Godsdiens (mis)leiding

Hallo,

Nog 1,500 jaar gelede het ons voorouers Germaanse gode aanbid. Pas vanaf ongeveer die middel van die 8ste eeu nc word Germaans-Europa onder dwang gekersten. Karel die Grote wou die Romeinse beskawing invoer onder die ‘barbaarse’ Germane (inklusief hulle godsdiens, alfabet, regstelsel ensovoorts).

Vir ons eie verlede maak ons ons ogies toe, want dit is ‘n ‘heidense’ verlede. Ons Germaanse verlede is vandag volslae vergete by ons Afrikaners. Maar van die reste vind ons in die name van ons weeksdae.

Sondag was die belangrikste dag van die week. Hierdie dag was ter ere aan Sunna die Songodin. Daar was egter nog meer songode. Die 25ste Desember was trouens die geboortedag van die belangrikste van hierdie Songode en nie Jesus nie. Jesus was trouens ook nie in die jaar nul gebore nie. Maandag was ter ere aan verskillende Maangode onder andere Mana. Dinsdag  was ter ere aan die belangrikste Germaanse god Ding (Tiwaz,Thingsaz) rond die begin van ons huidige jaartelling. Woorde soos ding/dinges is hiervan afgelei. Woensdag was ter ere aan die oppergod van die Germane Wodan (Odin) die woeste, met ‘n hoogtepunt rond 800 nc. Karel die Grote het ‘n einde gemaak aan die populariteit van Wodan, deur ‘n verpligte invoer van die Romeinse Christendom in sy ryk. Donderdag was ter ere aan die god Donner (Donar, Thonar, Thor, Tor). Hy was ‘n geliefde maar ook gevreesde god. Hy kon jou met ‘n bliksem (weerligstraal) slaan. Daarom is donner en bliksem steeds taboewoorde en dit nou al vir baie baie duisende jare lank. Vrydag was ter ere aan die liefdesgodin Frija of Freya. Dit was ‘n dag van wellus, liefde en vrugbaarheid. Die woord vrou is hiervan afgelei. Saterdag het sy oorsprong by die Romeinse god Saturnus (Saturni, Saturnis) en het onder Joodse handelsinvloed ‘n semi-rusdag geword.

My Germaanse voorouers het Adam en Eva nie geken nie. Ons bloedlyne loop nie deur vader Abraham, Isak en Jacob nie. Ons huidige godsdiens is ‘n Romeinse invoerproduk. Hy is nie van ons nie.

Die Uwe,

Winkelsmidt

Winkelsmidt,

Ek sou nogal graag wou weet wat jy op ons webwerf gelees het wat jou laat besluit het om die spreekwoordelike pen op te neem. Of is dit bloot ʼn algemene opmerking oor ‘misleidende godsdiens’ wat jy graag met almal deel wat op ʼn manier met (die Christelike) godsdiens gemoeid is? Hoe dit ookal sy, beskou my terugvoer as ʼn poging om jou beter te verstaan.

Dit lyk my asof jy die Germaanse bloed in jou are nogal hoog aanslaan. Dis goed so, ons het seker maar almal iets waarop ons besonder trots is. Dan is daar ook dinge waarop ons sekerlik minder trots is. Christene het rede om met verskeie insidente in die geskiedenis hul koppe in skaamte te laat sak. Natuurlik wil Christene hulleself graag geheel en al daarvan distansieer, omdat sulke denke en optrede niks te doen het met wie Jesus was en waarvoor hy gestaan het nie. Vanuit die perspektief van ‘n egte Christelike geloof is die gedagte om ander “onder dwang te kersten” ʼn teenstrydigheid in terme. Tog moet Christene selfs nou erken dat hulle soms al te maklik wys dat hulle nog steeds bitter min van God en sy liefde verstaan. Selfs in hul beste strewe om Jesus na te volg (en ek glo ʼn Christen se strewe kan nooit minder as dit wees nie) is daar tekens van verderf en onsuiwer motiewe. Die ontoereikende optrede van die volgelinge beteken egter nie die meester of sy boodskap is ontoereikend nie.

Dit lyk nogal in die algemene strekking van jou skrywe asof jy die Germaanse gode en die God van Abraham, Isak en Jacob teen mekaar afspeel en daarmee wil aandui dat godsdiens eintlik maar niks anders is as ʼn kulturele fenomeen nie. Ek wil saamstem dat godsdiens oor die algemeen vir sommige mense presies dit beteken: ʼn aanhang van oorgelewerde tradisie (meestal onbevraagd) of dalk bloot ʼn aanhang van ander se ryk verbeelding wat in bygelowigheid uitdrukking vind. Ek is van mening dat alle mense homo religiosus is, bedoelende dat alle mense, bewustelik of onbewustelik, op soek is na die aard van die werklikheid waarin hulle leef. Almal worstel met die groot lewensvrae soos, “Wie is ek?”, “Waar kom alles vandaan?”, “Wat is fout met die wêreld?”, “Waarheen is alles oppad?”, “Wat is die dood?”, ens. So ʼn soeke na antwoorde, in eerlikheid en met erns, verskil egter hemelsbreed van godsdienstige tradisie wat nie ondersoek mag word nie of van blinde bygelowigheid wat niks met realiteit te doen het nie.

Die Christelike geloof maak erns met sulke vrae, oor wat ‘waar’ is van die realiteit waarin ons leef. Dit is nie maar net ʼn onnadenkende en naïewe navolg van tradisie of mitiese samevoegsels is nie.  Met respek gesê, jou aanspraak dat jou (ons) Germaanse voorouers Adam en Eva nie geken het nie, maak geen verskil aan wat werklik waar sou wees oor wie God is nie. Ook verhinder dit niemand om die waarheid te vind as hulle met integriteit daarna soek nie. Met ander woorde, of “ons huidige godsdiens” nou ʼn Romeinse invoerproduk is of nie, dit maak dit nie vir daardie rede ongeldig nie. Die waarheid oor iets word tog nie bepaal deur wie daarin glo of hoe dit gekom het dat iemand daarin glo nie, maar dit word bepaal deur redes vir waarom dit waar sou wees.

Winkelsmidt, as jy hierdie korrespondensie as ʼn sinvolle geleentheid kan insien, dan vra ek dat jy gerus met my in gesprek tree sodat ons miskien tot beter begrip van mekaar kan kom. Ek sien daarom uit om weer van jou te hoor.

Goeie wense

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.