Wat is die groter visie van die apologetiek?

Udo,

Hoe werk ons ouens soos Piet Croucamp en ander radikale ateïste se standpunte teë? Ons kan die hele dag daaroor praat, soos Christopher Hitchens graag doen. Ek kyk gereeld na sy gesprek met John Lennox oor Should atheism replace Christianity in Europe? 90% van die mense in ons gemeente en ander Christene weet nie eers van die bestaan van hierdie ouens nie

Mense in die kerk sit in ‘n comfort zone en is nie eers bewus dat die mure om ons besig is om te val nie, let alone iets doen om onsself te verdedig. Ek het ook al my rug op die kerk gedraai omdat niemand my vrae kon antwoord nie. Daar is honderde jong mense wat nie meer kerk toe gaan nie weens hierdie liefdelose en oningeligte houding.

Wat doen ons om hierdie vloedgolf te stuit, my liewe vriend in Jesus?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek het baie simpatie met jou vrae – dit spreek tot die kern van waarom AntWoord en Dialoog bestaan, en waarom ons as kinders van die Here, ʼn passie het vir veld van die apologetiek.

Jy lê jou vinger baie akkuraat op die kwessie wat hier sentraal staan, naamlik die idee van ʼn “comfort zone”. Ek wil dit effens omskryf deur te sê dat as ʼn mens nie die behoefte na iets ervaar of die noodsaaklikheid daarvan insien nie, dan is ʼn mens nie enigsins gemotiveer om iets aan die status quo te verander nie. Dan bly bepaalde idees net teoreties, of dit bly maar net die idee van ander mense omdat dit vir hulle belangrik is.

My punt is dus dat ʼn mens nie ver gaan kom as mense nie eers die groter prentjie verstaan nie. Noem dit maar ‘n “visie” as jy wil. Ek dink daar is veral drie dinge wat mense eers moet verstaan en waarby hulle moet inkoop, vóórdat hulle bereid gaan wees om enige harde werk te gaan doen in die sake hier ter sprake.

  1. Om te kan verduidelik hoekom ek glo wat ek glo (1 Petrus 3:15) bepaal hoe sinvol ek die evangelie met ʼn toenemende skeptiese en siniese wêreld kan deel.
  2. Om te kan verduidelik hoekom ek glo wat ek glo (1 Petrus 3:15) verdiep my eie geloofservaring.
  3. Om te kan verduidelik hoekom ek glo wat ek glo (1 Petrus 3:15) maak dit moontlik om my geloof in verband te bring met alle ander aspekte van my lewe.

Ek kan nie dink dat evangelisasie, geestelike groei en ʼn geïntegreerde lewe vir enige Christen opsioneel of onbelangrik sal wees nie. Wel, miskien moet ek dit kwalifiseer: dit behóórt vir elke Christen belangrik te wees en waar dit nie is nie, is daar doodsheid, apatie, stagnasie, verveling en onkunde – op persoonlike en gemeentelike vlak.

So, as ʼn mens ʼn saak kan uitmaak vir waarom punt 1-3 noodsaaklik is (ʼn apologetiek vir apologetiek), dan skep jy visie, en waar mense inkoop by die visie, kan baie vermag word. (ʼn Mens kan later praat oor die spesifieke strategieë om die visie te implementeer.)

Ek verwys graag na die volgende artikel deur William Lane Craig wat hieroor verder uitbrei: Christian Apologetics: Who Needs It? (Die YouTube weergawe: Christian Apologetics: Who Needs It?)

Terloops, ek hoop ook jy sal kan sien dat dit hier oor meer gaan as net ʼn verdeding, asof Christene bloot reaktief en op die verdediging is. Dit gaan oor ʼn positiewe, proaktiewe omgaan en toepassing van ons geloof en iets wat ʼn positiewe en lewensveranderde impak kan maak.

Laat weet gerus wat jy dink!

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.