Christus se openbaring aan Paulus

Udo,

Christus verskyn aan Paulus op pad na Damaskus en hy kom tot bekering. Hy bly ‘n ruk in Damaskus en gaan toe Arabië toe. Paulus was op die stadium van sy bekering ʼn spesialis van die Joodse geloof en het niks van die Christelike verlossing geweet nie. Het hy die evangelie-boodskap in Arabië deur middel van ‘n wonderwerk direk by Christus ontvang (sien Galasiërs 1:12)? Indien wel moes hier dus iets baie spesiaals gebeur het – die een dag geen kennis, die volgende dag volledig toegerus.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dis redelik om te dink dat Paulus in sy vervolging van Christene wel met die Christelike boodskap gekonfronteer is. So byvoorbeeld sou hy diegene wat hy vervolg het waarskynlik deeglik ondervra het oor wat presies hulle verkondig het en waarom hulle dit verkondig het. Sodoende kon hy grotendeels ʼn prentjie begin vorm het van wat Christene glo en dit sou natuurlik vir hom as regverdiging dien vir sy voortgaande vervolging van hierdie Christene wat valse leer verkondig.

Dan verskyn die Here aan hom en bring hy drie jaar in isolasie deur. Wat het in daardie drie jaar gebeur? Een manier om daaroor te dink is dat hy onder leiding van die Gees begin reflekteer het oor die Joodse geskrifte en dat hy daarmee begin worstel het om te probeer sin maak van dit wat hy by die Christene wat hy vervolg het, gehoor het.

Ek dink daarom dat dit gedurende die proses van biddende refleksie en worsteling met die Joodse Skrif was dat die Heilige Gees sy verstand verhelder het en waarvan ons die resultaat in sy briewe kan sien.

Tog praat Paulus wel van die Goeie Nuus wat hy by Christus self gehoor het. Oor presies hoe en wanneer dit gebeur het kan ons maar net spekuleer. Ek dink egter dat die grootste gedeelte van Paulus se insig nie dieselfde is as die soort direkte openbaring wat hy spesifiek van Christus ontvang het nie.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.