Die Christelike geloof en die wetenskap

deur Christiaan DeWet Ferreira

Of jou lewe eendag vir enigiets gaan tel, of jou dag na dag bestaan uiteindelik enigsins sal saak maak in die groter prentjie, hang heel eerste van hierdie vraag af: Bestaan daar objektiewe waarheid buite myself, of is “waarheid” maar net iets wat ek vir myself kies?

As waarheid nie belangrik is nie, dan is die Christelike geloof ook nie. As absolute, objektiewe waarheid nie bestaan nie, dan is die Bybel ‘n skandalige mors van ink. Dan is daar geen realistiese hoop dat die feit dat jy bestaan het, eendag hoegenaamd sal saak maak nie. Dan was alles verniet. Dan was selfs die mees genot-gepakte lewe niks meer betekenisvol as die bietjie hoë bloedsuiker-inspuiting na jy lekkergoed geëet het nie.

In die volgorde van logiese vloei, voor ons uitkom by enige spesifieke feite, voor ons uitkom by teologie, of voor ons kyk na wat die Bybel sê, moet die geldigheid van hierdie kwessie vooraf bepaal word. Nie die minste nie want hierdie is presies die aanval wat postmodernisme in die 1950’s en 1960’s op die Westerse akademie geloods het: die ontkenning dat daar ‘n objektiewe waarheid bestaan. Ons kultuur is toenemend met skeptisisme hieroor binnegedring, in so ‘n mate dat postmodernisme sedert die 1990’s die status van die “filosofie van ons tyd” gekry het.

Tog dra vandag se postmoderne mens ‘n gesplete persoonlikheid. Mense is uiters skepties oor aansprake van absolute, objektiewe waarheid waar dit waardes en geloof (godsdiens) betref. Betreffende “die wetenskap”, dink mense egter heel anders. Vandag se postmoderne mens het ‘n sterk modernistiese tipe geloof in die ontwyfelbare gesag van die feite en wette van die wetenskap as ‘n bron van objektiewe waarheid. Tog word daar, ten spyte van hierdie uitsondering, andersins geglo dat alle idees relatief en subjektief is. Dis byna soos die man wat ydel genoeg is om sy grys hare swart te kleur, maar nie deeglik genoeg is om te besef dat hy ‘n hele wit kol agter op sy kop gemis het nie.

Hierdie gesplete denkwyse mag deels ‘n weerspieëling wees van die feit dat dit inderwaarheid onmoontlik is om op ‘n praktiese, alledaagse manier konsekwent met ‘n ekstreme postmodernistiese wêreld-siening te leef. Dit maak byvoorbeeld nie saak hoe postmodernisties iemand mag wees nie, op ‘n operasie-tafel hoop almal dat die chirurg glo in die bestaan van objektiewe mediese feite eerder as hul subjektiewe gevoelens! Daar is ook ‘n sterk Westerse ontsag vir die wetenskap in die algemeen (waarmee ons bedoel die natuurwetenskappe en verwante velde). Dit is so deels vanweë die verbysterende praktiese tegnologiese ontwikkelings van ons dag. Andersyds is dit ook ‘n gevolg van die amper aggressiewe en dogmatiese aansprake van neutraliteit en objektiwiteit wat die wetenskap geneig is amper as ‘n monopolie vir homself toe te eien. Hierdie aansprake op neutraliteit en objektiwiteit word al so vanselfsprekend en outomaties aanvaar as die besondere besitting van die wetenskap, dat meeste wetenskaplikes (en ander) nie meer anders oor sake kan dink nie.

Die indruk word geskep dat die wetenskap, van alle vakgebiede, die alleenreg besit op die gebruik van objektiewe, neutrale waarheid. Dit maak dat wetenskaplike paradigmas bykans die kontrolerende paradigmas is oor alle ander vakgebiede. Wetenskaplike denkwyses word die kanon van alle waarheid. Hierdie houding het ‘n magsgreep oor mense se denke, wat as ‘n hefboom gebruik word in die godsdiens-teen-wetenskap kontroversie. Hierdie “kontroversie” word dan gewoonlik geskets in terme van ‘n konflik, die idee dat daar ‘n fundamentele dikotomie, ‘n teenstrydigheid, selfs ‘n oorlog, tussen godsdiens en wetenskap bestaan. (Wanneer “godsdiens” ter sprake is, is dit dikwels algemene mode om die Christelike geloof die teiken van afkeur te maak.) Die konflik-model as verduideliking van die verhouding tussen wetenskap en godsdiens, is gebou op ‘n prentjie van opponerende pole, van twee sterk teenoorgesteldes wat eenvoudig nooit kan ontmoet nie. Dié prentjie, wat gereeld deur oningeligte geleerdes geskets word, is egter vals.

Die saadjies van die konflik-model is in die negentiende eeu in die Engelse wêreld deur ‘n handjie vol propagandiste geplant – skrywers vir wie deeglike navorsing oor die hierdie saak skynbaar nie in die pad kon staan van hul vooropgestelde opinies nie. Hulle  benadering het wortel geskiet in die vrugbare grond van latere skrywers, wie se ontsag vir hulle voorgangers gemaak het dat hulle dié se konklusies sonder veel kritiese toetsing aanvaar het.

Thomas Huxley, die Brit met onbeskaamde anti-godsdienstige vooroordele, was een so ‘n saad-planter en sy invloed is aangehelp deur die Amerikaner John William Draper. Draper se History of the Conflict Between Religion and Science het gehelp om die mite van ‘n konflik tussen rasionaliteit en geloof sterk te laat groei en blom. Hulle volgelinge was so oorweldig deur die reputasies van hierdie manne, dat min van dié se oorspronklike tesisse oor die sogenaamde “konflik” bevraagteken is deur objektiewe studies oor Middeleeuse werke. In die agtiende eeu, op Europese bodem, was dit Voltaire (wat nooit ‘n ateïs was nie, maar ‘n deïs wat gereeld sy frustrasie teen Frankryk se dominerende Katolieke Kerk uitgeblaf het), en sy landgenoot Jean le Rond d’Alembert, wat die mite van rasionaliteit in teenoorstelling met godsdiens bevorder het.

Iemand soos Galileo Galilei was egter beslis nie een van hulle nie. Inderdaad, Galileo (1564-1642) was nie ‘n duit minder gelowig as enige ortodokse Christen van sy tyd nie. Hy sou daarom nie veel gemene grond met die agnostiese en ateïstiese wetenskaplikes van ons tyd (wat hom so graag as ikoon vir hulle saak drapeer) gehad het nie.

Waaroor daar egter geen twyfel bestaan nie, is dat die Katolieke Kerk se gedrag teenoor Galileo verkeerd, kleinlik en onchristelik was. Dit was onchristelik, want die Kerk het nie die goddelike reg om kriminele strawwe op te lê (of toe te pas) nie. Daar was ook geen Bybelse basis vir aanstoot in Galileo se werk was nie. Verder moes die betrokke Pous ook nie so gou kwaad geword het nie. Pous Urbanus was persoonlik eintlik heeltemal ten gunste van Galileo en het hom beskerm teen een of twee misplaasde kardinale en oorgretige Dominikaanse monnikke (hulle was eintlik almal sterk aan Galileo se kant vóór sy opsetlik uitdagende uitlatings). Urbanus het egter uiters kwaad geword toe die impulsiewe, emotiewe Galileo, die spot gedryf het met iets wat die Pous in goeder trou gesê het. Dit was die toppunt van wilde irrasionaliteit aan Galileo se kant en tog het die Pous ook onchristelik en kleinlik gereageer. Inderdaad, dit was alles so onnodig dat Galileo in nie-Katolieke Christelike kringe amper as ‘n ere-Protestant beskou is!

Maar hier is die punt. Bykans niks wat Galileo gesê het, was nuut of oorspronklik nie en tog het hy nie ‘n enkele woord gerep het dat dit so is nie. Die briljantheid van Galileo (in die 1630’s) kan gesien word in sy kragtige en elegante samevatting van ‘n reeks basiese wetenskapsbeginsels wat vandag steeds erken word (selfs al was daar ook vele foute in). Tog was dit alles onderlê deur 400 jaar se akademiese vrug van die Kerk se filosowe uit die Middeleeue. Groter eerlikheid op hierdie punt kon sy saak net gehelp het!

Terwyl dit soms inderdaad vandag moontlik is dat sekere hipotese van sekere wetenskaplikes duidelik en direk in stryd mag wees met spesifieke teologiese waarhede, is die idee dat daar noodwendig ‘n konflik moet wees, nie veel ouer as twee eeue nie. Die idee van ‘n konflik tussen geloof en rasionele denke het verseker nie in die Middeleeue bestaan nie. Dit was ‘n tydperk waarin wetenskaplike navorsing en denke aktief deur kerklike beamptes, akademici en teoloë beoefen is, alles volledig befonds en ondersteun deur die Kerk (toe nog die Rooms-Katolieke Kerk, die een kerk van Wes-Europa). Hierdie intellektuele groei het latere universiteite aangemoedig wat gestig was op sterk Christelike fondamente (universiteite wat vandag steeds loshande onder die mees uitstaande in die wêreld tel).

Net soos daar nooit in die Nuwe Testament enige sprake is dat Bybelse geloof ooit blinde, irrasionele geloof is nie, was geloof vir die Middeleeuse Kerk ook nooit maar net ‘n persoonlike subjektiewe keuse of voorkeur nie. Daar is altyd geglo dat geloof ‘n geestelike kwaliteit is wat deur sterk rasionele beginsels – waarheid – onderlê word. Soos ‘n trein op ‘n magnetiese spoor wat nooit aan die baan raak nie, maar sekuur in die hande van die magnetiese veld rus, so was geloof verstaan om onderlê te word deur diep rasionele beginsels. Dit was egter geglo dat baie van daardie onderliggende waarhede so kompleks en moeilik is vir ‘n beperkte menslike verstand (wat deur sonde geaffekteer is) om helder genoeg te sien dat ons altyd God se onfeilbare openbaring van sy waarhede nodig het. Sy Woord, die Bybel, bied dus die openbaring van die grootste waarhede oor die wêreld en ons as mense.

So ‘n raamwerk het menslike rasionaliteit gewaardeer en aangemoedig, maar dit het ook altyd binne die veilige grense gebly wat deur God se geïnspireerde Woord aan ons gegee is. Enigiets wat daarmee in stryd is, sou afgewys word (en sulke teenstrydighede het eintlik nogal min opgeduik). Inderdaad, hierdie grense was so ruim dat dit ‘n veilige speelveld gebied het vir die mees uitdagende denke en komplekse vorms van logika (party wat eers weer in die 19de eeu herontdek is). Dit het ook plek gemaak vir die geboorte van moderne wetenskap. Eerder as om wetenskaplike denke in te perk, het die onbetwyfelbare teologiese waarhede en die bestaan van een alwyse, rasionele God, ‘n sterk motivering gebied om die werking van sy wêreld te verstaan. Die vaste wete dat God almagtig, getrou en onveranderlik is, het beteken dat daar goeie rede was om te glo dat die natuur reëlmatig is en daarom in detail bestudeer kan word. Ja, wonderwerke gebeur, het hulle geglo. Maar wonderwerke is die uitsondering op die reël en redelik herkenbaar as sulks, en is dus nie ‘n probleem vir suksesvolle wetenskaplike ondersoek nie.

Ons mag lag vir hoe basies vroeë wetenskaplike konsepte was, selfs in ongeoorloofde arrogansie toekyk hoe uiters intelligente manne gesukkel het om konsepte te ontdek en te verstaan wat ons so bevoorreg was om reeds vroeg op skool te leer. Waaroor ons egter nie kan stry nie, is dat sulke manne steeds wetenskap beoefen het. Hulle het ernstige studie van, en denke oor, die natuur nagestreef; eerlike pogings om die werking van die heelal beter te verstaan. As dit nie wetenskap is nie, wat is?

Die idee dat Middeleeuse denkers gestry het oor hoeveel engele op die punt van ‘n speld kan dans, is natuurlik onsin. Hierdie mite is die eerste keer in die 17de eeu geopper, deur ‘n spotter. Middeleeuse universiteite het hul studente met tye die kans gegun om hul professore se intellektuele vaardighede in die toepassing van die mees komplekse logiese probleme en strikke te toets. Baie keer was dit amper ‘n grap, ‘n denkbeeldige probleem of denk-eksperiment (soos mens algemeen raakloop). As dit ooit sou gevra geword het, sou niemand ernstig geglo het dat die engele-op-‘n-speld probleem na iets waar verwys nie! Wat ons egter nie kan ontken nie, is dat so ‘n denkbeeldige probleem enige professor se verstandelike vernuf in die gebruik van aannames, eienskappe en deduksies deeglik sou kon uitwys.

Na jare se vervelige herhaling van hoe donker, primitief en agteraf die Middeleeue was, en die aanklag dat dit die Kerk en godsdiens se skuld was, is dit belangrik om te besef dat die doodskis van hierdie idee nou al reeds aan mekaar gesit is. Inderdaad, die Kerk se houding in die Middeleeue was uiters verlig in vergelyking met die barbaarse kulture waarin sy haar bevind het. Priesters, biskoppe en kerklike offisiere het byvoorbeeld by tye soveel moontlik konsessies uit ridders getrek as wat hulle kon om die weerlose bevolking teen hierdie militêre klas te beskerm. Die Kerk het “rules of engagement” met sterk geestelike sanksies op ridders afgedwing om konflik te verminder en die laer klas te beskerm.

In teenstelling met die idee dat die Christelike kerk teen rasionaliteit en vir bygeloof is, was die Christelike kerk in die algemeen nog altyd ‘n kragtige dryfveer vir akademiese onderrig. Soos ‘n ou smerige lap wat nog steeds in gebruik is, verhoed die fiktiewe dissosiasie van onderrig en geloof mense om te sien dat die kerk dwarsdeur haar bestaan bevriend was met helder denke en insig. Die verantwoordelike opleiding van wyse, ingeligte teoloë en predikers is nog altyd sterk voorgestaan. Harvard is Amerika se oudste, rykste en mees gerespekteerde universiteit. Soos meeste van daardie land se ander “Ivy League” universiteite, is Harvard gestig om die beste en skerpste predikante op te lei. Daar kan selfs ook na aan universiteite soos Oxford en Parys, wat in die laat-Middeleeue gestig is, verwys word. Ook Martin Luther het besef dat daar in die Protestantse Hervorming wat hy onbedoeld begin het, ‘n groot behoefte was aan studente wat reeds kon lees en skryf en ook ander vaardighede gehad het – juis sodat die wat tot die bediening geroep is, reeds bekwaam sou wees. Dit het gelei tot hervormings in onderrig en ‘n Duitse skoolstelsel waarby alle kinders gebaat het.

In die vroeë Middeleeue was dit veral die Kerk se kloosters wat gedien het as ligpunte vir akademiese studie, met biblioteke van antieke en ander manuskripte wat noukeurig versamel is. Kennis is opgebou, bymekaar gemaak en bewaar; vanaf iets so verhewe soos geskiedskrywing (bv. die waardevolle werke van Gregorius van Tours en Venerable Bede) tot iets so gewoon en aards soos nuwe resepte vir die brou van standhoudende bier met behulp van die hopsplant. (Die kloosters was ook die banke en geldstorings-fasiliteite van die tyd, wat ongelukkig beteken het dat hulle sterk onder die Viking-aanvalle deurgeloop het.)

Vandag se wetenskaplik-ongeletterde liberale teoloë klouter hulle pad deur na hoë lof vir die Verligting met sy wetenskaplike denke en prestasies. Tog is al hoe meer wetenskapsfilosowe en wetenskaplikes self, besig om al hoe meer krities te dink oor die manier waarop die Verligting, die wetenskap en rasionalisme vergoddelik het. (Verwys bv. na die 12 punte van Biskop John Shelby Spong in die vorige artikel op die EI se webwerf onder “Argief” van Andries Louw oor die Nuwe Hervorming.)

In teenstelling met die karikature oor die Middeleeuse Kerk en wetenskap, is hierdie die feite: die kerk het regdeur haar geskiedenis nog nooit enigiemand brandstapel toe gestuur vir wetenskaplike teorieë, ontdekkings of uitvindings nie. Die kerk het nog nooit gesê dat die aarde plat is (of die idee ondersteun nie) en het nooit die nadoodse disseksie van die menslike liggaam verban nie. Laasgenoemde was inderdaad merkwaardig, want in byna elke samelewing in die geskiedenis was die disseksie van lyke verbode. In die Middeleeue vind ons egter nie net disseksie nie (anders as met die voorafgaande Romeine), maar selfs ‘n geval waar ‘n Pous ‘n nadoodse ondersoek aanvra om die oorsaak van ‘n persoon se dood vas te stel. Mettertyd het disseksie gelei tot ‘n baie beter verstaan van bloedsomloop en ander fisiologiese prosesse. Die feit dat Westerse mediese kennis eers teen die helfte van die negentiende eeu ‘n sukses-storie geword het, kan dus nie aan die deur van die Christelike kerk gelê word nie. Dis eerder die uiters kompleksiteit van die menslike liggaam en onkunde oor mikroörganismes, wat dáárvoor verantwoordelik was.

Die punt is dat Middeleeuse denkers die grondslag gelê het vir die verstommende vooruitgang wat gedurende die wetenskaplike revolusie plaasgevind het. Ondersteun deur ‘n groot, verenigende organisasie (die Kerk) met een gedeelde voertaal (Latyn), het mense hul intellektuele bestudering van die wêreld met groot selfvertroue uitgevoer. Hierin het hulle maniere van dink neergelê wat so vindingryk en innoverend was dat daaropvolgende geslagte in bykans elke opsig oorgehaal was vir die groot spronge wat die wetenskap sou neem. Antieke Griekse filosofie was in sekere opsigte ‘n fantastiese basis waarop Middeleeuse denke kon bou. In ander opsigte het die foute en radikaal verkeerde idees van Griekse filosofie ‘n baie vertragende effek op Middeleeuse wetenskap en filosofiese denke gehad. Dit was benewens die antieke Griekse vooroordeel teen praktiese eksperimentering. Tog het die laat-Middeleeuse filosowe stadig maar seker hierdie agterstande oorkom. Met elke opeenvolgende oplossing wat hulle bereik het, is vars, nuwe vrae na vore gebring. Dit het ‘n klimaat geskep wat ryp was vir die aangryping van meer eksperimentering en waar wetenskaplike hande vuil gemaak is in die ontdekking van die natuur. Al is sekere aspekte van die destydse wiskundige kennis uiters primitief in ons oë vandag, was dit ‘n bron van fassinasie en avontuur. Wiskunde was met groot ontsag en respek bejeën. Dit was soos iets uit die buitenste ruim wat ons sterflinge die voorreg gegun is om te hanteer met ons hande.

Die Renaissance, wat op die Middeleeue gevolg het, was dit ook nie werklik die tyd van ongekende vernuwing en vooruitgang soos wat ons geleer is nie. Hierdie eensydige siening mis die feit dat die impulsiewe en oorgretige sterre van die Renaissance dit amper heeltemal reggekry het om 400 jaar van wetenskaplike vordering weg te skroei met hul verblindende passie vir alles Klassiek (antieke Romeins-Griekse kultuur).

As voorbeeld, wanneer ‘n andersins uitstekende artikel in die Beeld van 8 Januarie 2010 (“Wetenskap Gee Ons Visie”) die volgende sê, is daar foute op soveel verskillende vlakke dat dit moeilik is om te weet waar om te begin:

Wetenskap het byvoorbeeld gesorg dat die Middeleeue se bygelowe en heksejag mettertyd deur kennis van die hemelruim en geneeskunde vervang is. Wetenskap bevry dus as’t ware die mens van beklemmende oortuigings.

Die naïwiteit hier is oorweldigend. Dit is inderwaarheid moeilik om enige teken van heksejagte in die Middeleeue te kry (dis interessant dat die Kerk in die hoë Middeleeue ‘n geloof in die bestaan van hekse verbied het en selfs doodsvonnisse gestipuleer vir hulle wat voorgee om hekse te verbrand!). Die Middeleeuse samelewing was in werklikheid baie verdraagsaam teenoor hekse, towenaars en waarsêers, met die enigste uitsonderings heel aan die einde van die laat Middeleeue waar gewone mense in Switserland en Kroasië die howe gedwing het om hulle te help in die vervolging van hekse in die siviele hof. Heksejagte (wat meestal aangestig is deur gewone mense en skares) het eintlik eers waarlik plaasgevind ná die verbygaan van die Middeleeue, met die koms van vroeë moderne Europa. Met ander woorde dit was so laat as vanaf die laat-Renaissance tot naby die einde van die Verligting (vanaf 1480 tot 1700).

Ironies dat hierdie tydperke presies die teenoorgestelde is van mense se persepsies! Dit is inderdaad hierdie tydperke wat die sterkste geassosieer word met die koms van groter rasionaliteit en kritiese denke, eerder as die Middeleeue, waarin tot soveel as ‘n honderd duisend mense brandstapel toe gestuur is vir ware of beweerde heksery. Die begin van die  Protestantse Hervorming in 1517 het ‘n tydelike hiatus gebring, maar heksejagte is hervat vanaf 1550 tot 1650. Dus, reg in die middel van die wetenskaplike revolusie kry ons die mees intensiefste periode van heksejagte!

Heksejagte het ook nie gebeur omdat dit met geloof te doen gehad het en nie met wetenskap nie. Dit word maklik gesê dat wanneer wetenskaplikes dinge verkeerd doen of oneties handel (lieg of navorsing vervals), dan is dit nie die wetenskap nie, maar eintlik net die mense self is wat blaam verdien. Dit is korrek, maar dis eenvoudig onregverdig en oneerlik om in dieselfde asem dan te beweer dat, wanneer mense wat aanspraak maak om ‘n sekere geloof aan te hang, wandade pleeg, godsdiens dan daarvoor verantwoordelik is en nie die individue self nie. Ons kan tog nie maar net na wille keur kies waar ons die etiese blaam wil laat val, sonder om inkonsekwent te wees nie. (Terloops, ten spyte van die veel-besproke beskuldiging oor “al die godsdienstige oorloë” wat al plaasgevind het, is dit nie so maklik om sulke oorloë te kry nie. ‘n Godsdienstige oorlog is een waar ‘n godsdienstige rede of verskil in doktrine, die primêre oorsaak was vir so ‘n oorlog. Die feit is dat baie mense sulke godsdienstige verskille gewoonlik bloot vir propagandistiese redes aangevoer word as die oorsaak vir die verklaring van oorlog, maar dit stem gewoonlik nie ooreen met die feite nie. Dit is ook insiggewend om te bestudeer hoe die 20ste eeu se groot diktators soos Stalin, Pol-Pot, Mao Zedong en Hitler, se ateïstiese, agnostiese, anti-godsdienstige en anti-Christelike houdings, hul moordende regimes beïnvloed het. [Wat natuurlik nie beteken dat almal wat sulke houdings deel, noodwendig sulke dade sal pleeg nie!])

Die punt oor heksejagte is dit: Dit was verkeerd, nie omdat die godsdiens waarmee die deelnemers daaraan hulleself geassosieer het, dit voorgestaan het nie, maar omdat hulle in ‘n tyd en omstandighede gelewe het waar daar, in weerwil van hul godsdiens, in sekere oorde geglo is sulke gedrag is reg. So was daar nog altyd, en is daar steeds elke jaar wetenskaplikes wat, in weerwil van die wetenskaplike metode, navorsing vervals of manipuleer. (Slegs ‘n uiters klein persentasie hiervan maak die koerantopskrifte – sien bv. die kontroversie tussen Amerikaanse en Franse wetenskaplikes oor die ontdekking van VIGS, of die ‘koue fusie’ skandaal, ens.). Dit is daarom ook naïef om te dink dat die waarheid altyd sal opdryf boontoe.

Die mees kortsigtige deel van bogenoemde koerant-aanhaling is die stelling dat die wetenskap bygeloof laat verdwyn het. Van wanneer af? Dis nie te moeilik om te wys dat bygeloof eerder toegeneem het tydens die sogenaamde verligting vanaf die Renaissance (15de eeu) deur tot by die wetenskaplike revolusie (17de eeu) en die Verligting self (18de eeu). Astrologie en allerhande mistiese en hermetiese geskrifte was toe populêr. Inderdaad, selfs die moderne mens sal hoë tegnologie in selfone en rekenaars gebruik om die 21ste eeuse kuberruimte in te vaar, maar dan steeds van die geleentheid gebruik maak om astrologiese voorspellings na te slaan. Tog weet ons vandag beslis dat die planete geen gravitasie of enige ander effek kan hê op ‘n persoon wanneer hy of sy gebore word nie (voor die laat 17de eeu se insig in gravitasie het mense ten minste nog ‘n verskoning gehad om te dink dat die sterre ‘n werklike fisiese invloed op ‘n persoon kan hê!). Waarsêery, bygeloof en kwaksalwery het in die 21ste eeu alles behalwe afgeneem!

Verder is dit opmerklik dat daar in die sterk groei-fase van die Verligting, vanaf die einde van die 17de eeu, uiters “onverligte” idees begin ontstaan het, onder andere die ontstaan, vir die eerste keer in Westerse geskiedenis, van uiters intense vorms van rassisme en rasse-klassifikasie (veral anti-swart rassisme.)

Nee, solank ons aanhou vaskyk in die mite van rede versus geloof, gaan ons aanhou om simplistiese en onakkurate paradigmas op die geskiedenis en die beoefening van hierdie twee velde af te forseer. Die punt is hier eenvoudig dat netjiese evolusionêre en liniêre teorieë oor sosiale verandering en rede en geloof, baie maklik is om op te dis, maar gewoonlik sonder goeie begronding. Daarbenewins kan ons aan die ander kant ook in ‘n meer realistiese lyn die eintlike, konserwatiewe hart, van die Renaissance se beter raaksien. Dis ver van die eenvoudige prentjie van ‘n tyd van uitbundige vooruitgang en vars denke wat nuwe en radikale kennis tot gevolg gehad het. Ja daar is gedurende die Renaissance uitstekende werk gedoen, maar enkele baie helder ligpunte is nie genoeg om ‘n beweging met baie kwale te veronskuldig nie. Varsheid en waagmoed was daar wel, en so ook ‘n gees van ontdekking, maar ons moet nie die feit mis dat hierdie grootliks die ontdekking van ‘n ouer, konserwatiewe kennis was nie. Die Renaissance was op sekere maniere (veral in die natuurfilosofie – wetenskap en wiskunde) ‘n beweging wat alewig terug gehunker het na die Klassieke kultuur van die ou Grieke. Daardeur is amper vierhonderd jaar se hoog-Middeleeuse vordering en vooruitgang in wetenskap, wiskunde en filosofie deur kortsigtigheid uitgewis. Plato en Aristoteles is vereer, maar die radikale verbeterings en korreksies wat die Middeleeuse denkers op die Grieke se foute aangebring het, is misgekyk. Die Renaissance was ‘n boekverbrandings-era wat die Middeleeuse hard-verdiende kennis en insig na die asblik van die geskiedenis weggeskuif het. (Daar is gespog oor watse goeie toiletpapier Middeleeuse manuskripte gemaak het!) Sekere beginsels wat die Middeleeuse denkers ontdek het, sou eers weer ‘n half-millennium later weer herontdek moes word.

Ons probeer nie sê dat die skolastiese filosowe van die Middeleeue nie hulle foute gehad het nie. Om die waarheid te sê, in sekere gevalle was dit juis die intellektuele vernuf van hierdie denkers wat probleme veroorsaak het in hul teologiese insigte (en verstaan van sekere Bybelse waarhede). Daar was werklik baie wat ons vandag in hul teologie en teologiese filosofie kan bewonder, maar die geordende, logiese dissipline waarmee hulle gedink het, het partykeer ‘n misplaasde presiesheid meegebring. Hulle het geglo dat ‘n volledige beskrywing van aspekte van God se karakter en dade onderlê word deur sulke diep en komplekse beginsels dat ‘n beperkte, sondige menslike verstand dit nie kan verstaan nie. Maar dan sou dit juis sin gemaak het dat hulle moes poog om op baie meer organiese maniere na die Bybel kyk. By tye voel ‘n mens dat hul eerbied vir die Bybel duideliker sou gewees het as hulle beskrywing van ‘n bepaalde tema in die Bybel eerder op ‘n meer modulêre, instrumentele [fenomenele?] wyse gedoen is, eerder as om ‘n sistematies-analitiese beskrywing daarop af te dwing. Middeleeuse denkers het beslis erken dat daar sekere geheimenisse (onbekendhede) oor God is wat ons waarskynlik nooit sal verstaan nie, maar op ander maniere het hulle partykeer die aangegaan asof God vir hulle gesit het om geskilder te word!

Sommige Middeleeuse denkers moet ook gekritiseer word vir hul poging om God te veel binne hul menslike rasionele denke te akkommodeer (eerder as om plek te maak vir ons serebrale avonture binne God se absolute raamwerk!). Logika is nie ongeldig in besprekings oor God nie (want God is ‘n logiese God), maar wanneer ons deur God se Woord gelei word, besef ons dat ‘n volledige logiese beskrywing van die wese en werking van God ons menslike perke oorskry.

Meer net so moet ons krities na onsself kyk as ons menslike filosofieë ophemel – want geen filosofiese stelsel wat nie plek maak vir die Bybel se God, kan ooit “werk” nie. Postmodernisme is reg dat ons siening van die wêreld inderdaad in terme van verskillende subjektiewe perspektiewe is en dat subjektiewe menslike denke nederig moet wees oor die moontlikheid wat dit het om objektiewe waarheid te ontdek. Die modernistiese kant, weer, is reg om te fokus op die belang van objektiewe waarheid, en die moontlikheid daarvan om dit wel te kan ontdek. Maar die modernis se optimisme oor die krag van die onbegeleide menslike verstand om alles te ontdek, ignoreer egter menslike gevallenheid en die nodigheid van Goddelike bonatuurlike openbaring; die postmodernis se pessimisme oor die ontdekking van absolute waarheid, ignoreer weer die sinvolheid van hoe die wêreld om ons in mekaar pas en die nodigheid van Goddelike bonatuurlike openbaring. Die kritiese swakpunt in beide modernisme en postmodernisme (elk op hul eie manier) is dus dat beide nie die nodigheid of moontlikheid van Goddelike openbaring in ag neem nie.

Hierdie artikel was slegs die begin van ‘n ondersoek na die vraag of daar ‘n fundamentele of noodwendige teenstrydigheid tussen die wetenskap en godsdiens (veral die Christelike geloof) is. Daar is op slegs ‘n paar elemente gefokus: die argument vir godsdiens versus wetenskap self, die ontstaan daarvan en die brandstof wat verwysings na die Middeleeue aan die vuur van hierdie argument verskaf het. Ons het dus gaan kyk of daardie bewerings deur die feite oor die Middeleeue bevestig kan word – en die teendeel bevind!

Ons het suksesvol uitgewys watter miskonsepsies oor die Kerk, en die Kerk in die Middeleeue bestaan. In die proses het ons ook gewys dat die Middeleeue inderwaarheid die basis vir die wetenskaplike revolusie gelê het en dit selfs geïnisieer het. Dit was ietwat gerem deur die Renaissance, maar teen die helfte van die 16de eeu was dit weer in volle swang met Copernicus (en sy aarde wat om die son draai) asook Kepler (met sy wette van planetêre beweging). Ook in die eerste helfte van die 17de eeu is ‘n sterk, oortuigende grondslag vir nuwe denke gelê omdat iemand soos Galileo geweet het waar om vir sy wetenskaplike inligting te gaan soek. Voor die einde van die 17de eeu bereik die wetenskaplike revolusie sy toppunt met die publikasie van Newton se Principia, wat ‘n ingrypende nuwe verstaan van die heelal en sy wette teweeg gebring het.

Uit hierdie geskiedkundige perspektief het ons dus gesien dat die idee van ‘n teenstrydigheid tussen wetenskap en godsdiens in wese ‘n mite is. Ons het nodig om ware verligte mense te wees, en nie weer daarvoor te val nie! Mag ons al ons denke beoefen binne die ruim en vrugbare velde van God se waarhede tot sy eer!

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.