Hoe kan God mense maak wat Hy weet hel toe gaan?

Goeie dag Udo

Ek het die afgelope tyd met mense te doen gekry wat my bewus gemaak het van die universalist standpunte. Ek sien baie meriete in die sienswyse, maar ek is deeglik bewus daarvan dat indien mens dit propageer, sonder om God se oordeel daarmee saam te bring, het dit baie potensiaal om humanisties en New Age te word. My probleem kom egter in by die groot vraag van ateïste wat vra dat as God met voorkennis, die grootste deel van die mensdom gemaak het om vir ewig in die hel te brand, hoe kan Hy ‘n God van liefde wees. As Christus ten doel gestel het om die hele mensdom te verlos, het Hy misluk? As daar ‘n ewige straf is, waarom het God dit nie vir Adam gesê nie, ens. Ek besef dat ‘n pragmatiese benadering nie kan verander aan wat die Woord regtig sê nie. Dit blyk my daar is diegene wat glo aan die hel, waarin mense vir ewig gemartel sal word of dan betaal vir hulle ongeloof en sonde, en dan diegene wat glo God gaan die hel en sy inhoud totaal vernietig en dan ook die inclusion ouens wat sê God is ‘n verterende vuur wat deur sy oordeel die wat nie geglo het nie gaan suiwer en dat hulle uiteindelik tog in God se teenwoordigheid sal lewe, gered asof deur vuur heen, sonder beloning van goeie werke, nog steeds omdat Christus die prys vir hulle betaal het, omdat hulle na die beeld van God gemaak is, ens. Ek besef dat mens maklik glo wat mens wil glo.

Groete

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ek dink jy maak ‘n belangrike punt wanneer jy sê dat dit nie help om ‘n pragmatiese benadering te volg as die Woord iets anders leer nie. Na my mening is ‘n pragmatiese benadering egter nie noodwendig in stryd met wat die Woord leer nie (enige benadering se meriete moet oorweeg word deur die voorveronderstelling waarmee dit werk te evalueer). Ek glo dat wat God deur sy Woord aan ons wil sê nooit irrasioneel of onleefbaar is nie. Ek dink daarom regtig nie dat ‘n mens jouself tot universalisme of annihilasie hoef te wend asof daar êrens ‘n inherente teenstrydigheid of pragmatiese problematiek is wat ‘n mens noodwendig daartoe dwing nie. Ek dink ook nie verantwoordelike eksegese, met alles wat daarmee gepaard gaan, lei ‘n mens daartoe om universalisme te moet aanvaar nie. Ek vermoed dat die universalis se standpunte eerder deur ander faktore onderlê word as deur die skriftuurlike data tot sy beskikking.

Ek kan natuurlik, net soos jy, die krag voel van wat die universalis probeer sê. Dit klink baie humanitêr om aan te voer dat daar uiteindelik niemand in ‘n bestaanstoestand soos die hel sal wees nie. Dit klink ook baie lofwaardig, indien nie piëtisties nie, om aan God die eer te gee wat dit in sy almag, wysheid en liefde moontlik sou maak dat almal uiteindelik gered word (a la Rob Bell). Dit, tesame met die tipe probleemvrae wat jy noem, maak dit dan baie aantreklik om te begin wonder oor hoe die Bybel eintlik verstaan moet word met betrekking tot mense se redding.

Ek wil egter nie hier in besonder ingaan op die Bybelse verwysings wat universalisme weerlê of ‘n eksegese onderneem van die gedeeltes wat skynbaar op universalisme sou dui nie. Ek dink daar is genoeg beskikbare bronne wat dit op ‘n eksegeties verantwoordelike wyse doen. Ek wil hier kortliks net op een saak fokus, naamlik aspekte rondom die aard en bestaan van die hel. Ek sal van die probleemvrae wat jy genoem het gebruik as aanknopingspunte vir my uiteensetting.

Soos jy tereg noem is daar baie mense wat God se alwetendheid nie kan versoen met die idee dat baie mense in die hel mag eindig nie. Die redenasie is soos jy noem: as God vooraf weet dat baie mense (indien nie die meerheid nie) wat Hy skep in die hel gaan beland, is Hy dan nie besonder wreed en geensins liefdevol om hulle dan nogtans willens en wetens te skep nie. Dis byna asof Hy hulle spesifiek vir die hel geskep het, veral omdat die duur van ‘n mens se aardse bestaan so onbeduidend is in vergelyking met ‘n ewige hel.

Daar is veral twee oorwegings om hier in aanmerking te neem, die eerste meer voor die hand liggend, die tweede dalk minder intuïtief.

God kan natuurlik slegs as onregverdig of liefdeloos beskou word indien hy ‘n wêreld geskep het waarin menslike lewe noodwendig in die hel moet uitloop. Dis soos om op ‘n pad te ry wat reguit na ‘n afgrond lei en nêrens anders heen nie en jy kan niks doen om te keer dat jy oor die afgrond tuimel nie. My verstaan van die Christelike boodskap is egter dat die lewe meer soos vurke in die pad is waar ons keuses kan en moet uitoefen: sommige keuses lei uiteindelik en stelselmatig na die afgrond toe, en ander keuses weer, lei na ‘n bestemming van lewe. Of ‘n mens kan eenvoudig ‘n keuse maak om te stop op die pad wat na die afgrond lei deur om te draai, weg van dit wat na die dood lei. Die feit dat God vooraf weet wat mense gaan kies, beteken tog nie dat mense nie self daardie keuses maak nie. Hoekom God dus verantwoordelik hou vir keuses wat mense sélf maak?

As God inderdaad net vir sekere mense lief was en daarom belangstel dat net daardie mense gered word, of as net sekere mense vir een of ander rede in staat is om te kan kies om God se genade te aanvaar, dan sal ek ook moet wonder oor hierdie God se karakter. Maar dis nie hoe ek Joh. 3:16 (of die res van die Bybel) verstaan om te sê nie: “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (NLV)

Maar selfs al is die hel heeltemal vermybaar omdat mense verantwoordelik is vir hul eie keuses (soos ek glo die geval is) en niemand daarom in die hel hóéf te wees nie, sou ‘n mens nog steeds kon wonder oor waarom God nie maar net diegene kon skep wat hy vooraf weet vir hom sal kies nie. Dan is die hele hel-besigheid mos glad nie nodig nie. Dit bring ons by die tweede oorweging.

Die keuses wat mense maak gebeur nie in ‘n vakuum nie. Daar is talle faktore of lewensomstandighede wat mense op bepaalde maniere beïnvloed en bydraende faktore is vir waarom iemand uiteindelike spesifieke keuses maak. Dit beteken nie dat ‘n mens deur jou spesifieke omstandighede onvermydelik gedwing word om sekere keuses te maak nie, my punt is bloot dat dit daartoe bydra.

Veronderstel nou die volgende as ‘n moontlikheid as ‘n liefdevolle God wel bestaan: Volgens God se voorkennis weet Hy watter keuses alle mense onder sekere omstandighede sal maak, en meer spesifiek, onder watter omstandighede sekere mense tot geloof in Hom sal kom. Faktore wat bydra tot spesifieke omstandighede waarin sekere mense tot geloof kom mag egter die bestaan van sekere ander mense insluit wat God weet onder geen omstandighede tot geloof sal kom nie. Die vraag is nou egter of dit regtig vir God logies moontlik is om slegs mense te skep wat hy weet vir hom sal kies, as die omstandighede waaronder sulke mense tot geloof kom terselfdertyd afhanklik is van die bestaan van ander mense wat onder geen omstandighede tot geloof sal kom nie. Die punt is dat hoewel dit na ‘n goeie idee klink om ‘n wêreld te skep waarin daar net mense bestaan wat vir God kies, is dit dalk die geval (omdat God dit in sy voorkennis weet) dat daar eenvoudig geen so ‘n moontlike wêreld bestaan nie. En hoekom moet God verhoed word om mense te skep wat hy weet vir hom sal kies net omdat daar in alle moontlike wêrelde waar mense vir hom sal kies ook mense sal wees wat onder geen omstandighede vir Hom sal kies nie? Is dit nie nogal absurd om te dink dat dit in so ‘n geval mense se ongeloof sou wees wat beperkings plaas of wat God mag en nie mag skep nie? Gegewe dat sulke mense wat nooit vir hom sal kies nie, se keuses hul eie is, kan ek egter geen rede sien waarom God liefdeloos of wreed sou wees om ook sulke mense te skep nie, selfs al weet hy dat hulle uiteindelik in die hel sal wees. (Sien in hierdie verband die interessante gelykenis in Matt. 13:24-30.)

Dit bring ons by ‘n bespreking van waarom die idee van die hel tog sin maak en waarom dit nie maar net ‘n wraaksugtige God se manier is om almal by te kom wat bloot maar net nie in hom geglo het of hom wou aanbid nie.

Wat is die essensie van geloof in God? Dit is nie bloot ‘n erkenning dat God bestaan nie, maar geloof in God gaan oor ‘n verhouding met Hom. Ongeloof het daarom nie regtig daarmee te doen dat mense nie in God se bestaan wou of kon glo nie. Ongeloof is ten diepste ‘n uitdrukking dat iemand nie belangstel in ‘n verhouding met God nie. Ek is oortuig dat God, deur sy Heilige Gees, homself op spesifieke maniere aan alle mense openbaar (sien o.a. Rom. 1:20) omdat Hy begeer dat mense tot ‘n verhouding met hom sal kom. Ek glo ook dat geloof in God se bestaan ‘n properly basic belief is (jammer, ‘n Afrikaanse vertaling hiervan mag dalk moeiliker wees om te verstaan as wat met die Engels term die geval is), m.a.w. dat God die mens geskep het met die inherente vermoë om in hom te kan glo. Dit beteken nie dat ‘n mens nie goeie redes/argumente kan gee vir waarom God bestaan nie; die idee van ‘n properly basic belief verwys bloot na die feit dat ons nie sulke argumente nodig het voordat ‘n mens in God kan glo nie. Die probleem is egter dat die mens ook die vermoë het om kennis van God te onderdruk (Rom. 1:18,19,21, 25). In essensie beteken dit dat iemand God se pogings om homself aan mense bekend te maak, ten einde in ‘n verhouding met hom of haar te staan, kan weerstaan. So ‘n persoon wys dus (bewustelik of onderbewustelik) aan God dat hy/sy regtig nie belangstel in ‘n verhouding met God nie. God dring homself nie op aan mense wat niks met hom te doen wil hê nie (‘n mens kan mos nie liefde van iemand eis nie) met die gevolg dat God so ‘n persoon uiteindelik oorlaat aan sy/haar eie begeertes (sien iets hiervan in Rom. 1:28). Waarop so ‘n persoon se begeerte neerkom is om van God se teenwoordigheid verlos te wees (in die mate waartoe ‘n alomteenwoordige wese homself van sy skepping kan onttrek sonder dat dit heeltemal tot niet gaan) en is presies wat met die idee van die hel beskryf kan word.

Die hel is dus ‘n plek vir mense wat nie belangstel om in God se teenwoordigheid te wees nie, Die bestaan van die hel gaan dus nie oor ‘n soort ultimatum, “Glo in my, of ek stuur jou hel toe!” nie. Geen rasionele mens sal ooit bewustelik kies om in ‘n plek soos die hel te wees nie, dis net dat baie mense ten diepste begeer om van ‘n wese soos God verlos te wees – maar ‘n plek waar God nie is nie, is eenvoudig hel! Die idee dat die hel een of ander plek van marteling is, is totaal onbybels (en het meer te danke aan ooraktiewe verbeeldings en illustrasies na aanleiding van Dante se gedig, Inferno). Die beelde wat egter in die Bybel gebruik word om na die hel te verwys (soos ‘n poel van brandende vuur en swael, wurms wat verteer, donkerte, vlamme, vernietiging), is alles maniere om iets aan te dui van wat die ervaring sal wees om uiteindelik totaal van God vry te wees (net so is die beeld in Openbaring 21 van die stad van goud ‘n manier om iets aan te dui van die nuwe herstelde aarde waar mense volkome in God se teenwoordigheid sal wees). Hierdie ervaring sluit natuurlik die ervaring van straf vir sonde in, maar uiteindelik is sondige dade die manifestasie van ‘n bepaalde houding teenoor God.

Die realiteit van die hel is uiteindelik die finale ‘n uitdrukking van iemand se verhoudingsstand tot God (m.a.w. dis die verste wat iemand van God verwyder kan wees). Die hel word op niemand af geforseer nie. Dit pla mense natuurlik dat die hel met sulke angswekkend beelde beskryf word, maar ek dink nie sulke beelde is primêr bedoel om mense bang te praat asof mense in die hemel kom wanneer hulle net bang genoeg sal raak vir ‘n hel, selfs ‘n ewige hel, nie. Ek glo die doel van hierdie beelde is om op ‘n realiteit te wys waarvan God nie deel is. Soos ek vroeër genoem het, kies niemand vir die hel omdat hulle graag daar wil wees nie. Maar wat baie mense egter nie besef nie, is dat hoewel niemand bewustelik vir ‘n bestaan in die hel kies nie, mag dit vir baie mense net so onaangenaam wees om in die hemel te wees. Die probleem is dat die meeste mense ‘n idee van die hemel het wat gaan oor plesier, ontspanning en ‘n luilekker lewe (dink bv. aan Islam se konsep van die paradys en die sterk elemente van die sensuele (kos en wyn) en die seksuele (72 maagde) waarmee hulle oorvloedig in die paradys beloon sal word – maar ironies in hierdie lewe van moet weerhou. Sien bv. hier). Die feit is egter dat om in die hemel (op die Nuwe Aarde) te wees in die eerste plek gaan oor ‘n intieme verhouding met God en die verdere ontwikkeling daarvan, wat ook al die bykomende aspekte van ‘n lewe op die Nuwe Aarde mag behels (sien bv. Openb. 21:4). Daarom mag dit juis vir hierdie rede vir iemand wat in die hel is, bloot net so “pynlik” wees, indien nie meer nie, as om in die hemel te wees (C.S. Lewis illustreer hierdie gedagte uitstekend in sy allegorie, The Great Divorce).

Baie mense wonder egter of dit dan nie maar beter is dat God almal wat nie ‘n verhouding met hom begeer nie, heeltemal uit te wis nie – die idee van annihilasie waarby baie Christene inkoop. M.a.w. die redenasie is dat dit wreed is van God om toe te laat dat mense vir ewig in die hel moet ly, dis daarom beter om mense heeltemal uit te wis, sodat hulle die lyding gespaar sal bly. Vervolgens ‘n paar opmerkings hieroor:

Die idee van annihilasie hou nie rekening met die feit dat God, deur te skep, inherente waarde gee aan wat hy skep nie. Die enigste rede om te dink dat God iets wat hy geskep het weer moet vernietig, is dat hy ‘n fout gemaak het om dit in die eerste plek te skep of dat hy iets waardeloos geskep het. Maar God is nie iemand wat foute maak nie, daarom is die idee dat God onder een of ander verpligting staan om iets wat hy tot stand gebring het, wat hy geskep het en verklaar het dat dit goed is, weer ongedaan te maak, heeltemal vals. Selfs die persoon wat sy rug op God draai, het inherente waarde bloot omdat hy of sy deur God geskape is.

Die idee van annihilasie veroorsaak ook ‘n ander probleem. Nie-teïste maak dikwels beswaar dat God ‘n soort diktator is wat mense voor ‘n onregverdige keuse stel: “Aanbid my en jy sal vir ewig in die hemel leef; weier om my te aanbid en jy sal vir ewig in die hel moet spandeer.” Soos reeds geargumenteer, is daar nie regtig hier sprake van ‘n ultimatum nie, want ons leef in ‘n werklikheid waar ons deur God geskep is en ons menswees realiseer deur in ‘n verhouding met God te leef. Hierin het ons egter ‘n keuse en om ons Godgeskape identiteit te ontken is eenvoudig om die gevolge te beleef van ‘n realiteit waarin ons sélf gekies het om niks met God te doen hê nie.

Die annihilis is egter veel eerder skuldig aan die idee van ‘n God met ‘n diktatoriale ultimatum. Die annihilis is in effek besig om ‘n God te skets wat sê: “Aanbid my of anders wis ek jou uit!!” Die verskil is dus dat die mens met hierdie scenario nie enige werklike keuse het nie (soos om sonder God te leef nie), maar onder dreigement van uitwissing staan indien hy nie kies soos God beveel nie. Hoe sleg dit ookal mag wees om ‘n bestaan te voer waarvan God nie deel is nie (in die hel te wees), is die hel ‘n akute aanduiding van ‘n God wat nie net die inherente waarde van die mens erken nie (en hom daarom nie sal uitwis nie), maar ook die mens se Godgegewe vermoë om noemenswaardige keuses te maak respekteer (hierdie vermoë om ‘n noemenswaardige keuse te kan uitoefen, wys dus op die tekortkoming van beide universalisme en annihilasie). Uitwissing mag dalk die emosionele of eksistensiële probleem van die hel netjies oplos, maar op die ou end is dit ten koste van God se karakter.

Die konsep van die hel is angswekkend en om die hel vir enigiemand toe te wens, selfs vir die mees gewetenlose krimineel wat die ergste straf verdien, is nie iets wat enige mens aan ‘n ander behoort te doen nie. Maar ons hoef nie te wonder of God maar net ‘n onsimpatieke toeskouer is en niks wil doen om mense van ‘n lewe van futiliteit, en uiteindelik ewige futiliteit, te red nie (Hand 17:26,27). Die hele Bybel is ‘n getuienis van hoe God daaroor besorg is dat mense hom sal leer ken, al sou sommige nooit op sy openbarings en roepstem reageer nie.

Winkelsmidt, ek hoor graag wat jy dink van die benadering tot die hel soos ek hier uiteengesit het.

Groete

Udo

Udo,

Now I have to admit that your reasoning would work on most people to lazy to think for themselves but unfortunately I see a big gap in your logic and before you answer please take a look at this and try and refrain form using http://en.wikipedia.org/wiki/Circular_reasoning .

So god made me? If you say so, then he knows everything about the future and the past and knows before making me what path I will take and if indeed I am going to hell or not so if he made me knowing I am going to choose the wrong path, then he is a mean god who I would rather not serve anyway and if he does not know then he is not all powerful and the bible is a lie….either way, we could argue all day and I would advise you to take a look at this http://www.youtube.com/watch?v=5auJ3Dg-zNs.

If god was good or existed there would be no hunger, death, rape or any of the horrors on this planet and if I was god I would stop people raping little girls and killing each other, only sick twisted people would allow that if they had the power to stop it and I would not want to pray to someone who would let that happen. 

Kind regards,

Smithy

Hello Smithy

Thanks for responding to the article. I get the impression, though, that you have either not read it very carefully or not really understood the reasoning. You merely seem to suggest that my reasoning is guilty of a logical fallacy, i.e. circular reasoning, but you haven’t indicated how this might be the case.

In my article I tried to explain how God is not guilty of malice or being mean-spirited in creating beings that can make free decisions. I explained that if (please notice the indicative conditional statement, for I haven’t yet argued that a Creator God exists) God made people who would actualise their human nature by being in a relationship with God and if he also made it possible for people to accept God’s invitation for a relationship with him (and thereby be true to who they really are as human beings), then rejecting such an invitation does not make God guilty of being mean. I also explained why it might not be feasible for God to make only the people who would freely accept having a relationship with God, since there might not be a possible world in which such persons would exist. In other words, it might be the case that the only worlds in which some people freely accept God, are worlds in which others freely reject God and where it is also the case that these people would not accept God in any other possible world.

This then, is a summary of what I tried to explain in my article. Please notice that the above reasoning averts the charge that God was unjustified in creating beings that he knew would reject him.

You might disagree with what I say, but then please don’t refer me to silly youtube videos or make unsubstantiated statements about circular reasoning. Rather, I’d appreciate it if you engage me on my arguments. It might surprise you to know that I am a sincere seeker after truth and if it can be shown that my beliefs are false, then I want to know about it. If that’s the case then I need to again reconsider some other worldview that make sense of the world I live in. Isn’t this the most reasonable approach for anybody to take?

So, let me again invite you to a civil dialogue (not the kind the three persons on that youtube video had) if you are interested. I accept and respect that you are a proud atheist, but if you are also a fellow human being like me who is willing to carefully and honestly consider thoughtful ideas, then we will get along just fine.

Kind regards
Udo

Sien ook:

Verdoem God die mensdom?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.