God se menslike eienskappe?

Hallo Udo

Wie besluit oor interpretasie en uitlegging? Wanneer is tekste profeties, in die fisiese realm of bloot geskiedkundig? Moet Genesis soos Openbaring gelees word en hoekom nie? Die eksegese is soms te humanisties en die teoloë soek dikwels verwante aspekte om dogma te formuleer. Wat van die volgende probleme in Genesis:

  • As God “gees” is, hoekom het Hy “in die koelligheid van die aandbriesie “ gaan wandel? Het Hy soos vlees en bloed dan warm gekry? Verder roep hy “Waar is julle?” Het Hy nie geweet nie of speel Hy speletjies met sy stout skepping?
  • Waarom was God “spyt dat Hy die mens gemaak het?” Hoe kan God foute maak as een wat Omniteenwoordig en Alwetend is? Verder het God in meer as een geval met die mens gedebatteer asof Hy self nie van beter geweet het nie [soos vind 10 regverdige siele, en Hy sal nie die plek verwoes nie].
  • Toe God sê “laat ons afdaal en sien wat die mens doen” [die bou van die toring van Babel] “voordat dit die hemele bereik”, wat was die bedoeling? Sekerlik was ‘n toring hemel toe nie moontlik nie en waarvandaan het Hulle “afgedaal?”

Onder wie se gesag moet ons Genesis lees? Wie of wat bepaal die wyse waarop ons aflei en interpreteer?  As God self sê Hy is jammer Hy het die mens geskep, waarom is dit foutiewelik om te suggereer dit impliseer ‘n gebrek aan alomwetendheid?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelmsidt

Dit is die aard van veral die verhalende genre dat ‘n mens die moeite sal doen om te probeer verstaan hoe die skrywer sy taal gebruik en wat die boodskap is wat hy/sy daarmee wil oordra. Die meeste van die verhale in die Bybel maak nie net gebruik van metaforiese taal om oor God te praat nie, maar verwys dikwels na God in vermenslike terme. God het inderdaad nie ‘n liggaam dat hy die koelte van ‘n aandbriesie nodig het nie. Hy is inderdaad alomteenwoordig en alwetend sodat hy nie foute maak of van iets nie weet nie. Maar die vraag met die lees van enige literêre werk is altyd: wat is die punt wat die skrywer probeer maak?

‘n Mens hoef nie besondere insig te hê om te kan sien dat die skrywer van Genesis nie probeer spekuleer oor God se liggaamlikheid of sy alwetendheid nie. Hy vertel ‘n storie, met historiese elemente as agtergrond, maar hy voel vry om mense se ervaring van God op spesifieke maniere te verwoord en gebruik te maak van verskeie stylfigure om ‘n bepaalde boodskap oor te dra.

In kort, die bogenoemde tipe vrae eis antwoorde van die teks wat dit nooit bedoel was om te antwoord nie. Dis vrae wat die bedoeling van die teks systap, dit toon geen begrip vir literêre intelligensie nie en daarom verteenwoordig dit ‘n soort naïewe kritiese analise wat op niks uitloop nie. Dis soos om te vra hoe klein Rooikappie se ouma was vir Wolf om haar héél in te sluk.

Dis ook nie “iemand” wat besluit oor interpretasie en uitleg nie. In die hermeneutiek word gebruik gemaak van baie spesifieke beginsels om verantwoordelik met ‘n enige teks om te gaan en die betekenis daarvan te ontgin. Dit beteken nie dat almal tot dieselfde gevolgtrekking kom oor wat ‘n spesifieke teks beteken nie, maar daar is ‘n enorme verskil tussen hermeneutiese verantwoordbaarheid en oppervlakkige eksegese. Bogenoemde tipe vrae oor gedeeltes in Genesis is ‘n voorbeeld van hoe ‘n teks nie benader behoort te word nie. ‘n Mens begin nie by jou eie vooroordele en voorbehoude oor die teks nie. ‘n Mens begin eerder om te probeer verstaan wie die skrywer was, vir wie daar geskryf is en wat die teikengehoor sou verstaan het met wat geskryf is (om maar een aspek van gesonde eksegese te noem). Dis dan wanneer ‘n mens begin sien waarom sekere gedeeltes nie soos ander gedeeltes gelees kan word nie. (Sien ook Wat van al die teenstrydighede in die Bybel?)

Oor jou laaste opmerking. In Genesis 6:6 verwys die skrywer na God se spyt en droefheid om God se diepe afkeur in die mens se algehele verdorwenheid te beklemtoon. Dis soos ʼn ma wat vir haar woelige peuters wat hulleself nie vir vyf minute kan gedra nie, sê: “Ek is spyt dat ek julle na die restaurant gebring het, julle maak my só hartseer”. Is sy verbaas dat haar kinders hulle nie gedra het nie? Nee. Het sy regtig vooraf gedink dat hulle heeltyd soos goedgemanierde volwassenes sou optree? Nee, natuurlik nie. Haar woorde is bedoel om haar afkeur uit te druk en haar kinders te vermaan. Om daarom uit ʼn lees van Genesis 6:6 tot die gevolgtrekking te kom dat die punt daarvan is dat God eintlik nie alwetend is nie, is soos om te dink dat dit darem ʼn erg emosionele ma is wat boonop nie haar eie kinders ken nie. Dit maak nie sin van die konteks nie en lyk bloot of iemand sy eie vooroordele op die teks projekteer.

(Vir ‘n kort verduideliking van die konteks oor die storie van die Toring van Babel, sien hier.)

Groete

Udo

 

Hallo Udo

Dis juis die “vermensliking” van God wat pla. Deur ons pogings om Hom en Sy disposisie kognitief te beredeneer en te begryp, span ons menslike attributes in vir ‘n wêreldbeskouing van “die Skepper”. Hierdie uitgangspunt beroep hom dikwels op die emosionele aspekte van menswees en bring na vore die ongemaklike aspek van ‘n doelgerigte en voorafbepaalde argumentslyn om uiteindelik te seëvier. Dink hier aan ‘n Gameplan soos ingespan deur WP om die Leeus te oorwin.

Is die behoefde aan vermensliking van God in terme van emosionele en fisiese realiteite prinsipieël ‘n menslike of Goddelike behoefte?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy is heeltemal reg dat dit problematies is om God vanuit menslike kategorieë te probeer verstaan. Vermenslike taal oor God in die Bybel is egter nie ʼn aanduiding dat God bloot menslike eienskappe het nie. Dit het ook niks met enigiemand se behoeftes te doen nie. Die rede vir waarom mense gekies het om oor hul ervaring met God op ʼn spesifieke manier verslag te doen is so eenvoudig soos dat die keuse van bepaalde stylfigure juis bepaalde aspekte van wie God is uitlig en beklemtoon. Dis slegs iemand met geen literêre aanvoeling nie, wat sou dink dat daar slegs op een betekenisvolle of openbaarmakende manier van iets of iemand gepraat kan word.

Wie God is, die essensie van sy natuur, is ondeurgrondbaar (Ps 145:3). Daar is geen analogie wat deur ‘n mens bedink kan word waardeur God vergelyk kan word nie. Tog is daar heelwat aspekte van God se natuur waaroor ons ‘n konseptuele begrip kan vorm, al lê dit ver buite ons as mense se ervaringsraamwerk.

Hoe vorm ons ‘n konseptuele begrip van wie God is? Hoe weet ons dus wat God is en watter eienskappe tot God behoort? Ons verkry insig oor wie God is deur te reflekteer oor wat God van Homself geopenbaar het. As Christene glo ons dat God Homself basies op twee maniere openbaar maak:  deur sy Woord (veral in die persoon en werk van Christus) asook deur sy skepping (hierby kan ons onsself en ons direkte ervaring van God, insluit). Daar is twee prosesse of metodes wat ons help in ons refleksie oor God se openbaring van Homself naamlik sistematiese teologie en volmaaktheidsteologie met betrekking tot die Godswese.

Sistematiese teologie is die poging om al die relevante Skrifdata oor ‘n spesifieke onderwerp in die Bybel bymekaar te sit en sodoende ‘n samehangende beeld daaroor te probeer vorm. Dis met hierdie proses tot sistematisering (selfs al is dit ‘n menslike poging) dat sekere eienskappe van God na die voorgrond tree. Vanuit al die stories, beskrywings, ervarings en insigte regdeur die Bybel soos wat ons dit aantref in hoe spesifieke mense met God geworstel het, elk met hul eie verstaansraamwerk en almal met hul eie artikulasie daarvan in hul skryfwerk, vorm daar ‘n prentjie van wie God is. Om dus enige van hierdie stukkies data te isoleer van die groter konteks, kan die prentjie van God gereduseer word tot iets wat onsamehangend en eensydig is. Die vermenslikte aspekte van God soos wat skrywers in die Bybel dikwels oor God praat (en waarvoor alle mense vatbaar is), sou ‘n goeie voorbeeld wees.

Volmaaktheidsteologie met betrekking tot die Godswese (Perfect Being Theology) is die idee dat enige besinning oor die wese van God gerig word deur die volmaaktheid van God. Hiervolgens is God ‘n wese met eienskappe wat per definisie volmaaktheid impliseer en is Hy dus ‘n wese naas wie daar geen groter denkbaar is nie (indien daar so ‘n wese bestaan dan sou daardie wese God wees, sien bv. Hebreërs 6:13 en 2 Samuel 7:22). Wanneer ons dus oor die Skrifdata rakende God se eienskappe nadink, dan behoort hierdie Bybelse kenmerke verstaan te word op maniere wat op God se grootsheid dui.

Die toepassing van hierdie twee metodes maak dit moontlik om ‘n robuuste konseptuele begrip van God te vorm. Selfs natuurlike teologie wat ‘n poging is om die aspekte en aard van die natuurlike wêreld te bestudeer (Christene glo dat God Homself ook in dit wat Hy geskep het op sekere manier openbaar, sien Romeine 1:20) en dan te vra wat die beste verduideliking is vir daardie aspekte en die aard daarvan, dui op die bestaan van God. Ook hierdie gevolgtrekkings kan bydra tot ‘n konseptuele begrip van God.

Die punt wat ek bloot probeer maak is dat daar verskeie kanale is wat ‘n mens kan volg en wat kruisverwysende korrektiewe bied en wat ons uiteindelik kan help om met verantwoordelikheid oor God se natuur na te dink.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.