Afgesonder vir God

Wat beteken die woord ‘heilig’? As daar na God se heiligheid verwys word, dan is die woord ‘heilig’ ʼn beskrywing van God se karakter, ʼn algoeie en moreel perfekte wese.

In Christelike leer word daar egter ook spesifiek na Christene verwys as mense wat heilig is. Hier beteken dit dat om ‘afgesonder of opsy gesit te wees vir God’.

Maar wat beteken dít? Daar is twee belangrike aspekte rondom die idee om afgesonder te wees vir God. Die eerste aspek het morele implikasies. Om heilig te wees en daarom opsy gesit te wees vir God, beteken dat iemand sonde, en spesifiek sy eie sonde, sien vir wat dit is: in stryd met God se karakter en wil. Iemand wat hulself dus werklik sien as iemand wat opsy gesit is vir God, is iemand wat voortdurend met sonde in hul eie lewe afreken sodra hulle daarvan bewus word.

Daar is egter ‘n tweede aspek wat die essensie van die begrip ‘om afgesonder te wees vir God’ duidelik maak. Om afgesonder te wees vir iets, beteken eenvoudig om daaraan toegewy te wees. Dit is iemand wat in verhouding met God staan wat aan Hom toegewy is en dus vir God afgesonder is. Iemand wat ʼn kind van God is, is ‘van God’ (behoort aan Hom) en nie (meer) ‘van die wêreld’ nie (sien Joh. 17). Dit beteken egter nie dat hulle optree asof hulle skielik nie meer ‘in die wêreld’ is nie, maar eerder dat hulle optrede in die wêreld bepaal word deur die feit dat hulle vir God afgesonder is.

Om ‘vir God afgesonder’ te wees is dus nie die ekwivalent daarvan om ‘afgesonder of apart van die wêreld’ te wees nie. Dis ʼn wanpersepsie. Anders sou dit wees soos om te dink dat die getroude man wat ‘vír sy vrou afgesonder is’ (d.i. opsy gesit of volledig toegewy aan haar), terselfdertyd ook ‘afgesonder is ván alle vroue’, d.i. niks en nooit iets met met enige vroue te doen sal hê nie. Dit volg nie.

Wat beteken ‘in die wêreld’ dan presies? Dit beteken eenvoudig dat Christene deel is van ʼn wêreld waar baie mense se strewes en begeertes wys dat hulle nie ‘van God’ is nie. In opsigself dui die frase egter nêrens daarop dat Christene afgesonder of apart van ander mense moet leef omdat hulle hulself meerderwaardig ag nie.

Volgelinge van Jesus (soos Jesus self, sien Joh 3:16) kom juis na die wêreld met ʼn spesifieke boodskap oor wat God deur Jesus gedoen het sodat mense in ʼn verhouding met Hom kan tree (sien weereens Joh. 17). Dis omdat hulle God se genade ontvang het, juis toe hulle besef het dat hulle dit nie verdien nie en daarom ook op geen manier beter is as enige ander mens nie, dat hulle die goeie nuus ook met ander wil deel.

Dis waarom ‘n konklusie soos, “‘n Begeerte vir heiligheid is dus ‘n begeerte om meerderwaardig te voel teenoor ander mense” – nogal van iemand wat homself eens ʼn Christen sou noem en dus van beter hoort te weet – so geheel en al bankrot is.

Om heilig te wees is dus ʼn beskrywing van hóé jy is (dood vir sonde) en waarvóór jy is (vir God, en per implikasie ook vir mense, veral vir dié wat Hom nie ken nie), en beslis nie waartéén jy is nie.

 

Sien ook What does God mean when he asks us to be holy as he is holy?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.