As God alles bepaal, het ons nog enige sê?

Udo,

God sê dat Hy ons geken het in die baarmoeder waar Hy ons aanmekaar geweef het (êrens in die Psalms). Beteken dit dat Hy ons spesifiek gemaak het en nie soseer die seksdaad tussen ons ouers nie? Of is die bedoeling eerder dat Hy lewe skep, maar nie soseer die fisiese vorm of uitkoms bepaal nie. Want hoe verduidelik ons die Downsindroom-baba of die stilgebore en ander misvormde babas? As Hy ons dan aanmekaar geweef het, beteken dit dan byvoorbeeld dat “nurture” en nie “nature” ons seksualiteit bepaal? God sit ons aanmekaar, maar aanvaar nie verantwoordelikheid vir ons natuur nie? En as God alwetend is, dan het Hy voor ons geboortes geweet wie en wat ons gaan wees. Wat dan van vrye wil? En tog lees ons in Genesis “Hy haat” homoseksuele en hoe hy Sodom en Gemorra verwoes het vanweë losse sedes en seks tussen persone van dieselfde geslag.

Winkelsmidt

 

Hallo WInkelmsidt

Die meeste mense erken dat die wêreld gebroke is. Ons beleef dikwels dat daar dinge fout is met en in ons wêreld, dat dinge nie is soos dit behoort te wees nie. Volgens die Christelike wêreldbeskouing het hierdie gebrokenheid ‘n geestelike oorsprong. Die huidige toestand van die wêreld en alles wat daarin gebroke is, kan uiteindelik teruggevoer word na die breuk in die mens se verhouding met God (Genesis 3).

Die gevolg van hierdie geestelike skeiding met God vind uitdrukking in ‘n komplekse wisselwerking tussen menslike keuses en die reëlmatige funksionering van ons fisiese wêreld, tesame met die kumulatiewe effek daarvan oor duisende jare. God het wesens  gemaak (soos ons as mense) wat verantwoordelik gehou word vir hul morele keuses en sulke keuses kom tot rypwording in ‘n wêreld van reëlmaat (voorspelbaarheid) en oorsaaklikheid (die beginsel van oorsaak en gevolg). Hierdie morele verantwoordelikheid van die mens tesame met die betroubare werking van die fisiese wêreld, is essensiële komponente vir ‘n oorvloedige menslike lewe – en hoe God die wêreld beplan het om te funksioneer.

Wanneer ons egter met die gebrokenheid in die wêreld gekonfronteer word, dan eis ons dikwels dat God moet ingryp om bepaalde mense se morele verantwoordelikheid op te hef (die bedoeling is dikwels dat ander mense se verkeerde keuses wat tot negatiewe gevolge sou lei op ‘n manier gekeer moet word, maar darem nie ons eie nie) of dan ten minste dat Hy die reëlmaat in die natuur (die konteks waarsonder keuses nie uitdrukking kan vind nie) sal opskort deur een of ander wonderwerk sodat daar geen negatiewe gevolge sou wees nie.

Besef ons egter waarop ons aandring met sulke eise? Sodoende dring ons in werklikheid aan op ‘n wêreld waarin die mens geen morele verantwoordelikheid het nie, want as ek nie in staat is om ‘n verkeerde morele keuse te maak nie (as die potensiaal daarvoor vir een of ander rede ontbreek) of as my keuses geen gevolge inhou nie, dan het ek, in effek, nie werklik ‘n keuse nie. En iemand wat nie kan kies nie, omdat daar maar altyd vir hom gekies word, is nie ‘n mens nie, maar ‘n robot.

Weens die kompleksiteit daaraan verbonde is dit dikwels onmoontlik om direkte verbande te trek tussen mense se keuses in wisselwerking met fisiese faktore tesame met die kumulatiewe effek oor baie lang tydperke, en enige spesifieke en uiteindelike gevolge en toestande (dink bv. aan die onpeilbaarheid van sogenaamde butterfly effect). Onmoontlik vir ons, maar nie vir God nie. As God alwetend is en as funksionele integriteit (m.b.t. menslike verantwoordelikheid en die alledaagse werking van die natuurwette) onontbeerlik is vir menslike welsyn, dan is die stilgeboorte van ‘n kind of die geboorte van babas met genetiese of liggaamlike defekte (of enige ander tragedie of stand van sake), nie iets wat summier as aanklag, as verdenking oor God se goedheid, teen Hom gebring kan word nie. Hy weet presies wat al die faktore was wat oor die duurte van enige tydperk in die geskiedenis tot ‘n uiteindelike en spesifieke situasie bygedra het en hoedat funksionele integriteit deurgans in sy skepping gehandhaaf was.

Hiermee mag dit dalk bloot lyk na ‘n soort verdedigende manier om te verklaar dat God onskuldig is op aanklag dat Hy nie wil ingryp nie, omdat Hy, ter wille van funksionele integriteit, eintlik nie kan ingryp nie. Dit laat ‘n mens met die onbevredigende gevoel dat God dan tog maar ongeërg of afsydig staan teenoor sy skepping (of selfs dat hy dus nooit wonderbaarlik in sy skepping ingryp nie). As dit die geval is, is ons dan nie almal tog maar bloot uitgelewer aan ‘n ongenaakbare wêreld in die teenwoordigheid van ‘n afwesige en onbetrokke God nie?

Dit sou ‘n oorhaastige gevolgtrekking wees, juis omdat God se alwetendheid en goedheid ook die volgende implikasies het: As God werklik alwetend en liefdevol is, dan sou ‘n mens verwag dat Hy op maniere by mense betrokke is sodat die hoogste goed wat vir hulle moontlik is, kan realiseer, selfs te midde en ten spyte daarvan –maar soms juis as gevolg daarvan, dat daar terselfdertyd ook ‘n klomp slegte dinge met hulle gebeur.

Wat is hierdie ‘hoogste goed’ wat God vir die mens ten doel sou hê? Volgens die Christelike wêreldbeskouing is die hoogste goed vir die mens dat hy in ‘n herstelde verhouding met God sal kom en kan leef. Die hoogste goed is dus nie, soos die meeste mense dink, om ‘n lewe sonder pyn, hartseer en gebrek op aarde te leef nie. Die hoogste goed vir die mens is ‘n verhouding met God en hierdie verhoudingsraamwerk is die essensie van ‘n ewige lewe saam met God (daarom dat die Christelike konsep van ‘n herstelde lewe na die dood so radikaal verskil van iets soos Islam se ‘paradys’ met die fokus op die sensuele en die materiële).

Behalwe dus vir die belangrikheid van funksionele integriteit, impliseer God se alwetendheid en goedheid dat Hy weet watter faktore op watter maniere kan bydra om mense se lewens op bepaalde wyses te beïnvloed en dus watter effek dit kan hê in hoe sowel as of enige spesifieke mens in ‘n verhouding met Hom herstel sal word. (Dit sluit egter nie die moontlikheid uit nie dat God wél, as uitsondering op die reël, wonderbaarlik in sy skepping kan ingryp vir spesifieke redes.) Dit beteken verder dat dit met beperkte menslike insig eenvoudig onmoontlik is om na enige situasie te kyk, veral daardie situasies wat totaal sinloos en tragies lyk, en te weet hoe dit op die lang duur en in wisselwerking met ander faktore bydra tot die hoogste goed wat God wil bewerkstellig en wat dalk andersins nie sou moontlik wees nie. (Die film Sliding Doors (1998), met Gwyneth Paltrow, bied ‘n uitstekende uitbeelding van hoe ‘n onbenullige variasie in omstandighede kan aanleiding gee tot verskillende trajekte met radikaal verskillende en onvoorspelbare uitkomste.)

Dis belangrik om hier te verstaan dat die mens se vrye wil nie in gedrang is met wat God vooraf weet nie. Elke mens se keuses is sy eie en hoewel God weet watter keuses mense uiteindelik gaan maak, is wat Hy weet terselfdertyd teen die agtergrond van wat Hy weet mense sou kies indien die sameloop van omstandighede anders was. Dit is hierdie kennis, nie net van wat mense gaan kies nie, maar wat hulle in enige spesifieke omstandighede sou kies (dus ‘n ‘vrye keuse’), wat maak dat God in sy oneindige wysheid ‘n spesifieke wêreld kon kies om te aktualiseer wat op so ‘n manier sou ontvou sodat sy hoogste doel vir wesens soos mense bereik kan word.

Hier is my gevolgtrekking oor God se betrokkenheid in ons lewens: God is inderdaad liefdevol; elke mens is vir Hom belangrik en Hy begeer ‘n verhouding met elke individu. In persoonlike terme beteken dit o.a. die volgende (en sou gedeeltes soos Luk. 12:7 en Ps. 139:13 van toepassing wees):

  1. God ken elke aspek van my menswees soos niemand anders my ken of kan ken nie.
  2. God weet hoekom ek my in bepaalde omstandighede bevind en hoe bepaalde gebeurtenisse my menswees beïnvloed het. Hy weet ook dat hoe ek daarop gaan reageer, watter keuse ek gaan maak en watter effek dit in my lewe gaan hê. Uiteindelik wil Hy hê dat ek, juis te midde, ten spyte of as gevolg van bepaalde omstandighede, in ‘n verhouding met Hom sal kom en dan voortdurend daarin sal groei. My keuses in enige omstandighede is dus altyd baie nou verbind aan die potensiële impak wat dit op my verhouding met God kan hê.
  3. Verder weet hy ook hoe my omstandighede of die keuse wat ek maak, ander mense en die keuses wat hulle gaan maak, gaan beïnvloed – dalk nie direk nie en dalk eers baie ver in die toekoms, maar hoe dit sal bydra tot bepaalde omstandighede wat mense se lewens op spesifieke maniere sal beïnvloed.

Ek dink nogal dat hierdie besef van God se oneindige wysheid en van sy liefde, een van die redes kan wees vir waarom iemand soos Paulus, wat baie ontberings trotseer het ter wille van die verkondiging van die Evangelie, kon sê dat Christene dankbaar kan wees in alle omstandighede (1 Thes. 5:18).

In die lig van bogenoemde konseptuele raamwerk sou ek jou vrae soos volg antwoord:

  • Wie ek is, is afhanklik van ‘n magdom faktore wat regdeur die geskiedenis tot in vergetelheid strek. My ouers se genetiese bydra is dus maar een klein faktor, al is dit ‘n baie direkte invloed. God het egter geweet, nog voordat Hy geskep het, hoe alles sou saamloop totdat ek eendag op die toneel sou verskyn. Wie ek is, hoe ek lyk en waar ek myself bevind is dus vanuit God se perspektief, geen toevalligheid nie. Ek is wie ek is, omdat God dit so voorsien het. Dit beteken egter geensins dat my eie verantwoordelikheid en keuses oor baie dinge sodoende ontken word asof ek ‘n marionette in God se hande is wat maar net uitgelewer is aan wat ookal met my gebeur nie.
  • Die seksuele oriëntasie (tot wie iemand seksueel meer aangetrokke voel) sowel as die geslag waarmee iemand gebore word, is dus ook nie maar net toevallig so nie. Dit sou egter ‘n fout wees om te redeneer dat hoe ons gebore is, ons identiteit óf ons optrede volledig bepaal. Dis juis omdat ons wesens met vrye wil is wat verantwoordelik gehou word vir ons keuses, dat ons nie maar net uitgelewer is aan ons omstandighede (“nature”) of “nurture” as deel van ons opvoeding nie. As God ons geskep het vir ‘n verhouding met Hom en as Hy as ontwerper weet wat die plan is vir ‘n oorvloedige menslike bestaan, dan behoort ons begeerte te wees om Hom te leer ken en te probeer verstaan wat dit beteken om ons menslike potensiaal te ontgin. Dit beteken egter dat ek altyd teen die gebrokenheid in die wêreld en in myself ‘n stryd sal hê. Daar sal dus altyd invloede wees wat dreig om my verhouding met God en my welsyn as mens te ontwrig. Vir sommige is hierdie stryd op sekere gebiede dalk groter as vir ander, maar elke mens het een of ander En van elke mens wat in ‘n verhouding met God staan, word gevra om homself te verloën ter wille van ‘n lewe in toewyding aan God.
  • Daar is geen verwysing in Genesis dat God “homoseksuele” (d.i. die persoon) haat nie. Die idee dat God sekere mense “haat” is problematies en ontlok dikwels ‘n emosionele reaksie wat deurdagte besinning vertroebel (sien Haat God sondaars?). God se interaksie met mense, soos dit deurgans in die Bybel uitgebeeld word, is altyd een waarin Hy wil hê dat hulle sal voldoen aan dit wat vir hulle goed is. Wanneer God se diepe afkeer (haat) aangedui word, het dit te doen met sy reaksie teenoor ‘n hardkoppige en volstrekte verset teen wie God is en wat Hy wil bewerkstellig. Sy veroordeling is altyd gerig op die doelbewuste motiverings en gedrag van mense wat ‘n bespotting maak van die goeie wat God vir die mens bedoel. God se haat is ‘n aanduiding van hoe Hy voel oor dit wat moreel verkeerd is; dis nie ‘n uitspraak oor sy gebrek aan liefde vir enige spesifieke mens nie. Wat ons seksualiteit aanbetref is die kritiese vraag nie in watter rigting ons seksuele oriëntasie lê nie (dis nie ‘n bepaalde oriëntasie wat in opsig self sondig is nie), maar die vraag is wat die konteks is (volgens God se ontwerpersplan) vir die uitleef van ons seksualiteit (sien Waar verwys die skrif na homoseksualiteit?). Ek glo dat die Bybel die konteks vir die uitleef van ons seksualiteit duidelik skets: in die huwelik tussen man en vrou.
  • Wat is die spesifieke rede vir Sodom en Gomorra se verwoesting? Dit sou misleidend en eensydig wees om te sê dis slegs, “vanweë losse sedes en seks tussen mans en vrouens.” Die Bybel noem op verskeie plekke spesifiek die seksuele immoraliteit van die inwonders van hierdie stede, maar dis duidelik dat dit hierdie mense se algehele verset teen God was wat hulle onder sy oordeel gebring het (en miskien is die aard van seksuele sondes die mees flagrante bewys van hulle minagting vir God se plan vir menslike welsyn). Sien bv. Gen. 13:13, Gen. 18:19-21, Jer. 23:14 en Eseg. 16:49-50.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.