Die wet van Moses en die wet van Christus

Hallo Willem

Jy sal onthou dat ek gesê het dat ek nie in ʼn ellelange gesprek gaan betrokke raak oor die Joodse Sabbat nie. Die probleem is dat die onderlinge kwessie rondom die Joodse Sabbat baie belangrik is omdat dit tot die kern van die evangelie spreek en wat ek voel in gedrang is wanneer ʼn Christen nie die wet van Moses in sy regte konteks verstaan nie. So ek reageer dus volledig op jou kommentaar op my artikel, Sabbat of Sondag – Repliek

— 1.1 —
[Udo, jy skryf:] “Inderdaad, die vierde gebod is aan Israel gegee sodat hulle die Sabbatdag vir God kon vier (later meer hieroor).”

a) Nerens in die bybel is dit geskrewe dat dit vir Israel ekslusief gegee was nie. Inteendeel, dit was nie net Israelitie wat oor die rooi see gegaan het nie. (Ex 12:38)

Willem, wat van Eksodus 31:12-13? Dit kan nie duideliker wees oor hierdie eksklusiwiteit nie: “Die Here het verder ook vir Moses gesê: ‘Jy moet vir die Israeliete sê om my Sabbatte te onderhou. Die Sabbat is ʼn teken van die ewige verbond tussen My en julle. Dit herinner julle daaraan dat Ek die Here is wat julle vir My afgesonder het.’”

Die Wet van Moses met al sy bepalings is eksklusief net aan Israel gegee, die volk met wie God ʼn verbond gesluit het. Waarom was daardie komponent nie-Israeliete wat saam met Israel uit Egipte weggetrek het, nie toegelaat om aan die Paasfees deel te neem nie (Eks 12:43)? Juis omdat hulle nie Israeliete was nie! Dit was eers nádat ʼn nie-Israeliet besny is (en dit was ʼn keuse om sodoende deel van die volk Israel te word en nie ʼn verpligting nie – vers 48) dat hulle aan die Paasfees kon deelneem. Dit was slegs so ʼn persoon wat dan ook later aan die wet van Moses gebind sou wees.

b) Die sabbatdag was ingestel en geheilig lank voor Jacob, as ‘n gedenkteken van die skepping (Gen 2:2-3; Ex 20:11).

Nee, Genesis 2:2-3 is baie beslis nie die instelling van die “Sabbatdag” nie. Hierdie uitspraak van seën en heiliging van die sewende dag waarop God gerus het, was eerstens ʼn beklemtoning van die feit dat God die Skepper en Heerser oor alles is wat geskep is. Verder was dit ook ʼn heenwys, volgens Heb. 4:3-4, dat God wou hê dat ook die mens in sy rus sou deel, maar weens hulle ongeloof en sonde, het dit nie gebeur nie (weereens, Hebreërs 4). Die sewende dag het eers later die ‘Here se Sabbat’ geword toe die Here sy volk Israel opdrag gegee het om dit te onderhou as teken van Sy verbond met hulle (sien weer Eksodus 31:12-17).

Nêrens is daar egter enige aanduiding dat God die Sabbat vir mense ingestel het vóór Eksodus 16:23 nie. Trouens, die woord Sabbat kom nêrens in Genesis voor nie; daar is ook geen aanduiding dat enigiemand die Sabbat onderhou het voor die tyd van Moses nie – nie Jakob, Isak, Abraham, Noag of Adam nie. Niemand nie. Dis eers in Eksodus 16:23, nadat Israel uit Egipte weggetrek het en net voordat Moses die Wet by Sinai ontvang het, dat God die Sabbat instel. En dis baie duidelik uit die Israeliete se aanvanklike reaksie en ongehoorsaamheid in Eksodus 16:24-30 dat hulle nie iets soos die Sabbat geken het nie. Dit was iets nuut, geskoei op die voorbeeld van God se rus en juis daarom ʼn skaduwee van ʼn nuwe verbond waarby alle mense kan deel hê aan God se rus. Vir tyd en wyl, totdat die nuwe verbond sou aanbreek, was dit egter ʼn teken dat God vir Israel as sy verbondsvolk uitgesonder het (Eksodus 31:12-17). Lees gerus ook die volgende artikel: Was the Sabbath commanded at creation?

c) Jesus het gese dit was vir mens, nie net vir die jood nie (Mar 2:28).

Jy dink dat Jesus se gebruik van die woord ‘mens’ bedoel is om te wys dat die Sabbat vir alle mense geld. Maar dis natuurlik glad nie die punt wat Jesus probeer maak het nie. Sy punt was eenvoudig dat die Sabbat ʼn dienaar is en nie ʼn meester nie. M.a.w. die Sabbat was gemaak om diegene (wie hulle ook al is) wat dit onderhou te dien, en dus dat diegene (wie hulle ook al is) wat die Sabbat onderhou, nie gemaak is om die Sabbat te dien nie. Jesus kon net sowel gesê het dat die besnydenis daar was om die mens te dien, en nie die mens om die besnydenis te dien nie – en dan sou almal verstaan het dat hy nie bedoel het dat alle mense besny moes word nie.

d) Salomo het gese dit is ‘n mens se plig om dit te onderhou (Ecc 12:13).

Dit klink of jy dink ek sê dat ʼn mens nie God se gebooie moet nakom nie. Dis natuurlik nie wat ek sê nie. My punt is baie eenvoudig dat Jesus as vervulling van die wet van Moses gekom het en dat ons nou, wanneer en omdat ons deur die Gees lewe die ware bedoeling van die wet nakom. As ons dus die wet van die liefde nastreef, dan is ons terselfdertyd ook mense wat God se opdragte uitvoer. Sien punt 4.6. in hierdie verband.

— 1.2 —
“bymekaar te kom om brood te breek, mekaar te bemoedig, die leer van die apostels aangaande Christus te ontvang en Hom te aanbid”

Het dit klaar onstlaan in 1 (b) van die vorige kommentaar.

En ek het natuurlik ook reeds verduidelik, Willem, dat die samekomste in Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:2 saam met Joh 20:19,26 vroeë historiese aanduidings was van ‘n patroon, ʼn gewoonte wat al hoe meer gevestig sou raak – van Christene wat op die eerste dag van die week bymekaar gekom het, m.a.w. Saterdagaande ná die Sabbat hoewel veral ook Sondagoggende en wat die rede daarvoor was. Wil jy regtig hierdie feit histories ontken?


— 1.3 —
“Die vraag is of die Christene onder verpligting was om die Sabbat na te kom (later meer hieroor).”

Die antwoord is ja (Mat 5:17-19; cf. Is 8:20; cf. Deut 30:15-16,19; Eze 22:26), as hulle leer van die Sabbat (Acts 15).

Die antwoord is steeds nee, Willem.

  • Ek het die betekenis van Matt 5 reeds in punt 4. aangespreek van my vorige artikel. Ons sal weer daarby terugkom.
  • Willem, wie dink jy word in Jes. 8:20, Deut. 30:15-16, 19 en Eseg. 22:26 aangespreek? Wie is die teikengehoor? Met geen uitsondering nie is dit lede van Israel, God se volk wat onder die wet van Moses staan, wat aangespreek word. Nou Willem, ek is nie ʼn Israeliet nie en ek staan dus nie onder die wet van Moses of onder die Ou Verbond tussen God en Israel nie. Ek is ʼn Christen onder die Nuwe Verbond wat Christus ingestel het. So Willem, ek verwerp eenvoudig die manier waarop jy hierdie verse op my en ander Christene van toepassing probeer maak omdat jy dink dat ons onder verpligting staan om die wet van Moses met al sy honderde bepalings na te kom.
  • Kom ons praat asseblief oor Handelinge 15. Wat was die Apostels se reaksie en gevolgtrekking toe sommige gelowiges daarop aandring dat nie-Joodse bekeerlinge moet opdrag kry om die wet van Moses te onderhou (15:5)? Wat was Petrus se reaksie in vers 10? Wat was Jakobus se reaksie in vers 19-20? En wat het hulle besluit om in hulle brief te skryf in vers 28-29?
  • Terloops, die rede waarom daardie spesifieke voorskrifte in Hand. 5:29 aan die Christene in Antiogië opgelê is, is omdat daardie Christene bekeerlinge uit die heidendom was waar heidense afgodsdiens direk met sulke praktyke verband gehou het. Die Apostels wou hê dat die gelowiges uit die heidendom ʼn skoon breek moes maak met hul ou lewenstyl en ook nie aanstoot gee vir hul Joodse broers en susters nie. Dis waarom hierdie voorskrifte gegee was, vir praktiese oorwegings – nie omdat dit nuwe wette was of elemente van die wet van Moses oorgehou het nie. (Sien ook my kommentaar onder punt 8.1.a)

— 3.1 —
“Dit help nie om maar net simplisties te sê, “Wys my in die Bybel waar daar staan…” of “Daar is niks hiervan in die Bybel nie”. Jy praat graag van ‘konteks’, maar dis duidelik dat jy die ganse historiese agtergrond ignoreer wat ʼn rol gespeel het in hoe die vroeë Christene gedink en opgetree het. Die Nuwe Testamentiese verwysings wat ek gegee het, dien as die motivering vir waarom die vroeë Christene op die eerste dag van die week begin bymekaar kom het.”

Natuurlik! Anders gin ons tradisie oor die woord. “Die bybel se nie so nie, maar volgens die tradiesies…” “In vain they do worship me, teaching the doctrines and traditions of men.” (Mat 15:9). Die verwysings wat gegee was is dood eenvouding net verwysings dat Jesus opgestaan het uit die dood uit. Dis al en niks meer nie. Of is jy ‘n katoliek?

Willem, daar is nêrens sprake dat tradisie bo Bybelse leer verhef word nie. Ek sê weer: die Nuwe Testamentiese verwysings wat ek gegee het, dien as die motivering vir waarom die vroeë Christene op die eerste dag van die week begin bymekaar kom het en die vroeë kerkvaders getuig bloot hiervan. Let wel, hierdie vroeë Christene het nie van die Sondag ʼn nuwe Sabbat gemaak nie.

— 3.2 —
“So, waarom dink JY het die eerste Christene op die eerste dag van die week begin bymekaar kom (maak nie saak of dit aanvanklik op Saterdagaande was nie)?”

Hulle het op die Sabatdae bymekaar gekom, en het brood gebreek op alle dae.

So jy ontken dat die vroeë Christene juis weens die opstanding gereeld ook op die eerste dag van die week begin bymekaar gekom het? Dis histories naïef, Willem.

— 3.3 —
“maar dan gaan jy al die vroeë kerkvaders as leuenaars moet afmaak.”

Hulle was baie anti semieties en het enige iets joods gehaat.
“The custom of circumcising the flesh, handed down from Abraham, was given to you as a distinguishing mark, to set you off from other nations and from us Christians. The purpose of this was that you and only you might suffer the afflictions that are now justly yours; that only your land be desolated, and you cities ruined by fire, that the fruits of you land be eaten by strangers before your very eyes; that not one of you be permitted to enter your city of Jerusalem. Your circumcision of the flesh is the only mark by which you can certainly be distinguished from other men…as I stated before it was by reason of your sins and the sins of your fathers that, among other precepts, God imposed upon you the observence of the sabbath as a mark. (Justin Martyr – Dialogue with Trypho (Between 138A.D. and 161 A.D.)”

Meer as dit…
“Thus saith the LORD; Cursed be the man that trusteth in man, and maketh flesh his arm, and whose heart departeth from the LORD. (Jer 17:5)”

So, jy impliseer dat al die vroeë kerkvaders gelieg oor die feit dat die vroeë Christene op die eerste week van die week bymekaar gekom het en almal wat daaroor geskryf het, het gelieg omdat hulle anti-Semities was. Jammer, Willem, ek het lanklaas so ‘n swak argument gehoor. Dis boonop histories vals.

Inderdaad was daar sommige vroeë Christene wat anti-Semities was, in die ware sin van die woord dat hulle op die Jode as mense neergekyk het, en dit is altyd onregverdigbaar en onchristelik om op enige ander mens neer te kyk. Maar om te verskil met Joodse praktyke (juis in die konteks van die nuwe verbond) soos baie kerkvaders gedoen het, maak nie van jou anti-Semities nie. Anders gaan jy moet sê dat ook die Apostels wat besluit het dat nie-Joodse bekeerlinge nie die juk van besnydenis óf die wet van Moses opgelê moet word nie (Handelinge 15:5,10), ook anti-Semities was.

— 4.1 —
“Maar so ʼn beëindiging moenie verstaan word as dat die voorwaardes en beloftes van die verlowingskontrak skielik ongeldig geraak het of afgeskaf word nie; dis eerder dat die nuwe kontrak die ware bedoeling van dit waarop die ou kontrak dui, ten volle laat uitkom sodat ʼn mens al die voorregte en verantwoordelikhede van ʼn huwelik kan geniet wat nie moontlik was tydens ʼn verlowing nie.”

Maar dan op dieselfde tyd is jou posiesie dat die sabbatdag afgeskaf is??

Ek sien jy verstaan nie eintlik my posisie nie, Willem. Ek het spesifiek geskryf dat die wet van Moses (en dus per implikasie ook die Sabbat) nie bloot afgeskaf is nie, maar deur Jesus vervul is sodat die ware bedoeling daarvan na vore kan kom. Ek het probeer verduidelik dat dit verstaan moet word soos wat ʼn huwelikskontrak die ware bedoeling van die voorafgaande verlowingskontrak tot sy reg laat kom.

So wat is die ware bedoeling van die Sabbat? Die Sabbat het as teken gedien van die verbond tussen God en Israel (Eks. 31:12-17), maar die ware bedoeling van die Sabbat kom na vore in hoe dit God se nuwe verbond deur Christus geantisipeer het. Christus is ons ware Sabbatsrus (hierdie rus wat van die skepping van die sewende dag reeds vir ons gereed was – Heb. 4:3-4, Gen. 2:2-3) deur wie God met ons ʼn nuwe verbond sluit. Jesus is die vervulling van die Sabbat, nie die afskaffing daarvan nie. Die teken dat ons die Sabbatsrus betree het, is ons geloof (Heb. 4:3,7) en dus dat ons deel het aan Jesus se vervulling daarvan. En omdat ons in geloof deur die Gees leef gaan dit dus nie meer oor of ons die Sabbatdag onderhou nie. Die Sabbat was bloot ʼn skaduwee, soos Kol. 2:17 verduidelik, van wat sou kom – Christus!

— 4.2 —
“God se morele wette is vervul deur Jesus se sondelose lewe,”

Ja ek stem saam. As ‘n kind sy ouers eer, vervul hy die vyfde gebod. Maar dit beteken nie dat as Jesus die wet vervul het dat die kind sy ouers kan afskeep nie. Dieselfde met die all die morele wette. Maar dis nie jou posiesie nie. Jou posiesie is dat die wet nie meer is nie want Jesus het dit vervul. Dus, ‘n kind kan nou sy ouers vloeg. Om te se, “Nee, hy kannie,” is presies MY punt.

Willem, nog ʼn voorbeeld van hoe jy my posisie misverstaan. As ʼn Christen sê dat hy nie meer onder die wet van Moses is nie, omdat Jesus die wet van Moses volledig vervul het (ook die morele wette), dan beteken dit terselfdertyd die volgende: omdat ek deur die Heilige Gees nuut gemaak is, aan Christus behoort en deur Hom lewe (Gal. 2:20), is daar geen scenario waaronder ek my ouers mag of sal vloek of oneer bring nie. Hoekom nie? Nie omdat ek onder die wet van Moses daartoe verplig word nie, maar omdat ek deur die Gees lewe onder die wet van Christus (dit is die wet van liefde) wat op my hart geskryf is (Jer. 31:31-35). Die Nuwe Verbond beteken om deur die Gees te lewe en dit is wat dit beteken om aan God gehoorsaam te wees. Sodoende neem ons deel aan Christus as vervulling van die wet. Sien ook my kommentaar onder 4.3.

— 4.3 —
“God se seremoniële en rituele wette is vervul deur Jesus as finale offer (Heb.10),”

Ek stem saam. Die lam is Jesus. Maar dit beteken nie ons kan nou steel nie, net soos on nou kan werk op ‘n Saterdag nie. Net soodat jy weet, die vierde gebod is ‘n morele wet (Deut 30:15-16; Eze 22:26; Neh 13:17; Is 56:6; cf. Deut 8:3).

Willem: As Jesus die vervulling van die wet van Moses is, dan is hy ook die vervulling van die agste gebod, ʼn morele wet. M.a.w. deur sy sondelose lewe het hy kom wys hoe ʼn morele wet soos “jy mag nie steel nie” uitdrukking vind in die ware bedoeling daarvan – presies soos wanneer ons ander mense deur die Gees liefhet. Wanneer ons deur die Gees leef, leef ons deur die Gees se liefde (God se wette is in ons harte geskryf) en daarom sal of wil ons nie steel nie. Om egter te sê ek is onder die wet verplig om nie te steel nie, beteken nie dat ek daarom noodwendig in liefde leef nie, want ek kan die letter van die wet navolg en dit steeds nie uit of vir liefde doen nie. Dit is presies hierdie punt wat nog altyd die tekortkoming van die wet van Moses was (en waarom God sê wat Hy sê in Jer. 31:31-35): dit stel ʼn mens nie opsigself in staat om in liefde te leef nie, alhoewel dit die bedoeling daarvan is (sien Rom. 7:6, Rom. 8:3, Gal 3: 23-25, Heb. 8:7-13). Terloops, dis waarom Jesus in Matt. 5:20 sê dat as ons nie die skrifkenners en Fariseërs oortref in hoe ons God se wil uitleef nie, dan sal ons Sy koninkryk nie sien nie. Dit kan slegs gedoen word wanneer ons deur die Gees lewe, nie deur die wet van Moses te onderhou soos die Fariseërs by uitnemendheid gedoen het nie.

Die feit dat die vierde gebod deel is van die Tien Gebooie maak dit nie daarom ʼn morele wet nie. Waarom sou dit? En nie een van die verse waarna jy verwys is enige aanduiding dat die vierde gebod ʼn morele wet nie. Selfs in die gevalle waar die Sabbat spesifiek genoem word is dit telkens in die konteks van waar die volk Israel aangespreek word en verplig is om die hele wet van Moses na te kom (al 613 bepalings daarvan). Selfs in die geval van waar die uitlanders in Jes. 56:6 aangespreek word is dit omdat hierdie uitlanders deel geword het van die volk Israel (sien 56:3).

Die duidelikste aanduiding dat die vierde gebod nie ʼn morele wet is nie, is weereens Eksodus 31:13 – die Sabbat is ʼn teken. Terloops, as Sabbatsonderhouding ʼn morele wet was, dan was ook die besnydenis ʼn morele wet. Maar hulle is en was nie, albei is deur God ingestel om te dien as tekens (vgl. Gen. 17:9-14) van die verbond tussen God en Israel.

So hoe het Jesus die Sabbat vervul, m.a.w. hoe het hy kom wys wat die ware bedoeling van die Sabbat was? Die antwoord lê in Hebreërs 4 (soos waarna ek reeds in 1.1.b. verwys het): Christus sélf is die ware Sabbatsrus. Soos die wet van Moses met sy bepalings oor die offers wat Israel moes bring, vervul is in die finale Lam wat geoffer is (Heb. 9 en 10), so ook is Christus die vervulling van die Sabbat: hy is die Sabbatsrus, God se plek van rus, soos waarop die seën en heiliging van sewende dag dui (Gen. 2:2-3), wat alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af (Heb. 4:3,4). Die Sabbat as teken van die verbond tussen God en Israel, was terselfdertyd ʼn herinnering dat God wil hê dat Israel in God se rus sal bly. Ons het nou toegang tot hierdie Sabbatsrus deur geloof (Heb. 4:7) soos waarvan Israel slegs die skaduwee kon ervaar deur die weeklikse Sabbat. Daarom dat Kol. 2:17 ook verwys na o.a. die Sabatte as skaduwee van die Persoon wat sou kom naamlik Christus. Ons geloof in Christus as die ware Sabbatsrus demonstreer die vervulling van die Sabbat wat Jesus bewerkstellig het.

— 4.5 —
“God se spesifieke verbond met die nasie Israel”

As ek jou stelling vat soos dit nou is, dan is die God van die Ou Testament ‘n stamgod van die Jode en nie van die hele mendsom nie. Soos verduidelik in 1.1 (a).

Willem, ek kan nie glo jy probeer ontken dat God spesifiek net ʼn verbond met Israel gesluit het nie. Natuurlik is God die God van alle mense, maar dis tog baie duidelik in die Bybel dat God gekies het om Homself baie spesifiek aan die nasie Israel te openbaar.

Die ooreenkoms van die verbond tussen God en Israel was soos volg: Israel moes God op ʼn baie spesifieke manier gehoorsaam om te wys dat hulle vir Hom afgesonder was. God se belofte was om die nasie van Israel te seën en hulle terselfdertyd ʼn seën tot alle nasies te maak (sien God se belofte aan Abraham in Gen. 12:2 en dan in Gen. 22:18) veral en uiteindelik omdat die Messias uit die nageslag van Abraham gebore sou word.  Om te praat van ʼn “stamgod” is om die pot daarom heeltemal mis te sit.

— 4.6 —
“Geen Christen wat deel is van God se Nuwe Verbond, staan daarom meer onder enige verpligting om enige wet na te kom nie (Rom. 6:15, Rom. 7:4-6, Gal. 3:2-3, 3:23-25, Gal. 4:4, Gal. 5:1-6,13-14) behalwe die wet van Christus (Gal. 6:2).”

Jer 31:33 se, “But this shall be the covenant that I will make with the house of Israel; After those days, saith the LORD, I will put my law in their inward parts, and write it in their hearts; and will be their God, and they shall be my people. (Jer 31:33)”

Dit se duidelik dat die wette word in die hart geplaas, nie dat dit tot niet gaan word of dat daar nuwe wette gaan wees nie. Nou moet ‘n mens ‘n keuse maak. Of Paul het in stryd met Jer 31:33 gepraat of jou intepretasie van sy geskrewe is verkeerd.

“To the law and to the testimony, if they do not speak according to this Word, it is because they have no light in them. (Is 8:20)”

Dis vir my interessant hoe jy al my verwysings na Paulus ignoreer. Dit lyk daarmee of dit jy is wat dink dat Paulus nie eintlik geweet het waarvan hy praat nie.

Jy kies om op Jeremia 31:33 te fokus. Goed dan, Jeremia 31:31-34 is net so ʼn goeie verduideliking van die verskil tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond wat jy nie kan of wil insien nie.

Hoekom was die wet van Moses onder die ou verbond nie op die harte van die volk Israel geskryf nie? Omdat die Israeliete se gereelde ongehoorsaamheid daaraan weens hulle sondige natuur, juis nie die ware bedoeling daarvan kon demonstreer nie (sien Rom. 7:6-25, Rom. 8:3, Gal. 5:23-25, Hebreërs 8:7). Daar was slegs een Persoon wat die ware bedoeling daarvan kon demonstreer, en daardie Persoon was Jesus. Hy was die vervulling van die wet van Moses. Hy het dit moontlik gemaak dat sy wette (die wet van die liefde) onder die nuwe verbond op mense se harte geskryf kon word. Dit gebeur by die nuutmaking en inwoning van die Heilige Gees in mense se lewe, soos dit lyk of jy saamstem.

Weereens, die wette van die nuwe verbond, soos met die ware bedoeling van die ou verbond, dui op slegs een ding: die liefde (Rom. 13:8-10, Gal. 5:13-14). Ons is dus nie meer onder verpligting van wetsonderhouding soos met die wet van Moses met sy honderde en spesifieke bepalings nie, maar is nou toegerus om die wet van liefde deur die krag van die Heilige Gees uit te leef (1 Kor. 9:20-21, Gal. 6:2, Gal. 5:1-6, Gal.5:13-14, Gal 5:16,18, 22, Gal. 6:15). Iemand wat deur die krag van die Heilige Gees leef om die wet van die liefde uitleef, is dus gehoorsaam aan die wette van die nuwe verbond (wat ʼn vervulling van die wette onder die ou verbond is). Dis iemand wat die Here liefhet met al sy krag, hart, wil en verstand en sy naaste soos homself.

— 4.7 —
“Ons lewe deur die Gees (Rom. 8, Gal 5:16-26) en gehoorsaam sodoende die wet van die liefde (Markus 12:28-31) – nie die Wet van Moses nie. “

Sonde is die breaking van die wet van Moses (1 Jn 3:4; Rom 3:20; 7:7). En die Gees ly jou om na alle waarheid toe (Jn 16:13), dit sluit in, ‘EK IS’ (Psa 31:5), die woord (Jn 17:17), die wet van Moses (Psa 119:142,151) en Jesus (Jn 14:6). So ‘n gees wat jou nie ly om die wet van Moses te onderhou nie, is nie die heilige gees nie.

Ja, Israel was onder die wet van Moses en daarom was ʼn verbreking van die wet van Moses (enige van die 613 bepalings daarvan), as sonde aan die Israeliet toegereken. Dit was die ou verbond. Met die nuwe verbond word ʼn verbreking van die wet van die liefde as sonde toegereken. Natuurlik beteken dit nie dat hierdie twee verbonde in algehele opposisie staan nie – ook die ou verbond het die liefde ten doel gehad – maar die nuwe verbond bring die ware bedoeling van die wet onder die ou verbond na vore.

Waarom verwys jy na 1 Johannes 3:4? Dit verwys tog nie na die wet van Moses nie, maar na die feit dat die oortreding van ʼn wet, sonde is, as ʼn algemene beginsel. Maar lees gerus weer die hele brief 1 Johannes; dis ʼn verduideliking van hoe iemand lyk wat die wet van die liefde nastreef en dus aan God behoort – en interessant hoedat die onderhouding van die wet van Moses nie een enkele keer genoem word nie.

Kom ek wees maar net so reguit met jou soos wat jy met my is: iemand wat verkondig dat Christene verplig is om die wet van Moses te onderhou, verkondig ʼn valse evangelie (Gal. 1:6-9, sien ook Hand. 15:5). So iemand word deur die letter van die wet gelei en nie deur die Gees nie, en verstaan nie die Woord of die vryheid in Christus onder die nuwe verbond nie (Rom. 7:4-6, Gal. 4:21-31, Gal. 5:1-6,13-14, Hand. 15:5,10,19, 2 Kor. 3:3-11, Heb. 8).


— 4.8 —
“Israel moes die wet van Moses nakom omdat dit is wat God goedgekeur het;”

Jy weerspreek jouself hier…
Vraag: Hoe is Israel goedgekeur in die Ou Testament?
Wet van Moses: “Israel moes die wet van Moses nakom omdat dit is wat God goedgekeur het;”
Geloof: “Ek stem dus heeltemal saam dat Israel onder die Ou Verbond, soos met enigiemand onder die Nuwe Verbond, slegs deur geloof vryspraak gekry het [Rom. 4, Gal. 2:15-16] en nie omdat hulle die wet nagekom het nie.)”

Nee, Willem, daar is geen teenstrydigheid nie – jy lees maar net wat jy graag wil lees. Jy vra: “Hoe is Israel goedgekeur in die Ou Testament?” Wie vra so ʼn vraag? Dis jou vraag, nie myne nie.

In werklikheid is daar twee verskillende vrae, en dus twee antwoorde:

  • Dra Israel se gehoorsaamheid aan die wet van Moses God se goedkeuring? Ja! Dit was wat van hulle vereis is onder die Ou Verbond.
  • Het Israel vryspraak gekry deur hulle wetsonderhouding? Nee! Slegs deur geloof kry iemand vryspraak – selfs Israel! (sien Gal. 2:15-16, 3:6-7,10-11,18,21)

Dus, geen teenstrydigheid nie.


— 7.1 —
“Die hele Bybel is een groot getuienis van hoe niemand God se vereistes vir hul lewens kon nakom nie.”

Niemand op hul eie kan God se vereistes nakom nie. Maar, dis ‘n andergeval as jy sy Gees in jou het.
“And I will put my spirit within you, and cause you to walk in my statutes, and ye shall keep my judgments, and do them. (Eze 36:27)”

Ja, Eseg. 26:27 dra dieselfde gedagte as Jeremia 31:31-34. Inderdaad, dis waarom die wet van Moses nie op die Israeliete se harte geskryf was nie – dis net die Heilige Gees wat dit moontlik maak wanneer hy ons sondige natuur wegneem. Maar die nuwe verbond en die Gees wat gestuur is, het eers gekom ná die Messias se versoeningsdood en sy lewe as vervulling van die wet van Moses. Die wet van Moses was deel van ʼn onvolmaakte verbond omdat dit nie ons sondige natuur kon wegneem nie en dit kon eers gebeur toe die nuwe verbond in werking getree het (Hebreërs 8:7-13).

— 7.2 —
“So, ek stem heeltemal met jou saam dat Jesus ons nie red van die wet nie, maar van die mag en gevolg van sonde. “

Jy weerspreek jouself hier…
Vraag: Is ek vry om te sondig deur die wet van Moses te breek (1 Jn 3:4; Rom 3:20; 7:7)?
Nee. “So, ek stem heeltemal met jou saam dat Jesus ons nie red van die wet nie, maar van die mag en gevolg van sonde. “
Ja. “terselfdertyd bevry van die wet as oppasser, dit is, die slawejuk van wetsonderhouding (Gal. 5).”

So is ek vry van die wet van Moses of van sonde? ‘n Vrou wat nie op haar man verneuk nie, is nie meer onder die wet nie, want sy ken die wet. Dis is ‘n vrou wat op haar man verneuk wat onder die wet is, want sy ken nie die wet nie. Om nie onder die wet te wees nie beteken nie om dit nie te onderhou nie.

Willem, jou vraag, “Is ek vry om te sondig deur die wet van Moses te breek” laat my dink aan die vraag, “Slaan jy nog jou vrou?” As ek nog nooit my vrou geslaan het nie, sal ek natuurlik nie ‘ja’ antwoord nie, maar ek kan ook nie ‘nee’ antwoord nie, want dan klink dit of ek dit wel ééns op ʼn tyd gedoen het!

Weereens, dis jou vraag, nie myne nie. Die probleem met jou vraag is dat jy woorde in my mond lê en nie regtig probeer verstaan wat ek sê nie. Ek het nog nooit en nêrens gesuggereer dat ons “vry is om te sondig” of om die “wet van Moses te breek” nie.

So kom ek probeer weer verduidelik. Jesus het ons kom bevry van die mag en binding van die wet (Rom. 7:4-6) om deur die Gees as nuwe mense te leef (1 Kor. 9:20-21, Gal. 6:2, Gal. 5:1-6, Gal. 5:13-14, Gal 5:16,22, Gal. 6:15). Dit beteken dat om deur die Gees te lewe ʼn vervulling is van die wet van Moses (Rom. 13:8-10), sodat die ware bedoeling van die wet sodoende na vore kom. Jy behoort dus te verstaan dat iemand wat deur die Gees lewe, nêrens “die wet van Moses breek” nie, maar juis die vervulling daarvan (wat gebeur het met Jesus se optrede en wie hy was as persoon) demonstreer.

Jesus red ons ook beide van die mag en gevolge van sonde (Rom. 8:2), nie omdat ons nie meer sondig nie, maar omdat al ons sonde deur Sy kruisdood vergewe is en omdat ons deur die krag van die Heilige Gees teen die sonde kan stry totdat Sy heerlikheid aanbreek (wederkoms).

Dis jammer dat jy nie die beginsel van die Christen se vryheid in Christus of selfs die beginsel van die Nuwe Verbond, kan of wil verstaan nie. Jy beywer jou om mense weer onder die juk van wetsonderhouding, die wet van Moses met al sy honderde bepalings, in te dwing, en wys daarmee dat jy nie eintlik die Evangelie verstaan nie. Jy doen lippediens aan die idee dat Jesus die vervulling van die wet is (soos dat die seremoniele en rituele wette in Jesus vervul is), maar jy verstaan duidelik nie wat dit beteken om te sê die hele wet van Moses (Matt 5:17-19) is deur Jesus vervul nie.

–8.1 —
“Willem, die konteks van Kol. 2:16-17 het juis te doen met ons as Christene se vryheid in Christus en dat die bepalings oor sekere kosse en heilige dae (spesifiek die Sabbat – vers 16) nie meer belangrik is nie, omdat hierdie dinge bloot ʼn skaduwee is van die Persoon wat sou kom – Christus! Waarom vashou aan ʼn skaduwee as die skaduwee eintlik heenwys na die ware Jakob?!”

a) So dus, ons is vry om te kan bloed drink, mens vleis te eet, om onheilige Sataniese dae, op ‘n vol maan, en die sabbatdag te ontheilig?

Maar die Skrif antwoord mos reeds jou vraag, Willem: “Moet dus nie toelaat dat enigiemand [dit sluit seker vir jou, Willem Toerien, hierby in?] julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor hoe julle sekere feesdae of die Nuwemaansfees of Sabbatte vier nie.” (Kol. 2:16)

  • So, Willem, gaan ek toelaat dat jy my veroordeel as ek my biefstuk by die restaurant “rare” bestel en dit saam met lekker rooiwyn geniet? Nee! (Sien ook Markus 7:19, Hand. 10:11-15, Romeine 14:6,14, 1 Kor. 8:8)
  • Is ek bekommerd dat ʼn groep skipbreukelinge gesondig het toe hulle, ter wille van oorlewing, ʼn mede-skipbreukeling gekannibaliseer het wat weens dehidrasie gesterf het nadat hulle maande op die oop see rondgedryf het? Nee!
  • Watter dae behoort aan Satan? En wie sê so? En wat het volmaan met enigiets te doen? Jy’s nie straks bygelowig nie, Willem?
  • Die onderhouding van die Sabbatdag is iets wat Israel onder die Ou Verbond moes nakom. Aangesien ek nie ʼn Israeliet is nie en ook nie onder die Ou Verbond nie, onderhou ek nie die Sabbat nie en pas ek ook nie die besnydenis toe nie. Dus is daar geen sprake van ʼn “ontheiliging” van enige Sabbatdag nie.

b) Die wet is vreiheid (Psa 119:44-45). Anders, as sonde die breeking is van die wet is (1 Jn 3:4; Rom 3:20; 7:7), dan is sonde jou vreiheid! Ek wil vry wees van sonde! Nie van die wet nie om te kan sondig nie!

Om God se opdragte te gehoorsaam, maak ʼn mens vry, want om sonde te doen (God se opdragte nie te gehoorsaam nie) is die teenoorgestelde van vryheid. Vir die Israeliete onder die Ou Verbond was hul vryheid egter begrens deur die spesifieke bepalings van die wet van Moses (al 613 daarvan) en steeds was hulle nie so vry soos iemand onder nie Nuwe Verbond nie (Rom. 7:4-6, 8:3-4, Gal. 3:23-25) . Vir enigiemand onder die Nuwe Verbond is daar vryheid in Christus, deur die wet van Christus (1 Kor. 9:20-21, Gal. 6:2, Gal. 5:6, Gal.5:13-14, Rom. 13:8-10).

Jy weier om in te sien dat die nuwe verbond in die plek van die ou verbond gekom het juis omdat Christus die vervulling van die wet van Moses is (sien weer Heb. 8). Dit beteken dat ons as nuwe mense deur die Gees lewe (en sodoende God se opdrag nakom) en nie deur wetsonderhouding lewe nie (Rom. 7:4-6, 8:3-4). Die wet wat op ons harte geskryf is, is die wet van Christus, die wet van liefde – nie die wet van Moses met sy honderde bepalings wat God aan Israel gegee het nie.

c) Die kontext is teen die mense wat onskriftelike tradieses probeer afdring, verse 8 (cf. Mat 15:1-9).

Hier is die konteks van Kolossense 2: ʼn Mens word nie lewend gemaak deur wetsonderonderhouding nie – die wet wys hoe sondig ʼn mens eintlik is (sien Rom. 7:7-13, Gal 3:19-25) – maar ʼn mens word lewend gemaak deur Christus wat ons sondige natuur kom wegneem het (Kol 2:12-13). DAAROM moet julle nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel nie (Kol. 2:16), want “al hierdie dinge” wys op Christus en wat hy bewerkstellig het (Kol. 2:17).

Willem, dit lyk regtig nie of jy verstaan wat die implikasies daarvan is dat Christus jou sondige natuur kom wegneem het nie. Miskien moet jy weer ʼn slag Paulus se vraag en antwoord in Kol. 2:20-23 gaan lees.


— 8.2 —
“Willem, gaan lees asseblief weer die konteks van hierdie gedeelte: dit gaan oor die eet van vleis al dan nie, dit gaan nie oor die vas nie.”

Ja dit gaan oor die vas volgens die konteks. Dit was ‘n verhitte meningsverskil daai tyd (Luk 18:12; Mat 9:14). Niks met die Sabbatdag uit te waai nie. Inteendeel, daar is geen stryd teen die sabbath op daai tyd nie. Eintlik, was dit die eenigste dag wat die kerke oop was. Weerens, as ek jou interpretasie vat soos dit is dan kan jy “bloed drink, mens vleis te eet, om onheilige Sataniese dae, op ‘n vol maan, en die sabbatdag te ontheilig.”

Romeine 14:5-6 se verwysing na hoe dit nie meer saak maak watter dae belangrik is nie, is presies dieselfde beginsel wat uitgelig word in Kol. 2:16-17. Dit is onder die Nuwe Verbond nie belangrik om spesiale dae (soos o.a. enige tipe Sabbat) te onderhou of net sekere kosse te eet nie – wat belangrik is, is of jy aan Christus behoort en vir hom lewe (Rom. 14:8-9).

Terloops, om die ‘belangrike dae’ van Romeine 14:5-6 te interpreteer as verwysend na ‘vasdae’ is eksegeties verregaande. Paulus openbaar in Rom. 14 dan juis dieselfde lyn van argumentasie as in Kol. 2, dat dit byvoorbeeld nie Sabbatdae of enigiets anders is wat belangrik is nie, maar Christus. Om Luk. 18:12 en Matt 9:14 hier in te sleep is die desperate poging van iemand wat sy eie agenda op die teks terugprojekteer.

Ek stel belang in Paulus se woorde in Rom. 14:17-18 eerder as Willem Toerien se veroordeling en neerkyk op ander (Rom. 14:10). Dit kan jou dalk goed doen om dit ook ter harte te neem.

— 8.3 —
“Nee, die punt was nie dat die Galasiërs na hul ou gode teruggegaan het nie (hulle was immers Christene), maar dat hulle deur spesiale dae, maande, seisoene en jare te vier, gewys het dat hulle nie verstaan het dat God in sy Nuwe Verbond nie sulke gebruike vereis nie – hulle is daarvan vrygekoop (sien die konteks van die voorafgaande gedeelte in Gal. 4:3-6).”

“Howbeit then, when ye knew not God, ye DID SERVICE unto them which by nature are NO GODS. But now, after that ye have known God, or rather are known of God, how TURN YE AGAIN to the weak and beggarly elements, whereunto ye desire AGAIN to be in bondage? Ye observe days, and months, and times, and years. (Gal 4:8-10)”

Skuus, nee. Die God ‘EK IS’ is nie ‘n “nie-god” nie. Hulle was nie christene nie. Hulle was van ander gelowe. Hulle het christene geword deur Paul se spreke, maar het hulle laat bensy en gedink dat daai wet hulle vry maak, en nou dat hulle vry is het hulle dit goed gedink om TERUG na hulle nie-gode toe te gaan.

Die volgende is vir my duidelik uit die konteks van Paulus se brief aan die Galasiërs en spesifiek van Gal. 4:8-12:

  • Die Galasiërs was bekeerlinge uit heiden-nasies en Paulus was besorg oor hulle omdat hulle hul ore uitgeleen het vir ʼn valse evangelie van wetsonderhouding waarvan die duidelikste voorbeeld die besnydenis was (vgl. Galasiërs 2:11-21, Gal. 3, Gal. 5).
  • Die heidene het hul eie spesiale dae, maande, seisoene en jare gehad wat vir hulle godsdienstig belangrik was en sodoende was hulle slawe van valse gode. In Gal. 4 gebruik Paulus die voorbeeld van hoe hierdie Galasiese Christene weer van sekere dae (soos wat hulle ongetwyfeld by die Jode sou gesien het) iets belangriks maak, maar wat hulle sodoende weer tot slawe maak (Gal. 4:8). Paulus wys hulle daarom tereg.
  • As daar wel sekere dae was wat selfs vir ʼn heidense bekeerlinge onder die Nuwe Verbond belangrik moes wees, dan is Paulus se reaksie uiters vreemd. Hy wys die Galasiërs tereg op al die spesiale dae wat hulle vier of gevier het, maar noem absoluut niks van die werklike belangrike dae (soos die allerbelangrikste Sabbatdag in die wet van Moses!) wat alle Christene behóórt te onderhou nie.

— 8.4 —
” Jesus is die ware rus wat nou vir almal beskikbaar is (sien Hebreërs 4:1-11)”

Dubbelsinnigheid van die woord “rus”.

“Let us therefore fear, lest, a promise being left us of entering into his [abode], any of you should seem to come short of it. For unto us was the gospel preached, as well as unto them: but the word preached did not profit them, not being mixed with faith in them that heard it. For we which have believed do enter into [abode], as he said, As I have sworn in my wrath, if they shall enter into my [abode]: although the works were finished from the foundation of the world. For he spake in a certain place of the seventh day on this wise, And God did [cease] the seventh day from all his works. And in this place again, If they shall enter into my [abode]. Seeing therefore it remaineth that some must enter therein, and they to whom it was first preached entered not in because of unbelief: Again, he limiteth a certain day, saying in David, To day, after so long a time; as it is said, To day if ye will hear his voice, harden not your hearts. For if Joshua had given them [to cease], then would he not afterward have spoken of another day. There remaineth therefore a [sabbath-keeping] to the people of God. For he that is entered into his [abode], he also hath ceased from his own works, as God did from his. Let us labour therefore to enter into that [abode], lest any man fall after the same example of unbelief. (Heb 4:1-11)”

Heb 4:1-11 praat oor die Israelite wat nie in Canaan in gegaan het a.g.v hulle ongeloof. Die sevende dag vat hier vaan gepraat word is ‘n vergelykennis op die tweede koms van Jesus. Nou moet ons nie in die Israelite se voorbeeld volg nie. “Let us labour therefore to enter into that [abode], lest any man fall after the same example of unbelief”

Willem, wanneer betree ons God se rus (Heb. 4:7)? Die oomblik wanneer ons glo of eers by die wederkoms? Ja, natuurlik ervaar ons die volle implikasies van God se rus eers by Jesus se wederkoms, maar ons betree dit nou reeds deur te glo. Aldus die Skrif. En hóé betree ons God se rus? Deur die Sabbat te onderhou of deur geloof? Dit is slegs deur geloof dat ons God se rus deur Christus, die ware Sabbatsrus, kan binnegaan. Christus is daarom die vervulling van die Sabbat, hy wys op die ware bedoeling daarvan en deur in Hom te glo het ons deel aan die vervulling van die Sabbat. Die dubbelsinnigheid lê by jou omdat jy nie kan of wil verstaan nie.

— 9 —
“Christene vier nie die Joodse Sabbat nie, want die Sabbat, soos die besnydenis, was spesifiek net aan Israel gegee.”

Onstlaan in 1.1, en ook, net soos om jou ouers te eer, die sabbat het niks te doen met die besnydenis nie.

Willem, hier is die ooreenkoms: net soos die besnydenis was ook die Sabbat ʼn teken van die verbond tussen God en Israel (Eksodus 31:12-17).

— 10 —
“Maar in Christus leef ons natuurlik nie meer onder die Ou Verbond nie (Gal 5:1)”

Ontslaan in 7.1 (b). As ook, “All scripture [Dut sluit in Eze 22:26] is given by inspiration of God, and is profitable for doctrine, for reproof, for correction, for instruction in righteousness: That the man of God may be perfect, throughly furnished unto all good works. (2Ti 3:16-17)”

Natuurlik is alle Skrif deur God geïnspireer. Ek ontken nie die waarheid van 2 Tim. 3 nie. Die vraag is oor wat die verskil is tussen die Ou en Nuwe Verbond? Sien weer Hebreërs 8.

Vir die laaste keer, Willem: die ou verbond was spesifiek en net met Israel gesluit en berus op die onderhouding van die wet van Moses (al 613 bepalings); die nuwe verbond word met almal gesluit wat tot geloof in Christus kom en word gekenmerk deur ʼn lewe deur die Gees en die wet van Christus (1 Kor. 9:20-21, Gal. 6:2, Gal. 5:6, Gal.5:13-14, Rom. 13:8-10) as vervulling (let wel, nie afskaffing nie) van die wet van Moses.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*