Discovery of die Bybel?

Goeie dag

Na aanleiding van ‘n program op Discovery oor Darwin se evolusieteorie wil ek graag die volgende weet: In watter konteks moet ons die skeppingsverhale in Genesis sien? En hoe lank was die skeppingsdae?

Die klomp wetenskaplikes in die program praat almal daarvan dat die aarde en heelal baie miljoene jare oud is. Sou hulle daarmee wou sê dat die wetenskap vir ons sê dat die mens nie deur God geskape was nie en deur ‘n aap deur miljoene jare omvorm is tot waar die mens soos Adam en Eva was?

Vriendelike groete

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ja, ek dink dat die vervaardigers van programme soos o.a. Discovery meestal vanuit ‘n volslae naturalistiese wêreldbeeld dink. Ons hoef daarom nie verbaas te wees as hulle ‘n beroep doen op allerlei teorieë wat skynbaar enige verwysing na ‘n Skepper ontken nie.

Die belangrikste punt om te verstaan wanneer ons as Christene nadink oor die Bybelse skeppingsverhaal, is die feit dat God vir die ontstaan en bestaan van die skepping verantwoordelik is. My persoonlike mening is dat wanneer die skeppingsverhaal in Genesis 1 & 2 weergegee word, dan is die bedoeling daarvan nie dat ons summier allerlei geologiese, kosmologiese of biologiese afleidings daaruit sal maak nie. Die bedoeling is hoofsaaklik teologies van aard en vorm die konteks waarbinne ons die skeppingsverhaal moet verstaan: deur die skeppingsverhaal word ons iets vertel van wie God is en veral ook wie óns is in verhouding tot hierdie God. Die res van die Bybel is in lyn met hierdie tema oor die verhouding tussen God en mens, dat hierdie verhouding stukkend is, hoekom dit stukkend is en hoe dit weer herstel kan word.

Ek dink dat as bogenoemde die korrekte konteks van die skeppingsverhaal is, dan is om te vra hoe lank die skeppingsdae was, eintlik om die punt van die skeppingsverhaal te mis.

Goed, maar hoe moet ons as Christene egter oor die aard en bevindinge van die wetenskap dink? Wel, ek dink die feit dat ons as mense die wonderlike wêreld waarin ons woon kan ondersoek en daarvolgens afleidings kan maak uit die data wat ons ingesamel het, ‘n Godgegewe vermoë is. God het ons as rasionele en kreatiewe wesens geskep – ons is immers na God se beeld geskape. Ek is daarom oortuig dat, gegewe dat ons met die regte voorveronderstellings werk, ons as mense die vermoë het om wanneer ons genoegsame feite ingesamel het, tot verantwoordelike gevolgtrekkings te kan kom oor die heelal waarin ons woon.

Wanneer die wetenskaplike getuienis dus daarop dui dat die heelal ongeveer 15 miljard jaar oud is (en die aarde ongeveer 4,3 miljard jaar), dan het ek redelike vrymoedigheid om dit so te aanvaar. Daar is vir my ook geen teologiese rede om hierdie getuienis in twyfel te trek nie (gegewe my bogenoemde verstaan oor die doel van die skeppingsverhaal). Ek dink daarom nie daar is enige aanduiding in die Bybel dat dit foutief sou wees om te redeneer dat God verantwoordelik is vir die ontstaan van die heelal en van die daaropvolgende omstandighede waarbinne natuurlike prosesse sou kon funksioneer wat ‘n planeet soos aarde sou kon vorm waarop wesens soos mense uiteindelik sou kon leef nie. Naturalistiese teorieë (soos wat meestal weergegee word in programme soos Discovery) verduidelik egter dat ons onsself weens die sameloop van baie toevallige omstandighede op aarde bevind. Die teïstiese verklaring (waarvolgens God die Skepper is van alles wat bestaan) verwerp sulke toevalligheid ten gunste van planmatige intelligensie en maak vir my baie meer sin in die lig van die wetenskaplike getuienis.

Oor die prosesse van evolusie wil ek die volgende sê. Baie wetenskaplikes maak welluidende aansprake oor die vermoë van Neo-Darwinistiese evolusie om ‘n allesomvattende verklaring te gee vir biologiese diversiteit op aarde (en maak soms selfs dogmatiese aansprake oor die ontstaan van die eerste lewe op aarde). Ek dink hierdie aansprake is oordrewe en word dikwels nie volledig deur die wetenskaplike getuienis ondersteun nie. As sodanig word dit dikwels onderlê deur metafisiese vooroordele (naturalisme) waarvolgens alle verklarings slegs met natuurlike oorsake en prosesse verband sal hou.

Volgens my eie verstaan van die wetenskaplike data is daar goeie getuienis in die fossielrekord vir ‘n toename in die verskyning van komplekse organisme oor tyd heen nie. Dit beteken dat die wetenskaplike getuienis daarop wys dat eenvoudige organismes vroeg in die aarde se geskiedenis ‘n verskyning gemaak het en dat komplekse organismes soos mense eers baie later (miljarde jare) op die toneel verskyn het. Vanuit die beskikbare wetenskaplike data moet ek persoonlik egter erken dat ek grootliks agnosties is oor die proses of metode wat God gebruik het (meganismes soos natuurlike seleksie en mutasies is nie vir my ‘n voldoende verduideliking nie) om wesens soos ons, wat God se beeld reflekteer, te skape. Niks uit die genoemde wetenskaplike getuienis ontken egter outomaties God se skeppersrol in ons as mense se bestaan of dat ons na die beeld van God geskape is nie.

Die punt wat ek wil maak is dat ek dink dat dit wel verantwoordelik sou wees om te dink dat God in sy plan om te skep, van prosesse gebruik kon maak wat ons deur die wetenskaplike werkswyse kan ontdek. Ek sê egter nie hiermee dat ons ál sodanige prosesse al ontdek het of dat sulke prosesse noodwendig altyd identifiseerbaar is nie. Wanneer wetenskaplikes (soos o.a. Darwiniste soos Richard Dawkins) egter volgens wat hulle deur die wetenskap ontdek, begin om uitsprake te maak wat God se bestaan of sy betrokkenheid in Sy skepping ontken, dan is hulle nie meer besig met wetenskap nie, maar praat hulle volgens hulle vooroordele.

Ek glo dat om te kan wonder oor hoe en hoekom dinge in hierdie wêreld is soos dit is en werk soos dit werk, is ‘n unieke menslike eienskap. Dis hoe God ons gemaak het. Wanneer ons as mense dus die wetenskaplike metodiek verantwoordelik toepas, dan is dit ‘n wonderlike instrument om bepaalde kennis in te samel oor die natuurlike wêreld waarin ons woon. Ek dink ons kan deur die verstand te gebruik wat God ons gegee het juis bepaalde insig kry in hoe God geskep het. Vir ons as Christene beteken dit dat wanneer ons ons verstand gebruik (en ja, ook weet dat ons begrip beperk is), dit tot Sy eer sal wees.

Beste groete

Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.