Morele, logiese en esteties waarhede en empiriese verifiëring

Vervolgens ʼn paar verdere verduidelikings na aanleiding van Apostaat se opmerkings oor my aanspraak dat morele, logiese en estetiese waarhede niks met empiriese verifiëring te doen het nie.

Morele waarheid

Ons verkry baie kennis deur waarneming en eksperimentering – ʼn mens noem dit die wetenskaplike metode. Nie alle kennis word egter op so ʼn manier verkry nie. Ten spyte van Apostaat se protestering is logiese, morele en estetiese waarhede voorbeelde van kennis wat nie deur die metodes en instrumente van wetenskaplike ondersoek bekom word nie. ʼn Ondersoek na hierdie waarhede behoort tot die dissipline van die filosofie onderworpe aan die metodes en instrumente van die filosofie (daar is ook historiese kennis, juridiese kennis en ander soorte kennis wat elkeen hul eie metodes en instrumente van ondersoek veronderstel).

Die ateïs en bioloog Richard Dawkins sê “Science has no methods for deciding what is ethical” en noem dan ʼn klomp voorbeelde: “Science cannot tell you whether abortion is wrong…whether it’s wrong to clone a whole human being…whether stem cell cloning for ‘spare parts’ is wrong…whether it is right to kill ‘Mary’ to save her conjoined twin ‘Jodie’…(A Devil’s Chaplain, p39-40)

Die rede hiervoor is dat wetenskaplike gevolgtrekkings per definisie beskrywend is en nie vóórskrywend nie. Beskou die voorbeeld van empatie. Die feit dat mense wesens is wat empatie kan hê of wys, is ʼn beskrywende feit vanuit die sielkunde, sosiologie en miskien selfs die antropologie, maar nie vir hierdie rede ook voorskriftelik nie. Die vraag oor of ʼn mens volgens empatie behóórt op te tree, is ʼn etiese vraag wat deur geen waarneming of eksperimentering beslis gaan word nie. Byvoorbeeld, ek kan ʼn eksperiment uitvoer en waarneem dat pasgebore babatjies pynreflekse het, en verder deur rasionele afleiding bepaal dat sulke pynreflekse soortgelyk is aan my eie pynreflekse. Maar wat is dit van sulke waarnemings, eksperimentering en rasionele afleidings, wat my verhoed om babatjies te martel vir my eie plesier? Wat maak dit moreel verkeerd? Dit kan nie bloot wees omdat die sielkunde en sosiologie wys dat mense sonder empatie meestal psigopate is nie, want die vermoë tot empatie veronderstel tog nie dat selfs nie-psigopate in alle gevalle empatie sál, móét of gáán wys nie. M.a.w. wie of wat verplig iemand om empatie te wys? Samelewingsreëls? Ook Nazi-Duitsland s’n? En wie of wat verplig iemand om die kollektiewe reëls van ʼn spesifieke samelewing te gehoorsaam? As iemand op so ʼn manier verplig gevoel het, dan het aktiviste soos William Wilberforce en Martin Luther King, Jr. eenvoudig nooit ʼn vinger gelig vir die regte van die onderdruktes in hulle samelewings nie.

Natuurlik dra empiriese data by tot die konteks vir etiese besinning (ons bevind ons immers in ʼn fisiese wêreld), maar dis nie enige data opsigself wat die morele waarde van iets bepaal of ons onder morele verpligting plaas nie. Morele waarhede word dus NIE empiries bepaal nie (of anders gestel, dit word nie empiries geverifieer nie).

Estetiese waarheid

Die vraag is nie “waar die wonderlike gevoel vandaan kom as iets mooi of lekker is” nie. Die vraag is na watter tipe waarheid verwys die stelling “Dit is mooi”? Is dit ʼn empiriese waarheid of ʼn estetiese waarheid? Die punt is dat die stelling “Die sonsondergang is mooi” ʼn estetiese waardeoordeel is, en nie ʼn empiriese beskrywing nie. Daar kan allerlei wetenskaplike beskrywings gegee word vir die waarneembare faktore betrokke by ʼn sonsondergang. ‘n Mens kan verwys na die kleure weens refraksie en hoe dit beïnvloed word deur die son se verhouding tot die aarde en hoe daardie lig dan op die oog se retina val en as elektriese impulse na die brein herlei word om dan ‘n bepaalde breinstoestand te weeg te bring wat weer vir allerlei sensasies en ander liggaamlike response verantwoordelik is. Maar sodra jy woorde soos “mooi” begin gebruik in jou beskrywings, dan beoefen jy nie meer beskrywende wetenskap nie, ook nie neurowetenskap nie, maar maak jy aanspraak op estetiese waarheid. Daarom dat estetiese waarheid nie empiries geverifieer word nie.

Logiese waarheid

Ek moet beklemtoon dat ek nie gesê dat logika (soos met die geval van moraliteit en estetika) niks met waarneming te doen het nie. Natuurlik bied waarneming die konteks vir die ontdekking en toepassing van hierdie waarhede. Ek het gesê dat hierdie tipe waarhede nie empiries geverifieer word nie. Dit beteken byvoorbeeld dat die stelling, “2+2=4” na ʼn logiese waarheid verwys (uitgedruk in wiskundige terme) en nie na ʼn empiriese beskrywing wat hierdie logika (of die noodwendige aard daarvan) sou kon bevestig nie. Logika gebeur in ons koppe juis omdat waarneming van die eksterne wêreld slegs beskrywend is, maar nie opsigself as voorbeeld dien van logiese waarheid nie.

Terloops, Apostaat dink dat nuwe inligting ons sou dwing om ons idees van logika aan te pas. Die implikasie is dat noodwendige waarhede soos “2+2=4” dalk vals kan wees indien ons net nuwe inligting sou kon bekom! Ek vermoed dat hy dalk, as motivering vir so ʼn aanspraak, sou wou wys op hoe die resultate van kwantum-fisika skynbaar ons basiese intuïsies uitdaag oor die wette van logika. Byvoorbeeld, volgens bepaalde interpretasies van kwantum meganika sou die logika van die wet van nie-teenstrydigheid ongeldig wees op die mikrovlak van die kwantum-wêreld na aanleiding van die bekende dubbel-gleuf eksperiment met ʼn lig-foton. Tog is daar verskeie ander maniere om die resultate te interpreteer wat nie tot logiese teenstrydighede lei nie (sien bv. hier). Die probleem is dat kwantum fisici nie eers naastenby eens is oor watter interpretasie, indien enige, werklik korrek is nie (sien hier en hier en hier). Die punt is bloot dat daar geen goeie rede is om te aanvaar dat die basiese wette van logika gewysig kán word of ongeldig is selfs wanneer kwantum-fisika ter sprake is nie.

Die oortuiging dat God bestaan

Dit behoort nou duidelik te wees dat logiese, morele, estetiese waarhede nie bepaal word deur (wetenskaplike) kennis nie. Logiese, morele en estetiese waarhede is opsigself voorbeelde van kennis onafhanklik van wetenskaplike verifiëring. Hierdie kennis is voorbeelde van waar ons basiese oortuigings (basic beliefs) gevorm word deur bewus te word van basiese morele, logiese en estetiese waarhede in spesifieke omstandighede en wat nie gereduseer kan word tot wat ons empiries kan beskryf nie.

Apostaat wonder egter oor my bewering dat my oortuiging dat God bestaan gevorm is op dieselfde manier as my oortuigings oor logika en moraliteit. Kom ek verduidelik dit aan die hand van ʼn verwysing na die werk van die bekende analitiese filosoof, Alvin Plantinga (Warranted Christian Belief, 2000) soos gevind in Moreland en Craig se Philosophical Foundations for a Christian Worldview, 2003, p.162-163:

“Just as perceptual beliefs like ‘There is a tree’ are not based on arguments from more basic beliefs but arise spontaneously in me when I am in the circumstances of a tree’s appearing to be there, so the belief ‘God exists’ arises spontaneously in me when I am in appropriate circumstances, such as moments of guilt, gratitude or awe at nature’s grandeur, as a result of the working of the sensus divinitatis. Plantinga emphasizes that God’s existence is not inferred from such circumstances – such an argument would be manifestly inadequate – rather, the circumstances form the context in which the sensus divinitatis operates to produces a basic belief in God. Thus belief in God is not arbitrary; it is grounded by the appropriate circumstances and so is properly basic. Hence, if such a model of theistic belief is true, the theist whose belief is produced in the described way violates no epistemic duty in believing and so is justified in believing that God exists.”

Plantinga verduidelik verder dat indien God bestaan (en meer spesifiek, indien die Christelike geloof waar is en daar dus ʼn werking is van die Heilige Gees in mense se lewens om hulle tot kennis van God te bring), dan is iets soos bogenoemde waarskynlik waar en ʼn goeie verduideliking vir hoe ʼn mens se oortuigings oor God gevorm word. Let egter daarop dat hierdie verduideliking nie ʼn argument is vir God se bestaan nie, maar ʼn argument vir waarom ek epistemologies geregverdig sou wees in my oortuiging dat God bestaan indien God wel bestaan. Die implikasie is dat die enigste werklike manier om te wys dat my oortuiging dat God bestaan, vals is, is om te wys dat God inderdaad nie bestaan nie.

Vanuit die Christelike perspektief is dit egter baie maklik om die vorming van die oortuiging dat God bestaan te onderdruk of teen te staan, sodat dit later na die mees natuurlike ding op aarde lyk dat God nie bestaan nie en dat almal wat daarop aanspraak maak, doelbewus lieg of aan delusies lei. Die rede is omdat die oortuiging dat God bestaan implikasies het op ʼn persoonlike en verhoudingsvlak. God is nie besorg dat mense net van sy bestaan sal weet nie, maar dat hulle tot ʼn verhouding met hom sal tree. Maar nie almal stel belang in so ʼn verhouding nie en geen persoon kan ʼn ander persoon dwing tot ʼn verhouding deur ʼn vertoon van mag of deur vir hulle allerlei truuks of gunsies te doen nie. So ook met God; Hy stel belang in opregtheid en ontvanklikheid juis omdat Hy ʼn persoonswese is. Blaise Pascal is daarom waarskynlik reg as hy sê, ““…there is enough light for those who desire only to see, and enough darkness for those of a contrary disposition.”

Ek verwelkom Apostaat se vrae en opmerkings in ons gesprekke, want geloof in God is nie irrasioneel nie en daar is goeie redes om te glo dat God bestaan – selfs al wil iemand ook niks met Hom te doen hê nie. Apostaat wil natuurlik sy bes probeer om my verkeerd te bewys, maar hopelik, en al is dit dan al, vind hy die gesprek stimulerend en sonder venyn.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.