Julle ken nie die verborgenheid nie

Goeiedag. Die opstanding is glad nie bybels nie. As julle die verborgenheid geken het, dan sou julle dadelik agter gekom het dat die skrifte verdraai is. Argeologiese opgrawings gaan julle niks help nie, want die Vader stel nie belang in sigbare dinge nie. Onthou, die Vader dink nie soos ons nie. Die geskiedenis speel wel ‘n rol, maar by die Vader speel dit geen rol nie. Hy spreek ‘n verborge taal dat selfs nie eers die wyses dit kan verstaan nie. Al die stories in die bybel is in verborgenheid geskryf en net hulle wat uit verkies is sal dit kan lees. Daarom word daar na ‘n lied verwys wat niemand kan sing nie, behalwe hy wat vry gekoop is. As julle die lied geken het, dan sou julle deel gewees het van die ware gesalfdes. Julle is nie wedergebore nie, want anders sou julle die hemel taal geken het. Daarom sal dit vir die mens ‘n raaisel bly. Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is nie seker of jy eintlik ‘n reaksie verwag het nie, maar beskou asseblief die volgende as my eerlike poging om jou beter te verstaan.

Jy noem dat ek (ons) nie uitverkies is nie, dat ek nie ‘n ware gesalfde is nie, dat ek nie wedergebore is nie en dat ek die hemeltaal nie ken nie. Daarmee probeer jy dus vir my sê dat enige gesprek tussen my en jou eintlik onmoontlik is, want ek is nie by die verborgenheid ingelyf nie en ek verstaan daarom eintlik glad nie waaroor die Bybel gaan nie. Die motivering vir jou skrywe was dus, so lyk dit vir my, om my (ons) eintlik maar net te laat weet hoe verlore ek is.

Maar Winkelsmidt, hoekom bring jy vir my net ‘n boodskap van verdoemenis? Is daar vir my (ons) dan enige hoop? Ek weet nie wat wil jy hê ek moet doen aan my onkunde en reddeloosheid nie, Winkelsmidt. Kan ek ooit die hoop hê dat die Vader my oë sal oopmaak sodat ek ook die verborgenheid kan leer ken?

Ek weet ek is in jou oë waarskynlik ‘n “hopeless case” (maar hopelik nie in die Vader se oë nie!), maar kan jy so gaaf wees om my dalk net in die regte rigting te stuur: Kan jy dalk vir my sê waarom jy dink die Bybel verdraai is, waar dit verdraai is en hoe jy dit weet? Maar as die antwoorde op hierdie vrae met “verborgenheid” te doen het, dit waartoe ek nie toegang het nie, moet dan nie probeer moeite doen nie, want immers sal ek niks kan verstaan voordat die Vader nie my oë oopgemaak het nie. Bid dan eerder vir my (ons) en mag die Vader ons genadig wees.

Beste wense vir jou.

Udo

 

Udo, as jy regtig ernstig is, dan sal ek jou help. Die christendom het die mens bedrieg met al hulle leuens. Niks wat hulle sê is bybels nie. Jy kan vir Mnr. X skakel by XXXXXXXXXX. Hy is al meer as 40 jaar in die bediening. Wat is jou sel nommer? Die christendom gaan ‘n verrassing kry. Hulle glo mos aan ‘n wederkoms en ‘n wegraping wat nie bybels is nie. Groete Winkelsmidt.

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is ernstig oor hierdie saak, maar ek het geen begeerte om met mnr. X te gesels nie. Ek wil graag by JOU hoor waarom jy sê dat die christendom die mens bedrieg met leuens.

Groete
Udo

 

Udo, Mnr X is een van my mense. Hy ken die bybel beter as enige iemand wat ek nog op aarde ontmoet het, en hy glo dieselfde as ek. Ons is besig om die waarheid terug te bring wat die Roomskatolieke uitgehaal het. Die Roomskatolieke het die christendom gestig. Die Messias was nooit ‘n christen nie. Hy was ‘n geestelike Hebreër. Die Naam Jesus is ‘n afgodsnaam van die Grieke. Nou aanbid die mens afgodsname soos God, Here, Yahweh, Jehovah. Hulle maak dan die seun ‘n God wat hy nie is nie. Orals in die nuwe testament maak hulle hom ‘n God. Maar die ou testament sê die Heilige Gees is die enigste God wat daar is. Die Heilige Gees sê ook dat Hy nog nooit vlees geword het nie, maar aangeneem. “Geword” is ook vervals deur die Roomskatolieke. Ek wil die ding nie te vinnig vat vir jou nie. Net eers ‘n bietjie agtergrond. Groete Winkelsmidt.

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie, ek aanvaar dat mnr. X sy Bybel ken, maar dis jy wat vir my geskryf het en daarom is my gesprek met jou. Ek is bly dat ons daarmee kan voortgaan.

Ek is ook bly om te hoor dat jy/julle die waarheid nastreef, want ek is ook saam met jou ‘n soeker na wat waar is. Enigiemand wat nie besorg is oor wat die waarheid oor ‘n bepaalde saak is nie, is eintlik mos maar uitgelewer om sommer enigiets te glo. En ek dink jy sal saamstem dat dit nie baie wys is nie. So dankie dat jy deur ons gesprek bereid is om saam met my na die waarheid te soek.

Uit dit wat jy sover gesê het, lei ek af dat jy ‘n groot probleem het met die betroubaarheid van die Nuwe Testament. Dit klink vir my dat jy wil aanvoer dat die inhoud daarvan verdraai is en dat dit daarom nie vir ons ‘n korrekte prentjie skets van wie Jesus werklik was nie en dat die stories oor hom dus opgemaak is.

As ek min of meer korrek is in my observasie van wat jy sê en as ons wil uitkom by wat die waarheid oor die Nuwe Testament werklik is, dan moet ons mekaar help om vrae soos die volgende te beantwoord:

1.     Wie het die boeke van die Nuwe Testament geskryf en wat is die historiese data wat hulle as die outeurs daarvan bevestig?

2.     Wanneer is die boeke van die Nuwe Testament geskryf en wat is die  historiese data wat daardie spesifieke datums bevestig?

3.     Vervolgens, watter historiese data wys vir ons dat die Nuwe Testament verdraai is of dat die stories daarin opgemaak is?

As die Nuwe Testament onbetroubaar is, dan is dit vir my baie belangrik om dit te weet, anders is ek (ons) besig om mense te mislei. Verduidelik daarom asseblief vir my waarom die Nuwe Testament onbetroubaar is na aanleiding van bogenoemde drie vrae.

Beste groete

Udo

 

Udo, dit is die skrywers se eie sienings. Die Christendom is van Griekse afkoms en deur Konstantyn gewettig in 336 nC. Lees Black Bible Dictionary onder Nuwe Testament bladsy 487-489. Baie geskrifte het geen tweede of derde getuienisse nie. Ek het nie nodig om na die waarheid te soek nie, ek het alreeds die waarheid gevind.

Kom ons gaan kyk na die woord “Christen” as ‘n vertaling van Mashian (‘n volgeling van enige generiese “messias”/mashiach”). Laat dit vir eers genoeg wees om te sê dat die ‘sekte ’ wat gestig is deur die ware Mashiach, Nasareners genoem is. Maar meeste mense glo vas aan een teks, of bevraagteken nooit ‘n vertaler se keuse van woorde nie. Wel, het jy geweet dat die woord “Christen/Christene” slegs 3 keer in die hele Skrif gebruik word, en dit is slegs in die Griekse vertaling?

Matt.2:23: “En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” Hoekom het hy in Nasaret gaan woon dat Hy Nasaréner genoem sou word? ‘n Naserener is wanneer jy jouself toewy. Daar is nie bevestiging vir Matt.2:23 nie, anders moet ons Naseret toe trek. Amos.2

“From an unknown time a symbol consisting of a combination of the Greek letters X (chi) and P (rho) was in common usage to express the idea of usefulness or good, and was employed by readers and scribes to mark suitable passages on pagan papyri.  During early Christian times, and for centuries before, Greek was the lingua franca of the eastern Mediterranean and the language commonly used by Christians, most of whom lived in that region.  The Greek word for Christ (Christos) is CRISTOS and the first two letters came to signify his name as a sort of secret code: it was the first abstract symbol of the Christian faith.”

Die bybel is nie die woord nie, dit is net ‘n samestelling (texture, composition, compilation) van boeke. Daarom sê Paulus, 1Kor.2:7-8: “Maar ons spreek die wysheid van Eloah (God..baäl), wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat Eloah (God..baäl) van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid.”  Die Helige Gees moet in jou wees om jou uit te wys waar staan die verborgenheid geskrywe. Daarom moet daar bybel geskrifte uitgehaal word wat uit verborgenheid bestaan, dan moet die verborgenhede in mekaar gesit word wat bymekaar inpas. En daarom moet jy as mens deur die Heilige Gees gelei word en nie deur predikers, ens., nie.

Die Christendom is vandag daardie groot vis wat ook ‘n gevangenis is wat mense gevange hou om na leuens te luister. Die woord kerk (“Ecclesia”) kom van die woord “kerker” wat gevangenis beteken. Die woord “church” het in 1611 vir die eerste keer verskyn in die King James Bybel. In Latyns beteken ‘domini’ [dominee] “ons Heer”.

In die bybel boek sien ons dat jesus die uitvinder van die christelike geloof is. Ptolemy Philadelphus II, Koning van Egipte wat gedurende 285-246 vC geregeer het, het 72 oudstes van Jerusalem laat kom om die Hebreeuse boekrolle, die Pentateuch oor te vertaal van Hebreeus na Grieks, nl. die Septuagint of LXX vir die Grieksprekende jode (ongeveer 250 vC), asook vir die groot Biblioteek by Alexandria. Volgens geskiedenis het die woord christen nie ‘n soort van Judaïsme verteenwoordig nie, maar ‘n aparte geloof gebaseer op jesus christus, eerder as die WET (die 10 Gebooie). Keiser Konstantyn het die christendom gewettig toe hy die Romeinse Keiser was 324-337 nC. Hy het Konstantinopel gebou. EN hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer christene genoem (Hand.11:26).

Dit is dus baie duidelik dat die naam jesus vals is, want ons kan nie ‘n naam vertaal nie, asook dat christus (‘n valse gesalfde is) en die christendom ook vals is.

Ek sal jou nog inligting gee, eers later, ek wag net vir mnr. X want hy sit met die ander inligting. Hy het baie agtergrond oor die geskiedenis. Hy het baie jare die bybel geondersoek. Hy het alle soorte bybels by hom en weet waar is al die verdraaiings. Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat ek genoem het. Daar was iemand soos ‘n Messias, maar baie van die woorde wat hy spreek is vervals. Die Roomse Kerk het valse woorde ingesit en gesê die Messias het dit gespreek. Daarom moet jy altyd terug gaan na jou eerste getuie wat in die ou testament voorkom om te gaan kyk of die Messias se woorde ooreenstem met die Heilige Gees sin. Maak seker die woorde kom ooreen, want daar is van die skrifte in die ou testemant wat ook verdraai is. Groete Winkelsmidt.

 

Beste Winkelsmidt

Ek reageer vervolgens op jou opmerkings.

Udo, dit is die skrywers se eie sienings. Die Christendom is van Griekse afkoms en deur Konstantyn gewettig in 336 nC. Lees Black Bible Dictionary onder Nuwe Testament bladsy 487-489. Baie geskrifte het geen tweede of derde getuienisse nie. Ek het nie nodig om na die waarheid te soek nie, ek het alreeds die waarheid gevind.

Ek is baie bly dat jy die waarheid gevind het, want dan kan jy my mooi help om ook die waarheid te kan vind. Dankie vir jou geduld. Ek vertrou egter dat die Heilige Gees my ook sal toelaat om al meer te ontdek wat die waarheid regtig is.

Dit lyk of jy sê dat die boeke van die Nuwe Testament deur mense geskryf het wat hul eie sienings weergegee het. Ek stem natuurlik saam dat dit hulle eie sienings was. As ‘n mens oor iets skryf wat jy gesien en gehoor het, dan is dit mos jou eie siening. Die belangrike vraag is egter of hul sienings van dit wat hulle gesien en gehoor het, werklik so gebeur het. Skrywers soos Lukas, Markus en selfs Paulus was wel nie self ooggetuies van Jesus se lewe nie. Maar Matteus, Johannes, Petrus, Jakobus en Judas, die broer van Jesus was wel ooggetuies. Het hulle dan almal egter gelieg oor lewe en leer van Jesus? En as hulle wel het, kan jy asseblief vir my verduidelik waar hulle so gedoen het?

Ek verstaan nie hoekom jy sê dat die Christendom van Griekse afkoms was nie. Behalwe vir Lukas, was al die skrywers van die Nuwe Testament sowel as Jesus self, Jode gewees wat die God van Abraham, Isak en Jakob aanbid het. Hoe wil jy dan beweer dat die oorsprong van die Christelike geloof Grieks was? En hoekom is die verwysing na Keiser Konstantyn vir jou relevant? Konstantyn het nadat hy die Christelike geloof aangeneem het, die vervolging van Christene volgens wet verbied wat toe al vir amper drie eeue aan die gang was. Wat is die relevansie hiervan as die Christendom dus toe al reeds amper drie honderd jaar bestaan het?

Kom ons gaan kyk na die woord “Christen” as ‘n vertaling van Mashian (‘n volgeling van enige generiese “messias”/mashiach”). Laat dit vir eers genoeg wees om te sê dat die ‘sekte ’ wat gestig is deur die ware Mashiach, Nasareners genoem is. Maar meeste mense glo vas aan een teks, of bevraagteken nooit ‘n vertaler se keuse van woorde nie. Wel, het jy geweet dat die woord “Christen/Christene” slegs 3 keer in die hele Skrif gebruik word, en dit is slegs in die Griekse vertaling?

In die Joodse Talmoed word na Christene as Nasareners verwys juis omdat Jesus as die Nasarener bekend gestaan het. Die Grieks waarin die Nuwe Testament geskryf is, gebruik egter die woord ‘christianos’ in die drie plekke waar dit van ‘Christen’ of ‘Christene’ praat. Christene was dus volgelinge van Christos (die vertaling vir die woord Messias in die Griekse Septuagint). En ja, die term ‘Christen/Christene’ kom slegs drie keer in die Nuwe Testament voor. Maar wat is die relevansie hiervan? Volgelinge van Jesus is ook met baie ander name beskryf. En hoe bring hierdie feit die betroubaarheid van die Nuwe Testament in gedrang?

Matt.2:23: “En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” Hoekom het hy in Nasaret gaan woon dat Hy Nasaréner genoem sou word? ‘n Naserener is wanneer jy jouself toewy. Daar is nie bevestiging vir Matt.2:23 nie, anders moet ons Naseret toe trek. Amos.2

Oor Matt 2:23 die volgende kommentaar: “That it might be fulfilled which was spoken by the prophets.”: Not by one prophet, but the summing up of a number of prophecies. No prophet had declared in express terms that he should be called a Nazarene. They, however, did apply to Christ the term Nezer, from which Nazareth is derived; the Nazarites, of whom Samson was one, were typical of Christ; the meanness and contempt in which Nazareth was held was itself a prophecy of one who “was despised and rejected.” See Isaiah 11:1; Jeremiah 23:5; Jeremiah 33:15; Zechariah 3:8; Zechariah 6:12.

“From an unknown time a symbol consisting of a combination of the Greek letters X (chi) and P (rho) was in common usage to express the idea of usefulness or good, and was employed by readers and scribes to mark suitable passages on pagan papyri.  During early Christian times, and for centuries before, Greek was the lingua franca of the eastern Mediterranean and the language commonly used by Christians, most of whom lived in that region.  The Greek word for Christ (Christos) is CRISTOS and the first two letters came to signify his name as a sort of secret code: it was the first abstract symbol of the Christian faith.”

Wat is die relevansie van bogenoemde aanhaling?

Die bybel is nie die woord nie, dit is net ‘n samestelling (texture, composition, compilation) van boeke. Daarom sê Paulus, 1Kor.2:7-8: “Maar ons spreek die wysheid van Eloah (God..baäl), wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat Eloah (God..baäl) van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid.”  Die Helige Gees moet in jou wees om jou uit te wys waar staan die verborgenheid geskrywe. Daarom moet daar bybel geskrifte uitgehaal word wat uit verborgenheid bestaan, dan moet die verborgenhede in mekaar gesit word wat bymekaar inpas. En daarom moet jy as mens deur die Heilige Gees gelei word en nie deur predikers, ens., nie.

Ek neem aan dat jy weet waar die verborgenheid geskrywe staan (anders sou jy nie gesê het dat jy die waarheid reeds gevind het nie). Ek neem verder aan dat jy dus vir my kan wys waar sulke verborgenheid staan en hoe jy dit inmekaar gesit het om by mekaar te pas.

Die Christendom is vandag daardie groot vis wat ook ‘n gevangenis is wat mense gevange hou om na leuens te luister. Die woord kerk (“Ecclesia”) kom van die woord “kerker” wat gevangenis beteken. Die woord “church” het in 1611 vir die eerste keer verskyn in die King James Bybel. In Latyns beteken ‘domini’ [dominee] “ons Heer”.

Die Griekse woord ekklesia soos dit in die Nuwe Testament gebruik is, verwys na ‘n groep mense wat bymekaar gekom het vir ‘n bepaalde doel soos wat die Christene gedoen het. Die oorspronklike gebruik van die Griekse woord ekklesia het dus niks met gevangenis te doen soos jy wil beweer nie. Die Afrikaanse woord vir kerk is dieselfde as in Nederlands en word afgelei van die Griekse woord kyriakon wat “van die Heer” beteken (kyriakon was nie in eerste eeuse Grieks in gebruik nie, maar eers later) en waarvan ook die Engelse woord church afgelei is (wat soos jy tereg opmerk eers in die 1600s as ‘n algemene Engelse woord begin gebruik is). Hoe jy ookal na die Griekse woorde ekklesia en kyriakon kyk, dit verwys basies na ’n groep mense wat bymekaar gekom het omdat hulle aan die Here behoort het.

Ek moet egter weereens vra: Wat het hierdie woorde enigsins te doen met die betroubaarheid van die Nuwe Testament?

In die bybel boek sien ons dat jesus die uitvinder van die christelike geloof is. Ptolemy Philadelphus II, Koning van Egipte wat gedurende 285-246 vC geregeer het, het 72 oudstes van Jerusalem laat kom om die Hebreeuse boekrolle, die Pentateuch oor te vertaal van Hebreeus na Grieks, nl. die Septuagint of LXX vir die Grieksprekende jode (ongeveer 250 vC), asook vir die groot Biblioteek by Alexandria. Volgens geskiedenis het die woord christen nie ‘n soort van Judaïsme verteenwoordig nie, maar ‘n aparte geloof gebaseer op jesus christus, eerder as die WET (die 10 Gebooie). Keiser Konstantyn het die christendom gewettig toe hy die Romeinse Keiser was 324-337 nC. Hy het Konstantinopel gebou. EN hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer christene genoem (Hand.11:26).

Ek stem basies met jou saam oor wat jy in bogenoemde paragraaf sê, maar ek verstaan nie jou punt nie. Hoe maak dit wat oor Jesus gesê is vals? Verduidelik asseblief!

Dit is dus baie duidelik dat die naam jesus vals is, want ons kan nie ‘n naam vertaal nie, asook dat christus (‘n valse gesalfde is) en die christendom ook vals is.

Nee, dis glad nie duidelik waarom die naam Jesus vals sou wees bloot omdat dit in verskillende tale verskillend gespel en uitgespreek word nie. Dink jy byvoorbeeld dat as die Grieks praat van Ioannes, die Hebreeus van Yochanan, die Engels van John en die Afrikaans van Johannes, dat net een van die name nie vals is nie? Dit gaan tog nie oor hoe ‘n persoon se naam gespel word nie, maar oor na wie daardie naam verwys.

Ek sal jou nog inligting gee, eers later, ek wag net vir mnr. X want hy sit met die ander inligting. Hy het baie agtergrond oor die geskiedenis. Hy het baie jare die bybel geondersoek. Hy het alle soorte bybels by hom en weet waar is al die verdraaiings. Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat ek genoem het. Daar was iemand soos ‘n Messias, maar baie van die woorde wat hy spreek is vervals. Die Roomse Kerk het valse woorde ingesit en gesê die Messias het dit gespreek. Daarom moet jy altyd terug gaan na jou eerste getuie wat in die ou testament voorkom om te gaan kyk of die Messias se woorde ooreenstem met die Heilige Gees sin. Maak seker die woorde kom ooreen, want daar is van die skrifte in die ou testemant wat ook verdraai is.

Winkelsmidt, ek stel belang om te hoor watter woorde van Jesus vals was en waar die Roomse Kerk woorde in sy mond gesit het. Jy maak baie aansprake, maar ek is jammer om te sê dat ek sover nog nie enige gronde daarvoor sien nie.

Groete

Udo

 

Udo, die Roomskatolieke wat self die christendom is, het die ware gelowiges dood gemaak. Nou kom hulle en verdraai die geskiedenis en sê die christene is dood gemaak. In die verborgenheid word duidelik gesê dat die naam Jesus vals is, omdat die Vader en die seun die selfde naam moet dra. Nou kom hulle met die name Here, God en Jesus. Die Vader se naam was nie aan Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak nie. Nou word die naam Here ingesit, van Genesis toe by Moses. Waar kry hulle die naam as die naam nie bekend gemaak was nie. Die Vader se naam kan in geen taal vertaal word nie – dit bly die selfde by alle tale en volke en nasies.

Honderde jare, nadat Alexander die Grote se ryk opgebreek was in vier dele onder sy 4 generale, het dit finaal opgebreek tussen twee hoofde naamlik die Seleucids in die Noorde en die Ptolemy’s  in die Suide. Een van die Konings van die Suide Ptolemy Philadelphus het uit Egipte oor Jerusalem geregeer vanaf 285 tot 246 vC. Dit was hierdie Koning wat die 72 oudstes van Israel laat kom het sodat hulle die Hebreëuse geskrifte kon vertaal na Grieks, wat die algemene taal geword het. Hierdie vertaling was dan bekend as die “Septuagint weergawe.” Dit is as gevolg van hierdie vertaling dat die Heilige Naam van die Allerhoogste verdraai en ook die ware klinkers uitgelaat is.

Dit was dan ook die Wil van El-Shadday (Eloah die Almagtige) self, want die oudstes het dit gedoen deur die opdrag van die Allerhoogste wat Hy jare gelede deur Sy profeet Jeremia uitgespreek het. Daarom, hoor die Woord van die Heilige Gees, o hele Yehhoodaw (Juda) wat in Egipte woon … kyk, Ek sweer by My grote Naam sê die Heilige Gees :  Nooit …  sal My Naam meer aangeroep word … deur die Mond van enige man van Juda … in die hele Egipteland nie, met die woorde so waar as wat ek leef !!! Kyk, Ek is wakker oor hulle ten kwade … en nie ten goede nie (Jer.44:26-27). El-Shadday (Eloah die Almagtige) het gesweer … dat Sy Heilige Naam van die vergriekse Jode … weggeneem sal word … hulle wat teen Sy Wil in Egipte gaan woon het… Hulle wat die Koningin en die Koning van die hemel, naamlik Ashtoret en Osiris aanbid het in plaas van Yâhvâh (Jer.44:15-26). Die hemel en die aarde sal verbygaan maar Sy eed wat Hy gesweer het sal bly staan. Die oudstes was bewus van die eed wat El-Shadday (Eloah die Almagtige) geneem het en indien hulle die Heilige Naam sou gebruik in hul vertaling,  (dit verskyn in die skrifte ongeveer 6823 keer) sou die wraak van El-Shadday (Eloah die Almagtige) oor hulle gekom het. Daarom het hulle nie die klinkers gebruik by die Heilige Naam nie maar net die konsonante het oorgebly, naamlik  “YHVH” en in die kantlyn het hulle  “ADONAI”  ingesit, wat die leser moes gebruik in die plek van die tetragram  “YHVH.” Hierdie Griekse vertaling het dus die enigste weergawe geword wat deur die vergriekse Jode in Egipte gebruik was. In die Griekse taal en Joodse taal is daar geen “J” nie. Honderde jare daarna toe die Engelse taal ontstaan het, het die bybel vertalers hierdie selfde Griekse vertaling gebruik om die skrifte na Engels te vertaal. Die Engelse vertalers het die  Titel  “ADONAI”  toe geneem en dit vertaal na “LORD”   (Afrikaans  weer na  “HERE” of “HEER”) (wat BAÄL beteken). Die Heilige Gees… het vooruit geweet dat die Jode in Jerusalem ook vergrieks gaan word in die tyd van Antiochus Epiphanes en het toegelaat dat hierdie Griekse vertaling sonder die korrekte uitspraak van die Heilige Naam die skrif word in Palestina. Die Heilige Gees het toe ook Sy eed bevestig wat Hy deur die profeet Jeremia gespreek het. Indien u dan die Engelse of Afrikaanse bybel lees, weet dan dat dit ‘n vertaling is van ‘n vertaling en waar die woord “LORD” of “HERE” staan dit oorspronklik  YÂHVÂH was. Die “EK IS”, is YÂHVÂH die naam van ons Heilige Vader. As ons Hawlalu-Yâh sê dan beteken dit Prys u Yâh. Die naam bly konstant Yâh – die res is titels maar ons ken Hom nou as Yâhvâh die ewige Vader. As ons sê Yâhoshua dan sê ons Yâh is ons Verlosser. Die oudstes het ook geweet dat baie van die Israeliete die Heilige Naam gedra het en in hul vertaling het hulle ook die name verander.

…[brief verkort]…

“EN dit alles is uit Eloah wat ons met Homself versoen het en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat Eloah die uitverkores met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante asof Eloah (die Woord) deur ons vermaan. Laat julle met Eloah versoen.”  (2 Kor.5:18-20.)

Groete Winkelsmidt.

[Naskrif:] …[verkort]… Dit is die Priesterdom van hierdie wêreld wat die aardse Tabernakel bedien met valse leerstellinge, skrifte ens. Hulle het almal nog deel aan die WILDE OLYFBOOM, en omdat hulle nie die Heilige Gees as Eloah gehoorsaam asook Sy Naam Yâhvâh nie wil ken of dra nie maar afgodsname, mag hulle nie van die  KONINKRYK Tseeyone (Sion) se ALTAAR af eet nie, en het hulle geen deel aan die MAK OLYFBOOM SE OLIE (SALWING) van die HEILIGE GEES nie wat hulle leer en lei in alle waarheid en geregtigheid. (Jy moet by die mak Olyfboom in gelyf wees en nie by die christendom nie. Jy moet ‘n geestelike Herbreer wees want jy dra ‘n Hebreerse naam. Jesus naam is nie Hebreers, dis Grieks. Die Messias se naam was Yâhoshua gewees. Die naam Yâh kan jy nie verander nie. Dit kan ook nie oor vertaal word nie. Daarom is die naam Jesus so vals. Geen profeet dra die naam Jesus, Here of God nie. Joshua is verkeer vertaal, dit moes Yâhoshua wees. Joshua was ‘n voor uit wysing na die Messiah. In Afrikaans in ons bybel kan hulle Joshua skryf. Die woord shua is herbreers, waarom kan hulle dit so skryf in Afrikaans, dis dan herbreers. Vertalers het alles verdraai.)  Sal later nog verborgenhede uithaal. Wen die leuens. Groete Winkelsmidt.

 

Hallo Winkelsmidt

Jy sê:

Die Roomskatolieke wat self die christendom is het die ware gelowiges dood gemaak. Nou kom hulle en verdraai die geskiedenis en sê die christene is dood gemaak.

Ja, daar is sommige ware gelowiges wat deur die Roomse Kerk doodgemaak is. Maar wat is jou punt hiermee?  Die Christelike geloof is nie ‘n “Rooms Katolieke” geloof nie, die Christelike geloof spruit voort uit die leer van Jesus (Yeshua, Yehoshua, Iesous, Joshua – wat jy hom ookal wil noem) en die skrywers van die Nuwe Testament.

Terloops, jy maak hopeloos te veel van die vertaling van name en dit maak nie jou aansprake enigsins meer geldig nie. Ek sê nie name is nie belangrik nie, maar ‘n mens kan iemand se naam op verskillende maniere spel en uitspreek (soos my voorbeeld met Johannes) en nog steeds na dieselfde persoon (met ‘n baie spesifieke karakter) verwys sodat daar nie twyfel hoef te wees van wie daar gepraat word nie.

In die verborgenheid word duidelik gesê dat die naam Jesus vals is. Omdat die Vader en die seun die selfde naam moet dra. Nou kom hulle met die name Here, God en Jesus. Die Vader se naam was nie aan Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak nie. Nou word die naam Here ingesit, van Genesis toe by Moses. Waar kry hulle die naam as die naam nie bekend gemaak was nie. Die Vader se naam kan in geen taal vertaal word nie – dit bly dieselfde by alle tale en volke en nasies.

Dis maklik om te sê dat iets in die “verborgenheid” vals is en niemand gaan dit wat jy sê kan beoordeel nie, want hulle het nie deel aan die “verborgenheid” om so te kan doen nie. Winkelsmidt, jy kan dus maar basies enigiets sê en jou verweer sal altyd wees dat ek nie verstaan nie, omdat ek nie die “verborgenheid” ken nie. So miskien is hierdie gesprek van ons eintlik heeltemal irrelevant en onnodig.

Dis vir my baie insiggewend om te sien wat julle gemaak het met die gedeelte in 2 Kor. 5:18-20 wat jy vir my aangehaal het. Ek neem aan dis in die “verborgenheid” dat die woorde in rooi (sien die vergelyking tussen die twee vertalings hieronder) wat deel is van wat die skrywers oorspronklike geskryf het, in jou vertaling weggelaat is. Winkelsmidt, ek begin ‘n vermoede kry van wie eintlik besig is om dinge te verdraai. En dis nie die skrywers van die Nuwe Testament nie!

Hier is die vertaling waarvan jy gebruik maak: “EN dit alles is uit Eloah wat ons met Homself versoen het en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat Eloah die uitverkores met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante asof Eloah (die Woord) deur ons vermaan. Laat julle met Eloah versoen.” (2 Kor. 5:18-20.)

Hier is die oorspronklike vertaling in die AOV: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2 Kor. 5:18-20)

Jy is dus welkom om vir my nog eposse te skryf (wat ek sal lees, maar nie noodwendig gaan op reageer nie), maar ek is jammer om te sê dat ek genoeg gesien het van jou gebruik van die skrif om te weet dat die tipe “verborgenheid” waarvan jy praat my waarskynlik gaan bly ontwyk. Intussen sal ek my maar eerder hou by die verborgenheid van God wat Hy in Jesus Christus geopenbaar het en waaroor daar in die Nuwe Testament geskryf staan, sodat ENIGE IEMAND wat wil, daarvan te wete kan kom en miskien God se genade sal aanvaar.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.