Is die Ou Testament betroubaar?

Hallo Udo

Ek het onlangs afgekom op skrywes oor die historisiteit van Abraham tot by Josef, Moses, die uittog uit Egipte en ‘n paar ander gebeure.  Ek moet sê ek het nogal beteuterd gevoel na ek dit gelees het.  Ek het onder andere ‘n artikel gelees deur ‘n Joodse akademikus wat spesialiseer in Antieke Geskiedenis en die ou Testament by ‘n Universiteit in Israel.  Hy is ‘n gelowige, volbloed Jood/Judaïs en dit is ook ‘n apologetiese skrywe (as ek so daarna kan verwys).  Met die lees van die artikel het ek net weer sterk onder die indruk gekom van die oorweldigende mag van navorsing in die breë waarmee  ons as gelowiges gekonfronteer word.

In hierdie geval noem die skrywer ‘n paar interessante punte waarvan ek net baie kortliks sommige gaan opsom:

  1. Die algemene konsensus onder navorsers is dat daar nie genoegsame gronde is om te glo aan die historisiteit van Abraham, Moses, en die uittog uit Egipte nie.  Dit word beskou as verhale met sterk mitiese inslag wat geskryf is tydens die Babiloniese oorname van Israel. (Die skrywer erken dit – die tyd van skrywe, bedoel ek.)
  2. Die verhaal van Moses in die mandjie van biesies wat met pik gesmeer is en alles wat daarop gevolg het stem ontstellend ooreen met ‘n vroeëre Egiptiese mite.  So ook die tien plae. (Die skrywer erken dit maar wys hier en daar op ‘n paar teenstrydighede.)
  3. Die groot getal Jode wat getrek het uit Egipte (600 000 mans met families) is onmoontlik, want die totale Egiptiese bevolking in daardie tyd was digby twee en ‘n half miljoen en daar sou beslis in die hiërogliewe melding gemaak word indien so ‘n groot gebeurtenis soos die uittog van by die 2 miljoen mense plaasgevind het (Hy erken dit – maar verduidelik waarom die getal verkeerd bereken is).
  4. Die tien gebooie berus op reëls wat deur Ramses II opgestel is. (Dus nie deur God aan Moses gegee op die berg nie.)
  5. Die trek deur die Rooi See, die Egiptenare wat die Israeliete agtervolg het, die see wat geskei het om die Israeliete te laat deurgaan, die verdrinking van die Egiptenare, die Loflied van die Israeliete daarna tot God, is byna identies aan die Gedig van Kadesh in die Egiptiese antieke letterkunde  – net nie so uitgebrei nie. (Die skrywer erken dit.)
  6. Die tabernakel is feitlik IDENTIES in afmetings en beskrywing aan die Egiptiese tempels van Ramses (of een van die Farao’s) – die Gerubs, die lot. Net ander figure. Nou goed, ‘n mens kan redeneer dat Moses en die volk kennis gedra het van die afmetings – veral omdat die volk die tempel in Egipte na alle waarskynlikheid gebou het.

Daar is nog sulke voorbeelde.  Die skrywer se gevolgtrekking vir die Rooi See-gebeure is (en ek stel dit nou baie eenvoudig) dat die Israeliete waarskynlik nie die woorde gehad om die grootheid van God te besing nà die verlossing van die Egiptenare nie en het hulle, of dan die skrywer van die gebeure,  die bekende gedig van Kadesh gebruik as inspirasie.

Ek probeer dus maar op die oomblik om weg te bly van veral die eerste 5 boeke van die Bybel. Net vir eers. Al wat net sleg is, is dat die gebeure rondom Jesus se kruisiging sulke direkte parallelle vertoon met die vlug uit Egipte, die Paasmaal, ens.  As dit nie waar is nie, wat dan? As alles dan, of meeste van ons Bybelverhale in die Ou Testament verdraaide mites is, wil ek in die woorde van my skoonpa verklaar: ‘Stop the world, I want to get off’.  

As jy dalk leesstof hieroor kan aanstuur Udo, sal ek dit waardeer.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ja, daar is byna geen groter skeptisisme in die akademie waar die Bybel bestudeer word as wanneer dit kom by die vraag na die historisiteit van die Ou Testamentiese verhale nie.

Ek dink egter nie alles is verlore nie! Soos jyself goed weet is daar gewoonlik verskeie faktore om in ag te neem oor enige saak in akademiese navorsing. Ongelukkig is die gewone kerklidmaat meestal salig onbewus van die kompleksiteit wat hier ter sprake is. ʼn Mens kan daarom maklik neig om veral hier naïef of oningelig te wees.

Dis ook goed om in gedagte te hou dat mense se skeptisisme altyd ʼn gegewe is; daar is byna geen onderwerp wat nie ondersteuners én teenstanders het nie. Die vraag is egter nie hoeveel aanhangers ʼn bepaalde perspektief het nie, maar wat die argumente daarvoor is. Dis geensins duidelik dat ons as Bybelgelowiges summier in die put sit oor die historiese onderbou van Ou Testament nie. Daar is verseker kundiges wie se geweegde gevolgtrekkings nie naastenby die tipe skeptisisme onderskryf wat onder baie akademici (die sg. minimaliste) die botoon voer nie. Sien in hierdie verband bv. Did the Exodus Never Happen?

Ek sou nogal graag wou weet wie die Joodse akademikus is na wie se artikel jy verwys. Ek vermoed jy verwys na die artikel van die Joodse akademikus, prof. Joshua Berman, Was there an Exodus? asook die reaksies daarop deur drie ander akademici (in die kantkolom van die artikel). Hier is vier akademici wat in verskillende grade van mekaar oor hierdie onderwerp verskil, maar waar drie van die vier (waarvan een ʼn Christen) van mening is dat die Eksodus-verhaal nie maar net historiese fiksie is nie.

Twee Ou Testamentiese kundiges waarvan jy gerus kan kennis neem is Kenneth Kitchen en James Hoffmeier. Vervolgens lys ek ʼn paar skakels wat jy kan naslaan:

Twee artikels wat relevante punte maak i.v.m. die kwessies ter sprake:

Iemand wat die kompleksiteit van faktore rondom die bepaling van die geskiedenis van Ou Testamentiese verhale wil verstaan, sal in die volgende boeke waardevolle inligting kan bekom. Ongelukkig is almal op ʼn akademiese vlak geskryf, maar in meeste gevalle nie noodwendig ontoeganklik nie. Lees by Amazon om meer uit te vind oor elke boek deur die volgende skakels te volg:

Hier is nog ʼn paar boekaanbevelings m.b.t. Ou Testamentiese temas:

Laastens. Jy skryf: “Al wat net sleg is, is dat die gebeure rondom Jesus se kruisiging sulke direkte parallelle vertoon met die vlug uit Egipte, die Paasmaal, ens.  As dit nie waar is nie, wat dan?

Hier wil ek jou na een ander artikel verwys wat ʼn goeie punt maak oor wat die fokuspunt van ons geloof is. Daar is natuurlik veel meer daaroor te sê, maar ek het gedink dit maak ʼn belangrike punt: Problems with the Old Testament

Laat weet gerus wat jy dink.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.