Wat het moraliteit met God te doen?

Hallo Udo

Die eerste sonde was nie Adam en Eva se ongehoorsaamheid nie, maar wel Satan [mooiste, slimste en mees musikale] wat met ‘n derde van die engel leërskare teen Jesus ‘n revolusie gelei het. So die Hemel is nie die perfekte plek nie, want hoe kan selfsug in God se teenwoordigheid hoegenaamd posvat? Hierdie is maar een bewys dat moraliteit niks te doen het met God of godsdiens nie, nog minder met Sy teenwoordigheid.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die vermoë om morele keuses te maak is ‘n goeie eienskap. Dink byvoorbeeld aan wat liefde is. In watter opsig kan daar gesê word dat ek iemand liefhet as ek nie die keuse uitoefen om daardie persoon lief te hê nie? Dis juis omdat ek liefde kan weerhou, dat my besluit om vir iemand lief te wees, betekenis kry. Die feit dat Adam en Eva sowel as Satan en ‘n derde van die engele téén God kon kies (d.i., besluit het om God nie lief te hê nie), het niks te doen met iets soos die onvolmaakte aard van “die Hemel” nie. Dit wys maar net daarop dat God nie ‘n wêreld kon maak (met ʼn noemenswaardige hoeveelheid mense) waarin Hy kon waarborg dat almal sou kies om Hom lief te hê nie. Vir liefde om liefde te kan wees moet daar altyd die potensiaal wees om liefde te kan weerhou en moet daar dus ‘n vrye besluit wees om lief te hê. Liefde kan nie geforseer word nie. Hierdie feit spreek nie tot God se gebrekkige almag nie; dit gaan oor watter tipe wêreld Hy gekies het om te aktualiseer (een met rasionele en verantwoordelike wesens soos mense en engele en nie een met robotte nie).

Daar is ook geen rede om te dink dat God se teenwoordigheid wesens met vrye wil sou verhoed om morele keuses te kan maak nie. ‘n Spesifieke manifestasie van sy teenwoordigheid mag dalk die uitdrukking van bepaalde keuses inhibeer, maar dit beteken nie dat die vermoë tot keuse heeltemal opgeskort word nie. ‘n Analogie kan help: Kinders in die teenwoordigheid van streng en toesighoudende ouers mag dalk minder geneig wees tot ongehoorsaamheid as wanneer ouers meestal afwesig is, maar dit beteken nie dat sulke kinders nooit ongehoorsaam is of kan wees nie.

Die verband tussen God en moraliteit is ‘n heeltemal aparte vraag as die een oor waarom God wesens sou maak wat teen hom kan kies. Is daar ‘n verband tussen God en moraliteit? Ja, God, wie se natuur die absolute standaard is vir wat met ‘goed’ bedoel word, bied die gronde vir die onderskeid tussen goed en sleg, en tussen reg en verkeerd. Dit beteken egter nie dat ‘n mens in God hoef te glo of godsdienstig hoef te wees om te weet dat iets reg of verkeerd is nie. Die meeste mense weet intuïtief, deur morele ervaring omdat ons morele wesens is, dat sekere dinge objektief moreel verkeerd is. Hulle sal dus erken dat sekere dinge vir alle mense en onder enige omstandighede verkeerd is – soos om ‘n pasgebore kindjie te martel vir persoonlike genot. Dit is hierdie objektiewe aard van bepaalde morele ervaring, wat nie sin maak as dit nie korrespondeer met ‘n objektiewe standaard nie. Sonder ‘n objektiewe verwysingspunt, die ‘absolute goed,’ is moraliteit altyd ‘n subjektiewe moraliteit, relatief tot wie (‘n individue of samelewing) op ‘n gegewe moment besluit dat iets reg of verkeerd is. Sonder die absolute goed soos dit in God se natuur te vinde is, is daar geen rede om te dink dat die persoon wat ʼn ander persoon martel vir genot, veel anders doen as die kat wat met sy prooi speel en vermink nie. Waarom is die een geval moreel verdoembaar en die ander nie? Wie besluit dit en waarom dra so ‘n besluit enige gesag?

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.