Die Judas-evangelie: Eg, maar nie korrek

Die volgende artikel is geskryf deur prof. Hennie Stander van TUKS. Dit word geplaas met sy vriendelike toestemming.

Kort-kort is daar iets wat gelowiges oor die betroubaarheid van die Bybel laat wonder. In die onlangse verlede was dit Dan Brown se Da Vinci Code. Nou is dit weer die Evangelie van Judas. Volgens hierdie Evangelie het Jesus glo vir Judas gevra om Hom te verraai. Die Bybel sê egter dat Judas dit op eie inisiatief gedoen het. En die moontlike motief vir Judas se verraad word ook genoem: Geld! Nou wie is reg?

In die eerste plek moet ons sê dat die manuskrip wat die Evangelie van Judas bevat, baie waarskynlik eg is. Die manuskrip is aan radiokoolstof toetse onderwerp, en alles dui daarop dat die manuskrip inderdaad ongeveer 300 n.C. geskryf is. Ook die handskrif, ink, taal, woordeskat en teologie van die manuskrip is tipies van manuskripte van 300 n.C. Dit is hoogs onwaarskynlik dat iemand so ‘n manuskrip kan vervals, want daarvoor sou ‘n mens regtig ‘n kind van die wêreld van 300 n.C. moes wees.

Maar as ‘n dokument eg is, beteken dit nie dat die inhoud daarvan histories korrek is nie. ‘n Mens moet onthou dat nie alle dokumente van die antieke wêreld noodwendig inhoudelik korrek is nie, net soos daar ook vandag boeke op die mark is wat as onjuis en onwetenskaplik afgemaak kan word.

Die waarheid is dan ook dat die Evangelie van Judas afkomstig is van ‘n klomp Gnostici. Gnostisisme was ‘n sektegroep wat van die 2e tot die 5e eeu floreer het. Hulle het allerhande vreemde leringe verkondig. Een daarvan was dat ‘n mens eintlik besondere kennis nodig het om gered te word. dit is trouens ook waar die Gnostiek hulle naam vandaan gekry het, want die Griekse woord vir kennis is “gnosis”. En dan het hierdie Gnostici ook probeer om al die skadufigure van die Bybel in ‘n beter lig te stel, soos Kain, Esau, die Sodomiete, en dus ook Judas.

Die Gnostici het ook geleer dat elke mens so ‘n stukkie van God in jou het, maar dit word vasgevang in jou liggaam wat dan amper as ‘n soort tronk dien. Hierdie innerlike deel van jou (kom ons noem dit jou siel) wil bitter graag uit jou liggaam ontsnap. Volgens die Evangelie van Judas was Judas die enigste dissipel van al Jesus se dissipels wat hierdie “dieper” kennis besit het.

Die teoloë van die antieke kerk het die leringe van hierdie Gnostici hewig teengestaan. Ons het etlike werke uit die vroeë Kerk wat daaroor handel. Irenaeus was een van die antieke teoloë wat die Gnostici fel aangeval het. Trouens, hy verwys ook spesifiek na die sektegroep wat hierdie Evangelie van Judas so aanprys. In die antieke wêreld was dit die gewoonte om sommer die boeke van ketters te verbrand. Ons het dus vandag baie werke van die hoofstroomkerk van die eerste eeue, terwyl ons maar min werke het van sektegroepe omdat hulle werke vernietig is. Ons kennis van die ketterse groepe is dus hoofsaaklik gebaseer op wat ons lees in die kerkvaders se boeke. Ons moet dus nou ‘n oordeel vel oor ketters se leringe op grond van wat die kerkvaders gesê het. Dit is te verstane dat ons dus nou met tweedehandse inligting werk, wat dalk selfs ook vol vooroordele is. Stel jouself voor dat jy vandag een kerk moet beoordeel slegs aan die hand van wat ander kerke oor daardie betrokke kerk sê!

Dit is dus absoluut verblydende nuus dat ons in die afgelope eeu sommer heelwat dokumente ontdek het wat deur sektegroep soos die Gnostici geskryf is. Nou kan ons dus self hulle leringe beoordeel, en hoef ons dit nie deur die oë van die antieke teoloë te doen nie. En die interessante is dat die ontdekking van die Evangelie van Judas, en van etlike ander ketterse geskrifte, vir ons inderdaad bevestig dat die antieke teoloë se oordeel glad nie sleg was nie. Ons kan nou eerstehands sien waarom die antieke teoloë so ontsteld was oor wat hulle in die ketters se werke gelees het.

Dit verklaar ook vir ons waarom die Evangelie van Judas nooit in die Bybel opgeneem is nie: Dit het doodgewoon nie gesag gehad nie! Ons moet onthou dat toe die Kerk sekere boeke “kanoniek” verklaar het, daardie boeke nie skielik gesag verkry het nie. Eintlik het daardie Bybelse boeke al lankal gesag gehad. Die kerk het maar net ‘n amptelike stelling gemaak oor dit wat al die mense toe reeds geweet het.

Kortom: Moet gelowiges bekommerd word oor die ontdekking van die Evangelie van Jesus? Absoluut nie! Laat ons juig en bly wees oor elke antieke dokument wat ontdek word. Dit help ons om die antieke wêreld beter te verstaan. Hierdie Evangelie van Judas help ons ook om dit wat ons oor die Gnostiek geweet het, verder te bevestig.

Maar dit maak nie ons geloof in God en in sy Woord ongedaan nie!

___________________

Vir diegene wat verder wil nadink oor ander “evangelies” wat nie deel uitmaak van die Bybelse kanon nie, kan gerus na die volgende luister:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.