Molinisme: Nagedink oor die Verlossingsleer

Hallo Udo

My seun is ‘n ‘agnostikus’ (maar as ek so na hom luister met al sy besware dan klink hy vir my meer na ‘n ateïs; hy is egter ‘n slim kind wat baie dink en nog altyd vrae gevra het). Nodeloos om te sê, ek worstel baie hiermee. Ek het al weke lank getob, gelees, gebid en iemand het selfs gesê ek moet vas. Maar ek het vir haar gesê dat ek self oortuig moet wees om tot so ‘n stap oor te gaan. Ek voel net dat ek nie iets kan doen om die Here ‘se arm te probeer draai nie’. Ek tob nog steeds, bid onophoudelik vir hom. Wil glo die hoop beskaam nie.

Toe begin ek worstel met die uitverkiesingsleer. Baie opgelees, en die antwoorde het meestal neergekom op: hy is waarskynlik nie uitverkies nie en dis waarom hy nie glo nie. Om die waarheid te sê, ʼn sekere webblad (en dis nie fools daar nie hoor – ek het my navorsing goed gedoen) beweer, soos wat ons eintlik van kleins af geleer is, dat ALMAL bestem is om verlore te gaan, maar deur God se genade het Hy besluit om sekeres te kies om nie verlore te gaan nie – bloot uit genade. Nou ja. Met ander woorde, al die mense dwarsoor die aarde wat nog nooit van God (of die evangelie) gehoor het nie, gaan verlore, want hulle is eintlik veronderstel om verlore te gaan. Too bad vir hulle.

Nou, waarom ons as Christene moet uitgaan om siele te werf, weet nugter, want dis mos klaar besluit. Sekere mense is so gelukkig om hierdie ‘irresistible grace” te beurt te val (soos Paulus), ander nie. Ek vra daagliks vir die Here om tog vir my kind te doen wat Hy vir Paulus gedoen het. Ek meen, Paulus was ‘n slim man, ‘n ware intellektueel wat hom tussen die Griekse filosowe (onder andere) kon handhaaf, en God het bonatuurlik ingegryp in sy lewe. Die irresistible grace het hom dus te beurt geval.

Ek is een van die gelukkiges wat ‘uitverkies’ is. Die meeste van my familie ook. Maar my kind, wie ek van voor sy geboorte af aan God opgedra het en opgevoed het as gelowige, is klaarblyklik nie. Ek is nogal vies vir God hieroor. Hoekom is my seun gebore as God geweet het dat hy nie uitverkies is nie? Hy sê dan dat Hy bewys Sy trou tot in die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou.

Ek het ook gelees dat dit nie hier gaan oor God se ‘voorkennis’ nie, en al sou dit so wees, waarom iemand skep wat jy weet jou nie gaan kies nie?

Hierdie ding is ‘n helse (skies) krisis vir my. Is dit omdat ek met geestesoë kyk (seker omdat ek uitverkies is!) en my seun nie? Dit staan mos in Korintiërs dat wat vir ons die krag en wysheid van God is, is vir die wêreld onsin. Ja, maar my seun dink uiteraard dat ek maar net ʼn redelose Christen is.

Groete
Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek hoor jou hartsworsteling oor jou seun. Dis ook goed dat jy aanhou bid en lief is vir hom (soos enige goeie ouer natuurlik sal doen). Ek dink ook nie dat ons daaraan moet dink dat ons deur gebed die Here se arm probeer draai nie, maar tog kan ons glo dat ons gebede wel iets beteken (later iets meer hieroor).

Aah, die uitverkiesingsleer! Hoeveel mense worstel nie met hierdie konsep totdat dit naderhand soos ‘n onoorkomelike berg voor hulle uittroon nie. Sommige Christene sien kans om hierdie berg met ‘n ysere volharding aan te durf, al kan hulle nie sien om dit in hierdie lewe ooit oor te steek nie (die gedagte aan ‘n misterie). Ander Christene roep halt omdat hulle nie oortuig is dat hierdie berg werklik geklim hoef te word nie. (Daar’s ‘n derde groep mense vir wie hierdie berg ‘n simbool is van alles wat verkeerd is met die Bybelse God of die struikelblok vir waarom hulle nie die Christelike geloof ernstig kan opneem nie of waarom hulle hul geloof verloor het.)

Die uitverkiesingsleer is dus iets waaroor Christene met mekaar verskil. Hoewel die idee van verlossing sentraal staan tot ortodokse Christelike geloof, is die idee van uitverkiesing beslis iets wat Christene in liefde met mekaar kan bespreek. In wat volg wil ek iets weergee van die gevolgtrekking waartoe ek gekom het in my eie worsteling met die saak.

Ek kom, soos meeste wit Afrikaanse Christene in Suid-Afrika wat in die apartheidsera grootgeword het, uit ‘n gereformeerde geloofsagtergrond (NGK). Ek identifiseer dus met die vyf solas van die Reformasie: deur Christus alleen, deur genade alleen, deur die Skrif alleen, deur geloof alleen, tot eer van God alleen. Ek het egter ook grootgeword met ‘n vereenselwiging van gereformeerdheid met Calvinisme. Dis egter onakkuraat. Alle Calviniste is gereformeerd, maar nie alle gereformeerde Christene is Calviniste nie (en ook nie alle Christene is gereformeerd nie!).

In my eie worsteling met die inhoud van my geloof (wát ek glo en hóékom ek dit glo) het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek in my verstaan van die Bybel nie aansluiting vind by ‘n Calvinistiese verlossingsleer (in Engels uitgedruk as die sg. TULIP akroniem) nie. Calvinisme het beslis nie ‘n monopolie op Bybelsgetroue eksegese rakende God se soewereiniteit, die mens se vrye wil, en die verhouding tussen hierdie twee Bybelse begrippe nie.

Vervolgens wil ek begin deur kortliks te noem waar ek verskil met die siening soos jy dit uiteengesit het en dan sal ek daarna probeer om vir jou ʼn alternatiewe siening te skets wat ook my eie standpunt reflekteer:

  • Ek dink nie enige Christen moet probeer of behoort uitsprake te maak oor ander se redding nie. Of jy nou in Calvinisme se “unconditional election” glo of nie, dis totaal onvanpas om te dink jy is in een of ander bevoorregte posisie om oor ander se redding uitspraak te lewer. Natuurlik word ‘n boom aan sy vrugte geken, maar daar is ook talle voorbeelde van radikale bekerings van mense van wie dit die minste verwag is. Ek glo wel dat elke gelowige geloofsversekering kan hê, maar om oor iemand anders se verlossing te spekuleer is kortsigtig en ongeoorloof.
  • In teenstelling met ʼn Calvinistiese verlossingsleer, dink ek nie dat God bepaal dat enigiemand verlore gaan bloot omdat Hy hulle nie uitverkies het nie, selfs nie diegene wat nooit die evangelie van Christus hoor nie (my gedagtes hieroor sowel as in die res van hierdie paragraaf, kan jy meer breedvoerig hier lees). As God ʼn verhoudingswese is (nie bloot ʼn abstrakte konsep wat ons moet probeer ontsyfer en begryp nie), dan glo ek dat God met elke mens persoonlik bemoeienis maak op ʼn diep eksistensiële vlak. Dit beteken dat selfs al onderdruk baie mense hierdie bemoeienis onbewustelik (en ontken hulle daarom enige sulke bemoeienis) openbaar Hy Homself wel aan almal. Dit beteken nie Hy openbaar Homself in gelyke mate aan almal nie, maar dat die mate waarin hy Homself wel aan enige spesifieke mens openbaar (die idee van algemene openbaring), genoeg is vir daardie mens om op ‘n bepaalde manier te reageer (daar is dus interaksie tussen daardie persoon en God). Hierdie reaksie, weens God se aktiewe toenadering en nie bloot maar die mens se neutrale soeke na God nie, wys of iemand werklik belangstel in ‘n verhouding met God. Dit beteken dus dat God en per implikasie sy genade weerstaan kan word, in teenstelling met Calvinisme se “irresistible grace”. ʼn Verdere implikasie is dat God egter onder geen verpligting staan om Homself ook op ‘n saligmakende manier aan diegene te openbaar wat hy weet nie werklik in hom belangstel nie.

Weens hierdie twee perspektiewe is jou seun se uiteindelike verlossing, vanuit ʼn menslike perspektief, ʼn oop vraag (selfs al weet God of jou seun uiteindelik vir of teen Hom sal kies). Jou seun maak tog sy eie keuses en niemand het toegang tot sy diepste motiewe en hart nie, behalwe God. As hy op die ou end dan werklik nie met God, soos God werklik is, iets te doen wil hê nie, dan kan niemand, selfs nie God, hom forseer nie (en dit sê niks oor God se almag nie). ‘n Mens dwing tog nie iemand anders om in ‘n verhouding met jou te tree of vir jou lief te wees nie (‘gedwonge liefde’ is ‘n teenstrydigheid in terme!).

Dit beteken egter nie dat ons nie wél steeds en aanhoudend vir iemand soos jou seun kan bid nie. Gebed, so leer ons in die Skrif, het ‘n kragtige uitwerking. God kan en wil inderdaad in iemand se lewe werksaam wees juis omdat ons vir hulle bid, sodat hulle hom kan sien vir wie hy werklik is. Maar dis nog steeds geen waarborg dat enigiemand uiteindelik die knie voor die Hom sal buig nie.

Om vir iemand anders te bid wat nie die Here ken nie, is egter meer as net gebed. Dis aktiewe betrokkenheid en liefde. Dit beteken nie om dweepagtige Bybelversies aan te stuur of beloftes te maak vir gebede dat God hul harte sal verander nie, al word dit ook goed bedoel. Dis eerder om sensitief te wees vir so ‘n persoon se twyfel en besware, wat beteken om altyd met geduld te luister eerder as te preek (en ook nie om éérs te luister en dán te preek nie); om nie goedkoop antwoorde te gee nie (en ongelukkig weet te min Christene hoe ‘n goedkoop antwoord lyk); nie op die verdediging te wees nie (selfs al voel ons en ons oortuigings aangeval); en nooit vanuit ‘n morele hoogte op iemand neer te praat nie (om op ander se foute te wys mag óns dalk laat beter voel, maar dit doen nie veel vir ‘n verhouding nie).

Natuurlik is die wysheid en krag van die Here vir die wêreld onsin, maar dit beteken nie dat alles met ‘n geestesoog verhelder moet word vóórdat dit ook intellektueel sin maak nie (inderdaad nog ‘n aspek van sommige Christene se siening en die implikasie van “totale verdorwenheid” waarmee ek verskil).

Winkelsmidt, jy is beslis nie ‘n redelose Christen nie. Die blote feit dat jy met jou geloof worstel en daarvan wil sin maak bewys die teendeel. Maar kom ons gee jou seun dit toe: te veel Christene kan nie minder gepla wees oor dit wat hulle blindelings glo nie. Dis dalk nie in opsigself heeltemal verkeerd nie (as wat geglo word werklik waar is), maar dis wanneer hierdie Christene met opregte (of selfs ligsinnige) vrae gekonfronteer word en dan daarop probeer reageer, dat dit vir ander so duidelik soos daglig word hoe naïef hulle soms is. En sulke indrukke doen die beeld van die Christendom nie ‘n guns nie.

Okay, wat nou volg is inligting en verwysings as alternatiewe tot dié van ʼn vyf-punt Calvinistiese verlossingsleer. Die siening wat die beste beskrywing gee van my eie siening word Molinisme genoem, na aanleiding van die insigte van Luis Molina wat in die 16de eeu oor God se soewereiniteit en die mens se vrye wil nagedink het. Nie baie Christene is bekend met hierdie model om sin te maak van ʼn Bybelse verlossingsleer nie, maar ek vind dit ‘n baie sinvolle manier om oor die begrippe wat hier ter sprake is na te dink.

So, wat is Molinisme? Die essensie van Molina se denke gaan oor die aard van God se kennis. Die vraag is, wat weet God? Teoloë wat oor hierdie vraag nadink het nog altyd aangevoer dat indien God ʼn bepaalde wêreld sou skep, dan weet Hy, omdat Hy God is, van alles wat moontlik in so ʼn wêreld kan gebeur sowel as alles wat inderdaad gaan gebeur. Molina se insig was om aan te toon dat God ook kennis dra van alles wat in die wêreld sou gebeur, indien die omstandighede wat God kon kies om te aktualiseer, anders was (dit word ook God se “middelste kennis” genoem). Ook het God hierdie kennis ongeag Hy besluit om enige bepaalde wêreld te skep of nie.

Om te verstaan wat die implikasies is van wat God weet vir ʼn Bybelse verlossingsleer, is dit nodig om kortliks by elkeen van hierdie tipes kennis wat God het, stil te staan.

  1. Die eerste soort kennis wat God het, is natuurlike kennis (natural knowledge) wat kennis is oor alle noodwendige waarhede, soos byvoorbeeld die wette van logika. Hiervolgens is die waarheid van bepaalde stellings deel van God se kennis (bv. 1+1=2), omdat God is wie Hy is (m.a.w. God besluit nie om hierdie stellings waar te maak omdat hy dit so wil nie, maar hierdie stellings is waar bloot omdat God ‘n bepaalde natuur het). Natuurlike kennis is dus kennis oor al die moontlikhede wat kan wees (God’s knowledge of what can/could be the case) indien God ʼn bepaalde wêreld sou skep. God het dus kennis van alle moontlike wêrelde wat Hy kan skep, die wesens wat Hy in daardie wêreld kan skep en al die moontlike omstandighede waarin Hy hulle kan plaas. God kan nie God wees sonder hierdie soort kennis en die spesifieke inhoud daarvan nie – dis essensieel tot wie Hy is.
  2. Ons kom terug na God se tweede soort kennis (in logiese volgorde) en staan eers stil by God se derde soort kennis, naamlik Sy vrye kennis (free knowledge). Hierdie kennis is kennis oor die aard van die spesifieke wêreld wat God besluit om te skep (d.i. ons huidige wêreld) en sluit dus Sy voorkennis in oor alles wat in hierdie wêreld gaan gebeur (God’s knowledge of what will be the case). God oefen ook direkte beheer uit oor watter stellings waar of vals is in hierdie wêreld bloot omdat Hy gekies het om hierdie tipe wêreld te skep. M.a.w. indien God sou kies om ‘n ander wêreld te skep, kon God dit bewerkstellig het dat sekere stellings wat in hierdie wêreld waar is, in ‘n ander wêreld vals sou wees. So byvoorbeeld kon God ‘n ander wêreld geskep het waarin Nelson Mandela nie bestaan het nie en dan sou alle stellings oor Mandela wat in hierdie wêreld waar is, in daardie wêreld vals gewees het. Dus, watter stellings waar of vals is (bv. Nelson Mandela is in 1994 tot President van Suid-Afrika verkies), word bepaal deur die vrye besluit van God om ‘n bepaalde wêreld te skep. Hierdie soort kennis is ook essensieel tot wie God is, hoewel die spesifieke inhoud daarvan anders kon gewees het.
  3. Nou, behalwe vir God se natuurlike kennis en vrye kennis, het God ook middelste kennis (middle knowledge). Hierdie kennis gaan oor wat enige tipe skepsel wat met ʼn vrye wil toebedeel is, sou doen (nie net kán of gáán doen nie) onder enige moontlike stel omstandighede (God’s knowledge of what would be the case, if circumstances were different). M.a.w. God het sulke kennis sonder dat hy enige wêreld hoef te skep waarin daardie stel omstandighede ‘n werklikheid is. So byvoorbeeld weet God dat as Petrus in spesifieke omstandighede geplaas sou word, dan sou hy Christus drie maal verloën. Dus, volgens sy natuurlike kennis weet God wat Petrus alles in ʼn spesifieke stel omstandighede kan doen. Omdat God egter ook middelste kennis het (die volgende logiese tipe kennis naas natuurlike kennis, en dus die tweede soort kennis wat God het), weet Hy ook wat Petrus, as hy in enige stel omstandighede geplaas word, sou doen. Wat Petrus uiteindelik gaan doen, word egter nie deterministies deur sy omstandighede bepaal nie, maar is Petrus se eie besluit. God weet dus wat Petrus vryelik sal kies om te doen. (Natuurlik bepaal ‘n mens se omstandighede beslis die hoeveelheid opsies wat ‘n mens het om van te kies, en selfs die geneigdheid om uiteindelik sekere opsies bo ander te kies. Ek dink egter nie iemand kan werklik sê dat hy geen keuse gehad as om iets spesifieks te doen nie. Ek weet baie mense praat so, maar as dit werklik die geval was, dan sit daar vandag baie mense in die tronk wat bloot uitgelewer was aan hulle omstandighede waarin dit noodwendig hul optrede bepaal het. Dan het hulle allerlei misdade gepleeg omdat hulle bloot nie anders kon nie. As dit die geval is, kan sulke mense dan werklik aanspreeklik gehou word vir hul dade?)

God se besluit om hierdie spesifieke wêreld te skep is dus uiteindelik die gevolg van sy middelste kennis. God het uit ‘n verskeidenheid moontlike wêrelde (volgens sy natuurlike kennis) één gekies het om te realiseer. God se middelste kennis veronderstel dus dat God dit wat mense in bepaalde omstandighede vryelik sal doen in ag neem met sy skep van hierdie wêreld. Die implikasie is dat God in totale beheer is van wat in enige spesifieke wêreld gebeur, sonder dat dit enige mens se vrye wil en eie keuses in gedrang bring. Soos ‘n Molinis eenkeer gesê het: “It is up to God whether I find myself in a world in which I am predestined; but it is up to me whether I am predestined in the world in which I find myself.” (Sien ook hierdie verduideliking van Molinisme)

Die Amerikaanse teoloog en filosoof William Lane Craig is een van die min teoloë wat God se middelste kennis op verskeie maniere in sy teologie probeer demonstreer. Jy mag daarom die volgende geselekteerde besprekings oor hierdie onderwerp in sy volwasse Sondagskool klas (Defenders Class), insiggewend vind (klik op ‘DETAILS’ heel regs om die teks te lees, as jy nie na die potgooi wil/kan luister nie):

Dan is daar ook ‘n hele aantal vrae en/of besware wat Dr. Craig hanteer oor verskillende aspekte van Molinisme (let wel dat sommige besprekings meer filosofies van aard is as waaraan jy dalk gewoond mag wees):

Nog ʼn paar aanvullende besprekings met William Lane Craig m.b.t. aspekte van Molinisme is die volgende:

Sien ook hierdie hele reeks artikels oor Molinisme van ʼn ander webwerf: Understanding Molinism. Sien ook hierdie artikel: Is Molinism Biblical?

Ek vind ook in ‘n groot mate aansluiting by aspekte van Arminiaanse teologie, maar dit word ongelukkig dikwels deur sommige Christene verketter en summier met Roomse Katoliek teologie vereenselwig. Ek dink egter sulke voorbehoude spruit soms bloot uit onkunde, maar ongelukkig soms ook uit ‘n fundamentalistiese voorveronderstelling dat ‘Calvinisme’ gelyk is aan ‘Bybels’ en dat enige ander siening wat daarvan verskil daarom per definisie onbybels is. Nietemin hier is ʼn paar artikels wat betrekking het op verlossingsleer wat baie sinvol mag wees:

Ten slotte is daar ‘n uitstekende reeks van vyf artikels wat ‘n vergelykende blik bied op drie verskillende teologiese perspektiewe wat sover spesifiek genoem is, nl. Calvinisme, Arminiaanisme en Molinisme:

Ek hoop hierdie help so effens. Ek hoop jy kan sien dat ek dit nie hier teen Gereformeerde Teologie het nie. Dit gaan daaroor dat ek bloot tot die oortuiging gekom het dat daar ʼn verstaanraamwerk is wat omvattend en samehangend sin maak van die Bybelse data rondom ʼn verantwoordbare verlossingsleer op ʼn manier wat ʼn Calvinistiese uitverkiesingsleer nie doen nie. Natuurlik is ek bereid om oor die meriete en skrifgefundeerde aard van hierdie verstaanraamwerk te gesels. Terselfdertyd is dit ook altyd die hoop dat ʼn mens so ʼn gesprek op ʼn respekvolle en deurdagte manier met ander Christene kan voer.

Winkelsmidt, soos gewoonlik moet jy gerus laat weet as jy oor enigiets verder wil gesels.

Groete

Udo

Ander skrywes wat hier betrekking het:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.