Hoekom het God nie oor begin toe Adam gesondig het nie?

Udo,

Indien ons veronderstel dat God alles weet, hoekom ly ek onder die sonde van Adam? Owergesetsynde, toe hy (hulle) gesondig het, hoekom het God nie voor begin nie? Hy kon hulle van die aardbol afgevee het en iemand anders geskep het. Miskien kan ek ook vra: Het hy geweet hulle gaan sondig? Maar my vraag is steeds: Hoekom ly ek vir ander mense se sonde – 1000de jare terug?

Winkelsmidt

 

Winkelsmidt,

Jy vra drie heeltemal verskillende vrae: 1) Hoekom ly alle mense onder/vir Adam se sonde? 2) Het God geweet dat Adam gaan sondig? en 3) Hoekom het God nie oor begin toe Adam gesondig het nie?

As sekere aannames onderliggend aan vrae 2 en 3 geldig is, dan bied logika die antwoord. Een van daardie aannames, soos jy tereg opmerk, is dat God alleswetend is (God ken alle ware stellings – dus ook die waarheid van wat in die toekoms lê). Dus, as God alleswetend is, dan het Hy geweet dat Adam sou sondig en is dit onnodig om te vra hoekom Hy nie oor begin het nie. M.a.w. God het geweet watter faktore sou lei tot die beste moontlike wêreld (vanuit ‘n alleswetende God se perspektief, soos om die nuwe aarde uit die oue te herskep – ons leef dus nie tans in die beste moontlike wêreld nie) selfs al moes dit begin met ‘n wêreld waarin bv. Satan en Adam in sonde sou val. God moes dus geweet het dat daar nie ‘n moontlike wêreld is waarin Adam nie sou sondig en terselfdertyd tot die beste moontlike wêreld kan lei nie.

Wat vraag 1 aanbetref: Ek dink nie ‘n mens ly soseer vir ander se sonde as vir jou eie sonde nie (Rom 5:12). Maar ons beleef wel die gevolge van ander se sonde. En om te vra hoekom ek die gevolge van Adam se sonde beleef, is om te vra hoekom ek in dieselfde wêreld as hy gebore is. Die vraag na die erfsondeleer, oor hoe dit dan gebeur het dat ek met ‘n sondige natuur gebore is omdat Adam gesondig het, lyk my ‘n ander vraag te wees.

Beste groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.