Job en die wrede God

Udo,

Job se 7 seuns en 3 dogters is dood en God het dit toegelaat net om te bewys dat Job getrou is?! Ek het ‘n kind verloor en ek weet hoe dit voel! Dit is eenvoudig wreed…

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek kan nie eers naastenby dink hoe dit moet wees om jou kind te verloor nie. Ek kan maar net dink dat dit ontsettend pynlik vir jou moet wees. En tog het ek geen idee hoe dit voel nie. So ek weet dat wat ek hier skryf nie ten volle rekening hou, of kán hou, met jou pyn en verlies nie. Tog dink ek dat die verhaal van Job juis vir ʼn mens vertroosting én dalk berusting kan bring. Kom ek probeer verduidelik.

Daar is drie perspektiewe in die verhaal van Job. Ek wil hier fokus om twee daarvan, naamlik ‘God se perspektief’ op gebeure (Job 1&2) en ‘Job se perspektief’ (Job 3-42). (Die perspektief van Job se vriende is ʼn derde, maar dit vir ʼn ander dag).

Die verhaal is so saamgestel dat die leser dadelik voorgestel word aan God se perspektief op die gebeure wat volg, sodat dit ʼn baie sterk kontras vorm met Job se perspektief, en uiteindelik is dit Job se perspektief, en nie God sʼn nie, wat die leser tot ʼn baie spesifieke insig bring.

Hier is die eienaardige feit: in die ganse verhaal het Job sélf nooit ʼn antwoord gekry op die vraag oor waarom God toegelaat het dat al die verskriklike dinge met hom gebeur nie. Dis die leser wat ingelig word (Job 1&2), maar Job self bly in die duister tot aan die einde van sy lewe! ʼn Mens sou dink dat as die leser so vroeg ingelig word, dat die natuurlike ontsluiting van die verhaal sou wees dat ook Job ingelig sou word om sodoende ʼn mate van berusting te kan vind.

Maar dis juis die punt van die verhaal. Job het sonder om te weet wat die spesifieke redes was wat bygedra het tot sy situasie, tóg berusting gevind. Sy berusting het nie gekom vanuit sy kennis oor God se redes nie, maar suiwer omdat hy sy volle vertrou in God geplaas het (die einste vertroue wat Satan by God onder verdenking wou bring).

Natuurlik het Job met God geworstel oor en met en deur sy pyn (soos elke gelowige moet en mag), maar uiteindelik geskied so ʼn worsteling vanuit ʼn verhouding met God. Dis omdat Job in ʼn verhouding met God gestaan het, dat hy berusting kon vind, nie omdat hy God se redes kon verstaan nie. Trouens, die klimaks van die verhaal is juis in die laaste drie hoofstukke waar Job erken dat hy nie by magte is om God se redes te verstaan nie.

Dis belangrik om te verstaan dat die gesprek tussen God en Satan van heuristiese belang is, m.a.w. dis ʼn bepaalde konstruk wat help om die verhaal te vertel. Die idee is nie dat dit as ʼn werklike rede moet dien vir waarom daar bepaalde swaarkry in Job se lewe was nie. ʼn Mens kan dit sien deur te besef dat Job (en per implikasie, óns) juis nie geweet het wat die rede was vir waarom God sy swaarkry toegelaat het nie. Hoewel die leser dus, ter wille van die verhaal, aan ‘God se perspektief’ voorgestel word, is so ‘n perspektief vir geen mens beskore nie, selfs nie eers vir die skrywer van die verhaal nie, al mag dit met die eerste oogopslag dalk so lyk. Ons as mense, juis omdat ons mense is, het eenvoudig nie daartoe toegang nie.

Weet ek of enigiemand anders dus waarom God toegelaat het dat jou kind dood is? Nee, glad nie! Maar wat ek wel weet is dat dit juis vanuit ʼn verhouding met God is dat ons ons hartseer en pyn die beste kan hanteer.

Ek het baie simpatie met mense wat die Here nie ken nie, en tot die gevolgtrekking kom dat, selfs al sou God bestaan, hulle nie so ʼn wrede God kan vertrou wat sou toelaat dat slegte dinge met mense gebeur nie. Die verhaal van Job skets egter ʼn totaal ander prentjie:  dis nie wat met ons gebeur wat bepaal of God vertrou kan word nie, dis die feit dat God vertrouenswaardig is (en dit het Job geweet en beleef lank voordat die ellende hom getref het) wat bepaal hoe ons dit wat met ons gebeur gaan hanteer. God is goed en ons kan hom daarom vertrou te midde en ten spyte van dit wat met ons gebeur.

Ek weet hierdie is ʼn baie emosionele aangeleentheid en hopelik beleef jy nie dat ek goedkoop antwoorde probeer gee nie. Jy is welkom om verder met my te gesels as jy wil.

Groete

Udo

Sien gerus ook die volgende: Is God unfair?

 

Hi Udo

Ek het gevra hoekom Job al sy kinders verloor het – dit om Satan te bewys Job is getrou! Jy het geantwoord, maar ek weet nog steeds nie!

Ek kan ook nie glo dat God van Abraham sou verwag om sy enigste kind te offer nie!

Weereens is ek gekonfronteer met die Psalm se belofte van “alles sal regkom”!
Ek woon ‘n preek en gebedsessie elke Woensdag by die werk by – en jouwaarlikwaar, weer die Psalm belofte! Dit is eenvoudig nie in die algemeen waar nie – nie eens vir Christus se kinders nie!

David het die Psalms geskryf, OK? Alles het vir hom reggekom dit is waar vanaf sy perspektief en ook Kaleb van die Rigters, ens., maar nie in die algemeen nie!

Ek luister nou net na Analise Wiid se musiek, ‘n Gospel Sanger wat ook by ons kerk ‘n diens waargeneem het – dood voor haar tyd – hoekom?

Van nou af lees ek maar eerder die Nuwe Testament! Daar is nou hoop, genade en liefde! Paulus is “great”!!

PS: Ek glo in Christus soos in die Geloofbelydenis uiteengesit word.

 

Hallo Winkelsmidt

Die kort van my antwoord was dat selfs Job nie geweet het waarom hy al sy kinders en sy gesondheid verloor het nie. Ek het egter probeer aandui dat ons net soos Job, ten spyte daarvan dat ons nie weet waarom slegte dinge gebeur nie, die Here se betrokkenheid in ons lewens kan vertrou omdat ons ʼn verhouding met Hom het wat die oor baie jare geslyp en gevorm is.

God het inderdaad ook nie van Abraham verwag om sy enigste kind te offer nie (anders sou Hy Abraham nie gekeer het nie). Wat God van Abraham verwag het was dat hy volkome op God moes vertrou, ten spyte van die moontlikheid dat hy die kosbaarste ding in sy lewe kon verloor.

Verhale soos die van Job en Abraham wys daarop dat ons geluk in hierdie lewe nie afhanklik is van hoe goed dit met ons gaan nie, of wat ons dink die uitkoms van ons lewens moet wees nie, maar in watter mate ons die Here ken en op Hom vertrou vir die uitkomste wat Hy vanuit sy perspektief wil bewerkstellig.

Die psalms van Dawid is nie bedoel om as ʼn belofte te dien dat alles sal regkom nie. Dis was ook nie in Dawid se geval so nie. Die Psalms is voorbeelde van hoe mense (Dawid was nie die enigste psalmdigter nie) uit baie persoonlike perspektiewe oor hul ervaring met die Here geskryf het. Dit bied vir ons ʼn blik op hulle emosionele worsteling asook van die sin en betekenis wat hulle by die Here gekry het. Dis dikwels ʼn idealisering van hulle hoop en vertroue op die Here, dat dit goed sal gaan met die regverdiges. Maar dis juis te midde van swaarkry dat die psalmdigters hulle na die Here wend.

Dis die einste Paulus wat geskryf het dat ons aardse bestaan maar ʼn tentwoning is, dat ons permanente blyplek by God is en daarom het iets soos die dood vir die Christen beslis nie die laaste sê nie, hoe hartseer dit ook al mag wees. Ons lewens op aarde is soos breekbare kleipotte waarin ʼn skat versteek is, ʼn skat wat juis sigbaar behoort te word wanneer ons kleipotte breek en verkrummel. Ons het ‘n baie spesifieke doel op aarde, nie om geluk na te streef nie, maar om as verteenwoordigers van God se genade te leef sodat ander ook in daardie genade kan deel! Lees gerus weer Paulus se merkwaardige visie vir die lewe in 2 Korintiërs 4 en 5.

Groete

Udo

1 Comment

  1. Middag Udo,
    Ja, ek wil net eerstens dankie se vir jou werk en bereidheid om vrae te antwoord.
    Eeerstens wil ek saamstem dat ons verhouding met God nie tot geluk lei in ons hierdie tydelike lewe nie. Ek dink dadelik aan 1 Tim 3:12-13.
    Tweedens wil ek sê ons geloof en geluk moet in GOD vas gemessel moet wees. In God alleen is ons seën. In God het ons alles. God is nie n “prys” met byvoordele soos die “Prosperity Gospel” dit voorstel nie.
    Derdens. Volgens Rom8:28 sien ons dat alle te goede meewerk vir die wat God liefhet. As jy dit ook vergelyk met Gen 50:20 sien jy dat vir die wat aanhou glo en vashou deur die slegte.
    Vierdens. Niemand is voor hulle tyd dood nie. Almal sterf presies wanneer God bepaal en toelaat dat hulle moet sterf tot eer van God se naam. God is “Sovereign.”
    Vyfdens Gaan lees asb Openbaring. Daar sterf miljoene mense in Openbaring binne die 7 jaar periode as God sy “wrath” finaal laat geld . Daar kan nie n skyding gemaak word tussen God die Vader en Jesus nie. Johannes 14:6-11. Ps. Jesus het die meeste oor hel gepraat.
    God is nie wreed. God is genadig. As God wreed was sou ons almal dood wees, want ons is sondig gebore en ons verdien die dood. God is Almagtig, Verhewe Koning. Hy alleen moet geprys word en moet al die eer ontvang. God is geregtig.Dis nie iets wat God doen nie, dit is wie Hy is. Om te sê God is wreed is Godslasterlik en is om te bewys jy het geen benul van wie God is nie.
    Dit help nie om n God te aanbid wat ons mee saamstem of hou van nie want dan aanbid jy nie die God van die Bybel nie, maar n God wat jy self gemaak. En dit is afgodsdiens. OF jy aanvaar die Hele Bybel of Jy los alles.
    Ek sal af eindig met Matt 10:21-22 uit die ESV. Brother will deliver brother over to death, and the father his child, and children will rise against parents and have them put to death, and you will be hated by all for my name’s sake. But the one who endures to the end will be saved.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.