Drie vrae oor die aard van godsdiens

Godsdienste: oppervlakkig verskillend, basies dieselfde?

Vraag: In ons samelewing is daar mense met uiteenlopende godsdienstige agtergronde wat hul oortuigings uitleef in dieselfde geografiese grense en skouers skuur op alle vlakke van die samelewing. Kan ons groter begrip aanmoedig vir mense wat anders dink en anders glo, en sodoende wedersydse respek en harmonie bevorder sonder dat mense mekaar met agterdog bejeën? Miskien is ʼn metafoor soos die volgende ʼn stap in die regte rigting. Laat ons aan die wêreld se verskillende godsdienste dink as mense wat die bopunt van ‘n berg uit verskillende rigtings nader. Almal loop met verskillende paadjies teen daardie berg op, maar kom later almal by dieselfde bopunt uit. M.a.w. verskillende godsdienste is eintlik baie dieselfde, mense beoefen dit maar net op verskillende maniere. Is dit nie ʼn meer verdraagsame manier om oor die aard van verskillende godsdienste te dink nie?

Antwoord:

Die metafoor van “verskillende paadjies teen dieselfde berg op” is vir baie mense aantreklik juis omdat dit so inklusief en akkommoderend is. Wat volg is ʼn evaluasie van hierdie en nog een ander metafoor vir hoe verskillende godsdienste dikwels verstaan word, en waarom dit albei uiteindelik tekort skiet. Kom ons begin egter by ʼn verduideliking van wat die metafoor van die paadjies teen die berg op impliseer.

Die metafoor poog om te verduidelik hoedat mense almal in hul eie godsdienstige tradisies staan (elkeen volg sy eie paadjie) en dat almal ʼn behoefte het na dieselfde geestelike vervulling (almal strewe om die bopunt van die berg te bereik). Alle gelowiges streef dus daarna om ‘n goeie lewe te lei volgens die standaarde van hul eie gewete sowel as die voorskrifte van hul onderskeie godsdienstige tradisies. Indien so ʼn strewe volgehou word, dan bied alle godsdienste die belofte op geestelike vervulling en morele transformasie (en soos met ‘n paadjie teen ‘n berg op, is die proses nie moeiteloos nie). Almal wat daaraan deel kry, deel dan in dieselfde ervaring van een en dieselfde Goddelike Realiteit. (Terloops, dit beteken dat iemand wat ‘n goeie morele lewe nastreef, selfs al staan hulle in geen godsdienstige tradisie nie of glo hulle in geen vorm van Godheid nie, gesien kan word as iemand wat by “God” uitgekom het.)

Met hierdie metafoor word erkenning gegee aan ʼn soort etiese ideaal (die idee van “God” is inopsigself ʼn metafoor vir hierdie ideaal) en hoe verskillende godsdienste mense bloot op verskillende maniere motiveer om daardie ideaal na te streef. Al die groot godsdienste het immers een of ander formulering van, en variasie op, die Goue Reël: doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. As die essensie van hedendaagse godsdienste dus ‘n uitdrukking is van hierdie etiese ideaal, dan bevestig dit skynbaar die idee dat alle godsdienste “basies dieselfde” is.

Verskillende godsdienste verteenwoordig egter nie net ‘n etiese sisteem nie. Dis duidelik dat alle godsdienste terselfdertyd ook probeer om een of ander beskrywing te gee van die verskillende aspekte van die realiteit waarin ons leef. Godsdienste poog tipies om antwoorde te gee op vrae soos die volgende: Waar kom die wêreld vandaan? Wat is die mens? Wat is die doel van die mens se bestaan? Wat is die dood? Wat is ‘realiteit’? Wie of wat is God?

Verskillende godsdienste gee meestal wyd uiteenlopende en teenstrydige antwoorde op sulke vrae. Die rede hiervoor is skynbaar dat mense dieselfde realiteit waarin hulle leef, verskillend ervaar. Mense het verskillende historiese, kulturele en filosofiese vooroordele en agtergronde wat hul ervarings en begrip, verskillend inklee. Veral persoonlike ervaring kan op baie verskillende maniere en met baie verskillende woorde beskryf word. Daarom dat dit slegs lyk asof verskillende godsdienste verskillende antwoorde gee wat mekaar weerspreek. Om laasgenoemde punt te verduidelik word daar dikwels nog ʼn metafoor aangebied:

Verskillende godsdienste is soos die drie blinde mans wat ‘n olifant beskryf. Die een blinde man voel aan die olifant se been en sê: “Ek dink ‘n olifant is soos die stam van ‘n boom.” Die tweede blinde man stem nie saam nie. “Nee, ek glo die olifant is soos ‘n slang,” sê hy, terwyl hy die olifant se slurp vashou. Die derde blinde man wat aan die olifant se maag raak, skud sy kop, “Nee, julle is albei verkeerd, die olifant is soos ‘n groot rots.” Elke blinde man dink hy is reg en dat die ander verkeerd is, maar inderwaarheid raak elkeen aan dieselfde olifant, maar beskryf net verskillende dele daarvan op verskillende maniere.

Met ander woorde, alle godsdienste het met dieselfde realiteit te doen, maar beskryf dit net op verskillende maniere. Elke godsdiens gee op verskillende en kreatiewe maniere uitdrukking aan verskillende aspekte van dieselfde werklikheid. Die verskille tussen godsdienste is dus te wyte aan die mens se beperkte vermoë (ons is almal blind) om ‘n beskrywing te gee van ‘n onbeperkte Goddelike Realiteit (die hele olifant).

Die belangrike punt wat hierdie twee metafore dus oor die bestaan van verskillende godsdienste wil maak is dit: verskillende godsdienste is hoofsaaklik dieselfde en slegs oppervlakkig verskillend. Die idee is dat harmonie en verdraagsaamheid bevorder word as meer mense dit sal besef.

Tog is dit geensins duidelik waarom dit nie eerder die geval is dat verskillende godsdienste slegs oppervlakkig dieselfde, maar hoofsaaklik verskillend is nie. Baie mense swig voor die populistiese en amper intuïtiewe gevoel dat die metafore van die berg, die olifant en die drie blindes moet reg wees, sonder om ‘n noukeurige ontleding daarvan te doen. Is hierdie twee metafore nie dalk misleidend nie?

Beskou weer die doel van hierdie metafore. Dit wil ons die versekering gee dat alle godsdienste op een of ander manier met dieselfde God te doen het selfs al gee dit gebrekkige beskrywings van die realiteit waarin mense leef. So byvoorbeeld sou alle godsdienste ‘n gebrekkige antwoord gee op die vraag oor wie of wat God is. Sommige godsdienste meen God is monoteïsties (een God); ander glo aan politeïsme (baie gode); ander beweer dat God panteïsties is (alles is God). Ten minste een godsdiens is essensieel ateïsties (daar is geen God nie). Judaïsme en Islam voer aan dat God ‘n selfstandige wese is, maar verskil oor God se persoonlike eienskappe; die Christelike geloof glo in ‘n persoonlike, drie-enige God; terwyl God in vertakkings van Hindoeïsme en Boeddhisme as onpersoonlik en ononderskeibaar van enige aspek van realiteit voorgestel word.

Dis egter duidelik dat dit nie regtig saak maak of godsdienste hier bloot gebrekkige antwoorde gee nie. Die punt is dat daar meestal radikaal uitsluitende antwoorde gegee word. Uitsluitende antwoorde is betrokke by die meeste antwoorde wat godsdienste op spesifieke vrae gee, soos byna enige vergelykende studie van godsdienste sal aantoon. Harold A. Netland sê hieroor: “Careful examination of the basic tenets of the various religious traditions demonstrates that, far from teaching the same thing, the major religions have radically different perspectives on the religious ultimate.” Om dus daarop te wil aandring dat die geloof in “een God,” “geen God” en “alles is God” maar net op gebrekkige maniere van dieselfde God praat, is semanties en konseptueel onverskoonbaar.

Die metafoor van die olifant en die drie blinde mans wil wys dat alle mense se insig beperk is, dat alle mense en alle godsdienste net soos die drie blinde mans deur hul vooroordele en beperkings blind gemaak word om die olifant te sien soos dit werklik is. Die olifant, soos God, is grootliks onkenbaar en die meeste wat van enige godsdiens gesê kan word is dat dit slegs maar ʼn deeltjie van die waarheid oor God verteenwoordig. Daar is natuurlik baie waarheid hier. Niemand is vrygespreek van vooroordele en beperkte kennis nie. Dit geld ook vir iemand se denke oor God.

Maar hier is die belangrike vraag: Wie is hierdie persoon wat die hele olifant kan sien vir wat dit werklik is en wat daarom weet dat die drie blinde mans almal gebrekkige antwoorde gee? Waarom het hierdie persoon ‘n beter begrip van wat die realiteit werklik is as enige van die wêreld se godsdienste? Meer spesifiek, as God eintlik onkenbaar is, waar sou iemand aan sulke kennis kom? Waarom is slegs hierdie siening in die onbevooroordeelde posisie om ʼn prentjie te skets van wie of wat God eintlik is (soos dat God onkenbaar is)? Waarom veronderstel hierdie siening nie óók ‘n gebrekkige antwoord nie? Trouens, as God onkenbaar is, dan kan niemand tog daarop aanspraak maak dat alle godsdienste selfs slegs ‘n deeltjie van so ‘n onkenbare God verstaan nie.

Vir baie mense is dit eenvoudig arrogant en onverdraagsaam om te moet dink dat slegs een godsdiens se aansprake reg kan wees of selfs dat almal verkeerd is. Daarom is dit polities korrek om eerder te sê dat almal op ‘n gebrekkige manier reg is. Soos Norman Geisler sê: “[In] our culture today, tolerance no longer means to put up with something you believe to be false (after all, you don’t tolerate things you agree with). Tolerance now means that you’re supposed to accept every belief as true!”

Die idee dat godsdienste eintlik maar net op verskillende maniere oor dieselfde God praat, is in effek ‘n uiters aanmatigende reïnterpretasie van elke godsdiens se spesifieke siening. Hieroor sê Wilfred Cantwell Smith: “No one has understood the diverse faiths of mankind if his so-called explanation of them makes fundamental nonsense of each one.” Dis slegs so ‘n reïnterpretasie wat die ooglopende teenstrydighede tussen godsdienste onder die mat kan invee en kan maak asof die verskille bloot oppervlakkig is.

Elk van die drie blinde mans glo iets anders oor die olifant waaraan hulle raak. Luister gerus mooi na die ortodokse Jood, die praktiserende Hindoe of toegewyde Boeddhistiese monnik. Dit help nie om dit wat hulle glo te ontken of te relativeer deur te wys op wat hulle behoort te glo sonder om te kan verduidelik waarom daar in die land van die blindes ten minste een is wat die olifant in sy grootsheid kan sien nie.

Die logiese en onvermybare feit is dat as godsdienste eksklusiewe waarheidsaansprake maak, dan is daar slegs twee opsies. Alle godsdienste kan verkeerd wees in hul aansprake, of slegs een kan reg wees, maar hulle kan nie almal reg wees nie. Die Christen-filosoof C. Stephen Evans maak hieroor die volgende punt: “[I]t is an essential part of Christian faith that Jesus is God in a unique and exclusive way. It follows from this that all religions cannot be equally true. If all religions are equally true, then Christianity is false, and therefore not all religions are true.” Terloops, die ironie hier moenie misgekyk word nie: ʼn mens kan nie godsdienste wat eksklusiewe waarheidsaansprake maak van arrogansie en onverdraagsaamheid beskuldig sonder om jouself daaraan skuldig te maak nie. Want dink jy dan nie dat jou siening, en slegs jou siening, die regte een is nie?

Die idee dat alle godsdienste verskillende paaie na dieselfde God is, word godsdienstige pluralisme genoem. Pluralisme word as volg gedefinieer: “[Die] wysgerige en lewensbeskoulike stelsel wat verskillende standpunte en beginsels erken en aanvaar sonder dat die een die ander hoef uit te sluit.” (Pharos: Verklarende Afrikaanse Woordeboek.) Hierdie definisie van pluralisme dui daarop dat daar dikwels ʼn diversiteit van “verskillende standpunte en beginsels” is wat om erkenning en aanvaarding meeding. Die probleem met die idee “dat die een die ander nie hoef uit te sluit nie” is egter, soos reeds verduidelik, dat dit nie vooraf besluit kan word nie – dit hang af van die tipe standpunte wat gehandhaaf word. Godsdienstige diversiteit impliseer nie pluralisme nie, m.a.w. die feit dat daar verskillende godsdienste bestaan beteken nie outomaties dat alle godsdienste daarom maar net verskillende paaie is na dieselfde God nie. Godsdienste verskil drasties in hul opinie oor watter pad nou eintlik na die bergtop lei; hulle verskil selfs oor teen watter berg daardie pad oploop.

Daar bestaan verseker ʼn behoefte na meer verdraagsaamheid, respek en bereidwilligheid om na mekaar te luister, tussen aanhangers van verskillende godsdienste. Maar ‘n mens bevorder beslis nie respek deur van metafore gebruik te maak wat foutiewe aannames maak en tot valse gevolgtrekkings lei nie.

Sien ook:

 

Godsdiens: die wortel van alle kwaad?

Vraag: Die onverdraagsaamheid van een godsdiens teenoor ander wat met hulle verskil, word vandag steeds gesien in onnoembare gevalle van bloedvergieting regoor die wêreld. Trouens, die geskiedenis van die mensdom is deurspek met allerlei gruweldade as gevolg van godsdienstige fundamentalisme en fanatisme. Heilige oorloë, die kruistogte, die inkwisisie, anti-Semitisme, koloniale uitbuiting en onderdrukking, 9/11 – dis slegs enkele voorbeelde van menseregteskendings waarby godsdienstige mense betrokke was. Dit lyk of godsdiens die oorsaak is van ʼn groot deel van die wêreld se probleme en lyding, nie waar nie?

Antwoord:

Daar lê baie emosionele kapitaal in die idee van verdraagsaamheid en dit word dikwels implisiet aanvaar dat om te glo dat slegs jou godsdiens reg is, noodwendig tot onverdraagsaamheid sal lei.

Die belangrike vraag is egter die volgende. Is dit die verskille opsigself tussen godsdienste wat tot konflik lei of is dit eerder hoe die aanhangers van godsdienste daardie verskille gebruik om konflik te motiveer of aan te hits? Is mensehaat en diskriminerende vooroordeel, en die toepassing daarvan op onderdrukkende maniere, ‘n inherente funksie van godsdiens? Of is sulke dinge eerder die gevolg van ‘n universele mens-probleem? Is dit nie die mens, as mens, wat onvermydelik geneig is tot egoïstiese vooroordeel nie – maak nie saak watter lofwaardige kulturele, godsdienstige, morele of politieke ideale iemand dalk mag sê hulle nastreef nie?

Dit is byvoorbeeld belangrik om te onderskei tussen die leerstellings van ʼn bepaalde godsdiens (of enige ideologie) en die misbruik daarvan vir eie gewin deur diegene met verskuilde agendas soos om o.a. ekonomiese en politieke ambisie te bevorder. Die onkunde en morele mislukking van ‘n leermeester se volgelinge, veronderstel tog nie summier die ontoereikende boodskap van die leermeester nie.

So byvoorbeeld moet daar ernstige vrae gevra word oor die motivering agter al die vergrype wat al in die naam van veral die Christelike geloof gepleeg is. Waar lê die blaam wanneer Jesus se boodskap (God se genade en liefde vir alle mense) teëgespreek word deur die laakbare optrede van sy sogenaamde volgelinge? Is sulke optrede die logiese resultaat van die Christelike boodskap?

Om ander mense skade te doen (fisies of verbaal) of teen hulle te diskrimineer bloot omdat jy dink dat hulle verkeerde dinge glo of omdat jy nie met hulle geloof of oortuigings saamstem nie, is inderdaad onverdraagsaam en altyd verdoemenswaardig. Maar daar is eenvoudig geen rede waarom die erkenning van verskille of ‘n eerbiedige uitspreek van die redes vir jou standpunt, noodwendig moet lei tot onverdraagsame of onderdrukkende optrede teenoor ander nie. Daar is ‘n verskil tussen mense se interaksie en gesindheid tot mekaar (wat verdraagsaam of onverdraagsaam kan wees) en ‘n sober evaluering van aansprake tot waarheid.

Verdraagsaamheid is egter nie ʼn tipe afsydige houding teenoor ander waar jy jouself eerder eenkant hou omdat jy nie betrokke wil raak by mense wat anders dink en glo nie. Verdraagsaamheid beteken om aktief daarna te streef om die ruimte te skep waar mense vrymoedigheid het om in ‘n veilige sosiale konteks oor verskillende sienings oor die lewe en realiteit met mekaar te kan gesels. Om in harmonie met ander saam te leef wat anders glo en dink as jy, beteken dus nie dat ons met ander se idees en oortuigings hoef saam stem nie. Harmonie is die gevolg van respek vir ander se menswaardigheid, respek vir hul reg tot ʼn opinie en die bereidwilligheid om begrip te wys vir wie mense eintlik is en wat hulle regtig glo. Hierdie gesindheid maak dit moontlik om verskille te erken en waarheidsaansprake te ondersoek.

 

Godsdiens: gebore in wat ons glo?

Vraag: Iemand wat in Indië grootword, sal waarskynlik ‘n Hindoe word; iemand met Christen-ouers word geleer om die Christelike geloof te aanvaar; en kinders in ʼn Moslem-samelewing glo dat Islam die waarheid oor God verkondig. Maar is dit nie uiters eng om te dink dat sommige mense, met geen beheer daaroor nie, in ʼn samelewing gebore word waar almal bloot valse godsdienstige oortuigings het nie? Verskillende godsdienste het groot hoeveelhede opregte aanhangers – kan so baie mense almal verkeerd wees? Is dit regtig sinvol om te redeneer dat net een godsdiens (bv. die Christelike geloof) reg kan wees? Hoe kan miljoene der miljoene opregte gelowiges van ander godsdienste so mislei wees?

Antwoord:

Dis heeltemal korrek om te dink dat die omstandighede waarin iemand grootword, grootliks gaan bepaal wat so ʼn persoon gaan glo. Die vraag is egter altyd en vir almal dieselfde: is wat iemand grootgemaak is om te glo, wáár?

‘n Mens kan byvoorbeeld dieselfde punt maak oor ‘n kind wat in Nazi-Duitsland grootgeword het, by die ‘Hitler Jeug’ aangesluit het en later, op welke maniere ook al, die uitmoor van die Jode ondersteun het. Is dit egter geregverdig om te sê dat as jy in Nazi-Duitsland gebore is, dan was jy waarskynlik ‘n Nazi, en dat jy daarom nie verantwoordelik gehou kan word vir die ideologie wat jy aangehang het nie?

Is dit dus ooit geregverdig om te sê, “ek glo maar net wat ek geleer is om te glo,” of, “ek is ‘n Christen, want ek het in ‘n Christelike huis grootgeword”? Wanneer raak dit iemand se eie verantwoordelikheid om dit wat hy glo krities te ondersoek? Is dit nie noodsaaklik om een of ander tyd te vra, “Dit is my vertel, maar is dit regtig so?” nie? En is dit nie daarom ʼn moontlikheid om dalk op ʼn punt te kom te sê, “Dit het ek nog altyd geglo, maar vir hierdie redes glo ek nou iets anders” nie?

Natuurlik is daar baie mense wat argumenteer dat hul godsdiens deel is van hul kulturele erfenis en ‘n uitdrukking van hul historiese wortels. Vir hierdie mense is hul godsdiens dikwels die ruimte waarbinne hul volk en taal gestalte gekry het. Dit bepaal hulle (familie/gemeenskap/kultuur/volk) unieke identiteit in ‘n diverse wêreld. Vir sulke mense is dit ondenkbaar om hul eie godsdiens te moet ontken, want dit sou wees om hulself en diegene naaste aan hulle, te verraai en te minag. Hierdie siening oor die aard van godsdiens bied ‘n gevoel van gebondenheid, stimuleer solidariteit en bevorder ideologiese patriotisme. Dit bied ‘n veilige skans teen ‘n vreemde en dikwels vyandige (of immorele) wêreld daarbuite en daarom is dit byna ondenkbaar om daarteen in opstand te kom.

En tog, as ʼn godsdiens aansprake maak oor hoe dinge werklik is, dan is dit oop vir ‘n ondersoek na die waarheid van daardie aansprake. Daar lê ‘n verantwoordelikheid by elke individu wat vrye keuse kan uitoefen, om dit wat hy glo te ondersoek en dit nie maar net met kulturele selfvergenoegdheid te aanvaar nie. Dis onverantwoordelik en ernstige selfmisleiding om kop in die sand te staan en dink dat jou eie godsdienstige tradisie verhewe staan bo kritiek of ondersoek.

Elke mens behoort aangemoedig te word om te vra: Is dit wat ek glo waar? Wie verkies om nadat hulle hierdie vraag gevra het, eerder ‘n leuen of ‘n halwe waarheid te glo as dit moontlik is om die waarheid sorgvuldig te ondersoek? Die feit dat hele gemeenskappe, kulture, volkere of godsdienste met opregtheid en oor ʼn lang tyd heen aan sekere idees vashou is nie ʼn waarborg oor die waarheid van sulke idees nie. Opregtheid kan nooit ‘n plaasvervanger wees vir waarheid nie. ‘n Mens kan opreg wees, en terselfdertyd ook opreg verkeerd wees. Die waarheid mag gevolge hê waarvan opregtheid niks weet nie.

Dit is juis die bewustheid van die feit dat godsdienste verskil wat mense moet lei tot ondersoek. Dit is veral die verskille wat die aansporing moet wees vir dialoog met mense wat anders glo. As daar waarheid te vinde is in enige van die aansprake van die wêreld se godsdienste, dan moet dit gesoek word. Maar dit beteken nie dat alle aansprake waar is, of erger nog, ewe waar is nie.

Dit sal natuurlik naïef wees om die greep van gevestigde denkpatrone en vooroordele in enige ondersoek na wat waar is, te ontken. Niemand kan beweer dat daar nie allerlei faktore is wat dit vir enige mens besonder moeilik maak om ‘n ondersoekproses te begin nie, wat nog te sê van ingrypende paradigmaskuiwe te maak nie. Godsdienstige en ander oortuigings het nie bloot oornag tot stand gekom nie en verander daarom ook nie sommer na willekeur nie. Terselfdertyd is dit egter nie ʼn verskoning om nie vrae te begin vra wat tot waarheid mag lei nie.

2 Comments

  1. Hi,
    Dit is baie waar dat godsdiens deel is van ‘n kulturele erfenis en ook deur die politiek en moraal van die tyd beïnvloed word.So bv. kan ek onthou (30 jaar terug) dat die menning onder protestante Christene was dat alle Katolieke hel toe gaan! Nou twyfel die kerk oor die bestaan van die hel – mening verander elke dag! Nee wat godsdiens is soos die naam se – ‘n diens aan ‘n God – Lewe eerder vir Christus!

    • Gideon, dankie vir jou kommentaar. Ja, ek dink enige aanspraak staan of val op meriete (en moet sodanig ondersoek word), maak nie saak wie dit gesê het of wanneer dit gesê is nie.

      Ek het ook ʼn probleem met godsdiens as ʼn kulturele verskynsel wat dikwels nie veel te doen het met die essensie van die Christelike geloof nie. Die verskil tussen “diens aan God” en “lewe vir Christus” gaan oor wie God werklik is. Dis slegs die Christelike godsdiens wat so ʼn sterk verband trek tussen “God” en “Christus” dat “diens aan God” dieselfde is as om vir “Christus te leef”.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*