksmaat se volgehoue ontrouheid aan die doel van die huwelik ons vermoë om te funksioneer aantas, dan word ‘n egskeiding dalk die beste opsie. Maar egskeiding is nooit die eerste opsie wanneer daar probleme in ‘n huwelik is nie, in elk geval nie vir ‘n Christen wat sy/haar krag in die Here vind en wat verstaan wat die doel van die huwelik is nie. Maar dis beslis ‘n opsie as verlossing van ‘n vernietigende verhouding (wat lankal nie meer ‘n huwelik genoem kan word nie), wanneer een van die partye duidelik aangedui het dat hulle die doel van die huwelik versaak het en daardeur ook bewys lewer dat hulle hul identiteit as volgeling van Jesus verloën het.

Winkelsmidt, elke huwelik is uniek en die probleme in ‘n bepaalde huwelik is altyd kompleks. Ek weet niks van jou situasie nie en my antwoord hier poog bloot om ‘n paar Christelike beginsels te beklemtoon. Ek besef baie deeglik dat jy tans baie hartseer en pyn beleef. Ons kan gerus verder gesels, maar ek stel regtig voor dat jy in persoon met iemand in jou omgewing gaan praat wat jou kan ondersteun en wat jou kan help om die regte besluite te maak ter wille van jouself en jou man se uiteindelike welsyn.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.