Die bestaan van feetjies

Hallo Udo

Wat dink jy van feetjies? Is daar nie dalk die gevaar van okkultiese invloede wanneer mense hulle met feetjies besig hou nie?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou vraag. Ek help graag.

Ek wil jou vraag benader deur eerstens jou aandag te vestig op die volgende reeks vrae:

  1. Glo jy dat Goue Lokkies en Rooikappie bestaan het?
  2. Glo jy dat die Tandmuis en Vader Krismis bestaan?
  3. Glo jy dat die Tokkelossie bestaan?
  4. Glo jy daar is ‘n Lochness-monster in ‘n meer in Skotland?
  5. Glo jy daar is wesens van ‘n ander planeet wat die aarde besoek?
  6. Glo jy dat mense se afgestorwe familielede deur ‘n medium met hulle kan kommunikeer?
  7. Glo jy dat demone van mense besit neem?
  8. Glo jy dat engele aan mense verskyn?
  9. Glo jy dat God mens geword het in die persoon van Jesus Christus 2000 jaar gelede?
  10. Glo jy daar bestaan ‘n Almagtige en persoonlike God wat alles wat bestaan – alle sigbare en onsigbare dinge – geskep het?

Na aanleiding van bogenoemde vrae is daar basies vier kategorieë waarin mense se geloof oor die bestaan van hierdie bepaalde dinge ingedeel kan word.

KATEGORIE 1:

Iemand wat ‘ja’ antwoord op vraag 10, is iemand met ‘n teïstiese wêreldbeskouing. Dis iemand wat glo dat die natuurlike wêreld – alles wat ons met ons sintuie kan waarneem – ‘n oorsprong het in die bonatuurlike bestaan van ‘n persoonlike wese, naamlik God. Baie mense dink egter dat iemand wat in die bonatuurlike glo, net sowel kan ‘ja’ antwoord op vrae 1-9.

Tog is daar ‘n baie groot verskil tussen die geloofwaardige bestaan van God en die geloofwaardige bestaan van die Tandmuis. Wat iets se bestaan geloofwaardig maak, is afhanklik van die REDES vir waarom dit geloofwaardig sou wees. Daar moet dus genoeg getuienis (evidence) wees om in ‘n bepaalde stand van sake te kan glo. Dis belangrik om te besef dat daar verskillende soorte getuienis vir iets kan bestaan: histories, filosofies, persoonlike ervaring, wetenskaplik, ens. Daarom is dit eenvoudig verkeerd om, soos sommige mense, te dink dat SLEGS wetenskaplike getuienis redes kan verskaf om in iets te kan glo (m.a.w. dat slegs wetenskaplik waarneembare dinge kan bestaan). Vir die doel van ‘n antwoord op jou vraag is dit nie belangrik om hier al die redes uit te spel vir waarom dit geloofwaardig is om in God se bestaan te glo nie. (Sien gerus “Is daar ‘n God? met betrekking tot hierdie vraag.)

Christene sal natuurlik ook ‘ja’ antwoord op vraag 9. Ons glo ook in die bestaan van engele en demone (vrae 7 & 8), alhoewel Christene verskil in presies hoe en waar hulle met die fisiese wêreld interaksie het. Hierdie dinge het God deur sy eie inisiatief aan mense geopenbaar. Weereens is daar goeie redes om te kan glo dat sulke openbaring betroubaar is en ‘n Goddelike oorsprong het.

Christene sal ook in antwoord op vraag 6 erken dat die menslike siel na die dood bly voortbestaan, en dat dit selfs moontlik is om met afgestorwenes te kommunikeer (sien 1 Samuel 28). Sulke kommunikasie word egter om spesifieke redes heeltemal deur God verbied (en daarom moet ‘n mens nie ag slaan op die dinge wat mense sê wat dit wel doen nie).

KATEGORIE 2:

Kyk egter na vrae 4 & 5. Dit is bloot omdat daar nie genoeg betroubare getuienis is nie, dat meeste mense, selfs al glo sommige van hulle in die bonatuurlike, nie daarop ‘ja’ antwoord nie. Die Lochness-monster en buite-ruimtelike wesens is trouens nie eers bonatuurlike konsepte nie, maar natuurlike moontlikhede.

KATEGORIE 3:

Wat van ‘n vraag soos vraag 3? Dit is belangrik om ‘n onderskeid te tref tussen bygelowigheid en geloof in die bestaan van die bonatuurlike.

Bygelowigheid word dikwels voorgestel as onskadelik en humoristies, maar dit het dikwels ‘n ondermynende effek op geloof in die bestaan van die bonatuurlike. Bygelowigheid parasiteer op die idee van ‘n bonatuurlike werklikheid, gee dan geboorte aan onsmaaklike karikature en ontwikkel dikwels in ‘n hindernis om tussen ‘waar’ en ‘vals’ te kan onderskei. Dit gebeur veral wanneer bygelowigheid verbind word aan ‘n obsessiewe bemoeienis met allerlei geestelike wesens.

Soos genoem is, erken Christene die bestaan en invloed van geestelike wesens (engele en demone). God is immers self ‘n geestelike wese. Tog is daar onder nie-Christene dikwels sulke verregaande aansprake oor die diversiteit, aard en aktiwiteit van geestelike wesens dat daar vir alle praktiese doeleindes geen rede is vir waarom die Tandmuis en Vader Krismis nie ook werklik sou bestaan nie.

Dan is daar ook onder sommige Christene kommerwekkende voorbeelde van aansprake oor veral demoniese aktiwiteit in die wêreld en lewens van mense wat eintlik niks anders as bygelowigheid is nie. Baie van hierdie aansprake is nie naastenby Bybels verantwoordbaar nie en word maklik ‘n struikelblok tot die geloofwaardigheid van die Christelike geloof.

KATEGORIE 4:

Ten laaste is daar die vraag oor hoeveel mense ‘ja’ antwoord op vrae 1 & 2. Die konteks vir die bestaan van karakters soos Goue Lokkies en Rooikappie is natuurlik verbeeldingskuns. Sulke stories het hul oorsprong in die verbeelding met die uitsluitlike doel om te vermaak. Die stories mag selfs ‘n lessie hê wat ‘n punt maak oor die werklike lewe. Die manier waarop sulke stories egter saamgestel is, wie die karakters is en hoe die storielyn loop, is in opsigself ‘n aanduiding van verbeeldingsvlug – iets wat kinders gou ontdek. Kinders word geweldig meegevoer deur ‘n verbeeldingstog, maar dit neem hulle nie lank om te besef, sonder veel aanmoediging, wat die verskil tussen werklikheid en fantasie is nie. Die rede waarom sommige kinders so lank glo in die werklikheid van karakters soos die Tandmuis en Vader Krismis, het meer te doen met volwassenes se kinderlikheid as met kinders se onkunde. Sommige volwassenes manipuleer kinders se goedgelowigheid steeds lank nadat Rooikappie al self ouma geword het. (Sien ook “Kersvader en die Tandemuis”)

Die punt is dat fantasie herkenbare elemente het waarbinne opgemaakte karakters gemaklik bestaan. Dis egter wanneer mense hierdie tekens ignoreer dat bepaalde karakters ‘n lewe begin aanneem waarvoor hulle nie opgewasse is nie.

Nou, terug by jou oorspronklike vraag: Wat dan van feetjies? Kom ons beoordeel die vraag volgens bogenoemde vier kategorieë:

  • KATEGORIE 1: Niks in die Christelike wêreldbeskouing noop iemand om in die bestaan van feetjies te glo nie. Inteendeel, om in feetjies te glo, is om ‘n implisiete aanspraak op kennis te maak waarvoor daar geen Bybelse (of ander) gronde is nie.
  • KATEGORIE 2: Daar is eenvoudig net nie genoeg bewyse om te glo dat feetjies bestaan nie, selfs al is feetjies eintlik natuurlike organismes met die unieke ontwikkelde vermoë om hulself baie goed te kan kamoefleer.
  • KATEGORIE 3: Die bestaan van feetjies is wel vir baie mense ‘n soort positiewe bygeloof, net soos sommige mense in die Tokkelossie glo, maar met negatiewe gevoelens. (M.a.w. feetjies is oulik, mooi en kan vlieg, terwyl die Tokkelossie honger en humeurig is en sukkel om op beddens te klim wat op bakstene staan!) Maar bygeloof is nie ‘n rasionele siening van hoe die wêreld werklik is nie.
  • KATEGORIE 4: Die mees geloofwaardige verduideliking is dat feetjies in Feetjieland woon, waar hulle op warm somersaande dikwels saam met dwergies in mense se tuine rondkerjakker. Hoe weet ek dit? Lees sommer enige goeie boek met kinderverhale!

Winkelsmidt, ek hoop dit help jou effens. Vra gerus opvolgvrae of ander vrae waarmee ons kan help. Ons sal ons bes doen om jou te help om ‘n antwoord te kry!

Goeie wense

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.