God, die siel en geestesgesondheid

Hi Udo

Ek het kroniese gesondheidsprobleme waarvan depressie ‘n simptoom is (al vir 23 jaar). So het duisende ander mense ook gesondheidsprobleme wat die biochemie van hul brein aan-tas, dus die sentrum van emosies en die belewenis van die/hul werklikheid (dus geloof ook?)

Meeste Christene glo dat die “mind”/siel/gees” meer is as net die fisiese brein, dus meer as net biochemie – jy kan dus geestelike belewenisse en geloof uitoefen om soort van die fisiese brein/ jou fisiese liggaam te “bypass”. Die realiteit is as jy self binne daardie werklikheid lewe, is dinge nie so eenvoudig nie, as mens nie sulke fisiese probleme het nie hoef jy uiteraard nie daaroor na te dink nie, en dan maak geloof en jou belewenis daarvan redelik sin.

Daar is pynlike/lydings/werklikheidservaringe (a.g.v. biochemiese wanbalanse) wat so verwyder is van wat mens sou dink ‘n Christen ‘behoort’ te beleef, dat jy jouself begin afvra (omdat dit jou werklikheid is) of die aansprake wat Christene oor geloof maak, nie maar net biochemise reaksies is in die brein is nie (bv. ‘n gevoel van euforie a.g.v. ‘n afskeiding van endorfiene en genoeg serotonien in die brein). Dinge soos vreugde, vrede, wysheid, keuses, die vrye wil, ens., maak dikwels dan geen sin vir so ‘n persoon nie (sulke dinge maak in elk geval nie sin vir ‘n breinbeskadigde gestremde persoon nie). Daar is 2 alternatiewe: verlaat die geloof of worstel en probeer antwoorde vind binne die geloof.  

Ek wil ‘n ander voorbeeld gebruik van ‘n bekende Lutherse Evangelis wat ek geken het wat Alzeimer’s ontwikkel het en later nie eers meer geweet het hy was ‘n Evangelis ens. nie. ‘n Ander voorbeeld: sou ‘n charismatiese prediker met soveel “gees”drif kon preek en bewerings maak as ek sy serotonien uit sy brein sou verwyder?…ek dink nie so. 

Ek het reeds met baie teoloë en Christene gepraat, van sommiges het ek veroordeling ontvang (ek moet net my ‘attitude’ verander, dis bindinge, jy moet vir terapie gaan, ens. ens.) by sommiges wel ‘n poging om ‘n meer sensitiewe reaksie te gee, meeste Christene raak ongemaklik as mens sulke vrae vra. Ek het als binne die “Christelike” spektrum beleef. Ek het ook met Stephan Joubert gepraat, wat nie vir my ‘n bevredigende antwoord kon gee nie, alhoewel hy blykbaar ‘n belangstelling in neurologie het. My behoefte is om meer inligting hieroor te kry van werklike “experts”, literatuur, akademiese ens. Om meer te verstaan en dit met geloof te kan integreer is vir my kardinaal belangrik, nie net vir myself nie, maar vir duisende ander mense wat ook met hierdie belewenis worstel, waarvan daar dink ek min binne die kerk funksioneer. Ek dink dit is ‘n vraag wat beantwoord moet word vir al die ander “mentally” gesonde mense ook, want dit bevraagteken vir my die basiese “geloofs” belewenis en hoe dit tans deur die kerk oorgedra word. 

Dit is uiteraard nie net van akademiese belang nie, maar dit raak my persoonlike lewe elke sekonde van die dag. Dit is my belewenis dat mense soos ek altyd ‘n “outsider” bly binne die kerk want ons belewenis val nie binne die “Christelike” norm nie en selfs “Dialoog” (pun intended) is dan nie meer so oop nie. 

Dalk kan jy my verwys na meer inligting of “experts” 

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou brief en die eerlikheid waarmee jy jou worsteling deel. AntWoord en Dialoog is beide bedienings wat daarvoor streef om openhartigheid en eerlikheid by mense aan te moedig oor enige en elke aspek van hul lewens. Die feit dat dit baie mense se ervaring is dat die ‘kerk’ ongemaklik is met hulle vrae en worsteling (en soms summier veroordelend en self vyandig daaroor is) is werklik tragies en ‘n skerp aanklag.

Persoonlik is ek van mening dat ‘n spiritualiteit wat nie holisties gegrond is nie (m.a.w. alle aspekte van wat dit beteken om mens te wees en ‘n aardse lewe te leef, in ag neem), nie gesond is nie en uiteindelik irrelevant sal word (vir die persoon self asook vir hulle wat daarmee gekonfronteer word). Daarom is ek ‘n groot voorstander daarvoor om ondersoek in te stel na hoe al die verskillende aspekte van ons menswees met mekaar verband hou.

As die Christelike geloof waar is en as ek in inderdaad my bestaan aan ‘n Skepper God te danke het wat ‘n verhouding met my begeer, dan behoort ek ook sin te maak van al die ander aspekte van my lewe soos wat Hy dit geskep het. Dan is die vrae wat gevra kan word oor die verhouding tussen ‘n immateriële ‘ek’ en my materiele liggaam, nie maar net hinderlike irritasies wat dreig om die Christelike wêreldbeeld uitgedien te maak nie, maar vrae wat ek ernstig kan opneem met die vertroue dat die Christelike wêreldbeeld wel daarvan sin maak. Natuurlik beteken dit nie dat alle antwoorde ewe maklik is nie (en te veel Christene is tevrede met simplistiese antwoorde op komplekse vrae), of dat omdat die antwoord nie voor die hand liggend is nie, dit daarom sou beteken dat daar nie ‘n antwoord is nie of dat ‘n Christelike perspektief noodwendig vals moet wees nie.

So in kort, jou vrae is welkom en ek dink, uit my eie ervaring en ondersoek, dat daar sinvolle antwoorde is. Maar wees maar geduldig met die proses om dit vir jouself uit te klaar, want ek dink die vrae wat jy vra is van die moeilikste om bevredigend te antwoord juis omdat die eksistensiële komponent (hoe ons dinge beleef en watter emosies dit by ons aanwakker) so ‘n groot rol speel. Maar dikwels help dit werklik om duidelike begrip oor dinge te vorm voordat ons ons belewenisse en emosies in die regte perspektief kan plaas. Terloops, ek dink nie spiritualiteit gaan in die eerste plek oor allerlei ervarings nie, maar oor dinge soos sin en betekenis, verantwoordelikheid en waardetoevoeging. Ek dink daarom dat ‘n groot deel van die Christendom wat ‘n oordrewe klem op emosionele ervaring plaas eenvoudig die verkeerde fokus het.

Okay, ‘n bietjie oor myself. Ekself is ook ‘n depressielyer (of sal ek eerder sê ‘n ‘recovering’ depressielyer) sedert my tienerjare, hoewel ek nou al vir ‘n hele aantal jare vry is van enige lewensontwrigtende simptome (ek deel hier iets van my eie verstaan en ervaring van depressie). So ek verstaan baie goed as jy praat van die aspekte rondom ‘geloofsbelewenis’ en hoe dit deur biologiese faktore beïnvloed word. Sonder dat ek my terme nou eers spesifiek gaan definieer, is dit my mening dat die wisselwerking tussen siel en liggaam (of breinprosesse) baie nou verband hou en dat wat in/met die een gebeur ‘n baie besliste effek op die ander sou hê. Let wel dat ek egter daarmee sê dat ek glo dat die invloed wederkerig is. Die implikasie is dat ek (my immateriële self) in die meeste gevalle en onder normale omstandighede verantwoordelik is vir my keuses en optredes en dat ek nie summier die blaam vir alles by die deur van biologiese/genetiese determinisme of selfs omgewingsdeterminisme kan lê nie. Maar meer hieroor in die artikels waarna ek jou sal verwys aan die einde van hierdie brief.

Ek dink die uiteinde van my eie besinning oor hierdie sake is dat ek in my geloofservarings nie totaal deur my emosies gedomineer of verlam hoef te word nie, maar dat dit ook nie beteken dat ek my emosies hoef te ontken nie. Hier speel emosionele intelligensie ‘n groot rol, soveel te meer vir die persoon wat aan gemoedsversteurings ly. Om te weet watter emosie ek ervaar en hoekom ek dit ervaar is soveel meer kompleks vir hierdie persone waar biologiese faktore ‘n invloed uitoefen, maar is ook soveel belangriker sodat hulle hul ervarings in die regte perspektief kan plaas.

Verder is die invloed van biologiese oorsake op die geesteswelsyn van mense iets wat ander Christene nie altyd verstaan nie. Dis daarom ook inderdaad ‘n uitdaging vir baie Christene met bepaalde gesondheidsprobleme om gemaklik te funksioneer in ‘n omgewing waar daar gefrons word vir emosies/gedrag wat lyk of dit nie pas by wat ‘n mens van ‘n Christen sou verwag nie. Daarom is daar bestuur en toeligting na beide kante nodig: vir die ‘lyer’ om gesonde selfbewussyn (self-awareness) te handhaaf in die proses om emosies/belewenisse effektief te bestuur; en aan die ander kant vir die Christengemeenskap om nie ander se geloofservaring aan subjektiewe en naïewe standaarde te meet nie.

Maar wat van mense wat so drasties geraak word deur allerlei biologiese faktore dat daar geen sprake is van normale funksionering nie? By sulke mense wat nie meer geïntegreerde lewens kan leef nie, is die verhouding tussen intellek, emosie en wil tot so ‘n mate gebroke dat daar nie meer beheer daaroor uitgeoefen kan word nie. Waar hierdie drie aspekte nie meer in harmonie kan funksioneer nie weens biologiese faktore, is die fokus primêr op die behandeling van die biologiese oorsake en op die ondersteuning van die persoon in die mate waartoe dit nodig en moontlik is.

Ek wil egter ‘n bietjie persoonlik raak en meer spesifiek vra na jou eie geloofservaring. Hoe beleef jy jou geloofswerklikheid en meer belangrik, wat dink jy sê dit van God? Ek dink natuurlik dis belangrik om ‘n onderskeid te tref tussen die vraag of God werklik bestaan en die vraag na of en hoe ons die realiteit/teenwoordigheid van God kan ervaar. Die punt is maar net dat as God nie bestaan nie, dan is dit wel so dat sommige van ons vir een of ander rede bloot deur prosesse in die brein mislei word om te glo dat so ‘n entiteit bestaan. Maar as God wel bestaan, dan bestaan hy ongeag ons breinprosesse en ongeag ons teorieë oor die verhouding tussen liggaam en siel (en is die vraag steeds of en hoe ons God as ‘n realiteit in ons lewens kan ervaar.)

So as jy kans sien, vertel my bietjie meer oor waar jou twyfel en worsteling lê: Is dit by die gebrek aan ervaring van God se teenwoordigheid en daarmee saam miskien by die aanwesigheid van bepaalde emosies wat teenstrydig sou wees met wat jy dink dit sou beteken om ‘n verhouding met God te hê? Of is dit eerder spesifiek twyfelende gedagtes oor die bestaan van God, dat jou ervaring dalk aandui dat God inderwaarheid nie bestaan nie?

Hoewel die verwysings hieronder nie direk spreek tot laasgenoemde kwessie nie, dink ek tog dat dit relevansie het en insiggewend is m.b.t. tot die verhouding tussen siel en liggaam.

Die volgende artikels is deur J.P. Moreland, iemand vir wie ek geweldige respek het en wat al baie oor hierdie onderwerp gedink en geskryf het (soek na ‘Download this item’ onder aan die bladsy). Jy kan gerus tyd spandeer op sy webwerf, www.jpmoreland.com

Luister (audio) ook na Moreland hier: What Is The Soul and Is It Real?

Dan is daar twee kort artikels van ReasonableFaith.org wat baie insiggewend is:

Daar is twee ander artikels wat ek vinnig kan noem. Die eerste is ‘n kort, bondige en toeganklike artikel wat siel/liggaam dualisme bespreek. Die tweede is ‘n redelik tegniese en filosofiese artikel wat poog om die grense van die gesprek oor dualisme uit te lig (daar is baie konsepte wat ‘n redelike mate van filosofiese agtergrondkennis veronderstel):

Kyk gerus ook na die volgende artikel:

Laastens verwys ek jou na twee boeke wat jy interessant mag vind:

Groete.

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.