Moderne Besware Teen Die Christelike Geloof

deur Phillip Scheepers

1.1. Inleiding

‘n Eenvoudige lees van die Bybel maak dit baie gou duidelik dat ons sover die Christelike geloof betref besig is met ‘eksklusiewe’ waarheidsaansprake. Ons hoor baie duidelik dat Jesus Homself voorstel as die enigste weg na die Vader (Joh 14:6) en dat ‘elke knie uiteindelik voor Hom sal moet buig’ (Fil 2:5-11) Om hierdie rede het die Kerk van Christus deur die eeue verkondig dat God en die waarheid net volkome geken kan word deur Jesus Christus te volg.

Dit is egter ook baie duidelik dat hierdie oortuiging nie besonder gewild of aanvaarbaar is in die moderne Westerse samelewing nie.

Die gangbare filosofie van ons dag sover dit godsdienstige sake aanbetref kan ons pluralisme noem. Eenvoudig gestel is dit die oortuiging dat alle godsdienste maar net verskillende maniere is om dieselfde doel te bereik en dat die verskille tussen godsdienste uiteindelik maar net oppervlakkig is. Die groot beeld wat oor en oor gebruik word om hierdie oortuiging te illustreer is dié van ‘n berg met verskillende moontlike paaie om die bopunt te bereik. Hiervolgens kan elke individuele godsdiens uiteindelik slegs ‘n relatiewe aanspraak op die waarheid maak. Enige godsdiens of filosofie wat ‘n absolute of eksklusiewe aanspraak op waarheid maak word dikwels sonder meer as arrogant en onverdraagsaam afgemaak. Voordat ek daarop gaan fokus hoe ons met hierdie gedagterigting in gesprek kan gaan sal dit dalk nodig wees om net so bietjie te kyk op watter ‘filosofiese bene’ pluralisme staan.

Hierdie denkrigting het veral twee groot invloede. Hulle is a) die New Age beweging en b) Postmoderne filosofie.

Hoewel baie van hierdie oortuigings nie altyd op amptelike vlak geleer word nie is dit dikwels deel van die kulturele bewussyn van die Westerse samelewing en word dit veral deur die media oorgedra.

Die New Age beweging

Hoewel die sogenaamde ‘New Age’ beweging ‘n verbysterende aantal verskillende vorme aanneem is dit duidelik dat dit in sy essensie Hindoe filosofie is wat vir die Westerse samelewing aangepas is. Hierbinne is die klem daarom nie soseer op die rituele aanbidding van verskillende gode nie, maar op die oortuiging dat die mens uiteindelik deur ‘n reeks reïnkarnasies in die godheid opgeneem kan word. Die feit dat Hindoes glo dat alles god is beteken dat die manier waarop hierdie verligting bereik sal word van persoon tot persoon sal verskil. Om hierdie rede kan ‘n geweldige groot aantal gode sy aan sy in die Hindoe geloof funksioneer sonder dat daar werklik ‘n keuse tussen hulle uitgeoefen hoef te word – hulle is uiteindelik maar net verskillende manifestasies van dieselfde godheid. Hindoe denkrigtings maak (met die moontlike uitsondering van die Hare Krishna’s) daarom nie eksklusiewe aansprake nie en het die standpunt van die gelykheid van godsdienste konsekwent in hulle kontak met die Weste verkondig. Deur middel van die New Age beweging en ander ‘alternatiewe’ godsdienste is baie van die konsepte van die Hindoeïsme in die Westerse bewussyn opgeneem (karma, reïnkarnasie, nirvana, yoga, meditasie ens.). Een van hierdie konsepte was natuurlik die Hindoe siening van die verhouding tussen godsdienste en die aanspraak dat geen godsdiens of denkrigting eksklusiewe aansprake kan maak nie.

Postmodernisme

Postmoderne filosofie is moontlik ‘n onderwerp van bespreking op sy eie en ek kan dus nie in te veel detail daarop ingaan met hierdie bespreking nie. Dit is genoeg om die aandag daarop te vestig dat die opkoms van hierdie filosofie noemenswaardig bygedra het tot die groei van pluralistiese oortuigings. As denkrigting verwerp Postmodernisme die gedagte dat daar iets soos ‘objektiwiteit’ kan wees en dat absolute waarheid bestaan. Die werklikheid waarin elke persoon leef is uiteindelik die ‘waarheid’ vir hom of haar. Hiervolgens is daar dus geen ‘hoër gesag’ waarop die mens hom kan beroep nie. Die ‘storie’ word dus opgemaak en geskryf soos wat ons aangaan. Wat ons onderwerp betref is daar veral een aspek van Postmodernisme wat van belang is. Dit is die verwerping van ‘Meta narratiewe’, eenvoudig gestel ‘groot stories’! Daar is hiervolgens nie enige ‘storie’ wat alle kennis en waarheid kan omvat nie. Die Christendom, Islam, Marxisme, Kapitalisme, en noem maar op; is almal sulke ‘stories’ wat hierdeur verwerp word. Elkeen is welkom om sy eie oortuigings uit te leef en aan sy ‘storie’ vas te hou. Jy het egter nie die reg om te sê dat hierdie ‘storie’ ook waar moet wees vir ander nie.

Dit is veral hierdie twee faktore wat geweldig bygedra het tot die absolute wantroue teenoor ‘eksklusiewe’ uitsprake in ons samelewing. As ons daarom die Goeie Nuus van Jesus Christus verkondig kan ons amper seker wees dat daar sekere ‘refleks’ reaksies sal volg. Ek noem vinnig ‘n paar wat hier bespreek sal word:

  • Christene is so onverdraagsaam!
  • Wie is jy om ander te oordeel?
  • Hoe kan jy ander mense probeer bekeer?
  • As jy in Indië gebore is sou jy ‘n Hindoe gewees het!
  • Maak nie saak wat jy glo nie, wees net opreg!
  • Alle godsdienste is dieselfde!
  • Hoe op aarde kan jy sê dat die Christendom uniek is?

Ek het deurgaans daarop gewys dat ons ‘altyd gereed moet wees om ‘n antwoord te gee aan die wat ‘n verduideliking eis vir die hoop wat in ons lewe’ (1 Pet 3:15). As ons daarom werklik ernstig is daaroor om ons getuienis in hierdie wêreld te lewer is dit baie belangrik dat ons instaat sal wees om met persone wat besware soos hierdie opper in gesprek te gaan. Ek kan egter nie genoeg beklemtoon nie, dat ons houding altyd moet getuig van eerbied en respek nie! Baie van wat in hierdie gedeelte gesê word bou natuurlik op die vorige temas wat in hierdie reeks aangeraak is, ek sal dus aanbeveel dat dit eers goed bestudeer word voordat hierdie sake wat meer op ‘n ‘filosofiese vlak’ lê bestudeer word.

Vervolgens gaan ek dan die genoemde besware een vir een hanteer.

1.2. Christene is so onverdraagsaam!

Verdraagsaamheid is seker een van die hoogste waardes in ons samelewing vandag! Een van die grootste beledigings wat jy trouens vir iemand kan gee is om hom of haar ‘onverdraagsaam’ te noem. In die lig van dit wat hierbo genoem is kan dit seker nie anders as om so te wees nie. As alle paaie dieselfde waarde het en daar nie werklik ‘groot stories’ is nie, is al wat van die mens verwag word om sy eie pad te stap en om die wat op ander paaie stap te verdra sonder om hulle na hom toe te probeer oorhaal! Om dus onverdraagsaam genoem te word is om te hoor dat jy nie deel is van die manier waarop die moderne wêreld oor homself dink nie en dat jy in ‘n sin daarom van die gesprek uitgesluit is.

As Christene moet ons reaksie op hierdie aanklag wat dikwel na ons kant toe kom baie meer as net ‘n ‘Is nie’ wees! Om werklik op hierdie aanklag te kan antwoord moet ons instaat wees om duidelik te verstaan wat die persoon bedoel met verdraagsaamheid en om dan sonder om ‘woordspeletjies’ te speel daarmee in gesprek te gaan.

‘n Eenvoudige definisie van verdraagsaamheid sou seker wees om met dit waarmee jy nie saamstem nie saam te leef. Webster’s Dictionary definieer toleration as volg: “Tolerance with respect to the actions and beliefs of others: “Toleration… is the greatest gift of the mind” (Helen Keller). Official recognition of the rights of individuals and groups to hold dissenting opinions, especially on religion.”

Om verdraagsaam te wees beteken dus noodwendig dat daar iets moet wees wat jy besig is om te verdra waarvan jy nie hou nie, of waarmee jy nie saamstem nie. Dit is om hierdie rede dat ons byvoorbeeld nooit hoor van iemand wat Hagen Dasz roomys of biltong verdra nie! Verdraagsaamheid beteken dus juis nie om met almal saam te stem nie.

Dit is egter glad nie die definisie van verdraagsaamheid wat deur die moderne wêreld aan ons verkoop word nie. Vir die pluralis beteken onverdraagsaamheid eerder: “Die gebrek om op elke punt te dink soos ek” Dit is asof hierdie persoon voel dat hy of sy instaat is om as’t ware buite die gesprek te gaan staan, ander se standpunte te oordeel, en enigeiets wat nie daarmee saamstem nie as onverdraagsaam te beoordeel. Die implikasie hiervan is: “As jy verander en begin dink soos ek sal ek jou aanvaar, indien nie sal ek jou as onverdraagsaam beskou”. Hierdie houding kom gooi natuurlik die hele konsep van verdraagsaamheid op sy kop en kom maak dit belaglik!

Ons moet dit dus onomwonde stel: Verdraagsaamheid beteken nie om die standpunt van ander persone volledig aan te neem nie! As dit so was sou ons tog nie nodig gehad het om verdraagsaam te wees nie, ons sou eerder oor alles saamgestem het! ‘n Eenvoudige vraag aan iemand wat die Christendom van onverdraagsaamheid beskuldig kan dus wees: “Verdra jy my standpunt en erken jy my reg om hierdie standpunt te huldig?” Die skoen kan dus baie duidelik ook aan die ander voet geplaas word! As die pluralis almal wat ‘n eksklusiewe standpunt huldig veroordeel en probeer verander is hy of sy net so hard besig om ‘onverdraagsaam’ te wees wees en dogmatiese posisies in te neem as dié wat daarvan beskuldig word!

1.3. Wie is jy om oor ander te oordeel?

Die een konsep wat dikwels hand aan hand met die beskuldiging van onverdraagsaamheid gaan is die feit dat Christene as veroordelend gesien word. Christene wat daarna streef om die Goeie Nuus te verkondig sal dikwels moet aanhoor dat hulle pogings om ander mense tot hulle geloof ‘oor te haal’ op ‘n manier ‘n negatiewe oordeel oor die ander persoon verteenwoordig.   Ons moet ook dikwels hoor dat ons liewer nie moet oordeel nie sodat daar nie oor ons geoordeel sal word nie.   Aangesien hierdie beswaar dikwels met baie emosie saamgaan is dit soms baie moeilik om dit te hanteer. Dit is soos met die ander besware wat hier genoem word dat die woord (oordeel) wat gebruik word amper enige verdere gesprek onmoontlik maak aangesien die Christen alreeds in ‘n sin tot onaanvaarbare gedrag verdoem is. Dit is juis in hierdie feit dat die suksesvolle hantering van hierdie beswaar gesetel is.

Dis is duidelik dat persone wat die Christelike geloof aanval dikwels ‘n dubbele woordeskat het. Net soos wat hulle ‘nie aanvaarding’ van Christene se standpunte in hulle oë nie onverdraagsaamheid is nie, is hulle negatiewe beslissing oor die Christelike geloof en Christene se optrede nie ‘n oordeel nie! Dit is egter duidelik dat as oordeel beteken om tot ‘n negatiewe gevolgtrekking te kom dit presies is wat hulle besig is om te doen. Ons taak in ‘n gesprek soos hierdie is dus om dié dubbele standaarde wat dikwels heers te identifiseer en uit te daag! Eenvoudig gestel beteken dit om te vra: “Wat maak jou verwerping van, en negatiewe houding teenoor, my geloofsisteem anders as dit waarvan jy my beskuldig?” As ons gelyke gespreksgenote is moet ons tog dieselfde ‘regte’ hê as die ander persoon!

Dit is dalk belangrik om net so bietjie dieper op die hele kwessie van oordeel in te gaan. Is ons as Christene geroep om uiteindelik maar net alles wat oor ons pad kom te aanvaar sodat ons nie daarvan beskuldig kan word dat ons oordeel nie? Ek dink die werklikheid wys baie duidelik vir ons uit dat dit nie die geval kan wees nie. Daar is tog sekere dinge wat as onwaar of selfs ‘boos’ geïdentifiseer kan en moet word. As die ‘moenie oordeel’ oproep konsekwent toegepas word sou dit tog beteken dat die res van die wêreld niks te sê gehad het op wat Hitler besig was om te doen nie. Dit sou uiteindelik maar daartoe lei dat die status quo sonder enige vrae aanvaar moet word. Dit is duidelik dat hierdie nie ‘n model is waarvolgens die wêreld kan funksioneer nie. Mense sien tog daagliks dinge raak wat hulle glo kan en moet verander, en spreek dit dan aan. Dit is ironies genoeg presies wat gebeur as die Christen oor sy ‘veroordeling’ aangespreek word. As Christene word ons trouens baie duidelik opgeroep om God se waarhede en die beginsels van Sy Koninkryk in hierdie wêreld toe te pas. Dit vereis tog noodwendig sekere beslissings van ons! Die houding waarop ons dit doen is egter van kardinale belang. Paulus roep ons in Efesiërs 4:15 op om in liefde by die waarheid te bly. Die waarheid staan vas en ons mag nie kompromieë aangaan wat dit betref nie, die houding waarmee ons egter by die waarheid staan en waarop ons dit kommunikeer moet egter baie duidelik getuig van wié ons dien.

Iets wat ons baie moet hoor is dat Jesus self gesê het: ‘Moenie oordeel nie, sodat daar nie oor julle geoordeel word nie’ (Matt 7:1) Dit is egter duidelik dat hierdie gedeelte verwys na valse skynheilige vergelykings met ander mense (Iets waaraan ons tot ons skaamte sekerlik moet erken baie Christene skuldig is). Hierdie gedeelte verbied of verhoed ons egter glad nie om na hierdie wêreld te kyk en tot sekere gevolgtrekkings daaroor te kom nie. Jesus sou self later na ander mense as ‘wolwe in skaapsklere’ verwys (7:15)! Jesus het dit dus in Matteus 7:1 eerder teen morele meerderwaardigheid as teen ‘n eerlike evaluering van mense en ook geloofsisteme. Die manier waarop ons moet ‘oordeel’ moet dus getuig van ons eie swakheid, God se liefde en die waarheid. Jesus self sê hieroor: “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig” (Johannes 7:24).

1.4. Wie is jy om ander mense te probeer bekeer?

Daar is seker min woorde wat die emosies so gaande maak as bekering! ‘n Logiese gevolg van die oortuiging dat alle aansprake op waarheid ewe geldig is, is dat mense glo dat dit daarom hoegenaamd nie nodig is om van jou oortuigings te verander nie. Dit lei net tot onnodige emosionele probleme en spanning. Iemand wat dus mense probeer bekeer doen volgens hierdie oortuiging baie meer skade as goed.   As Christene kan ons hierdie oortuiging op verskillende maniere aanspreek.

In die eerste plek verraai hierdie siening in ‘n sin ‘n weiering om aan ander mense dieselfde ‘regte’ toe te ken as wat jy vir jouself gun. Baie min mense word gebore met ‘n reeds gevestigde pluralistiese wêreldbeeld. Deur sekere gebeure, boeke of gesprekke het sekere mense egter al hoe meer oortuig geword van hierdie standpunt. As hulle dit egter bereik het, glo baie van hulle egter dat ander mense nie mag ‘verander’ deur ander oortuigings aan te neem nie (Tensy hulle natuurlik die pluralistiese ‘evangelie’ wil aanneem!).

Een van die sleuteloortuigings van die kerk en iets wat veral in die Gereformeerde kerke sterk klem ontvang is die oortuiging dat bekering iets is wat nie van die mens afhang nie. Dit is aan die einde van die dag slegs God wat kan ‘bekeer’. Verseker gebruik Hy mense in hierdie proses. Ons taak is egter slegs om die Evangelie te verkondig en dan die resultate aan Hom oor te laat! Om die Evangelie te verkondig beteken daarom nie om allerhande reseppies te gebruik of om druk op mense te plaas nie. Dit beteken wel om getuies te wees van God se ongelooflike genade in Christus en dit met die wêreld te deel. Probeer ons mense bekeer? Nee! Ons getuig slegs van die heerlikheid van God – bekering is (met alle respek gesê) Sy werk!

Laastens sal dit interessant wees as ons weereens net die dubbele standaarde wat hier ter sprake is kan uitwys. Die pluralis verwag van my om van my diepste godsdienstige oortuigings afstand te doen! Om te verander om by hom aan te pas, en om baie van wat ek as ‘waar’ beskou by die agterdeur uit te gooi. As ek hom probeer oortuig word ek daarvan beskuldig dat ek hom probeer bekeer. Wat word dit egter genoem as hy of sy my egter oproep om die kern van my geloof agter te laat en hoekom is dit anders?

1.5. As jy in Indië gebore was, was jy ‘n Hindoe!

Mense wat ‘n pluralistiese siening aanhang is dikwels baie lief daarvoor om daarop te wys dat die godsdiens wat mense aanhang dikwels baie meer te doen het met waar hulle gebore is as met enige persoonlike oortuigings of insigte. Hierdie feit word dan dikwels geïllustreer met ‘n stelling soos: “As jy in Indië gebore was, was jy ‘n Hindoe!” As die pluralis egter dink dat hierdie stelling die einde van alle gesprek beteken sal hy of sy egter baie gou agterkom dat ‘n stelling soos hierdie baie meer interresante vrae (ook vir homself) opper as wat dit beantwoord.

Dit is altyd baie amuserend om te sien hoe mense stellings kan maak sonder om te besef dat hulle self ook deur die stelling geraak word. As die stelling: “As jy in Indië gebore was, was jy ‘n Hindoe” waar is, is dit net so waar vir die persoon wat die stelling maak as vir die een op wie dit gerig is! Dit beteken dat as die persoon wat hierdie stelling gemaak het in Saudi Arabië gebore was, hy of sy nie ‘n oortuigde pluralis sou gewees het nie; maar tien teen een ‘n baie oortuigde Moslem wat enige sweempie van pluralisme sou verwerp. Die feit dat iemand pluralisme kan aanhang is net so afhanklik van die feit dat hy of sy in ‘n moderne en grootliks sekulêre samelewing grootgeword het as wat die Christen se herkoms moontlik is!

Die vraag is natuurlik ook of iemand se herkoms sonder meer gebruik kan word as ‘n verskoning om nie ernstig te dink oor die kwessie van die lewe en oor verskillende waarheidsaansprake nie.   Selfs die pluralis sou tog met afgryse reageer as iemand na hom of haar toe kom met die stelling dat hy in Nazi Duitsland grootgeword het en dat hy daarom nie anders kan as om te stry vir die uitwissing van alle Jode nie! Groei vind tog juis plaas wanneer iemand die ootuigings waarmee hy of sy grootgeword het ondersoek en uitdaag. Die meeste oortuigde Christene sal trouens daarop aanspraak maak dat hulle juis nie maar net alles wat hulle kultuur en opvoeding hulle geleer het aanvaar het nie maar na iets meer gesoek het. Hierdie ‘iets meer’ het hulle in ‘n verhouding met Jesus Christus as Here en Verlosser gevind.

Dit is laastens baie belangrik om daarop te wys dat oortuigings nie maar net iets is wat staties bly dwarsdeur ‘n mense se lewe nie. Miljoene mense verander jaarliks hulle oortuigings. Hierdie veranderinge wissel van watter soort tandepaste die beste is, tot watter politieke party ondersteun moet word en selfs tot die totale verandering van ‘n geloofsisteem of godsdiens. Die interessante is dat die godsdiens wat die meeste by hierdie veranderings (of bekerings) baat vind die Christendom is[1]. In byna elke land in die wêreld keer groot getalle mense elke jaar hulle rug op ander ideologieë, filosofieë en godsdienste en begin om Christus te volg!

1.6. Maak nie saak wat jy glo nie, solank jy net opreg is!

Dit is duidelik dat waarheid in die moderne era deur opregtheid vervang is as die hoogste godsdienstige waarde. Wat jy glo is nie besonder belangrik nie, solank jy dit net opreg glo! Die slegte nuus vir iemand wat hieraan vashou is dat dit natuurlik ook moontlik is om opreg verkeerd te wees! Ek kan besonder opreg glo dat ek kan vlieg, as ek egter van ‘n gebou afspring gaan presies dieselfde met my gebeur as met die persoon wat dit nie glo nie! Opregtheid is daarom in baie opsigte ‘n wonderlike deug, dit mag egter nooit verhef word tot die finale toets vir geloofsisteme nie.

1.7. Alle godsdienste is dieselfde

Aan die begin het ek genoem dat een van die sleuteloortuigings van die pluralisme is dat alle godsdienste dieselfde is en dat geen godsdiens eksklusiewe aansprake kan of mag maak nie. Stellings soos hierdie word dikwels duidelik gemaak as daar oor die verhouding tussen verskillende godsdienste gepraat word. Baie min mense het egter al oor die implikasies en bewyse vir ‘n aanspraak soos hierdie gedink.

Dit is duidelik dat daar diepgaande en wedersyds uitsluitende verskille tussen godsdienste is. Die Christendom leer dat die kruis van Christus die sentrale aspek van God se verlossingsplan is, Islam leer (Quran 4:156) dat die kruisiging glad nie plaasgevind is nie. Hoe versoen jy hierdie twee standpunte en verklaar dat altwee godsdienste eintlik maar dieselfde leer? Hierdie is maar net een voorbeeld van die talle diepgaande verskille tussen godsdienste wat deur die pluralis wegverduidelik of verklaar moet word. Die volgende tabel illustreer wat die moontlike antwoorde sou wees as dieselfde vrae aan ‘n Christen, Moslem en Hindoe gevra word:

Christen Moslem Hindoe
Wie is God? God is een en ons ken Hom as Vader, Seun en Heilige Gees. God is een – die leer van die Drie-eenheid is godslasterlik Daar is miljoene gode wat elkeen iets van die godheid demonstreer.
Hoe word mens gered? Uit genade deur geloof – op grond van Jesus se kruisdood Deur goeie werke – veral die 5 pillare van Islam Deur eindelose inkarnasies
Wie is Jesus? Die Seun van God en self God ‘n Profeet. Defnitief nie goddelik nie Moontlik een van die gode
Wat is die belang van die kruis? Die sentrale element van God se verlossingsplan Die kruis het nooit gebeur nie ‘n Simbool van die oorwinning van goed oor kwaad
Wie is die mens? Geskep in die beeld van God maar in sonde gebore Skepsel van God – word rein gebore Menswees is ‘n illusie

Die persoon wat dus wil beweer dat alle godsdienste eintlik maar dieselfde is, maak by implikasie ook die aanspraak dat hy die verskillende godsdienste van die wêreld beter verstaan as die gelowiges van daardie godsdienste, wat besef dat daar wel diep verskille tussen die godsdienste is en dat hulle almal (op ‘n manier) eksklusiewe waarheidsaansprake maak. So ‘n aanspraak is om die minste te sê uiters arrogant!

Miskien lê die groter kwessie eerder by die rede waarom hierdie stelling gemaak word. Dikwels sal iemand iets soos hierdie sê omdat hy of sy wil hê dat dit moet waar wees! Dit pas dan so goed in by die pluralistiese visie van die wêreld! Dit is egter net jammer dat hierdie visie nie deur die werklikheid ondersteun word nie.

1.8. Hoe kan jy sê dat die Christendom uniek is?

As dit dan so is dat alle godsdienste nie maar net dieselfde is nie,is die vraag natuurlik hoekom ons as Christene die aanspraak maak dat die Christendom uniek is. Baie van die kwessies hier rondom is natuurlik in vorige gedeeltes beantwoord. Dit sal egter dalk goed wees as ons net vir ‘n oomblikke indringend na hierdie vraag kan kyk en wel op ‘n manier wat vir ons instaat sal stel om dit aan iemand anders te kan verduidelik.

Dis is duidelik dat as ‘n klomp filosofieë dieselfde aansprake maak ons sal moet soek na die een wat waar is. Uiteindelik sal die regte een ook die unieke een wees, net soos wat vervalsings opgespoor kan word deur te bepaal waar dit van die unieke eienskappe van die egte artikel verskil.

As ons hierdie beginsel op die godsdienste van die wêreld gaan toepas is dit baie duidelik dat elke godsdiens op ‘n manier iets ervaar van die verwydering wat daar tussen God en die mens ingetree het[2]. Elkeen probeer dan ook op sy eie manier hierdie gaping oorbrug. Dit word veral gedoen deur sekere dinge wat die gelowiges van die verskillende godsdienste moet doen om met God (of die gode) versoen te raak. In Islam is dit die 5 pilare wat nagevolg moet word, Jode moet die Talmud gehoorsaam, Boedhiste moet die agtvoudige pad volg, Hindoes moet die regte offers bring of die regte rituele doen; en so kan ons aangaan. Wat egter soos ‘n paal bo water staan is dat die godsdienste van die wêreld elkeen ‘n manier voorstel waarop die mens deur sy eie pogings met God (of die gode) versoen kan word.   Ons kan dit soos volg grafies voorstel:

Die Evangelie van Jesus Christus is egter uniek deurdat dit die beweging omkeer. In plaas daarvan dat die mens deur sy eie pogings moer probeer om vir God tevrede te stel is dit God wat in Sy genade na die mens toe uitreik. Op hierdie manier gee die Christelike Evangelie ‘n harde en duidelike antwoord op die ervaring van die mens dat dit onmoontlik is om jouself te red. Hierdie waarheid word uitstekend saamgevat in die ou Negro Spritiual wat sê: “He came down to my level when I couldn’t get up to His!” Dit is die wonder van die Evangelie en dit is wat dit uniek maak tussen die ‘verlossings’boodskappe van hierdie wêreld. Dit is inderdaad ‘Goeie Nuus’ vir hierdie wêreld. ‘n Boodskap van genade, van liefde en van God se ewige sorg. Mag Hy vir ons as kerk die genade gee om die waarheid van Immanuel (God met ons) in hierdie wêreld uit te leef en te verkondig.

Ons kan bogenoemde diagram aan die hand van Filippense 2:5-11 soos volg aanpas:

1.9. Slot

Hierdie is maar enkele van die besware teen die verkondiging van die Evangelie wat ons dalk sal teëkom. Dit is my opregte gebed dat die Here die gedagtes wat hier genoem is tot Sy eer sal gebruik. Mag Hy vir elkeen van ons die genade gee om Sy ligdraers in ‘n donker wêreld te wees.

Verdere leeswerk:

Beckwith, F and Koukl, G. 1998 Relativism: Feet firmly planted in Mid-Air Grand Rapids; Baker Book House

Carson, DA 1996 The Gagging of God – Christianity confronts pluralism Grand Rapids; Zondervan

Copan, P 1998 True for you but not for me. Minneapolis: Bethany

Zacharias, R 2000 Jesus among other gods Word: Nashville


[1] Islam groei wel effens vinniger as die Christendom. Dit is egter hoofsaaklik deur biologiese groei.

[2] Hoewel dit buite die veld van hierdie bespreking val is dit interresant om daarop te let dat Budhisme aanvanklik nie ‘n godheid erken het nie – hierbinne moes die strewe eerder wees om vry te word van enige begeertes en om so in die niksheid (Nirvana) opgeneem te word. Uiteindelik het Budhisme egter tog grootliks langs teïstiese lyne ontwikkel deurdat verskillende Budhistiese kulture sekere gode vereer.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.