Moenie my as wetenskaplike so oordeel nie!

Hallo

Ek is ‘n wetenskaplike van beroep. My grootste wens is dat almal wat sogenaamd probeer om wetenskaplikes te bekeer ‘n slag die vingers na hulleself sal draai en eers bietjie ‘n paar feite oordink.  Veral in die kerke word daar so maklik mos gebid dat bv. dokters se hande geseen sal word en mense gesond sal word en dat operasies ens. suksesvol sal wees.  Dan dink ek – is die kerk darem nie ongelooflik vals omdat daardie einste wetenskaplikes of dokters wat hulle morsdood werk om hierdie wêreld waarin ons vandag leef ‘n beter plek te maak dan so knaend uitgesonder word as die “antichris” of “onbekeerd” of wat ookal nie?  Almal se monde is groot en vinnig om te oordeel maar sodra iemand siek word, word daar gou gebid om iemand se lewe te red met die kennis van daardie einste verworpe wetenskaplikes????  

In elke enkele aspek van vandag se gerieflike moderne lewe is daar wetenskaplikes by betrokke – mense wat werklik die gawe gekry het om God se skepping op ‘n unieke manier te kan verstaan en iets nuuts te kan skep – daardie vermoë om te kan skep is tog sekerlik na God se beeld is dit nie so nie? Dit is tog hoekom ons hande en breins gekry het nie waar nie?  Onderskei die gawe om te kan skep dan nie juis die mens van alle ander lewe soos ons dit tans hier op aarde ken nie? Ek sê graag vir mense wat wetenskaplikes so stereotipeer soos in hierdie oorspronklike vraag dat hulle eers van hulle motors, elektrisiteit, selfone, alle moderne medisyne en hospitale en mediese hulpmiddels, gerieflike huise, klere, die kos wat ons in die winkels so gerieflik in vol trollies laai en elke ding wat deur wetenskaplikes ontwikkel en verbeter was ontslae moet raak, en gaan bly in ‘n modderhut geklee in vyeblare en eet termiete om aan die lewe te bly – dán kan jy na my toe kom met bekeringspraatjies.

Kry eers respek vir ons beroep en vir ons gawes ook asseblief, dan gaan jy dalk agterkom dat die meeste wetenskaplikes eintlik diep gelowige mense is, maar ons is ook keelvol om onsself konstant te moet verdedig teen kleinlike mense wat ons klaar veroordeel het net omdat ons bietjie anders dink en dit waag om vrae te vra oor dinge wat dalk in die Bybel staan. Wees dus maar versigtig met daardie evangelisasiewerk van julle, wetenskaplikes gaan nie met jou praat as jy daardie mens klaar veroordeel het nie, en ja, soms gee ek iemand sommer ‘n afjak omdat hy my tyd mors en nie omdat ek ongelowig is nie.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons waardeer dit as mense met ons in gesprek tree oor belangrike sake.

Dit klink vir my asof jy al slegte ervarings gehad het in of met die kerk, dat jy op ‘n manier veroordeling beleef het as wetenskaplike of miskien bloot omdat jy kritiese vrae gevra het, daarvoor kwalik geneem is. Dis jammer as dit so is, want ek dink Christene wat so optree (teenoor jou of in die algemeen) is in baie opsigte onkundig en kortsigtig.  Dis presies soos jy sê, God het tog vir ons ‘n brein ook gegee en om te kan dink is ‘n voorreg en iets wat almal kan leer om beter te doen!

Om wetenskap te beoefen en om in God te glo is nie inherent twee teenstrydige aktiwiteite nie, soos ek dink jy sal saamstem. Tog is daar baie wetenskaplikes wat dink dat dit onwetenskaplik is om in God te glo – dit was die konteks van die oorspronklike vraag waarop jy gereageer het.

Ons het baie meer wetenskaplikes nodig wat die wonderlike wêreld waarin ons leef en wat deur God geskape is, sal bestudeer sodat ons uit die vrug daarvan kan voordeel trek, in kennis asook in tegnologiese vooruitgang (soos waarop jy tereg wys). So ek stem heeltemal met jou saam dat die beroep en werk van die wetenskaplike nie summier onder verdenking staan nie, maar aangemoedig moet word as iets wat God eer bring.

Wanneer enige wetenskaplike, hoe bekwaam hy ookal in sy veld is, egter begin uitsprake maak oor God, dan is hy nie meer besig met wetenskapsbeoefening nie, maar met teologie of filosofie. Daar is veral vandag oral wetenskaplike figure in die internasionale en plaaslike media wat juis dit doen, hulle maak filosofiese uitsprake onder die vaandel van empiriese wetenskapsmetodologie. Dit gaan nie eerstens daaroor dat enigiemand hierdie wetenskaplikes wil ‘bekeer’ nie, maar om met hulle in gesprek te tree oor hul geloof dat die wetenskap sou bewys het dat God nie bestaan nie of waarskynlik nie bestaan nie. Hierdie idee is nie ‘n wetenskapsgemotiveerde idee nie, maar spruit uit persoonlike en filosofiese of ideologiese oortuigings en aannames, wat uitgedaag en ondersoek behoort te word.

Wat die Bybel aanbetref is ek deeglik daarvan bewus dat ateïste sowel as sommige Christene dink dat bepaalde gebeure of verhale in die Bybel strydig is met wetenskaplike data en getuienis (ek verwys na dinge soos die skeppingsverhaal in Genesis, die moontlikheid van wonderwerke, ens.) Die Bybel is egter nie ‘n wetenskaplike handboek wat ons oor die kosmologie, geologie of biologie wil leer nie en om dit as sodanig te beskou is om die bedoeling en konteks van die skrywers daarvan te misken. Terselfdertyd is die wetenskap as metodologie ook nie by magte om te verklaar dat wonderwerke moontlik is of nie, dis ‘n filosofiese vraag (soos ook die bestaan van God). So ek is heeltemal ten gunste daarvoor dat mense kritiese vrae oor die Bybel vra en dat ons baie verantwoordelik en deurdag moet omgaan met die antwoorde wat ons op daardie vrae gee. Dis jammer dat sommige Christene enige sulke vrae oor God of die Bybel as ‘n bedreiging vir hulle geloof ervaar. Ek dink dis ‘n fout, vrae kan ons juis help om dinge (in enige veld) beter te verstaan. Dis egter net so jammer dat sommige ateïste of skeptici dikwels met hul kritiese vrae dikwels nie wag vir ‘n antwoord nie en vooraf besluit het dat daar nie ‘n antwoord kan wees nie of dat enige antwoord ontoereikend sal/moet wees.

Nietemin, ek het baie simpatie met jou as dit jou ervaring is dat die kerk dikwels nie vrae en kritiese denke oor wat hulle glo, aanmoedig nie. Dit behoort nie so te wees nie, maar gelukkig is daar baie Christene en kerke wat wel sulke vrae verwelkom en verantwoordelik daarmee omgaan.

Jy is baie welkom om verder met my in gesprek te tree as jy wil.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.