Glo en verstaan

Hallo Udo

Hier is baie antwoorde op hierdie webwerf. Maar staan daar nie geskryf dat Jesus gesê het dat jy slegs by die Vader sal wees as jy soos ‘n klein kindjie glo nie? Hoekom sal ons dan sit en top oor allerlei dinge wat vir ons menslike verstand te klein is om te verstaan?

Groete

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Jy verwys na die gedeelte waar Jesus gesê het dat niemand in die koninkryk van die hemel sal kom as hulle nie soos kindertjies word nie. Die punt is egter nie dat ons soos ‘n kind moet glo nie (dit staan nêrens in die teks nie), maar dat ons soos ‘n kind sal word.

Wat beteken dit om soos ‘n kind te word? Beteken dit dat ons as Christene nie ons verstand moet gebruik of dinge (soos hoekom ons glo wat ons glo) moet probeer verstaan nie? Nee, die konteks waarin Jesus praat (Matteus 18:1-5) verwys na die inherente afhanklikheid van kindertjies, dat hulle hulleself nie belangrik ag nie, maar in vertroue van ander leef. Net so moet mense ook hul totale afhanklikheid van God besef deur op Hom te vertrou, anders is hulle nie geskik om die koninkryk van God te ontvang nie.

Die gedagte dat ons soos kindertjies moet glo (wat skynbaar sou verwys na kinders se gebrek aan vermoë tot begrip) is ‘n onbybelse gedagte en word direk weerspreek deur gedeeltes soos die volgende: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand.”1 Korintiërs 14:20 (OAV)

Natuurlik is daar ook baie dinge (soos aspekte van God se natuur) wat ons deur geloof aanvaar (omdat God dit so in Sy Woord openbaar het) en wat ons nie volledig deur ons menslike verstand kan omvat nie. Maar dit beteken nie dat geloof en die rede daarom teenstrydig is of dat bepaalde aspekte van die Christelike geloof nie ook intellektueel begrypbaar is nie.

(Sien ook “Die geloof van ‘n kind” in hierdie verband.)

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.