Is wat ek glo waar?

Udo, 

Ek sou graag hierdie met jou in die persoon wou bespreek, maar ek kort bietjie rustigheid en dit pla my nou al ‘n hele rukkie. As jy met ‘n paar gedagtes kan reageer sal dit my baie help!

Ons as Christene sê die kerk gee nou al lankal antwoorde op die vrae van ongelowige mense. Gevolglik is die heiden mites van die opstanding en die probleem van swaarkry nie besonder gesofistikeerde besware nie, want die kerk spreek hierdie tipe goed al van lankal aan. Ons sal byvoorbeeld sê, “Geweld in die OT is ‘n goeie beswaar, maar hier is ‘n paar perspektiewe.” 

Ek wonder net of Moslems nie dieselfde houding inneem nie: Ja, Mohammed wat ‘n 14 jarige vrou gehad het, kan erg lyk, maar jy moet hierdie en hierdie in ag neem. Ons as Christene het ons “antwoorde” op Jesus se kruisiging. Dink jy nie die Moslem apologete gaan maar net “antwoorde” hê op besware oor hul teks, die geloofwaardigheid van Mohammed, die feit dat hy ‘n weermag gehad het nie, ens?

In hoe ‘n mate, wonder ek net, is ek so deel van die Christen antwoorde wat ons het, dat ek nie soos die Moslems blind is vir iets anders nie. Ek kan mos as Moslem sê, “Ja, dit is goeie besware hierdie, onthou net dit en dat en daarom is dit steeds redelik om ‘n Moslem te wees.” Dit is immers die posisie wat ons inneem as Christene, ons aanvaar van die besware is taai, gee ‘n perspektief en sê dit is steeds redelik?

Ek weet dat dit nie juis ‘n goeie vraag is wat ek het nie, maar dit bly in my worstel?

Laastens het ek ook gewonder of mens nie in enige teks sulke wonderlike lyne kan trek as mens hard genoeg soek nie? Daar is amazing goed in die Bybel as mens die OT byvoorbeeld lees deur die oë van die NT en sien hoe sekere goed mooi in plek val. Wonder net of mens nie met enige teks dit gaan reg kry as jy lang genoeg na dit gaan kyk nie? 

Sal graag ‘n paar “perspektiewe” by jou wil hoor?

Groete

Winkelsmidt

 

Hi Winkelsmidt

Vanuit enige wêreldbeeld, standpunt of geloofsoortuiging is die vraag vir almal altyd dieselfde: Is dit wat ek glo waar? (En, natuurlik, die vraag wat daarmee saamgaan, indien wel, hoe weet ek dit is waar?)

As Christene is dit dus belangrik om vir onsself te vra: Is die Christelike geloof waar? (En hoe weet ons dit?) Besware is iets wat die kwessie van waarheid wil toets. Ek dink daarom dat die waarde van mense se besware nie noodwendig daarin lê dat ons antwoorde hulle skielik gaan oortuig om Christene te word nie (hoewel dit daartoe kan bydra), maar dat dit óns as Christene help om retig vir onsself te ondersoek of dit wat ons glo werklik so is.

Ek dink dat om iets vir die waarheid raak te sien (d.i., dat iets ooreenstem met hoe dinge werklik is) nie heeltemal so eenvoudig is as wat ‘n mens mag dink nie. Ek dink dat dit vir die meeste mense nogal ‘n proses is om die gaping te oorbrug tussen wat hulle glo die werklikheid is en wat die werklikheid werklik is. ‘n Mens is kompleks en daar is altyd ‘n kombinasie van ‘n klomp faktore wat ‘n rol speel wanneer dit kom by wat mense glo oor wat waar of vals is. Tim Keller in sy boek, The Reason for God: Belief in an Age of Skepticism, praat van drie hindernisse wat in sy pad gestaan het om die Christelike geloof (as waarheid) te aanvaar, naamlik intellektuele, persoonlike (of emosionele) en sosiale hindernisse. Ek sou spesifiek ook ‘n vierde hindernis wil byvoeg, naamlik die geestelike hindernis van ‘n gebroke, sondige natuur wat met ‘n sterk wils-aspek te make het.

As ons vra na die waarheid van ‘n sekere stelling, dan is dit ‘n suiwer intellektuele vraag, m.a.w. stem dit wat geglo word oor (x), ooreen met wat (x) werklik is? Wanneer ons egter besef dat ons pogings tot rasionele antwoorde oor sekere dinge ook deur ‘n klomp nie-rasionele en subjektiewe faktore (soos waarna Keller verwys) beïnvloed word, dan behoort ons altyd oop te wees om ons oortuigings en standpunte te heroorweeg en herondersoek. Dit beteken nie dat ons antwoorde vals is of dat ek as Christen nie sekerheid kan hê oor ‘n klomp goed nie. Dit beteken bloot dat Christene nie bang hoef te wees vir besware, kritiek of ondersoek nie. As die Christelike geloof waar is, dan behoort dit enige toets op redelike wyse te deurstaan. As die Christelike geloof egter nie waar is nie, dan wil ons dit tog weet en behoort ons dit nie te glo nie.

Mense se besware is dus altyd ‘n kombinasie van ten minste die bogenoemde vier faktore. Of nog meer tot die punt, wat mense by ons hoor in reaksie op hul besware of vrae, word deur al vier hierdie faktore in hul lewe beïnvloed. Dit beteken dat ‘n Christen die mees rasionele en logies onaanvegbare antwoord op ‘n beswaar kan gee (of argument vir die waarheid van die Christelike geloof kan maak) sonder dat iemand dit nodig ag om sy botsende oortuigings daarvolgens aan te pas. Dit geld natuurlik ook as óns besware en vrae aan, byvoorbeeld, ‘n Moslem rig.

Met betrekking tot jou vraag dink ek dat ons almal dus tot ‘n mate blind sou kon wees vir ‘n klomp dinge. Ek glo egter nie dis ‘n tipe blindheid waaraan niks gedoen kan word asof ons permanent en onvermydelik aan ‘n epistemologiese donkerte uitgelewer is nie. Ek dink dis juis wanneer ons ons neiging om blind te wees erken, dat ons erns sal maak met selfondersoek en met refleksie oor hoe sekere faktore (persoonlik, sosiaal en geestelik) ons persepsies en begrip beïnvloed. Dan sal ons ook altyd maar wéér ‘n keer bereid wees om mense se besware en ons eie oortuigings met intellektuele deeglikheid en interpersoonlike nederigheid te hanteer.

Vanuit ‘n Christelike perspektief is daar egter ‘n deurslaggewende aspek wat ‘n rol speel in hoekom sommige mense uiteindelik tog vasgevang bly in hul blindheid. Vervolgens ‘n verduideliking soos ek dit verstaan.

Ek glo dat die persoon wat werklik soek na wat waar is oor God, dit sal vind indien hy/sy ook werklik begeer na ‘n verhouding met die God wat werklik bestaan, en nie bloot maar net omdat hulle ‘n intellektuele tevredenheid wil hê oor God se bestaan nie. Ek glo dat dit deel is van die Heilige Gees se werk in en met alle mense om hulle bewus te maak van aanduidings dat God bestaan en wie God is vanuit die skepping, die Skrif en hul morele gewete, sodat hulle in ‘n verhouding met Hom kan tree op grond van sy genade. Ek glo egter ook dat elke mens die vermoë het om aktief weerstand te bied (hetsy bewustelik of onderbewustelik) teen die Heilige Gees se pogings om hom/haar bewus te maak van aanduidings oor die bestaan en identiteit van God. Dit beteken dat niemand dus op die ou end ‘n verskoning gaan hê dat hulle nie genoeg getuienis gehad het vir God se bestaan of vir wie God werklik was nie.

Die rede waarom mense God op die ou end nie gevind het nie (en dus die rede vir hul weerstand), sal daarin lê dat hulle Hom, soos wie en wat Hy werklik is, weens die verborge begeertes van hulle harte, nie wóú vind nie. Dit sal dus wees omdat hulle ten diepste nie belang gestel het in ‘n verhouding met hierdie God nie, en dit is ‘n geestelike kwessie, ‘n kwessie van die wil (soos C.S. Lewis gesê het – daar is op die ou end net twee soorte mense: dié wat sê, “Thy will be done,” en dié wat sê, “My will be done.”)

Natuurlik ontken nie-Christene laasgenoemde verduideliking bloot en dink hulle dis arrogant om hul diepste motiewe so in twyfel te trek (ander mense het immers nie toegang tot hul diepste motiewe nie). Hoewel ek dit nie in ‘n gesprek met iemand sal noem nie, dink ek tog dis ‘n sinvolle verduideliking vanuit ‘n Christelike perspektief (indien God werklik almal tot ‘n verhouding met Hom roep, maar nie almal so ‘n verhouding begeer nie) vir waarom daar skynbaar sulke oortuigde en opregte ateïste of Moslems (of persone met enige ander oortuigings) is wat onverstoord is wanneer hulle met bepaalde feite oor die Christelike geloof gekonfronteer word.

Verder, wanneer ek as Christen werklik in ‘n verhouding met die drie-enige God leef, dan bied my ervaring met God ‘n bepaalde sekerheid en insig wat deurslaggewend is vir waarom ek glo dat die Christelike geloof waar is (William Lane Craig praat van “the inner witness of the Holy Spirit”). M.a.w. my ervaring met God is ‘n baie sterk rede waarom ek kan glo dat die Christelike geloof waar is. Dit is so selfs al maak ‘n Moslem, byvoorbeeld, ook aanspraak tot ‘n soortgelyke geestelike ervaring, maar ‘n ervaring wat sy verstaan van God onderskryf. Die vraag is of ek my ervaring in twyfel moet trek (en daarmee saam my verstaan van God), bloot omdat iemand anders aanspraak maak op ‘n ervaring wat sy verstaan van God bevestig? Nee, ek dink nie so nie, net soos die persoon wat wéét dat hy nie ‘n moord gepleeg het nie (‘n bepaalde innerlike ervaring) irrasioneel sal wees om dit te erken wanneer al die omstandigheidsgetuienis vir een of ander rede daarop dui dat dit wel hy was wat die moord gepleeg het!

Natuurlik is godsdienstige ervaring nie ‘n objektiewe argument teen die waarheid van iemand anders se geloofsoortuigings nie; dit bied wel ‘n subjektiewe tipe sekerheid oor die waarheid van my eie oortuigings – selfs al kan ek geen objektiewe redes of getuienis gee vir waarom ek dit glo nie (wat natuurlik nie beteken dat dit nie wel tog beskikbaar is nie). Die belangrike punt hier is dat iemand nie afhanklik is van ‘n reeks argumente om in God te kan glo nie, maar dat ‘n mens tot geloof in God kom (d.i., ‘n verhouding met God) deur ‘n direkte ervaring met God. Vanuit ‘n Christelike perspektief sou ‘n mens moet aanvoer dat iemand wat aanspraak maak op ‘n bepaalde ervaring met God wat hom/haar bring tot ‘n ander verstaan van God, op een of ander manier mislei is. Om die oorsprong van sulke misleiding te soek, bring ‘n mens terug by die vier faktore (wat aan die begin genoem is) wat ‘n rol speel in geloofsvorming (en vanuit ‘n Christelike perspektief kan ‘n mens ook nie die rol van demoniese inwerking onderskat nie).

Hier is ‘n vraag en antwoord van William Lane Craig wat ek dink ook op jou vraag van toepassing is: Is Unbelief Culpable? Maar ons kan gerus een of ander tyd ook in persoon daaroor praat.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.