Kan ʼn mens deur enige geloof gered word?

Goeie more,

Ons het laas week in ons selgroep gesels oor ander gelowe. Ek was geskok om te hoor dat so baie mense voel dat mense gered kan word deur enige geloof solank hulle by liefde uitkom. Sover ek verstaan se Jesus Hy is die enigste weg en waarheid. Wat is jou siening hieroor?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

My ervaring is dat te veel Christene ongelukkig nie hulle eie geloof werklik verstaan nie. Sommige is eenvoudig nie vertroud genoeg met hul Bybels nie; ander hou van sekere gedeeltes in die Bybel, maar dink dat ‘n klomp ander dele darem vreeslik onverdraagsaam is. Die kwessie van redding is een daarvan.

Is dit onverdraagsaam om te dink dat Jesus die enigste weg en waarheid is? Wel, dit hang van ‘n paar dinge af, soos byvoorbeeld: Is daar iets soos waarheid? Lei alle godsdienstige weë na dieselfde eindbestemming? Wie is Jesus dat daar van hom gesê kan word dat hy die “weg, die waarheid en die lewe” is (Joh 14:6)? Kom ons kyk kortliks na elkeen van hierdie vrae:

  1. Is daar iets soos waarheid? Wel, as daar nie is nie, dan is daar eintlik maar net opinies. Dan is een mens se opinie basies maar net so goed soos enige ander s’n. Miskien is die ateïs dan reg en is daar werklik geen God nie (al is dit net sy opinie). As almal egter slegs maar ‘n “opinie” het, dan maak dit nie eers sin om te praat van iets soos redding nie. Hoekom sou dit? Is dit dan nie maar bloot iemand se opinie dat mense redding nodig het. En hoekom sou liefde in elk geval so belangrik wees, dis eintlik maar net iemand se opinie. Die punt is, Rachel, dat nie alle opinies reg kan wees nie. Byvoorbeeld, die stelling, “God bestaan” is waar of vals; dit kan nie beide wees nie. Nog ‘n voorbeeld: “Die vloeistof in daardie bottel is drinkbaar.” Is dit belangrik of so ‘n stelling waar is? Of is dit okay om maar net ‘n opinie daaroor te hê? Wel, ‘n blote opinie kan ons niks sê oor of die vloeistof in die bottel dalk giftig is nie. Dis nie goed genoeg om maar net ‘n opinie te hê nie, dis belangrik om te weet of jou opinie ooreenstem met wat werklik so is (m.a.w. is dit waar?). As Jesus dus die waarheid is, dan is dit nie maar net iemand se opinie nie. Ja, miskien het iemand oor Jesus se woorde gelieg, of miskien het Jesus dit self gelieg (of nie geweet waarvan hy praat nie). Maar dan is dit waar dat hy gelieg het (of mal was) óf dis nie waar nie. Wat werklik die geval is, is nie maar net so volgens iemand se opinie nie.
  2. Lei alle godsdienstige weë na dieselfde eindbestemming? Dis ‘n baie populêre opinie om te hê as dit by verskillende gelowe kom. Maar is dit waar? Wel, ten minste alreeds op sigwaarde is dit glad nie waar nie. Die eindbestemming waarvan ons hier praat is natuurlik God. Maar Boeddhisme en sekere groeperings van Hindoeïsme ontken die bestaan van God (en natuurlik ook ateïsme hoewel dit nie ‘n godsdiens as sodanig is nie). En selfs al praat ons van God, is die God wat deur verskillende gelowe beskryf word, beslis nie identies nie. Vra maar vir enige toegewyde Moslem en Hindoe watter God hulle aanbid: Vishnu of Allah? En as jy wonder of hulle nie maar net dieselfde God onder ‘n ander naam aanbid nie, begin ‘n bietjie uitvra oor die eienskappe van die God waarin hulle glo en jy sal gou agterkom dat sulke beskrywings van God konseptueel en wesenlik van mekaar verskil (sien bv. Hoe verskil die wêreld se godsdienste?). Dis net iemand wat nog nooit erns gemaak het met wat verskillende godsdienste werklik leer nie, wat sal dink dat alle paaie na dieselfde God lei. Maar leer alle gelowe dan nie dat die liefde belangrik is nie? En as alle godsdienste dink die liefde is belangrik, is liefde dan nie die belangrikste aspek van alle godsdienste nie? En as dit die belangrikste aspek van alle godsdienste is, dan kom alle godsdienste maar eintlik op dieselfde neer: die liefde. Daar is veral twee groot probleme met hierdie tipe argument:
  • Eerstens, die gemene deler in verskillende omstandighede/oortuigings, maak daardie gemene deler nie die belangrikste aspek van bepaalde omstandighede/oortuigings nie, selfs al as dit essensieel tot daardie omstandighede/oortuigings. Byvoorbeeld, die feit dat rugby, rolbal en snoeker almal met balle gespeel word, beteken nie dat hierdie sportsoorte daarom almal basies dieselfde is nie. Natuurlik kan ‘n mens nie hierdie sportsoorte sonder ‘n bal speel nie, maar hierdie feit alleen is geensins belangriker as dinge soos byvoorbeeld die reëls van spel of die spesifieke vermoëns van die  deelnemers nie – en hier is die verskille almal hemelsbreed. Net so is die liefde essensieel tot baie godsdienste, maar verseker nie die belangrikste definiërende element daarvan nie. Daar is ‘n klomp ander noemenswaardige en wesenlike verskille.
  • Tweedens, dis belangrik om te weet wat met “die liefde” bedoel word. Om net te praat van “die liefde” is eintlik niksseggend sonder ‘n behoorlike konteks. Het Hitler en Osama bin Laden nie ook “die liefde” nagestreef nie? Het hulle dan nie ook familie en vriende gehad vir wie hulle lief was en vir wie hulle opofferings gemaak het nie? En veral Bin Laden was ‘n godsdienstige man! As die Christelike geloof van “die liefde” praat, is dit regtig dieselfde as wat Boeddhisme of Islam daarmee bedoel? As Johannes skryf: “Dít is ware liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en Sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem” (1 Joh 4:10), praat ons hier regtig van dieselfde “die liefde” wat Hindoeïsme en Judaïsme sou voorhou? Indien nie, in waar opsig is “die liefde” ‘n gemene deler in alle godsdienste wat as ‘n weg na God beskou kan word?
  1. Wie is Jesus dat daar van hom gesê kan word dat hy die “weg, die waarheid en die lewe” is? Hierdie is ‘n kernvraag in die Christelike geloof en die antwoord wat gegee word is iets wat alle ander godsdienste ontken. Die kort antwoord is dat Jesus die Seun van God was en daarom ook self God was (anders gestel: Jesus as persoon het beide ‘n Goddelike en menslike natuur gehad; dit beteken dat Hy al die essensiële eienskappe gehad het wat van hom ‘n mens soos ek en jy, gemaak het, maar hy het ook al die essensiële persoonseienskappe gehad wat hom God gemaak het, self al het sy Goddelikheid nie sy menslikheid totaal oorheers nie). Dit is hierdie Jesus wat namens ons, deur sy kruisdood, ons sondeskuld vergewe het, en sodoende versoening tussen mens en God kon bewerkstellig. Hier is dus die belangrike vrae:
  • Watter godsdiens erken dat dit waar is dat ons vanweë ons sonde van God vervreem is?
  • Watter godsdiens erken dat dit waar is dat ons nie uit ons eie met God versoen kan word?
  • Watter godsdiens erken dat dit waar is dat God self die inisiatief geneem het, deur Jesus, sonder dat ons dit verdien, om ons met Hom te versoen?

Dis slegs die Christelike geloof wat erken dat al bogenoemde waar is. Dit maak dit nie daarom outomaties waar nie, maar ás dit nie waar is nie, dan is die Christelike geloof vals en moet ons waarskynlik elders soek vir die waarheid rondom wie of wat God is.

Maak hierdie waarheid die Christen onverdraagsaam teenoor mense van ander gelowe wat anders dink en glo? Nee, want hierdie boodskap van versoening is vir almal bedoel en daarom wil Christene ook hê dat almal dit sal hoor. Die blote feit dat ander godsdienste hierdie boodskap verwerp, kan tog nie beteken dat dit daarom vals is nie. Dit beteken ook nie dat ons onverdraagsaam is of hoef te wees nie. Inderdaad is iemand reg en iemand anders verkeerd, maar dit beteken nie ons hoef arrogant en onverdraagsaam op te tree teenoor mense van wie ons verskil nie. Ons kan op ‘n respekvolle manier met ander mense gesprek voer oor waarom ons glo wat ons glo en selfs oor waarom ons dink dat hulle verkeerd is. Dis dikwels bloot omdat ons nie weet hoe om so ‘n tipe gesprek in liefde te voer nie, dat ons terugval na die flou, ondeurdagte gedagte dat almal se opinie oor godsdienstige sake ewe geldig is. Almal is natuurlik geregtig op ‘n opinie, maar nie almal se opinie dra ewe veel gewig nie.

(Vir ‘n langer, meer indiepte bespreking sien Godsdienste: oppervlakkig verskillend, basies dieselfde?)

Laat weet wat jy dink, of laat weet as jy enige ander vrae het.

Mooi bly

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.