Wie het die Evangelies geskryf?

Udo,

Hoe kan ons die inhoud van die vier evangelies vertrou as ons nie seker is of persone met die name “Matteus”, “Markus”, “Lukas” en “Johannes” dit werklik geskryf het nie? M.a.w. was hulle werklik ooggetuies? Dit lyk of die meeste van hulle sommer net by mekaar afgeskryf het. Op ander plekke lyk dit weer of hulle goed sommer opgemaak en bygevoeg het – hoe anders verstaan ʼn mens die teenstrydighede tussen die evangelies?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jou vraag illustreer baie goed wat as die “sinoptiese probleem” beskou word. Die vraag is inderdaad hoe ʼn mens beide die ooreenkomste sowel as die verskille in die sinoptiese evangelies (naamlik Matteus, Markus en Lukas) verklaar. (Die woord sinopties verwys daarna om “saam te sien”, m.a.w. die evangelies van Matteus, Markus en Lukas bied ʼn soortgelyke prentjie).

Eerstens die vraag oor outeurskap. Ons weet nie direk vanuit die vier kanonieke evangelies self wie verantwoordelik was vir die skryf daarvan nie. Volgens alle redelike aanduiding was die evangelies nie oorspronklik presies getiteld op die wyse waarop dit later deur die vroeë kerkvaders aangedui is nie (wat natuurlik nie argument is dat dit daarom glad nie getiteld was nie – sien bv. hier). Tog is dit hoogs onwaarskynlik dat die verspreiders en gebruikers van die oorspronklike dokumente, en die afskrifte daarvan, nie sou geweet het wie die skrywers daarvan was nie (veral omdat apostoliese gesag so belangrik was in die vroeë kerk; sien ook die volgende kort artikel: The Gospels Were Not Anonymous). Daarom is die getuienis van die vroeë kerkvaders noemenswaardig, want hulle was baie waarskynlik in aanraking met ʼn betroubare tradisie oor die outeurskap van die vier evangelies (die kerkvader Papias het reeds in 125 n.C. verwys na Matteus se outeurskap, sien bv. How do we know who wrote the Gospels?). Verder is dit interessant dat daar geen kompeterende tradisie bestaan vir die tradisionele outeurskap nie en daar is geen rekord van enige kontroversie daaroor in die vroegste eeue nie.

Volgens die getuienis van die vroeë kerkvaders (soos Papias, Irenaeus, Clemens van Alexandrië en Tertullianus) was Matteus die dissipel van Jesus wat ook Levi genoem is, die tollenaar in Matteus 9:9-10 en Markus 2:14-15. Markus, op sy beurt, was wel nie ‘n dissipel van Jesus nie, maar ‘n metgesel van Petrus (1 Pet. 5:13) en ‘n neef van Barnabas (Kol 4:10) (sien ook Hand 15:38-40, Filemon 24 en 2 Tim 4:11). Lukas was ook nie ’n dissipel van Jesus nie, maar ’n metgesel van Paulus (Kol 4:14, 2 Tim 4:11 en Filemon 24). Ook die skrywer van die Johannes-Evangelie word vroeg in die tweede eeu deur die kerkvaders as die “geliefde dissipel” van Jesus geïdentifiseer (sien ook Joh 21:7,24, 13:23-24, 19:26,35).

Kritici bevraagteken hierdie tradisionele outeurskap van die vier evangelies en voer onder andere aan dat die vroeë kerk die name aan hierdie Evangelies toegedig het om kredietwaardigheid daaraan te verleen (soos wat verskeie ander tweede-eeuse skrywers gedoen het met die sogenaamde evangelies van Tomas, Petrus, Judas, Maria, Filippus, en ander). Die bekende Nuwe Testamentikus, Craig Blomberg, maak egter hieroor die volgende opmerking in ‘n artikel, Who Does the Jesus Seminar Really Speak For?:

“It is not likely that the church would have ascribed two of these three [first] Gospels to men who were not among the original twelve apostles (Mark and Luke), and the other one to the notorious ex-tax-collector (Matthew), unless there was strong reason for believing them to be the original authors. Modern-day objections to these ancient traditions have all been adequately answered in a variety of published works… Early Christian tradition…usually attributes [John’s gospel] to John the apostle, one of Jesus’ closest followers, so that here we have reputable eyewitness testimony. In each case, the four Gospels were most probably written by people in a position to know and accurately preserve Jesus’ teaching – Matthew and John because they had personally accompanied Jesus; Luke because he had talked with eyewitnesses and engaged in careful historical research (Luke 1:1-4); and Mark (again according to the church fathers) because he had ministered together with Peter in Rome (cf. also 1 Pet. 5:13).”

Sien ook die volgende kort video’s vir verwysing na die kwessies ter sprake:

Sien die volgende meer volledige hantering (video) van die onderwerp deur Timothy McGrew:

Vir twee baie toeganklike kort artikels oor die outeurskap van Matteus en Johannes, sien die volgende:

Sien die volgende redelik breedvoerige artikel: Who Wrote the Gospels? Internal and External Arguments for Traditional Authorship

Vir ʼn dieper studie vir die tradisionele outeurskap van die vier Evangelies, sien die volgende artikels deur Daniel Wallace:

Ook die volgende oorsigtelike artikels hanteer outeurskap:

Dit is verder belangrik om op te merk dat die vraag na die betroubaarheid van wat in die vier evangelies geskryf staan, nie direk bepaal word deur of ons weet wie die skrywers daarvan was nie, so asof dit waaroor verslag gedoen word of die boodskap wat oorgedra word, noodwendig vals moet wees indien ons nie presies sou weet wie die skrywers daarvan was nie. Dis eenvoudig nie hoe historici te werk gaan in ‘n ondersoek na wat in die geskiedenis gebeur het nie. Daar is verskeie kriteria wat in ‘n historiese ondersoek in ag geneem word wat nie primêr afhanklik is van ooggetuies of selfs resente verslaggewing oor die gebeure nie.

As die tradisionele outeurskap dus nie summier onder verdenking is volgens die historiese getuienis soos wat sommige skeptici graag aandui nie, dan is die vraag steeds oor hoe ʼn mens die sterk ooreenkomste, maar ook die verskille in die Evangelies kan verklaar. As ten minste twee van die skrywers, Matteus en Johannes, ooggetuies was, waarom verskil hulle weergawes so van mekaar? En waarom is Matteus en Lukas se weergawe so soortgelyk aan byna alles in Markus? Natuurlik vra hierdie ooreenkomste en verskille om verduideliking, maar dis belangrik om te besef dat dit nie noodwendig op die onbetroubaarheid van die skrywers of tradisionele outeurskap dui nie. (Sien hierdie kort toeganklike artikel: The Problem That Isn’t)

Wat die verskille aanbetref: vanuit ʼn baie basies perspektief sou ʼn mens met redelike waarskynlikheid verwag dat ooggetuie verslae sal verkil; daar kan selfs teenstrydighede wees. As sulks sê dit egter glad nie dat die kerngebeure waaroor daar gerapporteer word, nie plaasgevind het nie (dit is die punt wat ek probeer maak het met die volgende artikel: Is die Evangelies histories betroubaar?). Die verskille in die evangelies word natuurlik nie heeltemal só eenvoudig opgeklaar nie. Daar is ʼn kompleksiteit van faktore wat hier ʼn rol speel soos o.a. die voorafgaande mondelingse tradisies waaruit die geskrewe evangelies tot stand gekom het asook die baie spesifieke oogmerke (teologiese motiewe) waarmee elk van die skrywers hul evangelies saamgestel het.

Wat van die sterk ooreenkomste tussen die sinoptiese evangelies? Die feit is dat dit van vroeg reeds aanvaar is dat die sinoptiese skrywers op een of ander manier van mekaar se materiaal gebruik gemaak het (m.a.w. daar is sprake van literêre interafhanklikheid). Die vraag is oor wie van wie se materiaal gebruik gemaak het en of daar ʼn gemeenskaplike bron (mondelings of skriftelik) van inligting rondom Jesus was waarvan sommige van die skrywers gemaak het. Daar is verskillende teorieë, elk met hul voor en nadele, oor hoe ons die verhouding tussen die sinoptiese evangelies moet verstaan. Sien gerus die volgende artikels vir ʼn oorsig (die eerste twee is kort en toeganklik; om dieper te delf lees gerus Daniel Wallace se artikel):

Die hedendaagse konsensus onder geleerdes kan op vereenvoudigde wyse so verduidelik word: Markus, die kortste evangelie, is eerste geskryf en beide Matteus en Lukas het van Markus se basiese struktuur gebruik gemaak om hul eie evangelies op te stel. Matteus en Lukas het hul evangelies egter verder uitgebrei met sekere van Jesus se leringe wat blyk om reeds die rondte te gedoen het in mondelingse of selfs skriftelike vorm. Daar is egter geen rede om te dink dat enige van die skrywers bloot stories “opgemaak” het nie.

Die belangrike punt, weer eens, is dat selfs al kan ons nie heeltemal seker wees oor presies hoe die literêre verband tussen die sinoptiese evangelies gewerk het nie, verteenwoordig dit nie noodwendig ʼn rede om die betroubaarheid van die evangelies, en spesifiek die beskrywings van die persoon en lewe van Jesus, in twyfel te trek nie.

Skeptici is natuurlik geneig om juis vanweë die teologiese motiewe van die skrywers te argumenteer dat die “historiese Jesus” niks met die “Christus van geloof” te doen het nie. Die skrywers was skynbaar so bevooroordeeld met hul teologiese agendas in die skryf van hul onderskeie evangelies en tesame met die onbetroubare aard van die mondelingse tradisie waaruit die evangelie-stories ontstaan het, dat ʼn mens byna niks kan weet van wie Jesus wérklik was nie. Maar hierdie spanning in die verstaan van wie Jesus werklik was, word opsigself onderlê deur ʼn klomp baie sterk voorveronderstellings, soos o.a. dat die bonatuurlike element in die stories oor Jesus noodwendig op versinsel moet dui, dat die evangelieskrywers nie ooggetuies kon wees of nie met ooggetuies kontak gehad het nie, dat ‘n mondelingse tradisie noodwendig die feite so sou verdraai het dat dit onbetroubaar is, en dat die verskille in die Evangelies noodwendig op teenstrydigheid moet dui. Wanneer ʼn mens die gronde vir hierdie vooroordele egter noukeurig ondersoek, dan is dit glad nie eers naastenby die geval, soos die skeptici almal wil wysmaak, dat die evangelies geen noemenswaardige historiese insig bied oor wie Jesus van Nasaret was nie.

Ter opsoming. Volgens die eksterne histories getuienis (hoofsaaklik n.a.v. die kerkvaders) sowel as die interne getuienis (inhoud, struktuur en taalgebruik van die evangelies) is daar genoeg rede is om te glo dat die vier Evangelies inderdaad betroubare bronne verteenwoordig waardeur ons betroubare inligting kan bekom oor die persoon en lewe van Jesus.

Vir boeklengte besprekings van die kwessies wat hier genoem is, kan die volgende boeke geraadpleeg word (min of meer in volgorde van leke-toeganklikheid tot meer akademies van aard):

  1. Can We Trust the Gospels? Investigating the Reliability of Matthew, Mark, Luke, and John – Mark D. Roberts (review)
  2. Misquoting Truth: A Guide to the Fallacies of Bart Ehrman’s Misquoting Jesus – Timothy Paul Jones
  3. The New Testament Documents: Are They Reliable? – F.F. Bruce (review) (also see here)
  4. Reinventing Jesus: How Contemporary Skeptics Miss the Real Jesus and Mislead Popular Culture – J. Ed Komoszewski, M. James Sawyer, and Daniel Wallace
  5. Four Portraits, One Jesus: A Introduction to Jesus and the Gospels – Mark Strauss
  6. Lost in Transmission?: What We Can Know About the Words of Jesus – Nicholas Perrin
  7. Fabricating Jesus: How Modern Scholars Distort the Gospels – Craig Evans
  8. Dethroning Jesus: Exposing Popular Culture’s Quest to Unseat the Biblical Christ – Darrell L. Bock and Daniel B. Wallace
  9. Jesus, the Final Days: What Really Happened – Craig Evans and N.T. Wright
  10. Introducing the New Testament (A Short Guide) – D.A. Carson, Douglas Moo, and Andrew Naselli
  11. An Introduction to the New Testament – D.A. Carson and Douglas Moo
  12. The Jesus Legend: A Case for the Historical Reliability of the Synoptic Jesus Tradition – Paul Eddy and Gregory Boyd
  13. Canon Revisited: Establishing the Origins and Authority of the New Testament Books – Michael J. Kruger
  14. Recovering Jesus: The Witness of the New Testament – Thomas R. Yoder Neufeld
  15. The Heresy of Orthodoxy – Andreas J. Kostenberger, Michael J. Kruger, and I. Howard Marshall
  16. Is the New Testament Reliable? – Paul Barnett (review)
  17. Jesus and the Eyewitnesses: The Gospels as Eyewitness Testimony – Richard Baukham
  18. The Historical Reliability of the Gospels – Craig Blomberg (review)
  19. The Earliest Christian Artifacts: Manuscripts and Christian Origins – Larry W. Hurtado
  20. The Four Gospels and the One Gospel of Jesus Christ – Martin Hengel
  21. The Making of the New Testament: Origin, Collection, Text & Canon – Arthur Patzia
  22. Who Chose the Gospels?: Probing the Great Gospel Conspiracy – C.E. Hill

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.