Wat is twyfel?

Liewe Udo

Dit is met blydskap dat ek gehoor het van jul webwerf!

Ek was in ‘n Christelike huis grootgemaak en is nog een van die gelukkiges wie se ouers nog bymekaar is en ’n wonderlike familie het. Ek streef daarna om meer soos Jesus te lewe en alle versoekings te vermy. Ons gaan ook Sondae kerk toe en doen bybelstudie en bid elke dag.

My probleem is dat ek myself soms kry waar ek so twyfel in God se bestaan, juis omdat ek hom nie kan sien nie. Ek het nog nooit van onrealisties stories gehou nie en ek dink dat ek partykeer so voel omdat die hele verhaal van God so onwerklik klink. Om op te vaar na die hemel is “amazing”, maar is tog vir ons vandag ‘n verskynsel wat nooit meer voorkom nie.

Tog HAAT ek die gevoelens en hoop elke keer dat ek dit nooit weer sal kry nie, want ek is ‘n christen en wil BAIE graag hemel toe gaan! Die lewe op aarde kan tog nie al wees nie. Sodra ek sulke gevoelens kry, bid ek altyd dat die Heilige Gees dit sal verdryf, omdat ek glo dat dit van die duiwel af kom. My grootste vrees is dat God my sal straf oor die gedagtes wat soms opkom en daarom het ek ‘n vrees vir die dood. Want hoe weet jy regtig of jy hemel toe gaan of nie? Ek probeer als reg doen, maar weet nie verseker nie.

Ek hoop jul sal my kan help, of net bemoedig op een of ander manier.

Lekker dag en dankie dat ek kon gesels.

Groete

Winkelsmidt

 

(Slegs een gedeelte van bogenoemde vraag word hier beantwoord. Sien onder vir skakels na die ander dele.)

Liewe Winkelsmidt

Jy sê: “Tog HAAT ek die gevoelens en hoop elke keer dat ek dit nooit weer sal kry nie, want ek is ‘n christen en wil BAIE graag hemel toe gaan! Die lewe op aarde kan tog nie al wees nie. Sodra ek sulke gevoelens kry, bid ek altyd dat die Heilige Gees dit sal verdryf, omdat ek glo dat dit van die duiwel af kom. My grootste vrees is dat God my sal straf oor die gedagtes wat soms opkom en daarom het ek ‘n vrees vir die dood.”

Winkelsmidt, ek hoor jou frustrasie en angstigheid omdat jy soms gevoelens van twyfel ervaar. Ek verstaan dat dit jou soms laat voel dat dit jy nie werklik ‘n Christen is nie, dat God jou daarvoor gaan straf en dat jy daarom nie seker is of jy eendag hemel toe sal gaan nie.

Ek wil graag hê dat jy saam met my sal dink oor wat twyfel nie is nie en dan oor hoe ons wel oor twyfel moet dink.

Heel eerste wil ek vir jou sê dat twyfel NIE SONDE IS NIE. Die Bybel praat daarvan dat “ongeloof” sonde is, maar ongeloof en twyfel is twee verskillende dinge. ‘n Mens kan gevoelens van twyfel vergelyk met die versoekings wat ons ervaar om ‘n spesifieke sonde te doen. Dit is egter nie die feit dat ons die versoeking ervaar, wat self sonde is nie. Nee, dis die verkeerde manier waarop ons op die versoeking reageer wat tot sonde lei. Dis dieselfde met twyfel: dis nie die feit dat ons soms oor goed twyfel wat die probleem is nie, maar wat ons met ons twyfel maak. Twyfel kan wel tot ongeloof lei, maar twyfel is nie opsigself ‘n teken van ongeloof of sonde nie. Daarom straf God ons ook nie vir ons twyfel nie. Gaan lees weer (Joh. 20:24-29) oor hoe Jesus vir Tomas hanteer het wat getwyfel het en gesê het, “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Jesus het nie met Tomas geraas of vir hom kwaad geword nie, maar hom in sy twyfel tegemoet gekom.

Verder wil ek vir jou sê dat nie alle twyfel-gedagtes of gevoelens van die duiwel af kom nie. Wat van die duiwel afkom is die gedagte dat die duiwel alle twyfel inspireer! As die duiwel vir ons kan lieg en ons kan laat skuldig voel oor iets waaroor ons glad nie skuldig hoef te voel nie, dan doen hy ons verhouding met God skade en het hy sy doel bereik.

Kom ons praat dan nou oor hoe ons twyfel wel moet verstaan. Wat belangrik is om te verstaan (en dit mag jou dalk verras) is dat geloof en twyfel dikwels twee kante van dieselfde muntstuk is. Iemand wat nooit soms twyfel nie, is iemand wat nooit ernstig oor goed dink nie en ‘n mens kan slegs werklik in iets glo (oortuig wees dat dit so is) as jy daaroor gedink het. Niemand het egter die vermoë om alles van alles te weet nie, en daarom is daar altyd ruimte om oor goed te wonder en twyfel te beleef. In ‘n sekere sin is twyfel die byproduk van wat dit beteken om werklik in iets te glo (en het ons daarom ook nie werklik beheer oor dit waaroor ons soms twyfel nie). Ek wil dit beklemtoon: iemand wat nooit twyfel nie, is iemand wat nie werklik weet hoekom hy glo wat hy glo nie. Van so iemand kan gesê word: “Ignorance is bliss”.

Die probleem is dus nie met twyfel as sulks nie, maar wat ons met ons twyfel maak. Wat moet ons reaksie op twyfel wees? Jy sê dat as jy twyfel-gevoelens kry, dan bid jy dat die Heilige Gees dit sal wegneem. Ek dink dit is baie goed dat jy in tye van twyfel bid, maar ek dink die fokus van jou gebed moet effens verskuif. Wat behoort jou fokus dan in gebed te wees wanneer jy twyfel ervaar? Wel, as twyfel nie opsigself ‘n slegte ding is nie, maar eintlik wys dat ‘n mens oor goed dink, dan is die oplossing nie dat God twyfel wegneem nie, maar dat ons sal antwoorde vind op die goed waaroor ons twyfel. Daarom moet ons nie hoofsaaklik vir God vra dat Hy ons sal help om nie meer te twyfel nie, maar eerder dat Hy ons sal help om antwoorde te kry op dit waaroor ons twyfel!

Hiermee probeer ek egter nie sê dat ons altyd al die antwoorde gaan kry op ons vrae en twyfel nie. Daar gaan waarskynlik, bloot net omdat ons beperkte mense is, altyd vrae wees waarop ons nie antwoorde gaan kry nie. Ek dink ook nie dis altyd maklik om die antwoorde op ons twyfel te kry nie. Ons gaan soms in ‘n proses gemoeid moet wees, een waarin ons dikwels eers sekere ander goed gaan moet verstaan, vóórdat ons die antwoorde kan waardeer wat ons eintlike vrae beantwoord. Al hierdie dinge is egter okay. Die punt is dat twyfel dan nie meer verstaan word as iets wat ons geloof bedreig nie, maar as iets wat wag om te blom wanneer die tyd reg is. Ek is vas oortuig dat God ons net soos Tomas in ons twyfel tegemoet wil kom. Die vrugte wat ons pluk deur geduldig en stelselmatig aan ons vrae en twyfel te werk, maar terselfdertyd voortdurend van God afhanklik te wees, is ongetwyfeld tot versterking en verryking van ons geloof.

Dit is hier waar die verskil tussen ongeloof en twyfel lê. ‘n Sagte vorm van ongeloof is die oortuiging dat my twyfel, die vrae wat ek het, eenvoudig daarop dui dat wat ek glo eintlik nie waar is nie. Die harde vorm van ongeloof sê dat ‘n mens nie kan weet wat die antwoorde op jou twyfel is nie en dat omdat ek nie kan weet nie, daar nie antwoorde of my twyfel is nie (hierdie soort denkwyse word postmodernistiese denke, of relativisme, genoem). Hierdie tipe ongeloof is egter om juis te sê dat jy eintlik alles weet (jou kennis is so omvattend dat jy weet dat daar nie antwoorde op twyfelvrae is nie), met ander woorde dat jy weet wat jy nie kan weet nie!

Twyfel, daarenteen, is bloot ‘n aanduiding dat daar iets is wat ons nog nie verstaan nie. Dit is ‘n nederige erkenning van ons beperkinge as mense, maar behoort ons terselfdertyd aan te spoor in ‘n soeke na wat waar is.

Om op te som is daar dus drie opsies wanneer ons soms twyfel: 1) ons kan ons koppe soos volstruise in die sand druk en ons vrae probeer onderdruk en ignoreer en as sonde beskou; 2) ons kan dink dat omdat ons twyfel dit wys dat iets nie waar is nie en al meer ongelowig word; of 3) ons kan bloot na antwoorde begin soek!

Groete

Udo

Lees verder:

 

Iemand het soos volg op bogenoemde gereageer:

Liewe Udo

BAIE dankie dat jy jou artikels op die internet plaas vir almal om te sien.  Jy sal my nie glo wat my begin laat twyfel het nie!  Die duiwel is darem baie listig!!

Op Jakaranda het hulle tans die “Truth Commission”.  Ek begin toe wonder, as julle my in daardie Polygraph moes sit en vra. Glo jy regtig aan die bestaan van God? Ek besef toe dat ek nie ‘n besliste JA sou kon sê nie!  Vandat ek dit toe besef het, val die ou duiwel my aan (seker nou al vir 2 weke)

Ek is ‘n bekeerde Christen (52 jaar oud en nog nooit getwyfel nie!) en ek het al so baie die teenwoordigheid van die Heilige Gees in my lewe ervaar.

Dit het nie vir my gevoel ek kan nie met enige een hieroor praat nie, want ek wil nie die twyfel saadjie in hulle harte ook plant nie.

My besluit om op die Internet in te tik  “Twyfel jy aan die bestaan van God”, het my direk na jou artikel gelei (sien “Wat is twyfel?”).  Dankie dat jy my vanoggend ge”bless” het en my laat besef het dat dit normaal is om te twyfel!

Dankie dat jy my ook vir my bevestig het dat ons reg hier op die aarde moet leef, sodat ons, ons verhouding met God kan versterk!

God seën jou!

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is baie bly dat dit vir jou iets beteken het. En nou weet jy ook waarheen om te gaan as jy ooit oor van jou twyfel met iemand wil praat!

Lekker dag vir jou.

Udo

 

1 Comment

  1. Hallo daar.
    Jul gesprek het my vanaand weer nader aan ons Vader gebring. Ek dank jul daarvoor en ek prys Sy naam dat Hy jul gebruik het om my vrae te antwoord.
    Groete
    Ettiene

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.