Philip Pullman en ‘The Golden Compass’

Die wêreld agter die venster teenoor die wêreld in die hangkas

deur Phillip Scheepers

Hier is ’n vinnige toets vir jou kennis van moderne jeugliteratuur: Een van die bekendste reekse vir kinders is geskryf deur ’n inwoner van Oxford. Dit beskryf, onder andere, die avonture van ’n meisie wat in ’n hangkas wegkruip en daardeur die eerste treetjie gee op ’n ontdekkingstog, wat die verkenning van wêrelde anders as ons eie insluit.

Baie geluk as jy onmiddellik aan The Chronicles of Narnia deur CS Lewis gedink het. Jy kan jouself egter ook op die skouer klop indien bogenoemde vir jou soos ’n beskrywing van His Dark Materials van Philip Pullman geklink het. Dit is nogal, in die lig van wat in die res van hierdie artikel gaan volg, verstommend om te sien hoe hierdie twee reekse opsigtelik ooreenstem.

Ek vermoed egter dat daar ongelukkig heelwat meer dinge is wat dit van mekaar onderskei as wat dit saambind. Die vernaamste hiervan is seker dat die skrywer van die tweede reeks (Philip Pullman) die eersgenoemde een met alles in hom verag. Pullman maak geen geheim daarvan dat hy dit sou verkies het dat die Narnia boeke nooit verskyn het nie en dat ouers dit liewers so ver as moontlik van hulle kinders moet hou nie. Nogal ’n interessante perspektief vir iemand wat op rekord is dat hy graag alles in sy vermoë wil doen om ’n leeskultuur onder kinders te bevorder!

Die redes vir die weersin waarmee Pullman die Narnia boeke bejeën lê op verskeie vlakke en word goed saamgevat deur die volgende aanhaling (daar is terloops verskeie soortgelykes):

To solve a narrative problem by killing one of your characters is something many authors have done at one time or another. To slaughter the lot of them (die kinders wat die ‘helde’ van die Narnia verhale is, sterf in die laaste boek in ’n treinongeluk), and then claim they’re better off, is not honest storytelling: it’s propaganda in the service of a life-hating ideology. But that’s par for the course. Death is better than life; boys are better than girls; light-coloured people are better than dark-coloured people; and so on. There is no shortage of such nauseating drivel in Narnia, if you can face it.” (Philip Pullman in The Guardian)

Aan die hand van bogenoemde, en ook uit die res van Pullman se tirades teen Narnia, kan ons die redes vir Pullman se radikale anti-Narnia posisie soos volg opsom:

  • Dit is ‘propaganda’ vir ’n ‘ideologie’ (die Christelike geloof)
  • Dit vier die dood eerder as die lewe
  • Dit is rassisties
  • Dit plaas seuns/mans op ’n hoër vlak as meisies/vrouens
  • Dit verheerlik geweld

Nogal ’n gewigtige klagstaat teen van die gewildste kinderboeke van alle tye! Die vraag is egter hoekom ons as Christene hoegenaamd besorg hoef te wees hieroor? Die antwoord is eenvoudig. Ek is oortuig dat die Narnia boeke nie net bo al hierdie aantygings uitstyg nie, maar dat dit ook een van die min dinge in die populêre kultuur is wat onbeskaamd ’n Christelike wêreldbeeld aan mense voorstel (In hierdie sin is Pullman se eerste aanklag seker die enigste een wat ’n bietjie water hou!). Dit is dus in die oë van baie ateïste ’n “pocket of resistance” wat so gou as moontlik verwyder moet word. Dit is om hierdie rede dat ek voel dat dit belangrik is om op te staan en die Narnia boeke teen Pullman se aantygings te verdedig. Ek glo daar is baie mense in hierdie wêreld wat op een of ander manier oper was vir boodskap van Evangelie omdat hulle Narnia as kinders gelees het as wat dalk andersins die geval sou wees. Ek gaan dus met hierdie artikel probeer om kortliks op Pullman se besware te antwoord en om die kontras tussen die wêreldbeelde wat ons in Narnia en His Dark Materials vind, te skets. Voordat ek dit doen sal dit dalk goed wees om so bietjie agtergrond oor die Narnia boeke te gee vir dié wat dit dalk glad nie as kinders gelees het nie.

’n Mens sou nie verwag dat van die mees gewilde kinderboeke van alle tye geskryf sou kon word deur ’n oujongkêrel professor, wat tot laat in sy lewe bitter min voortdurende kontak met kinders gehad het nie. Dit is egter presies wat met The Chronicles of Narnia gebeur het. Dit is geskryf deur Clive Staples (alom bekend as ‘CS’) Lewis, ’n Oxford professor in “Medieval and Renaissance Literature”. Bitter min in Lewis se vroeëre loopbaan het daarop gedui dat hy later vir sy kinderboeke, meer as enige iets anders, beroemd sou wees. Teen die tyd wat Lewis begin het om die Narnia boeke te skryf was hy alreeds baie bekend as een van die mees uitgesproke en briljante verdedigers van die Christelike geloof (sy boeke o.a. Mere Christianity en The Problem of Pain het op hierdie stadium al reeds honderdduisende kopieë verkoop) asook as een van die voorste lewende kenners van Middeleeuse literatuur in die wêreld. Hy het egter op ’n dag besluit om ’n storie te skryf om ‘vleis te gee’ aan ’n beeld wat in sy kop bly spook het, dié van ’n bosgod (faun) wat deur die sneeu stap met ’n klompie pakkies in sy arms. So is die eerste, en sekerlik ook die bekendste, van die Narnia stories naamlik, The Lion, the Witch and the Wardrobe gebore. Die storie handel oor vier kinders uit een gesin (twee broers en twee susters met die van Pevensie) wat tydens die oorlog Londen moet verlaat om op die platteland te gaan woon. Hulle word ingeneem deur ’n ou professor met ’n reusagtige huis. Terwyl hulle eendag in die huis speel kruip die jongste dogter (Lucy) in ’n ou hangkas weg waarin sy ’n hele nuwe wêreld ontdek. Sy stap Narnia vanuit die kas binne en ontmoet onmiddellik die bosgod wat Lewis in sy geestesoog gesien het (Mr. Tamnus). By hom leer sy dat Narnia in die greep van ’n bose heks (The White Witch) is wat seker maak dat dit altyd winter bly en wat almal wat haar opponeer in klip verander. Lucy se broers en susters kom uiteindelik saam met haar Narnia binne. Hulle leer baie gou dat Narnia nie altyd onder die beheer van die White Witch was nie, maar dat dit eintlik geskep is deur Aslan die Leeu en dat Hy uiteindelik sal terugkom om Narnia te bevry. Intussen verraai een van die kinders (Edmund) die ander en ook vir Aslan in ruil vir ’n bietjie Turkish Delight deurdat hy vir die White Witch alles van Aslan se planne teen haar vertel. Om ’n lang storie kort te maak kan Aslan uiteindelik slegs die oorwinning behaal deur sy lewe in ruil vir dié van Edmund te gee. Hy word wreed deur die heks en haar trawante vermoor maar die kliptafel waarop sy lyk vasgebind is kan hom nie hou nie, hy staan triomfantelik uit die dood op en verslaan die heks in ’n reuse veldslag. Die boek eindig met die kinders wat die opdrag kry om oor Narnia te regeer, dit doen hulle vir baie jare totdat hulle eendag weer deur die hangkas stap en vind dat hulle weer kinders geword het!

The Lion, the Witch and the Wardrobe is gevolg deur nog ses ander boeke (waarvan een, The Magician’s Nephew, kronologies voor dit afspeel) wat saam die Narnia reeks uitmaak. Die een ding wat elkeen in gemeen het is die feit dat dit in, of naby, Narnia plaasvind en dat Aslan telkens ’n sentrale karakter is. Ons kry dwarsdeur die reeks die beeld van ’n plek waar reg en geregtigheid, maar ook genade, voorop staan. (Die eerste woorde wat ons in Narnia hoor is: “Goodness, gracious me!” gesê deur Mr. Tamnus). Dit is duidelik wie die bron daarvan is: Aslan. Hy is die een wat Narnia geskep het, wat steeds daarvoor sorg en wat die inwoners van Narnia telkens tot hoër waardes en toewyding aan hom oproep.

Die Narnia boeke kan natuurlik op verskillende vlakke gelees word. In die eerste plek is dit natuurlik uitstekende kinderliteratuur wat besig is om ’n baie goeie storie te vertel. In die tweede plek dwing dit elke leser om so bietjie na te dink oor ons eie wêreld en werklikheid, aangesien Lewis se uitbeelding van Narnia ons dwing om vergelykings te tref met dit wat ons elke dag rondom ons sien. Daar is egter ook ’n derde vlak, en dit is natuurlik die een waarmee Philip Pullman soveel probleme het: die Narnia boeke is so deurspek van Bybelse beelde en konsepte dat dit ook vir ons iets van die Christelike geloof vertel.

Dit is miskien die moeite werd om so ‘n bietjie stil te staan by die manier waarop die Narnia boeke as ‘Christelik’ beskou kan word. Ek dink die belangrikste ding wat ons in hierdie verband moet besef is dat die Narnia boeke nie in die eerste plek as ’n stuk suiwer allegorie gesien moet word nie. Ons moet die boeke met ander woorde nie lees met die gedagte dat ons vir elke ding ’n allegoriese betekenis in ons eie wêreld moet soek nie. Om dit te doen gaan uiteindelik ons lees van die boeke vervlak tot niks minder as die oplos van leidrade oor die ‘ware betekenis’ van alles wat ons teëkom nie. CS Lewis het met die skryf van Narnia ’n baie meer omvattende projek aangepak as om bloot ’n paar Bybelse waarhede in allegoriese vorm aan te bied. Hy wou nadink oor hoe dit sou wees as die Evangelie in ’n totaal ander wêreld as ons eie moes tuiskom. Hy het hieroor gesê: “…[Aslan] is an invention giving an imaginary answer to the question ‘What might Christ become like if there really were a world like Narnia and He chose to be incarnate and die and rise again in that world as He actually has done in ours?” Lewis het hierdie benadering in die eerste plek as ’n manier om ’n goeie storie te vertel gebruik, maar ook om mense in ’n sekere sin te ‘dwing’ om op ’n dieper manier na te dink oor hoe dit lyk wanneer die Evangelie in ons lewens begin werk.

Ek glo dat dit juis op die vlak van ‘supposing’ (die woord wat Lewis vir bogenoemde benadering gegee het) is dat die Narnia boeke hulle grootste impak maak. Dit bied sekere kernwaarhede van die Christelike geloof uiters effektief aan op ’n manier wat deur mense se skanse van oorbekendheid (met die feite van die Evangelie) of weerstand kan breek. Die Narnia boeke kan dus as ’n baie effektiewe stuk pre-evangelisasie gesien word. Bitter min mense sal seker die Evangelie aanneem omdat hulle oor Aslan lees. Ek wil egter herhaal dat ek oortuig is dat om oor Aslan te lees baie mense dalk later in hulle lewens baie meer ‘oop’ sal laat om diep oor die Evangelie na te dink. Geen wonder Philip Pullman is nie te beïndruk daarmee nie!

CS Lewis is natuurlik ongelukkig nie meer met ons om homself teen Pullman se aantygings te verdedig nie (hy het op dieselfde dag as die sluipmoord op President Kennedy gesterf). Ek dink egter ons kan met redelike groot sekerheid sê dat hy nie te hard sou sukkel om dit te doen nie, hy was per slot van rekening iemand wat nie eers bang was om die duiwel self se argumente so bietjie dieper te ontleed nie! (Sien The Screwtape Letters) In sy afwesigheid sal ek my bes probeer om die ‘saak vir die verdediging’ op te neem, voordat ek probeer om Narnia en His dark materials met mekaar te vergelyk. Kom ons kyk eers na ’n paar van Pullman se vernaamste beskuldigings voordat ons so ’n bietjie dieper delf:

  • Narnia is propaganda in diens van ’n sekere ‘ideologie.’ Ek vermoed dat CS Lewis se antwoord op hierdie aanklag sou wees dat die Narnia boeke primêr as goeie stories bedoel is en so gelees moet word. Lewis het dit nie in die eerste plek geskryf as pamflette oor sy eie geloofsoortuigings nie. Dit was natuurlik egter onvermydelik dat sy diepste oortuigings sterk na vore sou tree in hierdie boeke wat op so ’n diep manier met die aard van die werklikheid omgaan. Dat die Narnia boeke as ‘Christelik’ gesien kan word, is dus in ’n sekere sin bloot ’n refleksie op wie Lewis was. Moet ons dan werklik van iemand verwag om ’n deel van wie hy is by die deur te los wanneer hy die pen opneem? Meer belangrik, hoekom pas Pullman nie hierdie selfde standaard op homself toe nie? Hy is tog baie duidelik daaroor dat ten minste deel van sy motivering by die skryf van His Dark Materials was om sy ongeloof met die wêreld te deel. Wat maak van dit wat hy gedoen het minder ‘propaganda’ as dit waarvan hy vir Lewis beskuldig het? Is Lewis se enigste ‘misdaad’ in hierdie verband nie dalk dat hy dit wat Pullman haat, liefgehad het nie? Pullman is sekerlik geregtig op sy opinie, die feit dat daar mense is wat daarvan verskil, maak egter nie outomaties van hulle propagandiste nie!
  • Narnia is seksisties en rassisties. Hierdie twee aantygings van Pullman skep die indruk dat hy sy saak probeer sterk deur Narnia by te kom op ’n manier wat sal seker maak dat dit amper outomaties in ons ‘polities korrekte’ tye, opsygestoot sal word. Die ‘probleem’ is egter dat jy bloot Narnia hoef te lees om te sien hoe belaglik hierdie beskuldigings is. Dit is darem ’n vreemde tipe ‘seksisme’ wat van ’n meisie (Lucy) die ‘model dissipel’ en van ’n seun (Edmund) die een wat die verste van Aslan probeer weghardloop maak! As daar verder rassisme in Narnia teenwoordig is, is dit skynbaar teen blankes aangesien die grootste booswig in die boeke die “White Witch” is!
  • Narnia verheerlik geweld. In His dark materials sien ons reuse veldslae, verskeie moorde en word van die karakters op die aller verskriklikste maniere gemartel. Ten spyte hiervan dink Philip Pullman dit steeds goed om die Narnia boeke van ’n verheerliking van geweld te beskuldig. Die feit is egter dat hoewel daar verskeie veldslae in die Narnia boeke is (dit is per slot van rekening ’n fantasieverhaal wat, onder andere, handel oor die verowering van koninkryke), geweld nooit voorgestel word as ’n ideaal om na te jaag nie. CS Lewis het in die loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog die gruwels van oorlog eerstehands aanskou en het daarom vir die res van sy lewe ’n afsku in geweld as ’n vorm van magsvertoon gehad. Hy was beslis nie ’n absolute pasifis nie, maar het baie duidelik geleer dat wapengeweld altyd die allerlaaste uitweg moes wees. Om hierdie rede het Lewis geweld konsekwent uitgebeeld as ’n euwel waartoe die mensdom hom soms moet wend en nooit iets waarin enige iemand heerlikheid moet soek nie. As die oudste van die Pevensie-kinders met die heks se ‘polisiehoof’, die wolf Maugrim, baklei en hom verslaan word dit beswaarlik as ’n glorieryke oorwinning geteken: “Peter did not feel very brave; he felt he was going to be sick. But that made no difference to what he had to do….Then came a horrible confused moment like something in a nightmare. He was tugging and pulling and the Wolf seemed neither alive nor dead and its bared teeth knocked against his forehead, and everything was blood and heat and hair. ’n Realistiese prentjie van watter nagmerrie selfs ‘nodige’ geweld kan wees? Beslis. ’n Verheerliking daarvan? Beslis nie!

Ek glo dat dit uit bogenoemde duidelik is dat baie van die besware van Philip Pullman teen die Narnia boeke, nie water hou nie. Wat egter wel soos ’n paal bo water staan is dat hierdie twee reekse (His Dark Materials en The Chronicles of Narnia) vir ons twee totaal verskillende visies op die werklikheid bied. Die kontras tussen hulle kan trouens opsigself as ’n goeie opsomming van die verskille tussen ’n Christelike en ’n Ateïstiese wêreldbeeld dien. Meer as dit, ek glo dat die lees van die Narnia boeke die perfekte teenmiddel is vir van die dinge wat Pullman in His Dark Materials kwytraak (hoewel Pullman dit natuurlik andersom bedoel het)! In die res van hierdie artikel gaan ek daarom so ‘n bietjie die wêreldbeelde van hierdie twee reekse met mekaar vergelyk en ook probeer verduidelik hoekom ek vir die een wat ons in Narnia vind kies.

Deep(er) magic” teenoor die waarheid opmaak soos ons aangaan.

His Dark Materials is ’n reeks boeke waarin daar bitter min verbintenis (van mense aan mekaar, of die wêreld) is. Die karakters word op verskillende maniere saamgegooi in ’n stryd teen die Authority sonder om skynbaar werklik te weet wat om in sy plek daar te stel. Die “Republic of heaven” word wel genoem, maar wat dit uiteindelik beteken word nie uitgespel nie. Op die vraag oor hoe mense moet leef, sou ons trouens ’n hele paar teenstrydige antwoorde uit die bladsye van His Dark Materials kan aantoon. In hierdie sin het Pullman ’n goeie beeld geskep van ’n wêreld waarin waarheid relatief is en moraliteit maar neerkom op persoonlike voorkeure. So ’n wêreld lyk dalk goed op papier (dink net, totale vryheid!) maar is onwerkbaar in die praktyk. Ek vermoed dat elkeen van ons in absolute waarheid sal glo as ons onskuldig van moord aangekla word en besig is om getuienis te lewer om ons onskuld te probeer bewys! Iewers moet daar ’n fondament van waarheid wees waarop ons ons lewens kan bou. Ons kan dit nie maar opmaak soos ons aangaan nie. As Christene glo ons dat hierdie waarheid in God se Woord gevind kan word en dat Sy Woord ewige en onveranderlike beginsels aan ons oordra. Hierdie konsep word op ’n meesterlike manier in The Chronicles of Narnia uitgebeeld.

Dit is in The Lion, the Witch and the Wardrobe baie gou duidelik dat die White Witch oor kragtige magiese vermoëns beskik. Hierdie “deep magic” is egter nie genoeg om Aslan te oorwin nie. Hy verduidelik die heks se onvermoë om hom finaal te verslaan na sy opstanding as volg aan die kinders: “…though the Witch knew the deep magic, there is a magic deeper still which she did not know. Her knowledge goes back only to the dawn of time. But if she could have looked a little further back, into the stillness and the darkness before time dawned she would have read there a different incantation. She would have known that when a willing victim who had committed no treachery was killed in a traitor’s stead, the Table would crack and death itself would start working backwards. CS Lewis teken vir ons ’n Narnia wat nie deur lukrake ewekansighede nie, maar deur tydlose beginsels, beheer word. Ongelowiges sal tien teen een hierop antwoord dat hierdie perspektief bloot ’n stukkie wensdenkery aan Lewis se kant verteenwoordig. As Christen glo ek egter dat dit presies rym met die wêreld waarin ons leef. Vanaf basiese moraliteit tot by die mees komplekse fisika formules beleef ons die wêreld as ’n plek waar daar sekere reëls geld. Dit is maklik om te maak of dit nie bestaan nie, dit is egter ’n bietjie moeiliker om te leef asof dit nie bestaan nie. (Probeer ’n bietjie maak asof daar niks fout met steel is nie, of maak jouself wys dat gravitasie niks met jou te doen het nie!) Baie teorieë is al voorgestel vir die reëlmatigheid, beide op fisiese en morele vlak van ons wêreld (byna alle kulture op aarde veroordeel byvoorbeeld moord). Baie van hierdie teorieë vereis egter net soveel (indien nie meer nie) geloof van ons as die eenvoudige Bybelse oortuiging dat dit God is wat geskep het en dat dit God is wat Sy beginsels op menseharte neergeskryf het (vgl. Romeine 1:18-20).

Aslan teenoor die leë middelpunt.
Een van die vernaamste punte wat Philip Pullman in His Dark Materials probeer maak is dat ons mense moet ophou uitkyk vir ’n God of gode om sin aan ons lewens te gee. Dit is om hierdie rede dat ‘god’, of die Authority, in hierdie reeks geteken word as ’n bedrieër wat eintlik maar net maak of hy God is. Volgens Pullman is die ‘middelpunt’ leeg en moet elkeen van ons maar probeer om dit op ons eie maniere te vul. The Chronicles of Narnia stap natuurlik ’n heel ander pad. Narnia maak net sin as daar Iemand in die middel daarvan staan, en daardie iemand is natuurlik Aslan die leeu. Aslan is beslis ’n tipe Christusfiguur (eerder as God die Vader, hy word die seun van die “emperor across the sea” genoem) in die Narnia wêreld. Hy is die een wat van die begin af daar was, hy is trouens self die een wat Narnia deur middel van ’n lied geskep het. Hy is verder uiteindelik ook die een wat sy lewe gee sodat een van die kinders uit die kloue van die White Witch gered kan word. Sy triomfantelike opstanding uit die dood bevestig hom dan ook as die enigste een wat werklik waardig is om oor Narnia te regeer.

In die ongelooflike beeld van Aslan kom leer Lewis vir ons ook ’n hele paar dinge van sy verstaan van wie Jesus was. Een van die belangrikste dinge om egter raak te sien is dat Aslan (soos Jesus) beide genade en geregtigheid in homself beliggaam en dat Narnia in die volste sin van die woord leeg is sonder hom.

Seker die bekendste uitspraak oor Aslan in die Narnia reeks word deur Mrs. Beaver gemaak nadat Lucy vir hom vra of Aslan ‘safe’ is: “Safe!? Who said anything about safe? ‘Course he isn’t safe. But he’s good. He’s the King. I tell you.” Wanneer die kinders uiteindelik vir Aslan ontmoet verstaan hulle presies wat Mrs. Beaver bedoel het: “People who have not been in Narnia sometimes think that things cannot be good and terrible at the same time. If the children had thought so, they were cured of it now. For when they tried to look at Aslan’s face they just caught a glimpse of the golden mane and the great royal, solemn, overwhelming eyes; and then they found that they couldn’t look at him and went all trembly.” Aslan word dus in al sy majesteit geteken maar word tog ook voorgestel as die een wat die inwoners van Narnia met eindelose geduld en genade begelei om geleidelik meer en meer van hom te verstaan. Bowenal wys hy vir hulle dat hy meer vir hulle omgee as wat hulle eers kan begin verstaan. As Christene kan ons in hierdie beeld van Aslan iets raaksien van ons Here Jesus wat beide ’n triomfantelike leeu (Openbaring 5:5) en ’n offerlam (Openbaring 5:12) is.

Om werklik gelukkig en vervuld in Narnia te wees moet ’n mens (of pratende dier!) eers die koningskap van Aslan erken. Die les hieruit vir ons eie wêreld is natuurlik nie te moeilik om af te lei nie. Geen wonder dat die persoon wat die ‘Republic of heaven’ uitgeroep het, die Narnia verhale verag nie. Die ironie is egter dat hierdie onafhanklikheidsverklaring die mens uiteindelik maar net die slaaf van sy eie begeertes en sterflikheid maak. Op hierdie manier werk die menslike trots wat hom verhoed om vir enige iemand behalwe homself ‘meester’ te sê op die mees letterlike manier teen sy eie heil in. As Christen kan ek bely dat ek veel eerder Een sal volg wat weet waarheen Hy met my op pad is, as om doelloos agter my eie neus aan te loop en dit dan ‘vryheid’ te noem!

Triomfantelike helde teenoor ontvangers van genade
Die twee hoofkarakters van His Dark Materials, Will en Lyra, bereik aan die einde van die reeks hulle doelwitte deur middel van deursettingsvermoë, sluheid en hulle rotsvaste voorneme om nie te faal nie. Hulle word deurgaans geteken as helde vir wie die woord mislukking doodeenvoudig nie bestaan nie. Aan die einde van die Narnia boeke sien ons ook dat drie van die kinders ’n heerlike doelwit, naamlik ’n ewigheid saam met Aslan, bereik. Daar is egter ’n reuse verskil tussen die pad wat hulle gestap het en dié van Will en Lyra. Hulle word deurgaans geteken as ontvangers van Aslan se genade. Hy is die een wat hulle begelei het en krag gegee het sodat hulle uiteindelik die pad voor hulle kon voltooi. Hierdie hulp van Aslan se kant af was nie maar net beperk tot ’n paar bemoedigende woorde van die kantlyn af nie. Hy gaan selfs so ver as om sy lewe te gee sodat Edmund nie vir altyd in die White Witch se kloue beland nie. Ek is oortuig dat elkeen van ons sekerlik eerder soos Will en Lyra wil wees, helde wat deur die oorweldigende krag van ons karakter alle opposisie voor ons wegvee. Ek is egter ook oortuig dat elkeen van ons heimlik besef dat ons eerder soos die kinders in Narnia is, swakke mensekinders wat elke bietjie hulp wat ons kan kry bitter nodig het. Dit is nogal ’n moeilike ding om hierdie waarheid te erken. ‘Help my’ is seker van die moeilikste woorde vir ons as trotse, onafhanklike, moderne mense om te sê. Dit is om hierdie rede dat een van die mees algemene besware teen die Christelike geloof is dat dit ’n ‘kruk’ is vir mense wat nie op hulle eie kan regkom nie. Die Bybel (en Narnia!) leer egter vir ons van ’n werklikheid waarin dit juis die mense is wat hulle hande uitsteek om hulp te ontvang, wat werklik geseënd is (vgl. Matteus 5:3). Die wat weier om dit te doen mag dalk oortuig wees dat hulle die trotse “captains of their souls” is, maar ongelukkig is een van die eensaamste plekke in die wêreld juis daar waar jy net jouself het om op staat te maak.

Lone Rangers” teenoor mense (en diere!) wat aan mekaar verbind is.
Die hoofkarakters in His Dark Materials kan ten beste as eensame en tragiese helde beskryf word. Hoewel hulle uiteindelik bereik wat hulle moes, stap elkeen maar aan die einde sy pad, amper soos die ‘Lone Ranger’ wat in die sonsondergang inry. Mary Malone, die non wat haar rug op die geloof gekeer het, verklaar in soveel woorde dat die ding wat sy die meeste mis is om te voel dat sy aan die heelal verbind is. Narnia is een van die beste plekke om te sien hoe so ’n verbintenis lyk. Die feit dat die hoofkarakters aan Aslan verbind is beteken dat hulle ook op ’n besondere manier aan mekaar verbind is. Vir ons as moderne mense wat baie dikwels ons onafhanklikheid as meer belangrik as enige iets anders beskou klink hierdie dalk na ’n effens outydse perspektief. Die feit is egter, hoe moeilik dit ook al is om dit te erken, dat ons ander mense nodig het en bewustelik en onbewustelik op soek is na mense wat ons lewens kan deel. In die boek Prince Caspian sê Caspian die volgende aan die oorspronklike inwoners van Narnia oor sy besluit om by hulle te bly: “…You haven’t yet found out whether I want to go back. I don’t. I want to stay with you – if you will have me. I’ve been looking for people like you all my life.

Narnia reflekteer iets waarvan die Nuwe Testament vol is, naamlik dat lidmaatskap van die ‘liggaam van Christus’ die plek is waar elke mens die diepste vervulling kan beleef. Hierdie lidmaatskap gaan egter nie net oor ’n mistiese verbintenis met Jesus nie, dit sluit ook in dat ek nou in ’n besondere nuwe verhouding met ander volgelinge van Hom staan. Die feit dat Jesus ons geleer het om “Ons Vader…” te sê wanneer ons bid, beteken dus dat ek ’n hele klomp broers en susters in hierdie wêreld het. Wat anders is mense met dieselfde pa van mekaar, per slot van rekening? Ek besef dat ons as gelowiges dikwels baie ver van hierdie ideaal (om as broers en suster as deel van Christus se liggaam te leef) dwaal. Die feit is egter steeds dat daar geen beter plek is om jou lewe op ’n diep vlak met ander mense te deel as juis in diens van die Here nie. Vir dit om te gebeur moet ons daarna streef om dieper as die oppervlak te gaan en oor meer as ‘koeitjies en kalfies’ te gesels. Slegs op hierdie manier sal ons werklik die gawes en diep waarhede wat die Here in die harte van elkeen van sy kinders geplant het, kan raaksien.

Een van my gunsteling paragrawe uit CS Lewis se boeke fokus op hoe die Bose alles in sy vermoë sal doen om te keer dat ons verby oppervlakkighede na werklike diep verbintenisse met mekaar, beweeg. In The Screwape Letters, wat briewe bevat van ’n senior duiwel aan ’n junior duiwel oor hoe om iemand uit God se hande te hou, beveel die senior duiwel aan dat die ‘pasiënt’ van die eerste oomblik dat hy in ’n kerk instap van ander mense geïsoleer moet word. ’n ‘Goeie’ manier om dit te doen is die volgende: “… When he gets to his pew and looks around him he sees just that selection of his neighbours whom he has hitherto avoided. You want to lean pretty heavily on those neighbours. Make his mind flit to and fro between an expression like “the body of Christ”, and the actual faces in the next pew. It matters very little, of course, what kind of people the next pew contains. You may know one of them to be a great warrior on the Enemy’s side. No matter. Your patient, thanks to Our Father Below, is a fool. Provided that any of those neighbours sing out of tune, or have boots that squeak, or double chins, or odd clothes, the patient will quite easily believe that their religion must therefore be somehow ridiculous.”

In die Narnia boeke, en die lewe, moet ons leer om dieper as die oppervlak te kyk en bereid wees om ander mense te seën en deur hulle geseën te word. Dit is dalk baie minder dramaties as om soos ’n ‘eensame held’ deur die lewe te gaan, maar ek vermoed dat dit tog baie meer vervullend is.

Ewige lewe teen ‘opgelos word in die kosmos’
Philip Pullman het ’n reuse probleem daarmee dat Lewis die Narnia reeks laat eindig met die dood van drie van die Pevensie-kinders in ’n treinongeluk. Volgens hom is dit afdoende bewys dat Lewis die dood bo die lewe verkies en leer dit kinders dat hulle huidige lewens sonder enige waarde is. Dit is egter ’n totale wanvoorstelling van Lewis se posisie. Een van sy diepste oortuigings was dat die menselewens een van die mees kosbare dinge in die kosmos is. Dit is so juis omdat ons onsterflik en daarom van onskatbare waarde is. Luister bietjie hoe Lewis hierdie oortuiging in sy boek The Weight of Glory uitspel: There are no ordinary people. You have never talked to a mere mortal. Nations, cultures, arts, civilisations–these are mortal, and their life is to ours as the life of a gnat. But it is immortals whom we joke with, work with, marry…Next to the Blessed Sacrament itself, your neighbour is the holiest object presented to your senses.”

Dit is juis vanuit die feit dat hy oortuig was van die onskatbare waarde van menselewens dat hy konsekwent daarteen gewaarsku het dat mense hierdie lewe as ‘al wat daar is’ moet sien. Dit is binne hierdie konteks dat die dood van die Pevensie-kinders gesien moet word. Lewis wil ons juis daarop wys dat die ‘lewe’ groter en belangriker is as die paar jaar wat ons hier op die aarde deurbring en dat ons ook die ewigheid in ag moet neem. Hy sê dus geensins ‘dood is beter as lewe’ nie; maar eerder ‘die hemel is beter as die aardse lewe’. Pullman is weer eens meer as geregtig om hieroor met Lewis te verskil, dit is egter jammer dat hy kies om Lewis se oortuigings skeef te trek en dan die karikatuur wat hy op hierdie manier geskep het, aan te val. Ironies genoeg ‘vier’ Pullman natuurlik self die dood in His Dark Materials as ’n geluksalige heropname in die res van die heelal. Weer eens is die vraag natuurlik hoekom sy ‘viering’ van die dood toegelaat kan word, terwyl hy Lewis in ’n sekere sin die reg ontsê om te verklaar dat die dood nie die einde van die menslike bestaan is nie?

Ons sou seker baie lank kon praat en debatteer oor die konsepte soos ‘ewigheid’ en ‘menslike onsterflikheid’. Laat my egter toe om vir ’n oomblik net op ’n bloot emosionele vlak te kyk na hierdie twee beelde (hierdie lewe as ’n voorbereiding vir een wat kom en ‘poef, jy’s weg!’). Ek weet beslis watter een hoop, doelgerigtheid en verwondering by my inspireer. Ek weet verder watter een in staat is om mense te motiveer om hulleself in diens aan die mensdom uit te giet omdat hulle weet dat die beste nog moet kom. As jy glo dat die mens nie ewig lewe nie, maak dit seker sin om te “eet en te drink want more sterf ons” (vgl. 1 Korintiërs 15:32), as jy egter glo dat hierdie maar net die begin is, gaan die wêreld tien teen een ’n beter plek wees omdat jy hier was. As Christen is dit daarom vir my ongelooflik om te kan weet dat: “…die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Romeine 8:31) Of soos Aslan dit (in The Last Battle) stel: “The term is over: the holidays have begun. The dream is ended: this is the morning!”

Die Narnia boeke is in die eerste plek goeie stories en was daarom nog nooit uit druk nie en konsekwent op topverkoper lyste. Dit is egter ook meer as goeie stories, dit wys na dieper waarhede. Philip Pullman kan homself nie met hierdie waarhede vereenselwig nie en haat daarom die Narnia verhale met ’n passie. Moet egter nie maak dat sy kritiek jou afsit van die ongelooflike skat van Narnia nie. Dit mag dalk wees dat jy nie net ’n fantastiese nuwe wêreld ontdek nie, maar dat jy ook met nuwe oë na hierdie een sal kyk. Mag om Aslan te leer ken jou uiteindelik inspireer om ’n ander Iemand met groter passie na te volg. Luister na wat Aslan (in The Voyage of the Dawn Treader) vir die kinders wat hartseer is sê omdat hulle Narnia moet verlaat en na hulle eie wêreld terugkeer:

“It isn’t Narnia, you know,” sobbed Lucy.
“It’s you. We shan’t meet you there. And how can we live, never meeting you?”
“But you shall meet me, dear one,” said Aslan.
“Are-are you there too, Sir?” said Edmund.
“I am,” said Aslan. “But there I have another name. You must learn to know me by that name.
This was the very reason why you were brought to Narnia,
that by knowing me here for a little you may know me better there.”

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.