
Hi Udo,
Ons kom elke dag in aanraking met mense wat nie Christus volg nie of nog erger ex-christene (baie keer akademici of teoloë) wat na in diepte studie nie meer glo nie. Hoe en tot waar is ons verantwoordelikheid om met hulle in gesprek te tree. Gewoonlik na ‘n paar “encounters” maak hulle jou af as dwaas, oningelig, sotlik en nog baie meer. Stap ‘n mens meer net weg?
Winkelsmidt
Hallo Winkelsmidt
Jy vra ‘n goeie vraag. Die proses om met mense in gesprek te wees is presies dit: ‘n proses. Ons as Christene dink dalk te veel kere dat as mense nie aanvaar wat ons sê nie, dat hulle moedswillig is. Maar dalk is ons benadering nie altyd so effektief nie. Miskien moet ons meer gereeld eers begin om werklik met respek te luister na wat ander sê, meer belangstel in hoekom hulle dink wat hulle dink. Dalk vind ons dat mense dan meer oop raak om op hul beurt weer werklik te hoor wat óns sê. Ek dink hierdie is die heel basiese element vir die moontlikheid van gesonde gesprekvoering.
Dis natuurlik nie die enigste element nie. Miskien is ons ook soms inderdaad te oningelig oor ‘n spesifieke onderwerp, en as ons gespreksgenoot dan die indruk kry dat ons beterweterig is, dan gaan die gesprek nie veel vorder nie. Soms loop so ‘n gesprek dan inderdaad uit op ‘n moddergooiery wat tot voordeel van niemand is nie.
So wanneer loop ‘n mens weg van ‘n gesprek? Wel, dalk onder die volgende omstandighede:
- Wanneer iemand nie iemand anders se reg tot ‘n ander opinie (selfs al is hulle verkeerd) kan respekteer nie.
- Wanneer iemand beledigend raak omdat hulle iemand se argumente oor ‘n saak met ‘n persoonlike aanval verwar.
- Wanneer iemand duidelik nie belangstel om oor ‘n bepaalde saak ingelig te wees nie, maar hom met karikature besig hou.
Let wel dat ons dikwels eers hand in eie boesem moet steek, omdat ons as Christene dikwels net so skuldig is aan hierdie dinge!
Dit net so vinnig ‘n paar gedagtes. Maar kyk gerus ook na die volgende artikel wat hierdie kwessie aanraak:
Beste groete
Udo
Leave a Reply