Wat is naasteliefde en waar begin dit?

Sommige mense wonder oor wat met jou “naaste” bedoel word. ‘n Eenvoudige en praktiese definisie is dat jou naaste enigiemand is met wie jy op enige gegewe oomblik interaksie of kontak het, m.a.w. dis die persoon naaste aan jou op ‘n spesifieke moment (lees gerus die gedeelte in Lukas 10:27-37 wat juis hieroor handel). Naasteliefde begin dan en beteken dat jy daardie persoon, wie dit ook al is, in daardie situasie met liefde sal hanteer, d.w.s. met woorde en dade wat ‘n uitdrukking van liefde is en wat gepas is vir daardie spesifieke situasie. Naasteliefde is partykeer so eenvoudig soos vriendelikheid en geduld teenoor iemand wat ons sien swaarkry of moedeloos is. Soms beteken naasteliefde om iemand te vergewe wat ons te nagekom het. En ander kere bevind ons onsself dalk in ‘n bepaalde situasie en vra naasteliefde vir ‘n opoffering wat ons regtig iets gaan kos om iemand in hul nood te help.

Naasteliefde strek natuurlik wyer as die onmiddellike kontak met mense in ons elke dag se lewe. Daar is mense wat ons nie as ‘n reël mee kontak het nie, maar wat nietemin ons omgee en liefde nodig het (dink byvoorbeeld aan al die mense in kinderhuise, ouetehuise, hospitale en tronke of ander behoeftige mense wat alleen en afgesonder is en dikwels glad nie voel dat hulle iemand se “naaste” is nie.)

Ek weet nie of dit jou vraag beantwoord nie. Miskien is daar ‘n spesifieke rede waarom jy hierdie vraag vra, en indien wel, dan is jy welkom om verder met my in gesprek te tree.

Beste groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.