Die Bybel: ʼn motivering vir rassisme en Apartheid?

Ek ontvang onlangs ʼn onpersoonlike e-pos van Jaco Steyn, met ʼn verwysing na sy plasing, Rassisme en Apartheid in die Bybel.

Was dit ‘n uitnodiging om daarop te reageer? Die probleem is dat ek al voorheen in gesprek was met Jaco Steyn, en Jaco is ongelukkig iemand wat taamlik sensitief vir kritiek op sy skrywes (sien veral die gesprek rakende Maar julle, wie sê julle is Ek?).

Jaco se heel laaste woorde aan my was: “Hierdie was nou my laaste desperate poging om met jou dialoog te voer of te debatteer!” (sien sy kommentaar by Dialoog, schmialoog?). So, ek is nie seker waarom Jaco my weer probeer uitlok vir reaksie nie. Maar kom ons kyk na wat hy geplaas het.

Jaco vra twee vrae in die e-pos wat ek ontvang het, maar wat nie in die plasing op sy webwerf verskyn nie: “Is daar Bybelgedeeltes waarin rassisme, baasskap en/of rasseskeiding duidelik gepropageer word? Indien wel, tot watter mate het dit rasseverhoudinge in veral Suider-Afrika vertroebel?” Dan word daar ʼn rits Bybelsgedeeltes gelys onder vier opskrifte wat klaarblyklik as selfverklarende antwoord moet dien – en waar dit skynbaar nie selfverklarend genoeg is nie, maak Jaco kort opmerkings om sy lesers darem in die regte rigting te help dink.

Jaco se eerste beswaar is skynbaar dat omdat God vir hom ʼn volk tussen al die ander uitgekies om aan hom toegewy te wees, dit heerskappy en baasskap oor ander nasies impliseer.

Eerstens word daar na Genesis 27:28-29 verwys. Die konteks van Genesis 27:28-29 is natuurlik die seën wat Isak oor Jakob uitspreek, dat hy guns en voorspoed van God sal ontvang (Jakob ontvang eintlik ʼn dubbele seën, sien ook Genesis 28:1-4). Om die frase “Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig” vanuit die konteks van hierdie seën egter te interpreteer, soos Jaco doen, as een of ander vorm van toestemming, opdrag of aanmoediging om baas te speel oor ander is eksegeties onverantwoordelik. Die frase demonstreer eenvoudig hoe iemand lyk wat deur God geseën is: ander nasies gee hom eer en respek, selfs sy naaste familie betoon hom eer.

Die tweede verwysing is na Exodus 33:15-16. Jaco dink skynbaar dis onaanvaarbaar dat Moses verklaar dat sy volk “anders is as al ander volke op aarde”. Maar waarom is dit onaanvaarbaar as God inderdaad vir hom ʼn volk uitgekies het tussen ander? Dan is daardie volk mos anders! Jaco ontken natuurlik dat die God van Abraham, Isak en Jakob werklik bestaan, en daarom was Israel seker bloot onder illusie van haar spesiale identiteit. Maar wat is die implikasies hiervan? Jaco dink skynbaar dat omdat Israel gedink het dat hulle “anders is” sou dit per definisie beteken dat hulle op ander neerkyk. Daar is egter veral twee redes waarom Israel haarself nie meerderwaardig kon en mag ag nie (selfs al het sy dit by tye gedoen):

  • Die eerste rede het te doen met die gronde vir God se besluit het om vir hom ʼn volk uit te kies: “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.” (Deut. 7:6-8)
  • Die tweede rede het te doen met die doel waarvoor God besluit het om vir hom ʼn volk uit te kies: “Die Here het vir Abram gesê: ‘Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.’” (Gen. 12:1-3)

As die volk Israel dan niks uit haarself gehad het om op te roem as God se gekose volk nie en as sy veronderstel was om ander tot seën te wees, hoe is Israel se identiteit as ʼn volk wat deur God gekies is (selfs al was hulle onder ʼn illusie hieroor), dan ʼn rede of motivering vir meerderwaardigheid?

Jaco verwys ook derdens na Levitikus 20:24 en 26. Hier maak Jaco beswaar teen die feit dat God gesê het dat Hy Israel afgesonder het uit die volke om aan Hom te behoort. Jaco verwys daarna as “Apartheid” met ingevoegde kommentaar. Jaco is egter anachronisties wanneer hy sommer so onbeskaamd sy twintig-eeuse politieke terminologie in die Bybelse teks teruglees. Die teks selfs verduidelik dat om afgesonder aan die Here te behoort, beteken dat hulle sal heilig leef, m.a.w. dat hulle aan die Here toegewy sal leef. Met “Apartheid” en wat ons vandag daarmee verstaan, het dit glattendal niks te doen nie.

Die verdere en eintlike probleem is dat Jaco se beswaar hier sy eie siening van Apartheid ondermyn. Elders op sy webwerf verduidelik Jaco die verskil tussen “Klein Apartheid” en “Groot Apartheid”:

“Klein Apartheid was die gevolg daarvan dat miljoene swart arbeiders teenwoordig was binne “blank-beheerde” Suid-Afrika, sonder dat hulle dieselfde publieke geriewe as blankes kon gebruik en sonder dat hulle dieselfde politieke regte as blankes geniet het. Groot Apartheid is die volledige geografiese skeiding tussen bevolkingsgroepe, waarvolgens elke bevolkingsgroep in hul eie volkstaat woon en werk, met ‘n regering bestaande uit slegs lede van hul eie bevolkingsgroep. In laasgenoemde geval is daar dus géén lede van ‘n ander bevolkingsgroep in ‘n volkstaat teenwoordig wat onderdruk kan word nie. Nugter alleen weet in watter opsigte Groot Apartheid “onbybels” of “onchristelik” kan wees!” (sien https://jacosteynblog.wordpress.com/2014/11/19/afrikaanse-kerkleiers-se-versuim-om-hul-lidmate-behoorlik-in-te-lig/)

So, as “Groot Apartheid” nie onbybels is nie en as Jaco sélf ʼn voorstaander is van Apartheid met sy propaganda vir ʼn volkstaat met “volledige geografiese skeiding tussen bevolkingsgroepe,” dan sou Israel se sogenaamde Apartheid mos ook nie onbybels wees nie! In die lig van Jaco se vrae aan die begin: wie is eintlik besig om hier “rasseskeiding duidelik te propageer”? Niemand anders as Jaco Steyn self nie!

Jaco se tweede beswaar is dat slegs ʼn Israeliet as koning aangestel kon word (Deut. 17:15). Weereens, ironies, gegewe Jaco se eie propaganda (sien dieselfde aanhaling hierbo) vir die funksionering van ʼn volkstaat: “elke bevolkingsgroep…met ‘n regering bestaande uit slegs lede van hul eie bevolkingsgroep”. Ook Jaco se derde beswaar dat Israel se siening van hul eie identiteit as God se gekose volk, ʼn regverdiging bied vir die bestaan van aparte volkere (Deut. 32:8), is inkoherent gegewe sy eie politieke propaganda vir “volledige geografiese skeiding tussen bevolkingsgroepe”. Jaco se oggend en aand praatjies kom duidelik nie ooreen nie en sy persoonlike vooroordele in die kritiek wat hy lewer, staan uit soos ʼn seer duim.

Laastens dink Jaco dat die Bybel se uitbeelding van Israel as God se gekose volk, ʼn regverdiging bied vir volksmoord en vir die verbod op gemengde huwelike.

Eerstens die kwessie van gemengde huwelike. Omdat God se volk vir hom afgesonder moes leef (m.a.w. aan God toegewy), was Israel verbied om met mense van ander nasies te trou, net soos hulle verbied was om baie ander dinge te doen wat die nasies rondom hulle gedoen het. Daar was egter ʼn ander baie spesifieke rede vir die verbod: “want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien” (Deut. 7:4) M.a.w. dit was ter wille van Israel se voortbestaan, ‘n beskerming teen die afskuwelike praktyke van ander volkere (Esra 9:1, 11, 14), dat ondertrouery met hulle verbied is. Ook ondertrouery met die Ammoniete en Moabiete is verbied omdat hierdie twee volke Israel vervloek het in hul tyd van nood (Neh. 13:2) selfs al was hulle, terloops, van dieselfde Semitiese herkoms (Gen. 19:30-38). Steyn wil dit egter laat klink asof die verbod op gemengde huwelike in Israel een of ander totaal arbitrêre of meerderwaardige sentiment veronderstel teenoor ander volke. Dis duidelik dat Steyn nie belangstel in begrip nie, maar eerder in verdagmaking.

Trouens, ook hier is Jaco so blind vir die teenstrydige manier waarmee hy kritiek lewer dat hy skynbaar niks daarvan dink om direk ná sy verwysing na Jos. 23:12-13, die volgende te vra nie: “Wat sou die verloop van gebeure gewees het indien die meeste blankes in Suid-Afrika al baie jare gelede hierdie goeie raad ter harte geneem het??” En wat presies is die goeie raad wat die Bybel gee volgens Steyn: “As julle egter ‘n ander [verkeerde] pad loop en julle verbind aan die mense wat oor is van hierdie nasies wat nog tussen julle woon, en julle ondertrou met hulle en julle kom by hulle, en hulle by julle, weet dan seker dat die Here julle God hierdie nasies nie verder sal verdryf voor julle uit nie.” So, die verbod op gemengde huwelike in Israel en hulle saamleef met ander nasies was ʼn voorbeeld van rassistiese meerderwaardigheid, maar dit is goeie raad vir blankes as hulle hulleself maar net vroeër vir ʼn volkstaat wou beywer?!

Wat van die klag dat Israel se verowering van Kanaän ʼn regverdiging bied vir volksmoord? Hierdie klag is eenvoudig nonsens en Christopher Wright verduidelik hoekom:

  • It was a limited event. The conquest narratives describe one particular period of Israel’s long history. Many of the other wars that occur in the OT narrative had no divine sanction, and some were clearly condemned as the actions of proud, greedy kings and military rivals.
  • We must allow for the exaggerated language of warfare. Israel, like other ancient Near East nations whose documents we possess, had a rhetoric of war that often exceeded reality.
  • It was an act of God’s justice and punishment on a morally degraded society. The conquest shouldn’t be portrayed as random genocide or ethnic cleansing. The wickedness of Canaanite society was anticipated (Gen. 15:16) and described in moral and social terms (Lev. 18:24; 20:23; Deut. 9:5; 12:29-31). This interpretation is accepted in the NT (e.g. Heb. 11:31 speaks of the Canaanites as “those who disobeyed,” implying awareness of choosing to persist in sin – as the Bible affirms of all human beings). There’s a huge moral difference between violence that’s arbitrary and violence inflicted within the moral framework of punishment (this is true in human society as much as in divine perspective). It doesn’t make it “nice,” but it changes the ethical evaluation significantly.
  • God threatened to do the same to Israel – and He did. In the conquest God used Israel as the agent of punishment on the Canaanites. God warned Israel that if they behaved like the Canaanites, He would treat them as His enemy in the same way and inflict the same punishment on them using other nations (Lev. 26:17; Deut. 28:25-68). In the course of Israel’s long history in OT times, God repeatedly did so, demonstrating His moral consistency in international justice. It wasn’t a matter of favoritism. If anything, Israel’s status as God’s chosen people, the OT argues, exposed them more to God’s judgment and historical punishment than the Canaanites who experienced the conquest. Those choosing to live as God’s enemies eventually face God’s judgment.
  • The conquest anticipated the final judgment. Like the stories of Sodom and Gomorrah and the flood, the story of Canaan’s conquest stands in Scripture as a prototypical narrative, or one that foreshadows what is to come. Scripture affirms that ultimately, in the final judgment, the wicked will face the awful reality of God’s wrath through exclusion, punishment, and destruction. Then God’s ethical justice will finally be vindicated. But at certain points in history, such as during the conquest period, God demonstrates the power of His judgment. Rahab’s story, set in the midst of the conquest narrative, also demonstrates the power of repentance, faith, and God’s willingness to spare His enemies when they choose to identify with God’s people. Rahab thus enters the NT hall of fame – and faith (Heb. 11:31; Jam. 2:25).

Hier is egter iets wat almal, regdeur die geskiedenis sedert die ontstaan van die Christelike geloof, skynbaar ignoreer wanneer hulle dink dat ʼn mens die Bybel kan gebruik om Apartheid, in watter vorm ook al, te regverdig: Israel was God se volk omdat God ʼn baie spesifieke verbond met Israel gesluit het, maar daardie verbond is deur Jesus vervul en tot ʼn einde gebring deur ʼn nuwe verbond. In die Nuwe Testament word dit soos volg verduidelik:

“As die eerste verbond perfek gewerk het, sou daar geen behoefte aan ’n tweede een gewees het nie. God kritiseer die volk hieroor wanneer Hy verklaar:

‘Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. Dit sal anders wees as die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uitgelei het uit Egipte. Hulle het nie aan my verbond getrou gebly nie; en Ek het my rug op hulle gedraai. Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle verstand en Ek sal dit in hulle harte graveer. Ek sal hulle God wees en hulle sal mý volk wees. En hulle sal nie nodig hê om elkeen sy medeburger te onderrig en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here leer ken’ nie. Want elkeen van hulle, van die kleinste tot die grootste, sal My ken. Ek sal My ontferm oor hulle ongeregtighede en Ek sal nooit weer aan hulle sondes dink nie.’

Deur van ’n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.” (Heb. 8:7-13)

Geen persoon wat hom of haarself dus as deel van hierdie nuwe verbond beskou (m.a.w. ʼn Christen) kan daarom dink dat die spesifieke verpligtinge en verantwoordelikhede wat net aan Israel opgelê is onder die ou verbond (wat tydelik was), steeds nou geld nie. Almal wat volgens die nuwe verbond aan die liggaam van Christus behoort, sal egter nog steeds vir die Here afgesonder leef, maar dit gebeur deur die Heilige Gees se werking in ʼn mens se lewe (Rom. 8, Gal 5:16-26). Onder die nuwe verbond is dit nie gekoppel aan enige nasie, ras, kultuur, geslag of sosiale status nie (sien Hand. 15:5-11, Rom. 10:12, Gal 3:28-29 en Kol. 3:11). (Terloops, hiervolgens is daar ook geen verbod op gemengde huwelike nie.)

Ter opsomming. Niks van wat ons in die Ou Testament lees oor Israel as God se gekose volk bied enige werklike regverdiging vir “rassisme, baasskap en/of rasseskeiding” of grond van rasseverskille nie. Inteendeel, as daar enige twyfel was, dan is dit juis ook die Nuwe Testament wat sulke tipe diskriminasie totaal afwys.

Dis ook ʼn noukeurige lees van die Nuwe Testament wat die oplossing bied vir die gespanne rasseverhoudinge wat ons al so lank in ʼn plek soos Suid-Afrika, maar ook elders, beleef. Dis wanneer ons toenemend na ander uitreik met ʼn gesindheid van selfopoffering, vergifnis en versoening, te same met ʼn opregte belangstelling in wie ander mense werklik is, asook ‘n besorgdheid vir ons gesamentlike fisiese welstand en vooruitgang – dat ons gestand doen aan Jesus se opdrag om ons naaste lief te hê.

ʼn Mens het natuurlik nie nodig om spesifiek ʼn Christen te wees om hierdie dinge na te streef nie. Maar hierdie dinge is presies in lyn met ʼn Christelike etos (en wat dit beteken om deur die Gees te lewe tot voordeel van jou naaste) op ʼn manier waarop vroom praatjies van “Groot Apartheid” en “volkstate” dit nie eers naastenby kan hoop om te wees nie. En dis slegs hierdie gesindheid wat ʼn volhoubare motivering bied om te midde van korrupsie, misdaad en diskriminasie van watter aard ook al, te bly stry vir ʼn beter toekoms vir ál Suid-Afrika se verskeidenheid van mense.

14 Comments

  1. Hallo Udo. My nuutste plasing op my blog dien as “voorsmakie” vir ʼn artikel wat ek binnekort gaan skryf oor die jarelange misleiding en skadelike dogmas wat nog altyd onafskeidbaar deel was van die georganiseerde Christendom. Daarom voel ek verplig om jou verkeerde aannames aangaande my “oggend en aanpraatjies wat nie ooreenkom nie”, so gou moontlik te korrigeer. Ongelukkig is daar twee wyd uiteenlopende begrippe wat jy met mekaar verwar en wat ek graag meer duidelikheid oor sal verskaf – veral ook aan ander lesers van hierdie artikel van jou. Hopelik sal jy dan besef dat ek nié myself weerspreek wat “ras” en Apartheid betref nie. Ek verduidelik daarna my interpretasie van Bybelskrywers se eintlike bedoelings.

    Ons moet onderskei tussen aan die een kant, blanke baasskap, rassisme, “Klein” Apartheid, segregasie, volksmoord en kolonialisme, en aan die ander kant, die volkstaatideaal, “Groot” Apartheid, volledige geografiese skeiding, Partisie en blanke separatisme. Ek verwerp die eersgenoemde ideologie, terwyl ek die laasgenoemde ideologie ondersteun en boonop beskou as ʼn beter opsie as die huidige onderdrukkende Suid-Afrikaanse eenheidstaat. Rassisme is die ideologie waarvolgens een of meer rasse meerderwaardig is en hulle daarom die reg het om oor andere te heers en hulle te onderdruk. Ongelukkig was daar miljoene swartmense wat jare gelede in die ou Suid-Afrika gewoon en gewerk het sonder dat hulle dieselfde politieke regte as blankes geniet het. Baie blankes het beweer dat húlle slimmer en meer gevorderd is as swartmense en dat hulle daarom as “base” oor die swartmense moet heers en hulle selfs moet dwing om skadelike Christelike dogmas te aanvaar! Palestyne is al vir baie jare uitgemoor en onderdruk in Israel en word daar selfs teen “Joodse” Ethiopiërs gediskrimineer op grond van ras!

    Volgens die volkstaatideaal behoort elke volk binne hul eie grondgebied te woon en te werk en regeer te word deur slegs mense behorende tot hul spesifieke volk. Daar is swart volkere soos Zoeloes, Xhosas, Tswanas, ens. en blanke volke soos o.a. die Duitse volk, Boervolk en Franse volk. Wanneer hierdie ideaal verwesenlik word sal daar geen lid van ʼn volk wees wat onderdruk word deur lede van ander volke in ʼn “eenheidstaat” of multikulturele “nasiestaat” nie. Voorstanders van hierdie ideaal word dikwels verkeerdelik geëtiketteer as “white supremacists”. Baie mense verwar partisie en rassisme met mekaar omdat veral die hoofstroommedia en prominente kerke en politieke organisasies hulle doelbewus hieroor mislei.

    Dis belangrik dat jy die voorgaande twee begrippe deeglik verstaan alvorens ons voortgaan om die “ware” bedoelings van Bybelskrywers te bespreek. Ek het in my kommentaar op my laaste plasing op my blog verwys na hierdie https://hierstaanek.com/2016/10/05/andre-bekker-eks-gay-se-ope-brief-and-die-moderamen debat waarin ek met kreasioniste gedebatteer het oor die goedkeuring van veral slawerny en rassisme in die Bybel. Ek twyfel of jy dit al gelees het. Ek en Jong-Aarde kreasioniste het in hierdie debat o.a. verskil oor die betekenis van die woord “baster” (Hebreeus: mamzer). Ek het ook verwys na die feit dat daar gereeld in die Bybel gewaarsku word teen huwelike met “vreemde” vroue. Veral in Nehemia en Esra is dit duidelik dat die biologiese afkoms van hierdie vroue belangriker is as hulle godsdienstige of kulturele agtergrond. Dis interessant dat hierdie profete aanbeveel het dat hierdie vreemde vroue summier weggejaag moet word sonder om eers die moeite te doen om hulle te oortuig van die geldigheid van die Israeliete se geloof. Indien ras of kultuur van mindere belang was vir die Israeliete van ouds, is dit tog interessant dat daar gedurig gefokus word op afsondering as unieke “heilige” volk en die afkeur van huwelike met vroue van ander volkere. Indien godsdiens vir jou van allergrootste belang is sal jy tog eers die moeite doen om jou “vreemde” vrou te probeer evangeliseer alvorens jy haar wegjaag o.g.v. haar “halsstarrige” houding as “ongelowige vreemdeling”! Wat die goedkeuring van volksmoord betref is jy welkom om die “ware” betekenis van hierdie Bybelverse aan ons te probeer verduidelik:

    Deuteronómium 2:34 “In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie.”

    Deuteronómium 13:15,16 “…moet jy die inwoners van daardie stad sonder meer doodmaak. Die stad met alles daarin, selfs sy vee, moet as banoffer vernietig word. Jy moet alles in die stad op die stadsplein bymekaarmaak en saam met die stad geheel en al verbrand as ‘n offer aan die Here jou God. Die stad moet vir altyd ‘n puinhoop bly. Dit mag nie weer herbou word nie.”

    Deuteronómium 20:16,17 “Uit die stede van hierdie volke wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee word, mag jy niks laat bly lewe nie. Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete om die lewe bring as ‘n banoffer aan die Here jou God soos Hy jou beveel het.”

    • Jaco, ek bedoel nie om jou te affronteer nie, maar ek stel hoegenaamd nie belang in jou politieke ideologie oor Groot Apartheid nie – hoe jy dit ook al probeer regverdig. Ek het bloot gereageer op jou misleidende suggestie dat die Bybel rassisme, baasskap of rasseskeiding propageer. Dit doen nie, en jou teksverwysings daaroor is eksegeties verdag.

      Wees gerus, ek het inderdaad jou gesprek met Andre Bekker sorgvuldig gelees het. Niks van jy daar geskryf het regverdig die idee dat die Bybel rassisme voorstaan nie. Die kwessie van slawe in die Bybel is ʼn onderwerp op sy eie.

      Ek herhaal weer wat ek geskryf oor die verbod op huwelike met vroue uit ander nasies. Omdat God se volk vir hom afgesonder moes leef (m.a.w. aan God toegewy), was Israel verbied om met mense van ander nasies te trou, net soos hulle verbied was om baie ander dinge te doen wat die nasies rondom hulle gedoen het. Daar was egter ʼn ander baie spesifieke rede vir die verbod: “want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien” (Deut. 7:4). Jy wil hierdie verbod bitter graag aan rassisme koppel, maar die verbod het uitsluitlik te doen met die beskerming van Israel se godsdienstige identiteit. Israel was hieroor ongehoorsaam en sou die gevolge moes dra. Daar is geen twyfel dat die proses (ja, ʼn proses, sien Esra 10:1-17) waaronder die Israeliete as teruggekeerde ballinge hulle van hul vrouens en kinders moes afsonder, besonderlik moeilik moes gewees het nie. Maar dit doen niks aan die feit dat hierdie afsondering niks met rassisme te doen gehad het nie, maar met hul gehoorsaamheid aan die Here.

      Verder, daar is geen goedkeuring van volksmoord in die Bybel nie. As jy nie eers iets van Wright se verduideliking probeer verstaan oor die aard van Israel se verowering van bepaalde volke in Kanaän nie (soos jy wys deur in reaksie bloot weer ʼn paar verse aan te haal), dan kan ek jou nie verder help nie.

  2. Udo. As die doel van die verbod op huwelike met vroue van ander nasies hoofsaaklik was om die “godsdienstige identiteit” van Israel te beskerm, is dit tog interessant dat Esra en Nehemia nooit verduidelik het dat dit tog aanvaarbaar sou wees om met vroue van ander nasies te trou eers nadat hulle die Israeliete se geloof aanvaar het nie. Indien ek bv. sou besluit om met ʼn nie-blanke Moslemvrou te trou, behoort die Moslemgemeenskap my tog te aanvaar indien ekself ʼn Moslem was, sonder om summier sodanige huwelik te verbied.

    Dit is vir my voor die hand liggend dat ʼn klein groepie magsugtige priesters en Leviete ʼn uiters suksesvolle ideologie uitgedink het om ʼn wanindruk by lede van die Israelitiese/Joodse volk te skep waarvolgens húlle uitverkies is bo alle ander volkere in die wêreld. Dit het gebeur ten spyte daarvan dat hierdie ʼn swerwende volk was wat nog géén noemenswaardige beskawing – soortgelyk aan dié van die Romeine, Grieke en Egiptenare, tot stand gebring het nie. Jy het tog immers verwys na Deut. 7:6-8 se “Die Here het jou [Israel] nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.” Allerlei materiële voordele is aan hierdie volkie belowe indien hulle die gebooie van God (eintlik die reëls en regulasies van die priesters en Leviete!) sou gehoorsaam. God sou hulle selfs na bewering gehelp het om van die ander volke uit te moor en hulle grondgebied in besit te neem indien hulle soos soet seuntjies en dogtertjies hulle heersers se wette en opdragte sou gehoorsaam. Baie lesers is teen hierdie tyd seker heelwat geïrriteerd met my aanhaling van Bybelversies, maar ek haal graag hierdie volgende twee versies aan waarin dit duidelik is dat die Israeliete se optredes teenoor ander volke nader was aan dié van baasskap, kolonialisme en rassisme as aan dié van die vreedsame naasbestaan wat deel is van die volkstaatideaal waarna ek verwys het.

    Deuteronómium 11:22 tot 25 “As julle al hierdie gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang, sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die grondgebied van nasies wat groter en sterker is as julle, in besit neem. Elke plek waar julle kom, sal julle s’n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees. Niemand sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, ‘n skrik en angs vir julle oor die land laat kom.”

    Deuteronómium 12:29,30 “Die Here julle God sal die nasies verslaan na wie toe julle op pad is om hulle te verdryf. As julle hulle oorwin het en in hulle land woon, moet julle sorg dat julle nie, selfs nadat hulle deur julle verslaan is, deur hulle in ‘n valstrik gelei word wanneer julle na hulle gode sou begin uitvra nie. Moenie sê: ‘Hoe vereer hierdie nasies hulle gode? Ek sou dit ook so wou doen’ nie.”

    Dit wil dus voorkom asof die Bybel eerder rassisme en baasskap propageer as Groot Apartheid wat gepaardgaan met volledige geografiese skeiding en vreedsame naasbestaan tussen volkere. Die verskil tussen die (glashelder) oorspronklike bedoelings van die Bybelskrywers en jou versuim om te erken dat sekere verse duidelike goedkeurings bevat vir bv. die volksmoord op alle “mans, vrouens en kinders”, is kenmerkend van die jarelange misleiding deur verskeie teoloë en godsdiensleiers. Ek sal hierdie misleiding meer breedvoerig verduidelik in my nuwe artikel; asook die verskille tussen aan die een kant, Bybelgedeeltes wat rassisme, homofobie, slawerny en volksmoord goedpraat en aan die ander kant Jesus se “gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes” en “draai ook die ander wang”. Hierdie voor die hand liggende teenstrydighede en kerkleiers se waninterpretasies daarvan was heel waarskynlik een van die hoofredes vir die ontstaan van meer as 30 000 verskillende Christelike sektes…

    • Die geskiedenis van Israel is een waarin ongehoorsaamheid aan God en verwaarlosing van Sy verbond, met voorspelbare gereeldheid manifesteer. Die Israeliete en veral die konings van Israel het gereeld hulle eie koppe gevolg en bloot gedoen wat reg was in hulle eie oë. Dit was die taak van God se profete om sy volk tot besinning te roep en te waarsku teen die gevolge daarvan indien hulle sou versuim om tot inkeer te kom. Soms het dit gelei tot tye van geestelike herlewing en hervorming waarin Israel haar weer opnuut aan God as Sy gekose volk toegewy het. So ʼn geestelike herlewing was juis die geval in die tyd van Esra en Nehemia met die terugkeer van die Israeliete na Jerusalem en hul tuisland ná 70 jaar in ballingskap. Deel van hierdie herlewing was die besef van hoe ver hulle van die Here se gebooie weggedwaal het tydens ballingskap en tydens die oploop tot die gebeure wat tot die ballingskap aanleiding gegee het. Een bewys hiervan was die Israeliete se ondertrouery tydens die ballingskap en daarom die besluit om hulle van hierdie vroue uit ander nasies af te sonder. Die punt is nie dat hierdie vroue nie die Joodse geloof kon aanneem nie, maar dat hulle nie het nie, en dat die Israeliete in die eerste plek nie met hulle moes trou nie. Weereens, niks met rassisme te doen nie.

      Wat vir jou voor die hand liggend is, en wat werklik die geval is, is twee verskillende dinge. Jy lees die geskiedenis van Israel met soveel vooroordele en suspisie dat jy net sien wat jy graag wil sien. Terloops, jy hou aan om versies aan te haal sonder dat dit enigsins lyk of jy probeer erns maak met Wright se punte rakende Israel se verowering van Kanaän. Dis nie soseer dat jou lesers geïrriteerd raak met jou aanhalings nie, maar dis dat jou aanhalings keer op keer duidelik illustreer hoe vasbeslote jy is om konteks en verantwoordelike eksegese in die wind te slaan ten gunste daarvan om jou eie idees sommer so simplisties op die Bybel terug te projekteer. Geen mens kan lank uithou met iemand wat so redeneer nie.

      • Udo. “Haai kyk, hier is ʼn groepie mense in die middel van die woestyn wat ongelukkig ander gode as ons dien en aanbid. Kom ons moor almal van hulle voor die voet uit – mans, vrouens en kinders, en neem sommer hulle grondgebied in besit”. Sommige mense beweer mos dat hierdie nié ʼn duidelike voorbeeld van volksmoord is nie!

        Miljoene Christene het al vir baie jare die Bybel beskou as die “onfeilbare” en letterlike Woord van God waarin die betekenis van alle Bybelverse duidelik verstaanbaar is vir alle gelowiges – sonder die jarelange bestudering van ingewikkelde teologiese interpretasies en “eksegeses”. Baie van hierdie ywerige Christene het soos my ouers, geen probleem daarmee gehad dat volkere apart van mekaar bestaan en deur slegs mense van hul eie volk regeer word nie. Rasse-segregasie is in baie oorwegend-Christelike lande soos Amerika vóór 1965 streng toegepas. Dit was nou in die dae vóór internasionale geldmagte se polities-korrekte ideologieë heelwat teoloë se interpretasies van Bybelversies wesenlik beïnvloed het. Hierdie voorgaande bespreking oor rassisme is natuurlik ook van toepassing op die huidige “gay-sirkus” in die NG Kerk. Daar is ʼn duidelike verskil tussen die talle Bybelverse wat homoseksuele dade hard en duidelik veroordeel en die meer mensgesentreerde “humanitêre” kerkleiers en teoloë se aanvaarding van gay mense en die uitlewing van hulle lewenswyse.

        • Jaco, met elke nuwe ding wat jy skryf bevestig jy opnuut jou vooroordele. Soos nou weer: “Haai kyk, hier is ʼn groepie mense in die middel van die woestyn wat ongelukkig ander gode as ons dien en aanbid. Kom ons moor almal van hulle voor die voet uit – mans, vrouens en kinders, en neem sommer hulle grondgebied in besit”. Dis die skrywe van iemand wat vasbeslote is om karikature te skep, maak nie saak wat die konteks is vir begrip nie.

          Waar kom jy daaraan dat die betekenis van alle Bybelverse vir alle gelowiges duidelik verstaanbaar is? Enigiemand wat enige teks lees, interpreteer daardie teks. Hoe meer iemand bewus is van die faktore wat konteks bepaal (en hoe meer iemand gewillig en daartoe in staat is), hoe groter is die kans dat daardie teks reg verstaan gaan word. ʼn Oppervlakke lees van enige teks lei selde tot voldoende begrip. Presies dit is die probleem met hoe miljoene Christene die Bybel benader en om te sê die Bybel is ‘onfeilbaar’ of die ‘Woord van God’ verander niks aan die probleem nie. En dan praat ek nie eers van skeptici soos jy wat bloot daarop uit is om te kritiseer, maar nie gewillig is vir begrip nie.

          • Udo. Is die aanvaarding van verwronge polities-geïnspireerde eksegeses, soos uiteengesit deur “slim” teoloë wat die Bybel jarelank bestudeer het, ʼn voorvereiste daarvoor om die Ewige Lewe te beërwe?

          • Jy slaan onwetend die spyker op die kop. “Polities-geïnspireerd” is juis die probleem, maak nie saak hoe slim jy is en hoe lank jy die Bybel al bestudeer nie. Om die Bybel te benader vanuit jou spesifieke ideologie en dan in allerlei Bybelversies ondersteuning daarvoor te soek is glad nie hoe eksegese werk nie.

  3. Udo. Vergelyk gerus hierdie verduidelikings van Dr William Lane Craig met dié van Christopher Wright – albei van hulle is oënskynlike “slim” teoloë wat jarelank die Bybel bestudeer het:

    “So the problem isn’t that God ended the Canaanites’ lives. The problem is that He commanded the Israeli soldiers to end them. Isn’t that like commanding someone to commit murder? No, it’s not. Rather, since our moral duties are determined by God’s commands, it is commanding someone to do something which, in the absence of a divine command, WOULD HAVE BEEN murder. The act was morally obligatory for the Israeli soldiers in virtue of God’s command, even though, had they undertaken it on their own initiative, it would have been wrong… Moreover, if we believe, as I [Craig] do, that God’s grace is extended to those who die in infancy or as small children, the death of these children was actually their salvation [!!!]. We are so wedded to an earthly, naturalistic perspective that we forget that those who die are happy to quit this earth for heaven’s incomparable joy. Therefore, God does these children no wrong in taking their lives.” (http://www.reasonablefaith.org/slaughter-of-the-canaanites)

    Craig erken dus die werklikheid van aaklige dade soos bv. volksmoord, wat deur die Israeliete gepleeg is en geregverdig is o.g.v. opdragte van hulle god. Wat dus in werklikheid gebeur het is dat die aakligste wandade gepleeg is in opdrag van die Israeliete se regeerders en/of priestersklas wat op hul beurt beweer het dat hulle hul opdragte vir hierdie wandade van Jahwe ontvang het. Die antwoord op die vraag of wrede slawerny, volksmoord, rassisme en selfs verkragting deur die Bybel goedgekeur word, is dus ʼn duidelike “Ja”!

    Hou asb. ook in gedagte dat miljoene Christene volgens jóú redenasie, vir baie jare gesondig het omdat hulle onbewus was van die “ware” betekenis van sekere Bybelverse wat juis van toepassing is op morele waardes en die korrekte uitlewing daarvan nie. Miljoene Christene sondig dus daagliks terwyl hulle “salig onbewus” is daarvan dat hierdie dade wat hulle pleeg en ideologieë wat hulle aanhang, eintlik sondes en ketterye is. Ek wonder maar net of hulle eendag veroordeel gaan word vir hierdie dade en denke…

    • Die feit dat jy wat Craig en Wright sê teen mekaar afspeel wys dat jy nie eintlik verstaan (of wil verstaan) wat een of albei van hulle sê nie. Hoe kan jy in elk geval sê dat Craig volksmoord erken as dit juis is wat hy baie spesifiek ontken? Jy hoef nie met Craig (en Wright) se verduideliking saam te stem nie, maar jou doelbewuste poging om sy bedoeling te verdraai soos dit jou pas, is mos uiters verdag. Jy dink dat die Israeliete bloot in eie selfsugtige motivering opgetree het, omdat jy met die voorveronderstelling werk dat God nie bestaan nie en dus nie so ʼn opdrag kon gee nie. Maar waarom is enigiemand verplig om jou voorveronderstelling te aanvaar?

      Oor die verband tussen eksegese en morele optrede. Inderdaad, as jy gedryf word om die Bybel te interpreteer op ʼn manier wat nie eksegeties geregverdig is nie omdat dit jou persoonlike agenda bevorder, en as dit jou dan tot immorele optrede lei, dan is jy skuldig (dit geld ook vir enige gemeenskap as geheel). Niemand kan die verskoning gebruik dat hulle bloot onkundig sou wees oor wat die Bybel oor iets sou leer nie. Dis ʼn swak verskoning vir iemand wat werklik besorg sou wees oor wie God is en wat Sy wil is en nie maar net sy eie belange wil bevorder nie.

      • Udo. Is jy ooit bewus van die ooreenkoms tussen die redenasie van Dr Craig en dié van Moslem-terroriste? In albei gevalle word die doodmaak van onskuldige mense geregverdig op grond van die bevele van die een of ander denkbeeldige (en wrede!) god. Indien jy vir “Achmed the Dead Terrorist” sou vra waarom hy homself en ander onskuldige mense opgeblaas het in die naam van Allah, sal hy heel waarskynlik ontken dat dit ʼn duidelike voorbeeld van selfMOORD en MOORD was…

        • ʼn Vergelyking tussen die aanspraak dat Israel van ouds ʼn spesifieke mandaat van God uitgevoer teen die Kanaänitiese volkere (d.i., ʼn spesifieke opdrag aan ʼn spesifieke nasie vir ʼn spesifieke doel en vir ʼn spesifieke tyd; sien weereens Wright se opmerkings) en enige ander aanspraak, moet op meriete ondersoek word. Dit kan nie summier gelyk gestel en dan verwerp word net omdat jy dink dat al sulke aansprake gebaseer is op die bevele van ʼn “denkbeeldige god” nie. Natuurlik moet ʼn mens jouself afvra wat die rede is om te glo dat Jahwe eerder as Allah werklik bestaan (want dis bepalend vir die tipe aanspraak wat jy gaan maak), maar waarom moet ons jóu aanspraak aanvaar dat God slegs denkbeeldig is?

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*