Julle drie-eenheidsleer is vals

Hallo Udo

Die sogenaamde Christendom vandag, is niks beter daaraan toe as die Joodse geloof wat betref hulle redding nie.

In die vroeë geskiedenis van die Christendom het daar ‘n denkverandering plaas gevind wat ‘n ontsaglike impak op die Christelike geloof sou hê.

Waar die meerderheid Joodse gelowiges Jesus Christus verwerp as hul verlosser en saligmaker, het die Christendom Jesus Christus net bygevoeg en met ‘n drie-eenheidsleer vorendag gekom.

Die terme drie-eenheid en drie-enige kom glad nie in die Bybel voor nie, en is grootliks daarvoor verantwoordelik vir die verdeeldheid wat wêreldwyd onder Christen gelowiges heers. Dit het sy ontstaan te danke aan onder andere, ‘n Latynse skrywer genaamd (Tertulianus) wat in die tydperk 155-230 nC geleef het, in die jaar 196 nC was hy bekend as die vader van die Latynse kerk. Hy was waarskynlik die eerste persoon wat die Godheid beskryf het as drie-eenheid (Trinity) drie persone Vader, Seun en Heilige Gees.                                            

Hierdie siening ontneem mense die reg en voorreg om in die eerste plek, die ware God te ken, sien 1 Johannes 5: 20-21: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken, en ons is in die ware God, in sy Seun Jesus Christus, Hy is die ware God en die ewige lewe. My kinders bewaar julleself van die afgode.”

In die tweede plek ontneem dit mense die geleentheid om vergewing van hulle sondes te verkry. Handelinge 2:38: “En Petrus sê vir hulle. Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Handelinge 10:43: “Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sonde deur sy Naam ontvang.”

In die derde plek hou dit mense gevangene om veroordeel te word. Johannes 3:18: “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”                                                                       

God openbaar Hom aan ons in Vader, Seun en Heilige Gees, daar word nooit genoem dit is drie persone nie. Ons lees in 1 Johannes 5:7: “Want daar is drie wat getuig in die hemel, die Vader die Woord  en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.” Ons lees ook in Johannes 1:14: En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon, kan ons nou praat van ‘n twee-enige Seun of twee-enige Woord of twee persone?  Natuurlik nie. Die Bybel leer ons dit is ‘n enige Here. Deut. 6:4: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here. En dan herhaal Jesus dit in Markus 12:29: En Jesus antwoord hom; Die eerste van al die gebooie is; Hoor, Israel, die Here onse God, is ‘n enige Here.” Verder lees ons in Johannes 5:44: “Hoe kan julle glo, wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie.” En Johannes 17:3: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”

Waarom kan daarmee nie volstaan word nie? Of bring dit sekere leerstellings in gedrang?

Daar is ‘n waarskuwing in Spreuke 30:5-6: “Elke woord van God is gelouter; Hy is ‘n skild vir die wat by Hom skuil. Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie.” My vriend wanneer jy ‘n (drie) voor die (enige) voeg, stel jy jouself strafbaar.                                                                           

Indien ons ‘n duidelike beeld van die Vader Seun en Heilige Gees wil vind moet ons kyk na Jesus se opdrag aan sy dissipels. Matteus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader,en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Wanneer die dissipels, wie verstand gegee is om die ware God te ken, 1 Johannes 5:20: wie se verstand geopen was om die skrifte te verstaan, Lukas 24:45-49: wie met die Heilige Gees gedoop was. Handelinge 2:1-4: die opdrag van Jesus om die boodskap van verlossing en redding aan almal te verkondig, en die mense (vandag nog) vermaan om hulle te bekeer, en in die Naam van Jesus Christus te laat doop, Handelinge 2:38 word die eenheid geopenbaar.

Ons lees in Efesiërs 4:4-5: Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop.

1 Timoteus 2:4-5: wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense,die mens Christus Jesus. Amen.

Miskien sal dit vir jou interessant wees om te verneem dat die drie-eenheidsleer nie in die tyd van die apostels geformuleer was nie, maar eers baie later in die kerk se geskiedenis.                     

Die bose magte het in die drie-eenheidsleer ‘n metode gevind om gelowiges op ‘n sy spoor weg van Jesus af te rangeer.

Winkelsmidt

 

Hallo WInkelsmidt

Ek dink die konsep van die Drie-eenheid is ‘n leerstelling van die Christelike geloof wat min mense (ook min Christene) regtig die moeite doen om te verstaan en daarom heers daar heelwat verwarring en onkunde. Ongelukkig moet ek sê dat jou skrywe nie bydra tot akkuraatheid en ‘n deeglike omgang met die geskiedenis óf die Bybelse data nie.

Dit is byvoorbeeld effe simplisties om te sê dat “die Christendom Jesus Christus net bygevoeg en met ‘n drie-eenheidsleer vorendag gekom [het]”. Jy laat dit klink asof die vroeë Christene Jesus se identiteit en verhouding met die Vader (en met die Heilige Gees) sommer so uit die lug gegryp het. Dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Jy is heeltemal korrek dat die woord ‘drie-eenheid’ nie in die Bybel voorkom nie, en sodanige formulering het eers later gestalte gekry. Maar dis juis omdat Christene (soos die vroeë kerkvaders wat daaroor geskryf en nagedink het) met die Nuwe Testamentiese dokumente geworstel het (vir ongeveer twee eeue lank), dat hulle uiteindelik tot die konklusie gekom het dat die Bybelse data sélf, hulle noop om God in sy natuur as ‘n drie-enige verhouding tussen drie onderskeibare maar onskeibare persone te verstaan. Daar is dus nie maar net lukraak daarmee ‘vorendag’ gekom, soos jy suggereer nie, maar is uiteindelik so geformuleer na aanleiding van ‘n bestudering van die Bybelse teks self.

Jy noem ook dat die term ‘drie-eenheid’ grootliks verantwoordelik is vir verdeeldheid onder Christen-gelowiges, so asof daar eenheid onder gelowiges sal kom as daar met die idee van die drie-eenheid weggedoen word.

Eerstens wonder ek oor wie die Christen-gelowiges is wat verdeeld is oor die Drie-eenheid. Sover ek kan sien is die Christendom in sy drie hoofstrome (Katoliek, Protestants en Oosters Ortodoks) dit eens met ‘n trinitariese verstaan van God. So wie sou daarmee uitgesluit word? Die Jehova-getuies en Mormone? Ander kultusse en sektes (die vrug van leiers soos o.a. Armstrong, Eddy, Thomas, Ewart, Moon, Fillmore, Hubbard) wat die drie-eenheid ontken, maar daarmee saam ook ‘n klomp ander dinge wat vir ortodokse Christene hoogs problematies is?

Die vraag is in elk geval nie in die eerste plek oor wat verdeeldheid veroorsaak nie, maar oor wat wáár is. Wie is God werklik? As ‘n mens getrou wil wees aan wat die Woord van God leer, dan veroorsaak dit dikwels verdeeldheid omdat ander mense anders dink. Mense wat hulself volgelinge van Christus noem kan gerus oor hul verskille gesels, solank alle partye wil erns maak met ‘n verantwoordelike verstaan van wat in God se Woord aan ons geopenbaar is. Ek glo dat ‘n trinitariese verstaan van God méér verantwoordelik omgaan met gegewens uit die skrif as ‘n unitariese verstaan.

Oor laasgenoemde verstaan ek heeltemal dat jy die gedagte van God se numeriese enkelheid wil verdedig. Maar daarmee stem ek saam, ek glo ook nes jy dat daar geen ander gode naas die God van die Bybel bestaan nie. Wat jy egter moet verstaan is dat as ek na die Bybelse gegewens kyk en veral na gedeeltes wat spesifiek na die Vader, die Seun en die Heilige Gees verwys en na die konteks en manier waarin hierdie name gebruik word, dan sien ek ‘n kompleksiteit en veelvoudigheid van persone in die wese van God wat ‘n Goddelike eenheid vorm (maar nie as verskillende gode nie). Daar is ook nie maar net verskillende manifestasies van God nie (Eng. = modalism), maar drie onderskeibare persone in die wese van God. Let asseblief op dat ek hierdie gedagte nie uit my duim suig nie of sommer maar net ‘n ongegronde leerstelling probeer beskerm nie, maar dat die Skrif self my daartoe lei om God so te verstaan. Dit beteken dat ek my beslis besig hou met ‘n soeke na die ware God.

Baie van die teksverwysings wat unitariërs dus aanhaal om as bewys te dien van God se enkelheid, is wel ‘n numeriese aanduiding (daar is net één God en nie baie gode nie), maar dit is nie bedoel om as uitspraak te dien oor die aard van God se wese (sy Goddelike essensie) nie. Daarvoor is daar baie ander gedeeltes in beide die Ou en Nuwe Testament wat ons spesifiek iets meer wil meedeel van wie God is. Ek dink dat ‘n noukeurige ondersoek van sulke gedeeltes ‘n mens daartoe bring om God se drie-enige aard te kan identifiseer, sonder om die dinamika van God se essensiële natuur presies hoef te verstaan. Dit is tog nie binne enige mens se vermoë om God heeltemal te verstaan nie, want ons is dikwels gemoeid met beperkte en menslike konsepte wanneer ons oor ‘n onbeperkte en bo-natuurlike wese probeer nadink. Tog sal ek ten sterkste ontken dat die konsep van ‘n drie-eenheid inherent teenstrydig is.

Die bose magte het dus met die drie-eenheidsleer niks te make nie en die stelling dat ‘n drie-enige verstaan van wie God is mense van Jesus sou weglei, is na my mening onkundig en opsigself ‘n misleiding. Vervolgens lys ek daarom ‘n verskeidenheid artikels wat verskillende aspekte (soos waarna ek kortliks hierbo verwys het) rondom ‘n trinitariese verstaan van God toelig en verdedig, veral ook ‘n historiese oorsig van die formulering van die Drie-eenheid en waarom die teks op so ‘n verstaan van God dui.

  1. Hier is ‘n kort uiteensetting van wat met die term ‘Drie-eenheid’ bedoel word.
  1. Sien die volgende artikel in Afrikaans: Was Jesus deel van die drie-eenheid toe hy mens was op aarde?
  1. ʼn Paar artikels wat die Drie-eenheid redelik toeganklik bespreek is:
  1. William Lane Craig bespreek die Doctrine of the Trinity. Die transkripsie van die bespreking, in agt afdelings, kan gelees word, of die potgooi daarvan geluister word, en is baie toeganklik en insiggewend.

5. Dan is daar ook ‘n paar besware teen die Drie-eenheid wat aandag verdien:

6. Twee meer tegniese/akademiese besprekings van die Drie-eenheid:

  • A Formulation and Defense of the Doctrine of the Trinity (Dr. William Lane Craig)
  • Die Stanford Encyclopedia of Philosophy het ‘n goeie filosofiese uiteensetting van die konsep van die Drie-eenheid vanuit verskillende perspektiewe en kan hier gevind word. Dit mag egter nie toeganklik wees vir iemand wat nie ‘n redelike filosofiese agtergrond het nie.

7. Sien ook die volgende lesing in twee dele (hoewel nie spesifiek oor die Drie-eenheid, maar oor hoe Jesus as die tweede persoon van die Drie-eenheid beskryf word):

Jy is welkom om verder met my te korrespondeer oor hierdie saak indien jy sou wou.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.