Hoe weet ons ons is reg?

Udo,

Alle gelowiges vanuit verskillende gelowe wêreldwyd ‘WEET’ hulle geloof is die REGTE, WARE geloof.  Alle gelowe kan legio voorbeelde noem van mense wat ter wille van hulle geloof gemartel is, selfs gedood is ter wille van hulle geloof. Hoe kan ons sê ONS is reg en HULLE verkeerd? En hoe kan ons die hemel net vir onsself toe-eien?  Wie gee ons die reg?

Byvoorbeeld, daar was oor die eeue der eeue baie mense soos Jesus.  Baie sulke besondere mense wat wonderwerke kon doen. Die Christelike Godsdiens is 2000 jaar oud; wat van die antieke godsdienste – weer eens: hoe kan ons sê ONS het die waarheid beet?

WInkelsmidt

 

Hallo Winkelmsidt

Kom ons dink mooi oor wat hier gevra word. Het ek die reg, as ek WEET dat 2 + 2 = 4 is, en iemand anders voer aan dat hulle WEET dat 2 + 2 = 5 is, die WAARHEID slegs vir myself toe te eien? En is ek dan onder verpligting om die eksklusiwiteit van my oortuiging dat 2 + 2 = 4, prys te gee, bloot omdat iemand anders bereid was om te sterf vir sy oortuiging dat 2 + 2 = 5?

Twee voorlopige opmerkings:

1) Twee teenstrydige aansprake, hoe opreg en onwrikbaar iemand ook al daaraan vashou, kan nie albei waar wees nie (maar hulle kan dalk beide vals wees).

2) Dit is altyd belangrik om te kan ondersoek instel na die redes vir waarom iemand glo dat hul aanspraak waar is (of waarom ‘n teenaanspraak sou vals wees). Baie mense dink dat ‘n mens nie die waarheid kan bepaal oor godsdienstige aansprake nie. Maar waarom nie? Sommige dink dis onverdraagsaam om aan te voer dat ander godsdienste se aansprake vals is. Maar weereens, waarom is dit onverdraagsaam om valsheid uit te wys? Is ek onverdraagsaam deur aan te toon waarom 2 + 2 ≠ 5? Sommige dink dis arrogant om aan te voer dat slegs hulle godsdiens se aansprake waar is. Maar waarom is dit arrogant as ek goeie redes kan gee vir waarom ek so dink (en is enige waarheid, soos 2 + 2 = 4, nie per definisie eksklusief nie)? Dit help nie om te sê dat daar nie sulke redes kan wees voordat daardie redes nie ondersoek is nie. Selfs al vind iemand jou redes nie oortuigend nie, beteken dit nie opsigself dat iemand geldige redes het vir waarom jóú redes ongeldig sou wees nie.

Om te dink dat wat jy glo waar is en ‘n gesprek te hê oor die redes waarom jy so dink, is nie per definisie onverdraagsaam of arrogant nie. ‘n Mens het natuurlik wel ‘n keuse oor of jy so ‘n gesprek met onverdraagsaamheid en arrogansie gaan benader.

Was daar deur die eeue baie mense soos Jesus? My ervaring is dat hierdie tipe veralgemening geen werklike poging aanwend om te probeer verstaan wie Jesus was en wat sy boodskap was nie (beide ‘n historiese as teologiese ondersoek). Natuurlik is daar bepaalde aspekte van sy lewe wat ooreenstem met die woorde en (beweerde?) dade van ander. Hy was ‘n mens soos ander mense. Maar hy was nie maar net nog ‘n mens nie. Sy identiteit staan sentraal tot sy boodskap, lewe en sterwe, en dis slegs deur dit te ignoreer of weg te praat, dat ‘n mens veralgemeende uitsprake oor hom kan maak. Om vrae te vra oor sy identiteit, is om vrae te vra oor wat waar is, en as ons kan weet wat waar is oor Jesus, dan is enige ander teenstrydige aansprake eenvoudig nie waar nie. Per definisie sal ‘n hele klomp ander godsdienstige aansprake in hierdie kategorie val. Maar weereens, daar is niks arrogant of onverdraagsaam omtrent so ‘n gedagte nie – dis hoe die waarheid werk. Daar is ook niks wat ons in beginsel verhoed om by ‘n verstaan van Jesus kan uit te kom wat werklik waar is nie. Die enigste voorvereiste is maar die bereidwilligheid om te probeer.

Een laaste opmerking. Baie mens koop in by ‘n sterk subjektivistiese en relativistiese siening van waarheid, dat die waarheid eintlik nie toeganklik is vir enigiemand nie (ons kan slegs praat van “my waarheid” en nie “die waarheid” nie). En tog sou ons dan moet glo dat daar ten minste een waarheid is wat vir almal waar is (en nie bloot net my waarheid nie): dat die waarheid vir niemand toeganklik is nie. Maar is dit dan nie inherent selfweersprekend nie? Want hoe weet ons dat dit waar is? Hoe het iemand toegang gekry tot hierdie stuk objektiewe waarheid?

Hierdie siening van waarheid is eintlik onleefbaar en onverantwoordelik, maar ek is bevrees dit is ‘n gevestigde idee in die gedagtes van baie postmoderne mense.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.